Ehud en die Sirkel van Sonde

Ons kyk vandag na een van die minder bekende helde in die Bybel: ‘n man met die naam van Ehud. Ons ontmoet hom in die boek van Rigters, waar ons lees hoedat hy die Israeliete bevry het van die juk van die Moabiete. Ek glo dat ons ‘n hele paar waardevolle lesse kan leer uit hierdie verhaal. Ons weet nie baie van Ehud nie, behalwe dit wat ons uit hierdie paar verse kan leer en aflei nie. Dit blyk dat Ehud ‘n goeie strateeg en leier was, asook dat hy belangrik genoeg geag was om die afvaardiging te lei wat die jaarlikse belasting moes gaan oorbetaal aan die koning van Moab, aan wie Israel op daardie stadium onderdanig was. Die Bybel meld spesifiek dat Ehud linkshandig was en ek glo dat die ironie nie verlore gegaan het aan die Israeliete nie; want Ehud was uit die stam van Benjamin, en Benjamin beteken ‘seun van my regterhand’. Maar kom ons lees eers sy verhaal:

Rigters 3:11-30  Toe kry die land rus veertig jaar lank. En Otniël, die seun van Kenas, het gesterwe.  (12)  En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE. Toe maak die HERE Eglon, die koning van Moab, sterk teen Israel, omdat hulle gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE;  (13)  en hy versamel by hom die kinders van Ammon en Amalek. Daarop het hy weggetrek en Israel verslaan, en hulle het die Palmstad in besit geneem.  (14)  En die kinders van Israel het Eglon, die koning van Moab, agttien jaar lank gedien.  (15)  Maar toe die kinders van Israel die HERE aanroep, het die HERE vir hulle as verlosser verwek: Ehud, die seun van Gera, die Benjaminiet, ‘n man wat links was. Deur hom stuur toe die kinders van Israel die belasting aan Eglon, die koning van Moab.  (16)  En Ehud het vir hom ‘n swaard gemaak, aan twee kante skerp, een el lank, en dit onder sy klere aan sy regterheup vasgegord;  (17)  en hy het die belasting aan Eglon, die koning van Moab, gebring; en Eglon was ‘n baie vet man.  (18)  En toe hy die belasting volledig afgelewer het, bring hy die mense wat die belasting gedra het, weg;  (19)  maar hy self het omgedraai by die gesnede beelde wat by Gilgal was, en gesê: Ek het ‘n geheime opdrag aan u, o koning! Dié sê toe: Stil! En almal wat by hom staan, het van hom af weggegaan buitentoe.  (20)  En toe Ehud by hom inkom, terwyl hy in die koel bo-kamer sit wat vir hom alleen was, sê Ehud: Ek het ‘n woord van God aan u! En toe hy van sy stoel af opstaan,  (21)  steek Ehud sy linkerhand uit en gryp die swaard van sy regterheup af en steek dit in sy buik,  (22)  sodat selfs die hef agter die lem ingedring het en die vet, want hy het die swaard nie uit sy buik uitgetrek nie, om die lem toegesluit en by die wond uitgepuil het.  (23)  Toe gaan Ehud uit op die galery, maar hy het die deure van die bo-kamer agter hom gesluit en gegrendel.  (24)  Net toe hy uitgegaan het, kom sy dienaars; en toe hulle sien en kyk: die deure van die bo-kamer was gegrendel, sê hulle: Hy is seker besig om sy voete te bedek in die koel kamer.  (25)  En hulle het gewag totdat hulle verleë was; maar—hy het die deure van die bo-kamer nie oopgemaak nie! En toe hulle die sleutel gaan haal en oopsluit, lê hulle heer daar dood op die grond!  (26)  Maar terwyl hulle nog talm, het Ehud ontvlug en die gesnede beelde verbygegaan en na Seïra ontsnap.  (27)  En toe hy aankom, blaas hy op die ramshoring op die gebergte van Efraim, en die kinders van Israel het saam met hom van die gebergte afgetrek, en hy voor hulle uit.  (28)  Toe sê hy vir hulle: Volg my, want die HERE gee julle vyande, die Moabiete, in julle hand; en hulle het agter hom aan afgetrek en die Moabiete van die driwwe van die Jordaan afgesny en niemand toegelaat om deur te gaan nie.  (29)  En hulle het in dié tyd van Moab omtrent tien duisend man verslaan, almal goed geboude en almal dapper manne, en niemand het vrygekom nie.  (30)  So moes Moab dan dié dag buig onder die hand van Israel; en die land het tagtig jaar lank gerus.

Eglon – Sirkel van Sonde

Die Bybel is vol weggesteekte klein juweeltjies. Om die eerste juweel van Ehud se verhaal te ontdek, is dit nodig om die patroon van sonde waarin Israel telkens verval het, raak te sien:

Afvalligheid is die eerste stadium: Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here (v.12). Hulle het God vergeet en weggedraai van Hom na ander vleeslike en sondige belange. Hulle het ook hul aanbidding van God vervang met die aanbidding van ander gode.

Slawerny is die tweede stadium: God het die Israeliete aan Eglon, die koning van Moab, in slawerny oorgegee. In hierdie stadium van die sirkel van sonde was Israel onder God se oordeel vir hulle afvalligheid. Israel het 18 jaar lank vir Eglon gedien. Dit was nie vir hulle lekker nie maar hulle was vasgevang in hulle slawerny.

Dan sien ons die derde stadium wat Smeking is (v.15). Die Israeliete het tot die Here uitgeroep.

Uiteindelik het die vierde en laaste stadium gekom – Verlossing: God het in Sy genade ‘n verlosser genaamd Ehud opgewek. Hierdie redder het na Gilgal gekom om sy eerbetoon aan Eglon te bring en hom in die proses doodgemaak. Ehud het die basuin geblaas, en die hele Israel het by hom aangesluit terwyl hy hulle teen die Moabiete gelei het.

Vier juwele in die verhaal

Hier is die eerste juweel wat vir my uitstaan: Die koning van die Moabiete, Eglon – se naam beteken o.a. ‘sirkel’ of ‘kringloop’. As die Israeliete se leiers geestelik waaksaam was, sou hulle God se waarskuwing raakgesien het alreeds in die betekenis van hulle slawemeester se naam.

Die tweede juweel is dat Eglon (‘Koning Kringloop’) die koning van die Moabiete was. Moab was hulle stamvader, en hy was verwek toe Lot bloedskande met sy dogter gepleeg het. Op dieselfde wyse doen ons soms dinge in ons lewens wat op die oog af ‘n geheim bly of nie iets vreesliks is nie, maar wat ons later vasvang in ‘n kringloop of sirkel van sonde.

Die derde juweel vir my is die simboliek van Eglon en die Moabiete. Die Moabiete staan vir al die ongekonfronteerde sondes en verkeerde denkpatrone wat ons in ons lewens toelaat en nie mee wil deel nie – veral daardie sogenaamde ‘troetelsondes’. Omdat ons hulle ongehinderd toelaat in ons lewens, groei hulle tot ‘goedgeboude en dapper manne’ (v.29). In die Nuwe Testament word hulle ‘vestings’ genoem. Eglon staan vir die ‘sirkel van sonde’ wat ons in slawerny vasgevang hou. Omdat ons dit bly voer, word dit vet en sterk in ons lewens, net soos wat Eglon ‘n baie vet man was. ‘n Voorbeeld is die persoon wat sukkel met ‘n drank probleem, maar nie met die oorsaak van die probleem wil deel nie. Elke keer wanneer daar dus ‘n sneller plaasvind (bv. sy meisie sê hom af) dan gee hy om oor aan drank om die pyn te hanteer. Die oorsaak van die probleem (bv. minderwaardigheid) word egter nie mee gedeel nie en dit hou hom vasgevang in slawerny aan drank.

Die vierde juweel is dat die siklus begin het toe daar vrede in die land was (v.11). Dit is opvallend in ons eie lewens hoedat ons God aanroep wanneer ons in nood verkeer, maar hoedat ons afvallig raak en ander belange begin dien wanneer dit met ons begin goedgaan en ons voorspoedig raak.

Ehud – Die Verlosser

In vers 15 lees ons dat God die Israeliete se gebede verhoor het en vir hulle ‘n verlosser verwek het – Ehud, die seun van Gera. Ons het gesien hoedat Eglon verwek is uit Moab, wat staan vir ongekonfronteerde sondes. Ehud – die verlosser, sien ons, is verwek uit Gera. Gera beteken ‘graankorrel’ en dit herinner ons aan Jesus se woorde in Joh 12:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Volgens Hitchcock se Bybelname staan Gera ook vir: ‘konfrontasie’, ‘oorlogsvoering’ en ‘pelgrimsreis’. Hieruit sien ons dat ‘n verlossing teen ons slawerny aan sonde opgewek word wanneer ons bereid word om ‘n pelgrimsreis onderneem om die sondes in ons lewens te konfronteer  en oorlog daarteen te voer.

Ehud, die Verlosser – was presies bereid om dit te doen. Hy het die oorsaak van die verslawing geïsoleer van die sondes wat dit omring, dit gekonfronteer (‘ek het ‘n woord van God aan u’) en oorlog daarteen gevoer sodat dit dood voor sy voete neergeval het.

Ehud beteken ‘verenig’ en ‘sterk’. Hieruit sien ons dat ons verenig en sterk raak teen ons vyande wanneer ons bereid is om dit te konfronteer met God se woord, net soos wat Ehud met Eglon gedoen het. Ehud beteken ook ‘een wat lofprys’. Dit leer ons dat ons sterk en verenig raak wanneer ons daarop fokus om God te loof en prys in plaas daarvan om op ons sondes te fokus. Dit herinner ons ook aan Ps 22:3  (22:4) U [is] die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!

Slot

Ons leer ook in hierdie verhaal dat mense tevrede is om lank in slawerny te bly. Dit het Israel agttien jaar geneem voordat hulle tot die Here uitgeroep het. Ons moet onsself afvra, hoekom het hulle so lank gewag? Hoekom wag ons so lank wanneer ons verslaaf raak aan sondige patrone? Miskien omdat ons bang of skaam is om die realiteit of die lelikheid van hierdie patrone en verslawings in die gesig te staar. Miskien voel ons ons gaan iets verloor wat ons te veel geniet. Of dalk is ons tevrede om te bly waar ons is en ons ellende word vir ons gemaklik. Maar ons het ‘n Verlosser, ‘n Verlosser wie se naam Jesus is, en Hy red ons van die heerskappy en krag van die sonde in ons lewens. Of dit nou agt jaar of 18 jaar is, ons kan vandag die Here aanroep. Ons kan van ons sonde wyk en Hy sal ons van ons verslawing bevry.

Dan sien ons die gevolg daarvan om na Christus te kom, om van ons afgode weg te draai en Hom toe te laat om ons te verlos. Die resultaat is rus en vrede. Nadat Ehud Israel verlos het, was daar 80 jaar rus in die land. Paulus skryf dat die loon van sonde die dood is, maar die vrye gawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, ons Here (Romeine 6:23). Sonde maak ons ​​ongelukkig; dit beroof ons van ons gevoel van vreugde en welsyn. Maar God gee ons nuwe lewe in Christus en gee ons rus van ons verslawing tot sonde.

Advertisements

Die Wegraping

Een van die belangrike leerstellings van die christelike geloof is onder andere die lering oor die Wegraping, wat onlosmaaklik gekoppel is aan die lering dat daar lewe na die dood moet wees. In sy brief aan die gemeente in Korinte, verduidelik die apostel Paulus  dit baie ondubbelsinnig:

1 Kor 15:12-14  As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?  (13)  As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.  (14)  En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof…

Ons sien hier dat die opstanding uit die dode sentraal staan tot ons geloof.

‘n Paar verse later skrywe Paulus oor die Wegraping:

1 Kor 15:49-53  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word,  (52)  in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.  (53)  Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.

Hier sien ons dat ‘n fisiese, verganklike liggaam nie die koninkryk van God kan beërwe nie. Wanneer Jesus dus weer kom om Sy bruid te kom haal, sal die vlees-en-bloed liggame van diegene wat nog lewe, noodwendig moet verander na ‘n ander tipe liggaam – ‘n verheerlikte, hemelse liggaam.

Die volgende ding wat mense vra, is of ons, na ons afsterwe, in ‘n staat van onbewustheid bly totdat die Wegraping plaasvind. Jesus het ‘n belangrike leidraad hieroor gegee  toe Hy aan die dief wat langs hom op die kruis gehang het, gesê het, (Luk 23:43) “vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” Jesus se woorde aan die dief ondersteun die verhaal van die arme Lasarus en die ryk man wat Jesus vertel het, waar Jesus ook dit duidelik gemaak het dat mense nie in ‘n staat van onbewustheid is wanneer hulle sterwe nie. Hoewel niemand voor die Wegraping ‘n verheerlikte liggaam sal hê nie, blyk dat gelowiges se gees na die hemele weggevoer word, waar dit by God sal by tot en met die Wegraping.

Paulus het ook oor die Wegraping geskrywe in sy brief aan die gemeentes in Thessalonika:

 1 Thes 4:13-18  Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.  (14)  Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.  (15)  Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.  (16)  Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.  (17)  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.  (18)  Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

Vandag gaan ons kyk na ‘n paar punte oor die Wegraping:

Wat die Wegraping is

Op ‘n tyd wat slegs bekend is aan God, sal die Here Jesus ​​Christus uit die hemele kom om alle gelowiges, dood of lewend, op te eis vir Koninkryk van God. Hy sal hulle liggame in ‘n oogwink verander, vanaf die vleeslike liggame wat ons ken,  na verheerlikte liggame. Die gelowiges sal dan vir ewig met Christus wees:

Fil 3:20-21  Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,  (21)  wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.

Tydens die Wegraping sal die totale universele kerk, die Here in die lug ontmoet. Dit beteken al die gelowiges wat sedert die Ou Testament gelewe het, of hulle begrawe is, veras is, op die see gesterwe het of watter dood ook al, hulle liggame sal hulle herstel en verander na verheerlikte liggame.

Hoe ons verheerlikte liggame sal wees

Dit sal interessant wees om te weet  hoe verheerlikte liggame sal wees. Daar is ongelukkig nie baie inligting oor beskikbaar nie, behalwe wat ons kan aflei van Jesus se verheerlikte liggaam na Sy opstanding. Ons lees bv. dat Hy nie deur fisiese objekte verhinder was nie in Joh 20:19  En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!

Ons verheerlikte liggame is nie geestelik nie, maar sal gesien en gevoel kan word: Luk 24:39-40  Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.  (40)  En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete.

Daar is ook voldoende Skrif om te weet dat ons verheerlikte liggame onsterflik sal wees.

Wie almal weggeraap sal word

Paulus dui in sy brief aan die Thessalonisense aan dat slegs die gelowiges weggeraap sal word. Hy begin die gedeelte met die woord ‘broeders’. Dit is nie ‘n geslagtelike aanduiding nie, maar ‘n uitdrukking dat hy almal bedoel wat sy geloof met hom deel. Ongelowiges en mense wat nie wedergebore is nie, is almal uitgesluit van die Wegraping. Heel eerste sal die wat reeds in Christus gesterwe het, opstaan en verheerlikte liggame ontvang. Daarna sal die wat nog lewe, in die lug opgeneem word en hulle verheerlikte liggame ontvang om daarna vir altyd by die Here te wees.

Ek glo dat alle kinders voordat hulle die ouderdom van begrip van hulle sondige natuur bereik, ook weggeraap sal word. Ook alle misgeboortes en doodgebore babas, asook babas wat deur aborsies gesterwe het, sal saam met diegene wat in Christus gesterwe het, weggeraap en verheerlik word.

Ek glo wel dat diegene (tieners/jong volwassenes) wat die geestelike vermoë het om te verstaan ​​oor hul sondige toestand, maar steeds kies om nie te glo nie, nie weggeraap sal word nie.

As gelowiges het ons nie nodig om die dood in ons midde te verwelkom nie. Die dood is steeds ons finale vyand. Ons het egter die belofte dat ons weer gaan opstaan, daarom treur ons as gevolg van hierdie belofte nie by die dood van ‘n geliefde, soos die ongelowiges nie; maar soos een wat hoop het.

Hoe om voor te berei vir die Wegraping

Niemand ken die presiese tyd van die Wegraping nie.  Jesus sê in Mat 24:36-39  Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.  (37)  En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.  (38)  Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,  (39)  en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.

Die Wegraping sal dus plaasvind op ‘n gewone, normale dag. As iemand daarom voorspel dat dit op hierdie dag of op daardie datum sal wees, sal dit heel waarskynlik nie so wees nie, want volgens die Woord sal die Wegraping plaasvind op ‘n gewone, normale dag wanneer almal besig is met die dinge van die lewe. Dit sal skielik wees. Ek glo dat ons geslag lewe in die dae wat Jesus noem, ‘die begin van die einde’. Dit sal daarom wys wees om onsself voor te berei vir hierdie groot gebeurtenis. Hoe moet ons, onsself voorberei om deel te wees van hierdie grootse gebeurtenis?

Ek glo dat die eerste ding wat ons moet doen, is dat ons Jesus Christus moet aanneem as ons Saligmaker en Verlosser. Ons moet dus wedergebore en waar hoegenaamd moontlik, gedoop moet wees, want “as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” Joh 3:5

Die tweede ding is om die Evangelie van Christus te verkondig so ver moontlik, want dit moet dien as ‘n getuienis voor die nasies (Mat 24:14). Hoewel ons tegnies in ‘n Christelike land woon, is dit alreeds op plekke oorgeneem deur groepe mense wat totaal teenstrydig met die Bybel glo, leef en optree. Die invloed daarvan op ons samelewing is enorm en baie jongmense woon nie meer die kerkdienste by nie. Ons het daarom ‘n verantwoordelikheid om die Evangelie te verkondig  aan die nasies rondom ons in Suid Afrika.

Die derde ding is om seker te maak dat jy ‘reddende geloof’ (saving faith) het. Dit is geloof wat alleenlik op die Here Jesus Christus vertrou vir verlossing en redding. Baie van ons glo omdat ons hulp vir ons fisiese omstandighede verlang, of omdat ons bang is dat ons dalk hel toe kan gaan. Ons het nodig dat ons, ons motiewe ondersoek oor hoekom ons sê dat ons in Jesus Christus glo.

Mat 7:17-21  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.  (18)  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.  (19)  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.  (20)  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.  (21)  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Ons lewe in ‘n tyd waar Bybelse profesieë voor ons oë  vervul sien word. Ons mag dalk wonderwerke kan doen maar as ons nie ‘n lewende verhouding met Jesus het en die vrug daarvan sigbaar in ons lewens is nie, mag ons dalk net agterbly op daardie een dag wat ons liewer moet saamgaan.

Kan ek my gebed vertrou?

Ons almal voel soms dat ons oor ‘n saak bid, is dit asof die duiwel self ons gebede gehoor het en alles wat verkeerd kan gaan, dan verkeerd gaan. As die derde of vierde ding verkeerd gaan dan voel ons sommer asof dit nie help om te bid nie. Daarna is dit nie lank nie, of ons begin om ons gevoelens te verbaliseer. Die kere dat ons voel dat ons, ons gebede kan vertrou; raak minder as die kere dat ons wel geloof in ons gebede het. Die probleem lê ongelukkig soms meer dat ons buite ons vlak van geloof opereer as by God se (nie-)verhoring van ons gebede.

Oor die afgelope jare het ek sommige mense gesien wat God probeer glo vir geld om groot dinge te doen terwyl hulle nog nie eens geleer het om God te glo vir hulle water rekening nie. Sommige mense oorlaai hulle geloof. Hulle werk met ‘n tien rand geloof en probeer om vir ‘n miljoen rand te glo. Paulus verwys ook daarna in Rom 12:3  …lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.

Hierdie Skrif leer ons dat, om suksesvol te wees in ons geloofslewe, moet ons almal leer om op ons vlak of maat van geloof te funksioneer. Ek dink dit is waarom sommige mense probleme veroorsaak het in kerke. Hulle het ‘n seminaar bygewoon of ‘n preek gehoor, waar hulle iemand gehoor het leer, “Jy kan hê wat jy sê.” Maar hulle het net ‘n deel van die aanbieding geleer, en toe opgewonde huis toe gegaan waar hulle allerhande dwase dinge gedoen het en dit geloof genoem het. Daar is baie voorbeelde van sulke prediking op die televisie stasies. Ongelukkig het dit tot gevolg gehad dat mense skuldig begin voel het om op God te vertrou vir hulle behoeftes of dat hulle eenvoudig nie meer weet of God hulle verhoor nie.

Begin waar jy is

Ons teksvers vir vandag leer ons dat ons almal moet leer werk binne ons vlak van ontwikkeling, en dat ons daar kan groei. Jy moet egter altyd begin waar jy is. Dit klink dalk elementêr, maar baie sal gehelp word deur dit te verstaan. Begin eerstens waar jy is en weet tweedens waar jy gaan. Jesus het gesê dat niemand sal  begin om ‘n toring te bou sonder om eers te koste te bereken nie. Dit is goeie raad, maar soms wanneer mense draai na geloof, versuim hulle om die koste te bereken wat hulle bely. Ek het onlangs die verhaal gelees van ‘n sekere individu wat gehoor het oor geloof en belydenis. Hy was ‘n professionele man wat net suksesvol begin raak het in sy beroep. Daar was ‘n huis wat hy wou hê. Hy het begin bely dat hy hierdie huis gaan koop. Hy het begin glo daarvoor en die Woord van God daaroor bely. Hy het uiteindelik toe die huis gekoop. Die manier waarop dit gebeur het, was amper bonatuurlik, want hy het nie die bates gehad om te kwalifiseer vir die lening nie. Maar deur die geloof het hy die transaksie gedruk tot en met voltooiing. Dit het so goed gewerk dat hy begin het bely en glo vir ‘n vliegtuig. Hy het toe ‘n vliegtuig op dieselfde manier gekoop. Toe het hy ontdek hy het nie het die inkomste om die dinge te onderhou wat hy gekoop het nie. Hierdie man het nie die koste bereken van sy geloofsprojekte nie. Ek vertel die verhaal nie om individu te verkleineer nie, maar as ‘n saak van onderrig om ander van dieselfde fout te weerhou. Soms gooi mense weg alle gesonde verstand wanneer hulle na hulle geloof draai. Begin om te glo op die vlak waar jou geloof nou is. Met elke suksesvolle geloofsprojek sal jou geloof dan begin groei en sterker raak, totdat jy later vir baie meer sal kan glo as op die vlak waar jy tans is.

Behou jou vrymoedigheid

Die apostel Johannes leer vir ons ‘n tweede belangrike beginsel wat nodig is as ons, ons gebede wil vertrou:

1 Joh 5:14  En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.

Vrymoedigheid is sterk afhanklik van ons gewetens. Wanneer ons gewete ons pla as ons na God gaan in gebed, is ons sommer onseker of God gaan antwoord nog voordat ons gevra het. Dan kan ons nie ons gebede vertrou nie. Ek go dat hier twee tipes vrymoedigheid ter sprake is:

Vrymoedig om te vra

Die eerste is ons vrymoedigheid om te vra. Daardie vrymoedigheid word grootliks aangeval en gesteel wanneer daar opsetlike sonde in ons lewens is. Kyk wat sê Paulus hieroor:

Rom 2:15-22  omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,  (16)  in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.  (17)  Kyk, jy dra die naam van Jood [of Christen?] en steun op die wet en beroem jou op God,  (18)  en jy ken sy wil en onderskei die dinge waar dit op aankom, omdat jy uit die wet onderrig word,  (19)  en jy is oortuig dat jy ‘n leidsman is van blindes, ‘n lig vir die wat in duisternis is,  (20)  ‘n opvoeder van onverstandiges, ‘n leermeester van onervarenes, omdat jy die beliggaming van die kennis en die waarheid in die wet het  (21)  jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ‘n mens nie mag steel nie, steel jy?  (22)  Jy wat sê dat ‘n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat ‘n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof?

Sulke dinge neem ons vrymoedigheid om te vra, weg. Selfs al sou dan vra, sou ons nie ons gebede vertrou nie omdat ons weet dat daar opsetlike sondes is wat tussen ons en God staan.

Vrymoedig om te ontvang

Die tweede is ons vrymoedigheid om te ontvang. Ons vrymoedigheid om te ontvang staan dikwels in die pad van die verhoring van ons gebede. In plaas daarvan om met kinderlike geloof te ontvang, redeneer ons soms ons vrymoedigheid weg. Vrae soos ‘hoe weet ek dit is God se wil?’ of ‘Dalk is dit nie nou God sy tyd nie’ steel ons vrymoedigheid. Die probleem in sulke gevalle lê nie soveel by die vraag nie, maar eerder by ons onkunde oor die Skrif of selfs ons onwilligheid om die Skrif te bestudeer vir die antwoord! Dinge soos minderwaardigheid en verwerping (wat altwee verwronge manifestasies van trots is) neem ook ons vrymoedigheid weg om te ontvang. Soms is suiwer ongeloof dat God ons wil help, ook ‘n hindernis wat keer dat ons vrymoedig kan ontvang.

‘n Vinnige toets of jy ontvang het

Daar is wel ‘n toets wat ek gebruik om my te help agterkom of ek die antwoord in my gees ontvang het. Ek luister naamlik na die manier hoe ek praat. Dit is altyd moontlik om te vertel of ‘n mens presies glo wat hy sê. Wat in jou hart is, sal altyd by jou mond uitkom. As jou belydenis verkeerd is, is jou geloof verkeerd. As jou geloof verkeerd is, is jou denke verkeerd. As jou  denke verkeerd is, is dit omdat jou verstand nie met die Woord van God vernuwe is nie. Al drie gedeeltes, glo, dink en sê – gaan saam. God het ons Sy Woord gegee om ons denke reg te stel. Ons kan dink in lyn met God se Woord.

Ken God se wil vir jou situasie

Mense maak dit soms onnodig ingewikkeld om God se wil te ken in hulle situasies. God se wil is egter in Sy Woord geopenbaar. Hy sal nooit iets doen wat in stryd is met Sy Woord nie. Wanneer ons daarom die Skrifte ken rondom ‘n situasie, sal ons God se wil ken. As ons God se wil ken, sal ons daarvolgens bid. As ons daarvolgens bid, is ons gewaarborg dat God ons sal verhoor. As ons weet dat God ons sal verhoor. As ons weet dat God ons verhoor, dan weet ons dat Hy ons 100% seker sal antwoord. As ons dit weet, dan kan ons, ons gebede vertrou.

  • As jou situasie dus oor jou gesondheid – hetsy of dit liggaamlik, geestelik of sielkundig is – gaan leer wat God se wil daaroor is uit Sy Woord.
  • As jou situasie oor finansies gaan – hetsy of jy te veel of te min het – gaan leer wat God se wil daaroor is uit Sy Woord.
  • As dit daaroor gaan dat jy Sy koninkryk wil laat kom vir iemand – gaan leer wat God se wil daaroor is uit Sy Woord.

Bestudeer en mediteer oor daardie Skrifte totdat jou gees dit assimileer en daarop begin vertrou meer as wat dit op omstandighede vertrou.

Verstaan die ‘inkubasietyd’

Alle gebede word nie altyd binne ‘n millisekonde beantwoord nie. Soms is daar ‘n natuurlike tydsverloop vir die antwoord om tot vrug te kom. Ek kan onthou hoedat ek altyd gedink het dat God my nie wil antwoord nie wanneer ek bv. vir ‘n hoofpyn bid en dit nie binne 10 sekondes weg is nie. Ek moes leer dat die antwoord altyd sal kom, maar dat dit in sommige gevalle langer mag neem om te manifesteer as in ander. Die lengte van die inkubasietyd voordat die antwoord sigbaar word, is vir sommige mense ‘n struikelblok. Hulle soek die antwoord eintlik nog voordat hulle gevra het en as dit nie vinnig gebeur nie, dan het hulle ‘n probleem met God. Ek het al agtergekom dat die probleem nie so baie by die tydsverloop tussen die vra en antwoord is nie, maar meer by die feit dat hulle nie hulle gebede vertrou nie en ‘n vinnige antwoord sal hul bekommernis wegneem. Wanneer jy egter weet dat God jou verhoor het, sal jy ook met ‘n 100% sekerheid dat die antwoord sal kom, so seker as wat die aarde bestaan.

 ‘n Gebed wat vertrou kan word

‘n Gebed wat vertrou kan word, is ‘n Heb 11:1 gebed:

Heb 11:1  Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

Saamgeneem kan ons op hierdie maniere toets of ons gebede verhoor is:

  • Ondersoek waar jou vlak van geloof is (R4000 per maand is dalk te veel maar jy kan dalk glo vir R1000 per week)
  • Ondersoek jou vlak van vrymoedigheid
  • Ken God se wil vir jou situasie
  • Verstaan dat daar ‘n ‘inkubasietyd’ ter sprake kan wees

Wanneer hierdie dinge in plek is, dan kan ons vir seker ons gebede vertrou omdat ons dan weet dat God ons verhoor het. Daarna is dit eenvoudig ‘n saak van geloof:

1 Joh 5:15  En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.

31 Oktober en die Hervorming

Ek sien dat die mense ‘n groot ophef daarvan maak dat 31 Oktober ‘n sataniese fees is en nie deur Christene gevier moet word nie. Voordat ons by vandag se boodskap kom moet ons eers vinnig stilstaan by Halloween. Die Halloween vieringe, wat oorspronkik ‘n Rooms Katolieke fees was, het baie van die karaktertrekke van die Ierse fees Samhain (sah-in) aangeneem.

Waar kom Halloween vandaan?

Kortliks het die Keltiese (Ierse) fees Samhain die einde van die somer en die oestyd aangedui en die kouer maande in die noordelike halfrond aangekondig. Die Kelte het geglo dat die grense tussen die wêreld van die lewendes en die dooies op daadie nag vervaag en het as deel van die feesvieringe, maskers en kostuums met spook-temas aangetrek. In ongeveer 609 nC het pous Gregory III die 1 November afgevaardig as ‘n dag om al die heiliges te herdenk. Dit staan bekend as ‘All Saints Day’. Die 2de November was gevier as ‘All Soul’s Day’ en die Rooms Katolieke het op hierdie dag tradisioneel vir die siele gebid van diegene wat oorlede is. Die aand van 31 Oktober het deur die jare in die volksmond bekend geraak as Hallow’s Eve (Hallow-heilig en Eve- aand) of Halloween (‘een’ –evening). In die Ierse kultuur het die die twee feeste vermeng geraak omdat beide feeste op die dooies gefokus het en so  het Hallow’s Eve baie van die karaktertrekke van die Samhain fees aangeneem. Baie jare later eers, so onlangs as 1969, is die fees gekaap as ‘n satanistiese fees toe die Satanic Bible, gepubliseer is deur Anton Lavey.

Ek wil egter nie oor Halloween praat nie. Ek wil praat oor die herdenking van ‘n ander dag wat van besonderse belang vir ons as Christene is. Dit is ‘n dag wat herdenk moet word as die begin van die Hervorming, toe die mense begin raaksien het dat baie van kerk se leringe destyds onBybels was en baie van die fondasies waarop ons geloof vandag rus, gevorm is.

Die begin van die Hervorming

Die dag waaroor ek wil praat, is 31 Oktober 1517. Dit is hierdie jaar presies 500 jaar gelede dat die Protestantse Hervorming begin het. Dit is die dag toe ‘n man met die naam van Martin Luther sy 95 tesise teen die deur van die Rooms Katolieke kerk opgehang het. Ons het ongelukkig so besig geraak om te fokus hoedat hierdie dag ‘n sataniese dag is, dat ons vergeet het om te onthou hoe belangrik hierdie datum vir ons, as Christene, is. En die 2017 herdenking, wat ‘n besonderse mylpaal vir die moderne kerk behoort te wees, het verlore geraak omdat ons toegelaat het dat die dag gekaap word deur ‘n ander geloof. Wat wil ek sê? Ek sê dat 31 Oktober heel eerste vir die Christene ‘n belangrike dag is. Dit het vir ons ‘n belangrike dag geword nog lank voordat die vader van die Sataniese Kerk se oupa-grootjie eers gebore is. Ons het ons ‘eersgeboortereg’ egter verruil omdat ons fokus op dinge wat ons in die eerste plek nie behoort aan te staan nie.

Vandag nooi ek jou uit om 31 Oktober saam met my te vier. Ek nooi die algemene kerk – die gemeenskap van die heiliges – uit om saam met my die 500-jarige herdenking van die Hervorming te vier.

Die vyf Solas

Voortvloeiend uit Martin Luther se konfrontasie met die Rooms Katolieke kerk, het oor die volgende aanal jare ontwikkel wat bekend geword het as Die Vyf Solas.  ‘Solo’ is die Latynse woord vir ‘alleen’.  Wanneer ons die Hervorming herdenk, dan dink ons aan die vyf solas. Elk van hierdie solas kan beide gesien word as ‘n regstelling van die buitensporighede van die Kerk aan die begin van die Hervorming en as ‘n positiewe Bybelse verklaring. Hulle toepassing is tydloos, want waar dit aan die begin ‘n regstelling was, is dit vandag ‘n kompas vir ons.

Sola Scriptura – Alleen die Skrif

Sola scriptura beklemtoon die Bybel alleen as die bron van gesag vir Christene. Deur te sê: “Die Skrif alleen”, het die Hervormers beide die goddelike gesag van die Rooms-Katolieke Pous en vertroue in die heilige tradisie verwerp. Petrus se woorde in  2 Pet 1:20-21 het die basis daarvan gevorm:  terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;  (21)  want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. Sola Scripura beteken dat  slegs die Bybel geïnspireer is deur God.

Enigiets wat deur enige persoon  voorgegee word dat dit net so belangrik soos die Bybel is of wat die tradisie wat die Bybel weerspreek, moet verwerp word. Dit sluit in uitsprake en eise deur persone soos die pous of deur sogenaamde profete soos Ellen G. White van die Sewedaagse Adventiste, Ma Baker Eddy van die Christen Science,  of Charles Russel van die Jehova Getuies. Sola scriptura het ook die vertaling van die Bybel in Duits, Frans, Engels en ander tale aangevuur en die Bybelonderrig in die algemene tale van die dag, eerder as in Latyn, aangemoedig.

Sola Fide – Alleen deur geloof

Sola fide beklemtoon verlossing as ‘n gratis geskenk. Die Rooms-Katolieke Kerk het destyds klem gelê op die gebruik van geld skenk om status by God te koop. Goeie werke, insluitende die doop, is gesien as noodsaakilk vir verlossing. Sola fide daarenteen, sê dat verlossing ‘n gratis geskenk is vir almal wat dit aanvaar deur die geloof. Jy kan nie gered word omdat jy elke Sondag kerk toe gaan of geld vir die armes gee of ‘darem nie so sleg soos ‘n moordenaar of krimineel ‘ is nie. Slegs deur geloof kan jy gered word, en daardie geloof is ook nog ‘n gawe van God:

Ef 2:8-9  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;  (9)  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

Sola Gratia – Alleen deur genade

Sola gratia beklemtoon alleen genade as die rede vir ons verlossing. Met ander woorde, verlossing kom van wat God gedoen het eerder as wat ons doen. Redding is nie gebaseer op menslike inspanning of goeie werke nie. Dit spreek op sigself dat, indien die mens homself kon red, Jesus Christus se werk aan die kruis dan nie nodig was nie.

Rom 3:23-24  want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,  (24)  en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.

Solo Christo (Solus Christus) – deur  Christus alleen

Solo Christo beklemtoon die rol van Jesus in ons verlossing. Die Rooms-Katolieke tradisie het kerkleiers soos priesters of ontslape Christene soos Moeder Maria of St Petrus in die rol van voorsprake tussen die mense en God geplaas. Hervormers beklemtoon Jesus se rol as ons “hoëpriester” wat vir ons voor die Vader inbreuk maak. Hebreërs 4:15 leer:  “Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.” Jesus is die Een wat toegang bied tot God, nie ‘n menslike geestelike leier nie.

Soli Deo Gloria – Alleen aan God die eer

Soli Deo Gloria beklemtoon die verheerliking van God as die primêre doel van ons die lewe hier op aarde. In plaas daarvan om te probeer om kerkleiers te behaag, te hou by ‘n lys van reëls, of om ons eie belange na te jaag, is ons doel om die Here te verheerlik. Die grondslag van Soli Deo Gloria word gevind in 1 Korintiërs 10:31: Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.

Slot

Die Protestantse Hervorming het 500 jaar gelede begin, maar sy beginsels moet nie verlore gaan nie. Net soos aan die begin van die Hervorming, is die kerk vandag ook besig met ‘n stryd om die waarheid. Geestelike dwaling en sterk wêreldse druk versoek die heiliges van God om die evangelie te kompromitteer. Groepe soos die Human Rights Movement en die liberale beweging roep om ‘n mensgesentreerde verlossing.  As ons as gelowiges, onsself nie voortdurend beywer vir die kern leerstellings van die Christelike geloof nie, sal daar noodwendig foute met vernietigende gevolge in die kerk kom. Daarom moet die kerk altyd probeer om die waarhede wat so maklik opsy gesit word, in stand te hou. Verteenwoordig in vyf basiese beginsels, bied die solas van die Hervorming ‘n stewige uiteensetting van die kernwaarhede van ons Bybelse geloof. As ons hulle na aan die hart hou, dien hulle as ‘n anker in ‘n donker, verlore wêreld.

Ek nooi elkeen van u daarom uit om hierdie week, op 31 Oktober 2017, saam met my te onthou dat die Protestantse Hervorming 500 jaar gelede begin het. Laat dit nie ‘n viering van Halloween wees nie, maar van ons wortels.

Tyd vir ‘n Dankoffer

Die Fees van Tabernakels, ook bekend as Sukkot, die Huttefees of die Dankofferfees, is die sewende en laaste fees wat die Here Israel beveel het om te onderhou en een van die drie feeste wat Jode elke jaar moet waarneem deur na Jerusalem te gaan en voor die Here te verskyn. Die Dankofferfees vind plaas op die 15de van die Hebreeuse maand Tishri. Dit is die sewende maand van die Hebreeuse kalender en vind gewoonlik in laat September tot middel Oktober plaas. Dit is ‘n vreugdevolle viering omdat die Israeliete God se voortgesette voorsiening vir hulle deur die jaar gevier het en hulle ook Sy voorsiening en beskerming gedurende die 40 jaar in die woestyn onthou het.

Omdat dit nou Oktobermaand is, is dit ‘n goeie tyd vir ons om ook te onthou en dankbaar te wees vir God se voorsiening oor die laaste jaar.

Ons lees van die Dankofferfees in

Deut 16:13-17  Die huttefees moet jy sewe dae lank hou as jy van jou dorsvloer en jou wynpers insameling hou.  (14)  En jy moet vrolik wees op jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is.  (15)  Sewe dae lank moet jy vir die HERE jou God fees hou op die plek wat die HERE sal uitkies; want die HERE jou God sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees.  (16)  Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie;  (17)  elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het.

Die Evangelies leer ons dat Jesus nie net die fees gevier het nie, maar Hy het ook tradisionele elemente daaruit geneem en toegepas op Sy eie lewe. Ons vind dit veral in Johannes 7 en 8, waar Jesus twee tradisionele simbole uit die Dankofferfees gebruik – water en lig – om die mense te help verstaan ​​wie Hy is.

Lewende Water

Die eerste simbool wat Jesus gebruik het, was water. Die sewende dag van die Dankofferfees het bekend geword as Hoshana Rabba, die Groot Dag. Die Jode het spesiale waardes en tradisies ontwikkel om hierdie spesiale dag in Israel te vier. Die skouspelagtigste hiervan was die ‘water teater’.  Stel jou voor vir ‘n hele parade aanbidders en fluitspelers wat deur die priester na die Bad van Siloam gelei is (waar Jesus die blinde man gesê het om sy oë te was nadat Hy dit met klei bedek het). Die priester het twee goue kruike. Een is vir wyn. Hy vul die ander met water uit die bad. Terwyl die fluitspelers speel, sing ‘n koor van Israeliete Psalm 118. Die hele optog gaan terug na die Tempel deur ‘n spesiale hek, die Waterhek. ‘N Basuin klink wanneer die priester die tempel binnekom. Hy nader die altaar waar twee groot silwer komme wag. Hy gooi wyn in een van die komme, as drankoffer aan die Here en water van die Siloampoel in die ander.  Die hele seremonie, met die parade en die fluitjies en die sang, was so ‘n vreugdevolle geleentheid dat een van die ou rabbi’s geskryf het: “Enigiemand wat nie hierdie waterplegtigheid gesien het nie, het nog nooit sy vreugde in sy lewe gesien nie.”

Dit wys tydens so ‘n seremonie wat ons lees in

Joh 7:37-39  En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!  (38)  Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.  (39)  En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

Die seremonie was om God te bedank vir Sy oorvloed en om Hom te vra om reën in die komende jaar te voorsien. Vandag neem baie mense water as vanselfsprekend aan. Ons draai net die kraan oop en daar is water! Dit was egter nie so in die Midde-Ooste gedurende die eerste eeu nie. Net soos in Suid-Afrika vandag, was water dikwels skaars. Die mense was daarom baie bewus van hul afhanklikheid van God vir die reën wat so belangrik was vir die behoud van die lewe. Geen wonder dat die profete reën gesien het as ‘n simbool van verlossing en die werk van God se Heilige Gees nie.

Ons vier Dankoffer Sondag daarom eerste om die Here te dank dat Hy die Heilige Gees gestuur het om ons te help. Die Amplified Bible vertaal die funksie van die Heilige Gees op sewe maniere: Trooster, Raadgewer, Helper, Intersessor, Advokaat, Versterker en Bystand.

  1. Miskien is jy hartseer en het jy vertroosting nodig – die Heilige Gees is jou Vertrooster
  2. Dalk het jy raad nodig oor ‘n moeilike besluit wat jy moet neem – die Heilige Gees is jou Raadgewer
  3. Het jy hulp nodig met ‘n spesifieke saak, soos ‘n werk of standvastige inkomste? Die Heilige Gees is jou Helper
  4. Moontlik het jy iemand nodig om by God in te tree vir jou – die Heilige Gees, en nie ‘n verhewe mens soos moeder Maria nie – is jou Intersessor of Voorspraak by God
  5. Dit kan ook gebeur dat jy dalk in ‘n regsaak betrokke is, ‘n dissiplinêre verhoor by die werk of jy weet dat die Satan jou aankla oor jou verlede – die Heilige Gees is jou Advokaat
  6. Sukkel jy met ‘n verslawing en is jy swak in ‘n sekere area van jou lewe? Die Heilige Gees is jou Versterker
  7. Of dalk voel dit vir jou dat jou lewe in ‘n groef is, of dat jy net nie meer so kan aangaan nie. Dalk het jy dringend ‘n wonderwerk nodig – die Heilige Gees is jou Bystand, Standby of Backup.

In Suid-Afrika is dit nou tyd vir die lente reën. Wanneer die reën wegbly, dan roep dit ons aandag na die Here en besef ons weereens hoe afhanklik ons van Hom is vir lewe. Wanneer ons besef hoeveel ons afhanklik is van God se genade, dan maak dit ons dankbaar vir die genade wat ons beleef het die afgelope jaar. Ons vier daarom Oktober as ‘n dankoffermaand en vandag is dit Dankoffer Sondag – ‘n dag waar ons die Here gedenk en Hom onthou vir Sy getrouheid en genade oor die afgelope jaar.

Lig

Die tweede simbool wat Jesus gebruik het om vir die mense te leer wie Hy is, was Lig. Dit het Hy gedoen by ‘n ritueel wat volgens die Joodse oorlewering gebruik was tydens die Dankoffer fees. Aan die einde van die eerste dag van die fees was die tempel naamlik glorieryk verlig. Volgens die Mishnah (Joodse oorlewering) het vier reusagtige kandelare in die Hof Van Die Vroue binne die tempel gestaan. Van elk van die vier goue kandelare word gesê dat hulle 50 el hoog was. ‘n El is ongeveer ‘n halwe meter, so ons praat van kandelare wat sowat 25 meter of 8 verdiepings hoog was! Elke kandelaar het vier arms gehad, en bo-aan elke arm was daar ‘n groot bak. Vier jong manne wat 10l oliekruike gedra het, het dan met lere opgeklim om die vier goue bakke op elke kandelaar te vul. Daarna is die olie in die bakke aan die brand gesteek.

Verbeel jou egter hoe majestieus die sestien pragtige vlamme-blare wat uit hierdie goue lampe na die lug gereik het, moes gelyk het. Onthou dat die tempel op ‘n heuwel bo die res van die stad was, so die gloed moes ‘n gesig gewees het vir die hele stad om te sien. Benewens die lig, het Levitiese musikante met hul harpe, liere, simbale en trompette gespeel om voor die Here vreugdevolle musiek te maak. Wat ‘n heerlike viering moes dit nie gewees het nie! Die lig was om die mense te herinner aan hoe God se Shekinah-glorie eenmaal sy tempel gevul het. Maar in die persoon van Jesus was God se heerlikheid weer in die tempel. En Hy het daardie viering gebruik om daardie feit te kondig. Let daarop dat hierdie gebeurtenis plaasgevind het by die tempel, toe die Fariseers ‘n owerspelige vrou na Hom gebring het. Daar het Hy, as die Lig van die Wêreld, regspraak aan haar gelewer. Wie weet, Hy het dalk reg langs die wonderlike kandelare in die Hof van die Vroue gestaan toe dit gebeur het, en toe Hy daarna aan almal wat daar versamel was, verklaar het,

Joh 8:12  Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.

Baie het geweier om hul eie duisternis deur daardie lig bloot te stel. Maar daar was diegene wat na die lig getrek is, wie se harte verbrand is met die waarheid van Jesus Christus.

Slot

Die lig van Jesus Christus skyn vandag nog net so helder, en Jesus se uitnodiging om van die Lewende Waters te drink, staan nog steeds. Waar ons vandag ons dankbaarheid aan God betoon dat Hy ons vir nog ‘n jaar gespaar het, wil ek jou bemoedig om Sy beloftes vas te gryp. Laat die Goeie Nuus van die Koninkryk van God vir jou ‘n tasbare waarheid word, en nie net ‘n akademiese feit wat jy aan andere verkondig nie. Gryp God aan, smeek Hom en laat Hom nie los nie, totdat Sy koninkryk vir jou gekom het, totdat daar Lewende Waters is waarvan jy kan drink wanneer jy wil, en totdat jy die lig van die lewe geword het.

Aan U behoort die koninkryk

Dit word vertel dat Louis Pasteur in 1938 uit Parys verban is omdat hy vertel het dat siektes deur kieme en bakterieë veroorsaak word en dat mens siektes kan keer deur inenting. Die mede-wetenskaplikes van sy tyd het minagtend gesê dat Pasteur se vertelling van ‘n wêreld wat te klein is om met die oog gesien te word, ‘n fantasiese vlug van sy verbeelding was. Pasteur was egter reg bewys en sy tydgenote verkeerd. Sy ontdekking het ‘n radikale invloed gehad op die wyse waarmee siektes behandel word.

Op dieselfde wyse is daar, parallel met die fisiese wêreld waarbinne ons leef, ook ‘n onsigbare, geestelike wêreld. Dit is permanent, ewig en het ‘n diepgaande invloed op ons fisiese omgewing. Dit is ook die plek waar God leef. Net soos wêreld van kieme slegs deur ‘n spesiale apparaat gesien kan word en andersins onsigbaar voorkom, kan die geestelike wêreld ook slegs op ‘n spesiale wyse gesien word omdat dit ook andersins onsigbaar voorkom. Daardie wyse is deur geloof.

Ons teksvers vandag is uit Mat 6:13(b) “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid”. Jesus het nooit iets gedoen of gesê as daar nie ‘n spesiale doel mee was nie. Hoekom het Jesus die Onse Vader op hierdie manier beëindig? Ek glo dat ons geestelik baie voordeel kan ontvang om in meer detail na hierdie vers te kyk: Die “koninkryk” is die regering van God; die “krag” is die bonatuurlike vermoë wat in God gevind word; die “heerlikheid” is die teenwoordigheid van God. Ons kyk vandag in meer detail na God se koninkryk en Sy bonatuurlike krag.

God se Koninkryk op aarde

Ter uitbreiding op die definisie van die ‘koninkryk van God’ is dit God se regering wat op aarde gevestig is wanneer Sy wil ten volle uitgevoer is. Dit is God se administrasie wat die wêreld beïnvloed, en wat die wêreld se ongoddelike bedryfstelsels en orde vervang. Die koninkryk van God is die sigbare heerlikheid en heerskappy van Koning Jesus op aarde. Jesus het na sy opstanding vir veertig dae lank sy dissipels geleer oor die “koninkryk van God”. Sy doel was om hulle voor te berei vir die dag wanneer hulle “krag” sou ontvang soos die Heilige Gees oor hulle uitgegiet is. Die koms van hierdie krag word in hoofstuk 2 van Handelinge aangeteken en word in hoofstuk 3 gevolg deur die manifestasie van God se heerlikheid in die wonderbaarlike genesing van ‘n man wat van geboorte af verlam was.

Jesus het Sy dissipels oor die koninkryk geleer omdat Hy verstaan ​​het dat as hulle effektiewe getuies sou wees in ‘n wêreld wat vyandig is vir die boodskap van die evangelie, hulle Sy krag nodig het. Sedert die tyd dat Jesus na die hemel opgevaar het, was die sterkste bewyse van die opgestane, lewende Christus die werk van die Heilige Gees in sy kerk, sodat die gelowiges andere bonatuurlik ander lief het, die evangelie versprei en verskeie wonderwerke, genesings en tekens deur hulle plaasvind. Kennis van die koninkryk van God rus ons toe om in die krag van God te wandel. Daar is drie aspekte wat sigbaar sal wees in ons lewens wanneer ons God se koninkryk beter verstaan:

Visie

Wanneer ons verstaan dat die koninkryk van God deur ons op die aarde vasgestel moet word, sal ons visie dramaties verander. Die openbaring van die Koninkryk bring in gelowiges ‘n geestelike visie vir wat God in die kerk en in die wêreld wil doen. Dit hou ons gefokus op die missie wat ons op aarde moet vervul, naamlik om God se koninkryk te laat kom. In die afwesigheid van ‘n koninkryk-mentaliteit en geestelike visie, kan bonatuurlike krag maklik gebruik word vir selfsugtige redes – vir ander doeleindes as die uitbreiding van God se koninkryk en die seëninge wat Hy vir sy mense het

Doel en Struktuur

Wanneer ons God se koninkryk beter verstaan, sal daar doel en struktuur in ons lewens kom. Soortgelyk aan die volgelinge van Jesus in die eerste eeu, leef ons in ‘n samelewing wat toenemend vyandig teenoor die evangelie word; dit is vol boosheid en ongeregtigheid. Sonder God se krag en ‘n begrip van die aard van Sy koninkryk, sal ons nooit daarin slaag om Sy koninkryk te laat kom nie. Die hoofrede of doel waarom God Sy bonatuurlike doeleindes aan ons openbaar, is sodat ons Sy koninkryk op aarde kan verkondig en uitbrei.

Wanneer ons oor die koninkryk van die duisternis heers deur die gesag van die koninkryk van God, dan word geestelike orde verseker. Orde kan nie ingestel word in die afwesigheid van regering en outoriteit nie. Dit is die geval in die natuurlike wêreld, maar dit is ook die geval in die geestelike wêreld. Wanneer daar chaos is, is daar verwarring, en die krag van God is nie in staat om te manifesteer nie.

Gesag

Gesag is om die regering van God op aarde en oor Satan af te dwing. Die openbaring van God se koninkryk sal in ons gees kennis bring van hoe om God se gesag te gebruik.  As gelowiges hierdie kennis nie verstaan ​​en toepas nie, het hulle die potensiaal om die mag te misbruik en ander mense te beskadig of selfs te vernietig. God gee ons bonatuurlike geskenke en gesag, en soos Paulus geskryf het, is “die gawes en roeping van God onberoulik” (Romeine 11:29). Ons is egter verantwoordelik vir die ontwikkeling van Christelike karakter sodat ons ons geskenke met volwassenheid gebruik en ander seën, eerder as om hulle te benadeel. Paulus het geskryf: “…wees volwassenes in die verstand” (1 Kor 14:20).

Daarbenewens kan ons Jesus se onderwerping van Satan en die demoniese ryk net verstaan ​​as ons openbaring ontvang oor die gesag van die koninkryk van God. Wanneer ons hierdie waarheid uiteindelik verstaan ​​en toepas, sal ons die onontbeerlike superioriteit van die koninkryk van die lig sien wanneer dit die koninkryk van die duisternis konfronteer.

Die Bonatuurlike Krag van God

Jesus het gebid, “Aan U behoort die koninkryk, en die krag…”

Die Griekse woord wat hier as “krag” vertaal word, is dunamis. Dit is dieselfde woord wat gebruik word in Hand 1:8 “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom…

Hierdie woord verwys na “wonderbaarlike krag”, “vermoë” of “krag in aksie.” Dunamis is die vermoë om wonderwerke te doen. Dit is die dinamiese, plofbare, krag van God – Sy bonatuurlike bekwaamheid.

In baie Christelike kringe toon gelowiges ‘n negatiewe houding teenoor die idee dat God se krag vandag vir ons beskikbaar is, omdat hulle nog nooit ‘n fisiese wonderwerk of ‘n bonatuurlike voorkoms persoonlik ervaar of getuig het nie. Tog is die Bybelse model dat God se krag gekoppel is aan die boodskap van die evangelie. Markus 16:20 sê: “En hulle het uitgegaan en oral gepreek, die Here werk saam met hulle en bevestig die woord deur tekens en wonders.” Die tekens is die verskil tussen ware Christendom en ander godsdienste wat nie ‘n bonatuurlike ervaring kan lewer nie .

Alles wat deur God geskep word, het ‘n spesifieke doel. Hy skep nooit sonder doel nie. As Hy ons Sy bonatuurlike krag deur Sy Seun Jesus gegee het, is dit omdat ons dit nodig het om die Groot Opdrag uit te voer wat Hy ons gegee het. Wanneer mense die doel van iets ignoreer, gebruik hulle dit ondoeltreffend of verdraai sy funksie, en verskeie negatiewe resultate kom voor. Laat ons dus die doel van God se bonatuurlike krag ontdek, hoe om dit te ontvang, en hoe om dit behoorlik te hanteer.

Jesus het Sy krag nie tevergeefs aan ons gegee nie. Hy het duidelike, spesifieke doelwitte in gedagte gehad wat direk verband hou met die vooruitgang van sy koninkryk op aarde. Hier is vier van daardie doelwitte:

Die vorming van ‘n Goddelike karakter

‘n Mens se karakter kan nie voldoende verander word op grond van persoonlike idees, konsepte, filosofieë, prestasies, reëls, norme of dissiplines nie. Om ware verandering in karakter te bewerkstellig, het ons God se wonderbaarlike krag nodig. Godsdiens – die gebruik van wette en reëls om God te behaag – kan nie ‘n persoon se innerlike self verander nie; dit kan net deur God se genade gebeur. Ek definieer genade as “die onverdiende gawe van God se bonatuurlike krag wat ons help om te doen wat ons nie in ons eie krag kan doen nie en om te wees wat ons nie deur ons eie meriete kan wees nie.”

Genade is God se goddelike krag wat ons help om Hom te gehoorsaam en te funksioneer soos Hy dit doen.

Die ontwikkeling van ‘n effektiewe gebedslewe

Jesus het gesê: “Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Mattheus 26:41). Daarom, as ons ‘n lewe van deurlopende gebed wil ontwikkel deur dissipline, toewyding en deursettingsvermoë, kan dit slegs bereik word as ons ook die fundamentele bestanddeel van God se krag byvoeg. Wanneer ons vlees weier om God te soek, moet ons vir Sy genade vra om alle versoeking te weerstaan, en ons doen dit deur die geloof.

Oorwinning oor sonde

Ons kan nie sonde oorwin deur ons eie vermoëns nie. As ons gekonfronteer word met onsuiwer gedagtes, slawerny of verslawings, dalk op ‘n daaglikse basis, en ons probeer hulle oorkom deur streng dissiplines of leë “geestelike” oefeninge, kan ons uiteindelik vernietig word deur goddeloosheid. Sonde is oorwin op die kruis van Golgota. Deur Jesus se gestorte bloed het ons die krag om ‘n skoon, suiwer lewe te lei. Gevolglik het sonde ons nie meer vas nie; Inteendeel, ons het heerskappy en beheer oor sonde deur die oordrag van mag wat Jesus aan die kruis gegee het.

Die Nederlaag van Satan en Sy Demone

Almal het God se bonatuurlike krag nodig om Satan en sy demone te verslaan omdat ons in ‘n voortdurende geestelike oorlog teen hom is. Baie mense besef nie dat die geestesrealm eintlik is nie, dat daar twee koninkryke in konflik is – die koninkryk van God en die koninkryk van die duisternis – en dat ons in die middel van hierdie oorlog is. Jesus het Satan aan die kruis verslaan, maar gelowiges moet aksie neem en die oorwinning op aarde afdwing.

Slot

Het jy al ooit gewonder wat beteken Jesus se woorde in Mat 6:33 wanneer Hy sê, “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Dit beteken dat ons by elke geleentheid moet soek na maniere hoe ons die regering van God op aarde kan afdwing en laat manifesteer. Deur die leiding van die Heilige Gees te volg, sal God Sy bonatuurlike krag dan laat werk deur ons, en sal God daardeur verheerlik word. Ek wil jou bemoedig om hierdie week daarop te fokus dat jy werk in die regering van God, en om Sy koninkryk te laat kom.

Wees sterk in die Here

Ons teksvers vanoggend kom uit Ef 6:10  Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Paulus begin hier om die gemeente in Efese te leer oor geestelike oorvoering en ons gaan vanoggend vir ‘n oomblik hierby stilstaan. Hy begin heel eerste om die kerk in Efese te vermaan om kragtig te wees in die Here. Ons ken amper almal die sinnetjie wat hierop volg in vers 11:  Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Ons mis egter die inleiding, wat die fondasie vorm van die hele lering wat hierop volg. Hoekom begin Paulus deur die gemeente heel eerste te vermaan om sterk te wees in die Here?

Ek glo dat Petrus ‘n gedeelte van die antwoord gee in 1 Pet 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Petrus skrywe nie aan ongelowiges nie. Hy skrywe aan gelowiges. Hy sê dat die duiwel soek na watter gelowiges of Christene hy kan verslind. Om nugter te wees beteken om by jou volle sinne te wees en nie geestelik aan die slaap nie. Om nie geestelik nugter en waaksaam te wees nie, beteken om geestelik swak te wees. Dit is presies die tipe Christen na wie die duiwel op soek is om te verslind. Mens kan finansieël sterk wees, of sielkundig sterk of dalk emosioneel sterk, maar dit is moontlik om nie sterk in die Here te wees nie. Wanneer ons geestelik sterk is, dan kan ons staande bly teen die aanslae van die duiwel.

Die tweede gedeelte van die antwoord, glo ek, vind ons in Ef 2:10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Om kragtig te wees in die Here, beteken nie slegs om jouself te kan beskerm nie, dit beteken ook dat jy behoort te wandel in die goeie werke wat God vir jou voorberei het. Wat beteken daardie goeie werke? Dit is om elke dag vir die Here te vra, “Vader, hoe kan ek U koninkryk laat kom vandag?” en dan te volg waar Hy jou heen lei.

Twee areas om in sterk te wees

Tog gebeur dit dat baie gelowiges sukkel om staande te bly in hulle geloof. Hulle verstaan nie waar en hoe hulle geestelik sterk moet wees nie. ‘n Goeie generaal sal oor die hele gevegsarena kyk om te sien waar sy verdediging sterk is en waar dit swak is. Hy sal dit dan opweeg teenoor wat hy weet waar sy vyand ‘n sterk teenwoordigheid handhaaf en waar hulle nie so sterk is nie. Op grond van hierdie inligting sal hy dan die sterkte van sy weermag verdeel om die mees effektief teen sy vyand op te tree. Ek glo dat ons wys sal wees as ons dieselfde doen.

Ken die stem van die Here

Die eerste area waarin ons kragtig in die Here moet wees is om die stem van die Here te herken. In die Tweede Wêreldoorlog was daar radio operateurs in Engeland wat Duits baie goed kon praat. Hulle werk was om die Duitse bomwerpers deurmekaar te maak. In die een bekende geval het ‘n groep Duitse bomwerpers in die mis verdwaal oor die Engelse kanaal. Hulle het toe oor die radio vir rigting gevra. Die Engelse het gemaak asof hulle die Duitse radiobeheer is en verkeerde instruksies gegee aan die bomwerpers. Hierop het die Duitsers op die radio gesê dat die vlieeniers nie na die Engelse moet luister nie en dat hulle lieg. Toe antwoord die Engelse dat hulle die Duitsers is en dat die Duitsers die Engelse is wat lieg. Die arme vlieeniers het later nie meer geweet wie om te glo nie. Sommige bomwerpers het die regte Duitsers se stemme herken en hulle pad na Engeland gevind. Van die ander weer het die Engelse vir die Duisters aangesien en hulle het oor die see gevlieg totdat hulle brandstof opgeraak het en hulle neergestort het.

In ons geestelike lewens is dit baie dieselfde. Daar is baie stemme wat praat en ons deurmekaar maak. Mens weet nie altyd of dit die Here is wat praat, of dit sommer ons eie gedagtes is en of dit die duiwel is nie. Jesus leer ons in Joh 10:27-28  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.  (28)  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Ons het nodig om die stem van die Heilige Gees te herken tussen al die ander stemme sodat ons Sy instruksies kan volg.

Ken jou skeppingsdoel

‘n Tweede area waarin ons kragtig in die Here moet wees, is ons skeppingsdoel. Die bekende skrywer Mark Twain word onder andere onthou vir hierdie aanhaling: “There are two great days in a person’s life: the day when he is born and the day he finds out why.” In die Tweede Wêreldoorlog was daar ook ‘n sekere afdeling Duitse soldate wat Amerikaans goed kon praat. Hulle mandaat was om soos die Amerikaanse soldate aan te trek en hulle dan deurmekaar te maak en chaos te saai. Wanneer hulle dus Amerikaanse troepe ontmoet het, het hulle die Amerikaners op verkeerde roetes of na verkeerde bestemmings gestuur. Hulle het ook die padwyser bordjies omgedraai sodat die voertuie met die kos en ammunisie na heeltemal verkeerde dorpe gery het. Op hierdie manier het hulle chaos veroorsaak en ook baie mannekrag en tyd laat vermors. Ek glo dat baie mense kan getuig hoedat daar chaos in hulle lewens ontstaan het sodat hulle vandag vasgevang is in ‘n beroep waarvan hulle nie hou nie of in ‘n leefstyl wat nie deel van hulle skeppingsdoel is nie. Hulle wonder hoe hulle daar beland het en en weet nie hoe hulle dit kan verander nie. Ander weer het al ‘n paar regtig goeie kanse gekry op sukses maar op die een of ander wyse kon hulle nie deurbreek nie.

Wanneer ons weet wat ons mandaat is, wat die rede is hoekom ons gebore is, dan maak ons lewe skielik sin en dan is op pad na ‘n definitiewe bestemming. So ‘n persoon sal dinge of persone wat sy tyd of mannekrag wil mors, gou herken en dit vermy.

Jesus het gesê,  “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh 14:6)

Wanneer ons kragtig in die Here is, dan is kragtig in ons skeppingsdoel en in die lewe. Daarom is dit belangrik dat ons ons identiteit en skeppingsdoel sal ken, definieer en kan uitleef. Eers dan sal ons die mandaat kan uitleef in Ef 2:10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Hoe om kragtig in die Here te word

Hier is drie maniere wat die Skrif ons leer, oor hoe ons in die Here se krag kan intap:

Om God te ken, bring krag

In Daniël 11:32, waar hy praat oor die eindtyd, sê Daniël dat daar ‘n groep mense sal wees wat hul goddelose verbeeldingsvlugte sal volg, maar in hierdie vers gee hy ook die ander kant daarvan. Hy sê, “… maar die mense wat hulle God ken, sal vasstaan..” (ANT)

Een van die maniere om God se krag te gebruik, is om Hom te ken. Wanneer ons Hom ken, sal ons die dinge verkry wat ons nodig het, insluitend krag. Dit gaan terug na Matteus 6:33: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal aan julle bygevoeg word.”

As ons eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid soek, sal ons al die ander dinge wat ons nodig het, insluitende krag. Diegene wat hulle God ken, sal sterk wees, en in plaas daarvan om te val, sal hulle groot dade verrig.

Om in die Woord te bly, bring krag

Die apostel Johannes het aan die jongmanne, aan die kinders en die vaders geskryf.  Aan die jongmanne spesifiek het hy gesê: “Ek het vir julle geskrywe, jongmense, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het.”(1 Joh. 2:14).

Tot die mate waarin die Woord in ons bly, sal ons krag hê. Wanneer die Woord aan ons binnekant is en ons daarin woon, mediteer daarop, herkou daaraan en ons gees daarmee voed, sal ons kragtig wees in die mag van die Here. Die tyd om gereed te maak teen siekte is nie wanneer jy siek is nie. Nee, die tyd om sterk teen siektes te wees, is terwyl jy gesond is. Dan is die tyd dat jy gevul moet word met die Woord van God oor genesing.

Die tyd om sterk te word op finansies, is nie wanneer die finansiële stelsels van die wêreld ineenstort nie. Mens moet voor die tyd oor die Woord na dink en oor God se voorsiening van voorspoed in tye van teespoed, in jou gees vasmaak.

Wag op die Here bring krag

Die derde en laaste ding wat ek sien wat krag bring, is uit die woorde van Jesaja. Die profeet Jesaja het gesê dat die wat op die Here wag, kry nuwe krag.

Jes 40:28-31  Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.  (29)  Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.  (30)  Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs;  (31)  maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Die woord wag in vers 31 beteken “om te soek, verwag en hoop in God.” Die woord in Hebreeus vir ‘kry nuwe krag’ beteken “ruil”. Jy sal jou swakheid uitruil vir God se krag. Hallelujah!

Ons het elke dag so ‘n goddelike uitruiling van krag nodig. As jy in die môre opstaan ​​en jy die Here soek en in Sy teenwoordigheid wag, dan dien jy die Here. In Sy teenwoordigheid sal diegene wat geen mag het nie, in krag verhoog word. Vir die swakkes sal Hy sy krag gee, en hulle sal met vlerke soos arende opstyg. As jy moeg is om swak te wees, wag op die Here!

Slot

Ons, as kinders van die Here, kan nie die krag van die Here bekend maak aan die wêreld as ons nie self eers sterk geword het in Sy krag nie. As jy graag ‘n verskil wil maak in jou omgewing, maar jou voel moedeloos en gefrustreerd omdat dit lyk asof alles teen jou werk, dan wil ek jou bemoedig uit ons teksvers vir vandag: Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. (Ef 6:10)

Heiligmaking

Tommy Lessing

2017/09/24

Heiligmaking is ‘n onderwerp wat deur baie gelowiges vermy word, miskien bloot omdat die term geheimsinnig klink, amper soos iets wat te moeilik is om te verstaan. Dit is in elk geval soos wat dit vir my geklink het toe ek die eerste keer daarvan gehoor het. Om beter te verstaan waarvan ons praat, moet mens eers die term omskryf en dan verstaan waar die term vandaan kom.

Die woord Heilig

Ons kan nie oor Heiligmaking praat as ons nie ‘n gemeenskaplike verstaan het van die woord ‘heilig’ nie. Webster se teologiese woordeboek beskryf heilig (ek vertaal vrylik) as

  1. Behoorlik en geheel volmaak, in ‘n morele sin. Suiwer van hart, humeur of ingesteldheid; vry van sonde en sondige hartstogte.
  2. Afgesonder word tot ‘n heilige gebruik, of tot diens of aanbidding van God.
  3. Voortspruitend uit vrome beginsels, of gerig op vrome doeleindes; soos heilige ywer.
  4. Heeltemal regverdig en goed; soos die heilige Wet van God.

Webster sê voorts (vrylik vertaal) dat “die mens is min of meer heilig, wanneer sy hart min of meer geheilig, of gesuiwer is van boosheid en sonde. Ons noem ‘n man heilig, wanneer sy hart in ‘n mate tot die beeld van God gelykvormig is en sy lewe gereguleer word deur God se beginsels.”

Om heilig te wees, beteken derhalwe om moreel suiwer van hart te wees, vry van sonde en sondige hartstogte terwyl mens ‘n lewe lewe wat afgesonder is tot die diens en aanbidding van God.

Wat Heiligmaking is

As heiligheid die doel is, dan  kan Heiligmaking breedweg omskryf word as die proses van heiliging van ‘n gelowige se gedagtes, woorde en dade. Dit kan dus as ‘n tipe suiweringsproses beskryf word. Die proses van Heiligmaking vereis die betrokkenheid van twee partye. Dit vereis eerstens afsondering en toewyding (om onsself aan God te gee) vanaf die mens se kant, en tweedens, suiwering (van die krag van sonde) vanaf God se kant. Sonder ons deel van toewyding kan ons nie heilig gemaak word nie, want God kan net heilig maak wat aan Hom gegee word. Sonder God se deel van suiwering weer, kan ons ook nie heilig gemaak word nie, want die krag van die sonde binne ons is groter as ons vermoë om dit te oorwin.  Daar is derhalwe ‘n duidelike sinergie of wisselwerking tussen die twee rolspelers (God en mens) in die proses van heiligmaking.

Heiligmaking is ‘n opdrag van God aan alle gelowiges

Heiligmaking word regdeur die Bybel van eerstens Israel (in die Ou Testament) en tweedens alle gelowiges (in die Nuwe Testament) verwag. Petrus sê die volgende oor heiligmaking in sy sendbrief aan die gemeentes:

1 Pet 1:14-16  Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.  (15)  Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,  (16)  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

Petrus verwys hier na definitiewe opdragte wat God deur Moses gegee het, soos bv. in Lev 11 en ander tekse in die Pentateug:

Lev 11:44-45  Want Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig; daarom, verontreinig julle self nie deur enige ongedierte wat op die aarde kruip nie.  (45)  Want Ek is die HERE wat julle uit Egipteland laat optrek het om julle God te wees. So moet julle dan heilig wees, omdat Ek heilig is.

Paulus skrywe oor heiligmaking aan Timoteus:

2Ti 2:19-21  Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.  (20)  Maar in ‘n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer.  (21)  As iemand hom dus hiervan [die ongeregtigheid] deeglik reinig, sal hy ‘n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.

Ons sien dus dat heiligmaking ‘n opdrag in die Bybel aan alle gelowiges is. Ons kan sê dat Moses en Petrus gesê het, ”Word in julle lewenswandel heilig, want die God wat julle aanbid is heilig, en Hy verwag dieselfde van julle.”

Die mens se deel

Die mens se deel in heiligmaking kan in twee duidelike segmente verdeel word: afsondering en toewyding.

Afsondering

Wat met afsondering bedoel word, is dat die gelowige nie letterlik geskei moet word van diegene wat nie ‘n persoonlike verhouding met God het nie, maar om geestelik en moreel van hul standpunte as ‘n wêreldbeskouiing af te skei. God het die mens as vrye morele agent geskep, dit wil sê met vryheid van keuse. Dit is nie ‘n keuse om te doen soos ‘n mens behaag nie, maar om te kies om Hom te dien of nie te dien nie. Afsondering van sekulêre standpunte en onderwerping aan die Woord, op sigself getuig oor wat God se waarheid is. Jesus het gesê: “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

Pastor Sean McDowell vertel dat hy onlangs as die gasspreker by ‘n jeug-Bybelkamp in Noord-Kalifornië opgetree het. Die studente was onder andere uitgedaag om die aanspraak van Jesus as die waarheid en die enigste weg na die Vader te debatteer (Joh. 14: 6). Aan die einde van die week toe hy die beraders gevra het vir terugvoering, het die antwoorde hom geskok. Een kampeerder het dit basies opgesom: “Ons hou van sy stories, maar dis net sy waarheid. Ek wil hom nie oordeel nie, maar ek het ‘n ander waarheid. ”

Haar reaksie sou mens waarskynlik nie so erg geskok het nie, veral omdat studies toon dat die meerderheid van ons jeug (81%) die siening aangeneem het dat “waarheid relatief tot die individu en sy omstandighede is. Kommerwekkend soos dit mag lyk, toon onlangse studies dat die meerderheid van ons jeug met hierdie meisie sal saamstem. Wat godsdiens en moraliteit vir hulle betref, kan iets waar vir jou wees, maar nie waar vir my nie.

Om afgesonderd aan God te wees, beteken dat ons, onsself onderwerp aan die Woord as die enigste objektiewe waarheid en die enigste objektiewe moraliteit. Afgesien van die Woord, is daar geen vaste moraliteit nie, asook geen objektiewe standaard om goed of sleg aan te meet nie. Daarsonder sal elke mens se waarheid dan diè waarheid wees soos wat hy of sy dit subjektief ervaar – net soos in die voorbeeld hierbo. In die beste sin word die persoon wat nie hoër morele gesag as homself erken nie, ‘n god in homself vir alle praktiese doeleindes. Definisies van reg, verkeerd, goed of kwaad sonder erkenning aan God se Woord as die finale gesag, word dan ‘n persoonlike keuse. By definisie word die een wat op hierdie manier glo (dat hy/sy hulle eie finale gesag is), dan soos ‘n god. Dit herinner sterk aan wat die slang vir Eva in die tuin van Eden gesê het:

Gen 3:5  maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God (Engels=’gods’) sal wees deur goed en kwaad te ken.

Toewyding

Toewyding aan God beteken om die weë van die wêreld af te lê en om te lewe volgens die vereistes van God se Woord. Dit beteken dat die gelowige nie meer al die voorregte het wat die ongelowige tipies het nie. Daarom lees ons in Rom 12:2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

En in 1 Pet 1:14-16  Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.  (15)  Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,  (16)  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

In die Ou Testament was alles wat in die tempel gebruik was in diens van God, toegewy aan God. Dit sluit alles in, tot die tangetjie waarmee die kerse se vlamme geblus is. Wanneer iets eers aan God toegewy was, mog dit nooit weer vir ‘n ander doel aangewend word nie. Hierdie toewyding vir heilige diens was die Ou Testamentiese heiligmaking.  Tog was die toewyding in die ou bedeling maar ‘n skaduwee van die nuwe. Dit was God se eie manier van heiligmaking om dinge vir Hom heilig te maak. Die manier hoe dit toegewy was, was dat sommige voorwerpe gesalf was met olie, terwyl andere weer reiniging met bloed en salwing met olie vereis het. In Hebreers lees ons oor heiligmaking in Heb 9:13-14  Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees,  (14)  hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.

Deur die bloed van Jesus alleen word ons geregverdig bevind om toegewy te word aan God. Geen sondaar kan ‘n besliste toewyding maak nie; want hy het geen goeie dinge om na God te bring nie. Hy is skuldig en veroordeel in die oë van God. Dit is die geregverdigde gelowige wat deur ervaring geleer het dat sy innerlike geestelike toestand nog nie bevredigend is nie. Dit mag dalk vir ‘n tyd gewees het; maar hy word vroeër of later bewus daarvan dat daar ‘n dieper genadewerk nodig is. Hy betwyfel nie dat hy geregverdig is nie, maar weet dat daar nog iets meer gedoen moet word. Deur die bediening van die Woord van God en die geseënde leiding van die Heilige Gees word hy gou geleer dat ‘n bepaalde toewyding as een van die Bybelse voorwaardes vir heiligmaking gemaak moet word.

Oproep tot Aksie

Nou kom die soekende en verreikende vraag: Is jy bereid om hierdie toewyding te maak? Dit beteken alles vir jou siel, want as jy bereid is om die toewyding te maak, dan het God iets waarmee Hy kan werk, dan kan Hy jou verstand suiwer en aan jou oorwinning gee oor die krag van die sonde in jou. Dit is belangrik want Hy kan tog nie iets suiwer wat nie aan Hom behoort nie. Ek bemoedig jou ten sterkste om hierdie week jou lewe in oenskou te neem en dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. (Rom 12:1).

Om te Vas

Tommy Lessing

2017/09/17

Ek het onlangs ‘n getuienis gelees van iemand wat vertel dat hy op 35 jarige ouderdom verslaaf was aan sigarette en drank. Nadat hy tot bekering gekom het, het hy probeer om op te hou rook en drink, maar niks wou werk nie. Hy het die Here vertrou vir totale verlossing maar dit het net gelyk asof die hemele vir hom gesluit was – hy kon eenvoudig nie nee sê vir ‘n sigaret of drankie nie. Eendag het hy ‘n boek oor Bybelse vas en gebed gelees en besluit om dit te probeer. Hy het op ‘n vas gegaan en baie siek geword. Sonder dat hy dit besef het, was hy ook erg verslaaf aan koffie! Sy liggaam het deur erge onttrekkingsimptome gegaan totdat hy na die vierde dag dit nie meer kon hou nie en die vas gebreek het. Die volgende dag het hy ‘n groot verskil agtergekom. Waar hy voorheen nie kon nee sê vir die versoeking om te rook of drink nie, het hy nou skielik die wilskrag daarvoor gehad. Die krag wat die verslawing oor hom gehad het, was gebreek!

Daar is baie opregte vrae wat mense vra oor vas wat ons nie kan ignoreer nie. Daar is egter ook vrae wat twyfel skep en mense beroof van seën wanneer mense vas. Sommiges verstaan dit nie en het nog nooit gevas het en sit met vrae oor hoe, waarvan en waarom vas mense? Daar is vandag nog mense wat vas verstaan en vir die regte redes vas, en geweldige seen ontvang van die Here.

Wat is ‘n Christelike vas?

Bybels is ‘n Christelike vas die weerhouding van voedsel, drank, slaap of seks vir ‘n tydperk om op geestelike groei te fokus. Gedurende hierdie tyd ontsê ons iets van die vlees om God te verheerlik, ons gees te versterk en dieper in ons gebedslewe te gaan. Die tydperk wat ons sou afstaan aan die aktiwiteit, word tradisioneel gewy aan gebed, soos gebed gedurende ‘n etenstyd.

Vas is nie ‘n soort ‘werk’ wat deur Christus beveel word of deur die Skrif vereis word nie. Dit beteken egter nie dat vas nie sterk aanbeveel word as deel van ons geestelike groei nie. In die boek Handelinge het gelowiges gevas voordat hulle belangrike besluite geneem het. Vas en gebed word dikwels aanmekaar gekoppel. Te dikwels val die klem op die gebrek aan voedsel,  maar die doel van vas is om ons oë van die dinge van hierdie wêreld af te haal en eerder op God te fokus. Vas is ‘n manier om aan God en onsself te bewys dat ons ernstig is oor ons verhouding met Hom. Vas moet beperk word tot ‘n vasgestelde tyd, veral wanneer dit ‘n vas van voedsel of vloeistowwe is. Vas is nie bedoel om ons vlees te straf nie, maar om op God te fokus.

Vas moet ook nie as ‘n ‘dieetmetode’ beskou word nie. Ons moet nie vas om gewig te verloor nie, maar eerder om dieper gemeenskap met God te verkry.

Vas in die Bybel en vroeë kerk

Die eerste plek waar ons die woord vas vind in die Bybel is in Rigters 20:26

 (26)  Daarop trek al die kinders van Israel, ja, die hele volk weg, en hulle het na Bet-el gekom; en hulle het geween en daar gebly voor die aangesig van die HERE en dié dag gevas tot die aand toe en brandoffers en dankoffers voor die aangesig van die HERE gebring.

Jesus het as mens self gevas en verwys na vas, bv. die 40 dae in die woestyn in Mattheus 4.

Daarna sê Hy dat Sy dissipels sal vas as Hy weg is in Markus 2:20 “Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, end an sal hulle vas, in daardie dae.”

Die mense in die Kerk in Handelinge het gevas toe hulle ouderlinge kies in Handelinge 14:23 En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, na gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.

Cornelius het gevas in Handelinge 10:30 En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid.

Die vroeë Kerk het elke Woensdag en Vrydag afgesonder om te vas. Die Fariseers weer het Maandae en Donderdae gevas. Epiphanis die Biskop van Silamis het gese “Wie weet nie dat die kerk die vierde en sesde dag as dag van vas gebruik”

Jonathan Edwards het die dag voor sy bekende preek “Sinners in the hands of an angry God” gevas, en toe breek daar herlewing uit.

Praying Hyde was so intens besig om te bid en die Here te soek dat iemand skryf “he would leave his bed unslept in and the food untouched because he was so engrossed in intercession that he forgot to eat and sleep”.

Verskillende maniere om te vas

Alhoewel vas in die Skrif amper altyd ‘n vas van voedsel of water is, is daar ander maniere ook om te vas.

Enigiets wat jy tydelik kan opgee om sodoende beter op God te fokus, kan as ‘n vas beskou word. So ‘n vas word ‘n gedeeltelike vas genoem.  Ons lees in die Bybel van ‘n gedeeltelike vas in  Dan 10:2-3  In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was.

Sommige van ons mag dalk nie volkome van voedsel kan vas nie (diabete, byvoorbeeld), maar almal kan tydelik iets opgee om op God te fokus. Selfs die weerhouding van die televisie of sosiale media vir ‘n tydperk kan ‘n effektiewe vas wees.

‘n  Normale vas is die weerhouding van kos en vloeistowwe (behalwe water)  vir ‘n vasgestelde periode. Dit hoef nie vir ‘n lang tydperk, soos drie dae of drie weke te wees nie. Mens kan byvoorbeeld een ete vas, soos ‘n middagete. Die Herlewing in 1857 in Noord Virginia het uitgebreek nadat mense gedurende hul etenstye gevas en gebid het. (Die “Fulton Street revival 1857”)

‘n Krisis vas of absolute vas word gedurende tye van groot krisis onderneem. Dit is die absolute weerhouding van alle kos, vloeistowwe en selfs water vir ‘n vasgestelde tydperk. Ons lees van ‘n krisis vas in die boek Jona. God wou die stad Ninevé verwoes vanwee die geweldige sondes wat die mense daar gepleeg het. Hy het toe vir die profeet Jona gestuur om die mense van Ninevé te waarsku wat gaan gebeur as hulle nie hulleself bekeer nie.  Jona 3:4-10:

(4)  En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes. (5)  En die manne van Ninevé het God geglo en ‘n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee. (6)  En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in die as gaan sit. (7)  En hy het in Ninevé laat uitroep en sê: Op las van die koning en sy groot manne—geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie, hulle mag nie wei of water drink nie; (8)  maar mens en dier moet ‘n rougewaad om hê, en hulle moet ernstig tot God roep, en elkeen moet hom van sy verkeerde weg bekeer en van die onreg wat aan sy hande kleef. (9)  Wie weet of God nie sal omkeer en berou sal hê nie, sodat Hy Hom afwend van die gloed van sy toorn en ons nie vergaan nie? (10)  En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie.

Omdat die atmosfeer gedurende ‘n vas tydperk een van erns is, sal mens alle ontspanning of gerieflikheids-aktiwiteite vermy wanneer jy vas, soos televisie kyk, sport, ens.

Paulus leer ons dat die weerhouding van seks ook ‘n deel van vas is:

(1 Kor 7:5)  Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ‘n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.

Jesus het spesifieke voorskrifte gegee vir wanneer ons vas:

(Mat 6:16-18)  En wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.

Vas is ook nog vir vandag

  • Vas is nie iets wat sommer so terloops gedoen word nie.
  • Dit is n saak van die hart. Daar is verootmoediging en benoudheid.
  • Jy kan bid sonder vas, maar nie vas sonder gebed nie.
  • Wanneer mense vas en ernstig bid gebeur daar vandag nog wonderlike dinge.
  • Wanneer mense vas en bid ervaar hulle geestelike deurbrake wat andersins nie sou gebeur nie
  • Mens kan vas saam met n groep mense, of alleen.

Riglyne vir vas

  • Moet dit nie met n halwe hart doen nie.
  • Vra die volgende 3 vrae as jy wil vas
    • Waarom doen ek dit,
    • Waarvoor doen ek dit en
    • Waarvan vas ek?

Voorgestelde moenies

  • Beperk TV kyk en sosiale media. Bid in daardie tyd
  • Geen sport
  • Geen koerant of tydskrif
  • Beperk sel en internet, wêreldse musiek
  • neem self inisiatief (geen koffie, lekkernye ens.)

Voorgestelde moets

  • Begin deur een maaltyd per dag uit te sny en bid spesiaal in daardie tyd
  • Elke dag op my knieë saam met iemand anders
  • Elke dag met een persoon kontak wat nood het
  • Elke dag saam met en/of vir iemand bid
  • Elke week een gesamentlike biduur/selgroep ook bywoon
  • Die komende eredienste almal bywoon
  • Meer tyd in gebed spandeer
  • Meer Bybel lees in spaartye

Slot

Christelike vas is meer as om onsself kos of iets anders van die vlees te ontsê – dit is ‘n lewenstyl voor God. In Jesaja 58 leer ons wat ‘n “ware vas” is: Vas bevorder nederigheid, breek die kettings van ongeregtigheid, maak die toue van die juk los, bevry die verdrukte, voed die wat honger is en voorsien aan die armes. Die konsep van vas is nie ‘n eendaagse ding nie – dit is ‘n lewenstyl van ‘n dienaar wat vir God en ander leef. Ek sluit af met die woorde van Jesaja in Jes 58:8-11

(8)  Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees. (9)  Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, (10)  en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag. (11)  En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.

Versoeking, Beproewing of Toets?

Tommy Lessing

2017/09/10

Het jy al ooit gewonder wanneer is ‘n gebeurtenis in jou lewe ‘n versoeking, ‘n beproewing of ‘n toets? Wanneer ons suksesvol tussen hierdie drie kan onderskei, sal dit ons help om baie vinniger geestelik te groei en makliker op God te vertrou. Dit sal ons ook help om te onderskei tussen die liste van die Satan en die werkinge van God in ons lewens.

Versoeking

Almal van ons staan een of ander tyd in ons lewens ​​voor versoekings. Die waarheid is ongelukkig dat baie min mense dit effektief kan hanteer. Dit behoort nie die geval te wees nie, en dit hoef beslis nie die geval vir gelowiges te wees nie. Ons lees oor versoekings in

(Jak 1:12)  Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.

(1 Kor 10:13)  Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.

Definisie: Om die tekste hierbo beter te verstaan, is dit nodig om te definieer wat ‘n versoeking is: ‘n Sterk begeerte of iets wat ‘n sterk begeerte veroorsaak om te sondig of iets onwys te doen.

Lees nou die teksverse hierbo weer ‘n keer, maar sit “sterk begeerte om te sondig” in die plek van die woord “versoeking”.

  • Versoekings op sigself is nie ‘n sonde, om in te gee daarvoor is. Jakobus 1:12
  • Volgehoue of gereelde versoekings​​ maak ons ​​sterker en het sy beloning
  • Versoeking kom nie van God nie – dit kom van Satan of deur die vlees – Jak 1:13

Doel: Die doel van versoekings is om die slegste in ons uit te bring … en vir ons om te leer om te oorkom. Gelukkig is God ons vennoot; Hy belowe om ons ‘n oorwinning in die middel van ons versoekings te bring – dit is ons sin as ons dit sou verkies.

Hantering: Die manier hoe ons versoekings hanteer, is ‘n goeie aanduiding van ons vlak van geestelike ontwikkeling. Daar is ‘n Engelse spreekwoord wat, losweg vertaal, sê: “fail to plan and you plan to fail.” Dié stelling kan nie meer waar wees as wanneer dit op versoekings toegepas word nie.

Hier is vier maklike maniere om jou te help om versoekings te weerstaan of te oorwin:

  • Beplan: Mense wat hulle swak punte ken, sal planne beraam om hulle te help wanneer ‘n versoeking aan hulle deur klop. Dink byvoorbeeld aan hoeveel mense, mans sowel as vrouens, sukkel met wellus. Ek het gevind dat ‘n goeie manier om ‘n wellus versoeking te hanteer wanneer ons in die versoeking kom om iemand te begeer, is om dadelik vir hom of haar te bid. Ek ken niemand wat elke oggend opstaan ​​en bid om te misluk wanneer hy in die versoeking kom nie, maar ek ken baie mense wat elke oggend opstaan ​​en versuim om te beplan vir of te bid teen versoekings. So, eerste en belangrikste, moet ons voorbereid wees:

2 Kronieke 12:14 lees, En hy het gedoen wat verkeerd was, omdat hy sy hart nie berei het om die HERE te soek nie.

  • Bring daaglikse tyd in gebed deur
  • Doen gereelde Bybelstudie is derde en en
  • Bid gereeld in jou taal.

Beproewinge

Definisie: ‘n Beproewing is ‘n toets van die prestasie, eienskappe of geskiktheid van iemand of iets.

Doel: Die doel van beproewings is om ons lewens te verfyn en ons met ‘n suiwer, sterker geloof te laat, sowel as met ‘n karakter wat God kan seën en gebruik. Die gevolg van beproewings is dat ons mettertyd meer en meer soos Jesus begin kyk. Beproewings is pynlik en moeilik van aard, veral omdat dit dikwels met swaarkry (verdrukkinge) gepaard gaan. Dit wys ons foute en swakhede uit en ontwikkel ‘n goddelike karakter in ons. Uit persoonlike ondervinding kan ek getuig dat beproewinge my meer as enigiets anders geleer het om blindelings op God te vertrou. Dit is hoe ons beproewinge hanteer wat die verskil maak:

(Rom 5:3-5)  En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,  en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

Hantering: Uit die teksvers hierbo leer ons dat ons beproewinge met geduld en lydsaamheid moet hanteer. Ek het ondervind dat ek beproewinge die beste hanteer wanneer ek die beloftes van God oor die spesifieke situasie aangryp en kies om op Hom te vertrou om dit ten goede vir my te laat uitwerk:

(Rom 8:28)  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Hebreërs hoofstuk 12 leer aan ons die beste optrede wanneer ons deur beproewinge gaan: (een moet en drie moenies):

  • Vertrou op God tydens die beproewing
  • Moenie bitter raak nie
  • Moenie moed verloor nie, dit sal nie erg raak dat jy dit nie kan verdra nie
  • Moenie teen die beproewing skop nie, herken dit en laat dit toe om jou geloof te verfyn.

Toetse

Toetse en beproewinge kan baie eenders voorkom en is soms moeilik om te onderskei.

Definisie: ‘n prosedure wat bedoel is om die gehalte, prestasie of betroubaarheid van iets te bepaal, veral voordat dit in algemene gebruik geneem word.

In die sin van beproewinge kan ons sê dat beproewinge meer bedoel is om die individuele kwaliteite van ons karakter te toets, waar ‘n  toets is meer ontwerp om die totale prestasie van die persoon vas te stel.

Doel:  Die doel van ‘n toets is om vas te stel of ons die lesse van ‘n goddelike lewenswyse kan assimileer en prakties kan toepas.

Alhoewel ons gewillig moet wees om te vertrou en gehoorsaam te wees, selfs as ons nie weet waarom nie of wanneer die antwoord vir ‘n geruime tyd nie gegee word nie, moet ons onderskei tussen versoeking en toetsing: Satan en ons eie vleeslike begeertes versoek; God toets. Versoekinge kan lei tot ons mislukking en vernietiging; toetse openbaar aan ons waar ons in terme van ons geloof is. Dit is terwyl ons deur die vuur van toetsing en beproewinge gaan, dat ons versterk, geheilig en gesuiwer kan word.

Hantering: Wanneer God ons toets, wil Hy hê ons moet slaag. Hy wil hê ons moet sien dat ons geloof daadwerklik is en dat dit die vuur van ‘n praktiese toets deurstaan het:

(Rom 12:2)  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

(Psa 34:19 Menigvuldig is die teëspoed van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom.

  • Evalueer jou prestasie na afloop van die toets
  • Leer uit jou foute, staan op en gaan aan met die lewe
  • Laat toe dat die toets jou ten goede verander.

 (1 Pet 1:6-7)  Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus.

Ons sien uit hierdie gedeelte dat God ons net toets soos dit nodig is. Hy is nie kwaadwillig nie en wil ons ook nie onnodig sien swaarkry deur middel van beproewinge nie. Net soos ‘n goudsmid net die metaal in die vuur sit om van onsuiwerhede ontslae te raak, so is die weg van die Here. God sal ons toets sodat ons kan sien waar ons moet verbeter. Ons kan seker wees dat God elke toets sodanig opstel dat dit individueel sal uitwys waar ons gebreke en onsuiwerhede is sodat ons geheilig en verander kan word. Toetsing is dus meer iets om te hoop eerder as om te vrees.

Slot

Versoekings wys aan ons daardie areas uit waar ons nog ‘n sterk begeerte het om in te sondig. Hoewel die Satan dit graag sal wil gebruik om ons te vernietig, is duidelik dat God eerder wil hê dat ons daardeur van ons eie swakhede bewus sal word en betyds sal beplan hoe ons dit gaan hanteer wanneer dit weer gebeur. Persone wat versoekinge herken vir wat dit is en op so ‘n wyse hanteer, is geestelik volwasse.

Beproewinge en toetse is om te openbaar watter van ons karaktereienskappe nog moet ontwikkel en hoe suksesvol ons die lesse uit die Bybel prakties kan toepas in ons daaglikse lewens . God word kragtig verheerlik deur diegene wat aanhou glo, selfs wanneer dinge nie sin maak nie en dalk selfs teenstrydig voorkom. Ons moet nie beproewinge en toetse vrees nie; inteendeel, ons moet Hom vertrou om ons deur hulle te bring. Hoekom? Omdat God goed, getrou en liefdevol is, weet ons dat ons beter sal eindig as wat ons voorheen was. Weereens veroorsaak God dat alle dinge vir ons ten goed meewerk, al maak dit vir ‘n kort tyd nie sin nie, al dit maak seer, of al dit is moeilik.