Oktobermaand is die maand waarin ons die begin van die Reformasie deur Martin Luther herdenk. Uit die Reformasie het daar 5 bekende leerstellings ontstaan om dit te onderskei van die Rooms-Katolieke leringe van Luther se tyd:

  • Sola scriptura (“deur die Skrif alleen”)
  • Sola fide (“deur geloof alleen”)
  • Sola gratia (“uit genade alleen”)
  • Solus Christus of Solo Christo (“Christus alleen” of “deur Christus alleen”)
  • Soli Deo gloria (“eer aan God alleen”)

Die 5 sogenaamde ‘solas’ het die gesig van Christenskap vir altyd verander omdat ’n vaste fondasie verskaf het waarop mense kon bou, beide vir hulle lewe op aarde sowel as hulle voorbereiding vir die hiernamaals. Vandag wil ek fokus op Solus Christus – Deur Christus alleen.

Solus Christus is nie minder aanstootlik vandag as in die tyd van die Hervorming nie, maar vandag is dit aanstootlik omdat dit die godsdienstige pluralisme van ons tyd uitdaag.

Lei alle paaie na Rome?

Ek hoor dat mense toenemend sê dat ons redding na die ewige lewe soos deur die Bybel beskryf, nie slegs deur Jesus Christus moontlik is nie, maar ook deur verskeie ander gelowe. After all, lei alle paaie dan nie na Rome nie?

Al word ek soms daarvan beskuldig dat my geloof subjektief bevooroordeeld is weens my oortuigings, hou ek tog daarvan om terug te staan en ’n groter prentjie te probeer sien. Wanneer ons vir mekaar sê, Solus Christus – dat ons redding alleen moontlik deur Christus is – wat sê ons dan eintlik m.b.t. die ander gelowe wat klaarblyklik soortgelyke aansprake maak? Hier is ’n baie kort kykie na vier ander hoofstroom wêreldgodsdienste:

Redding in Hindoeïsme

Oosterse godsdienste volg nie regtig die idee van ’n hemel soos dié in die Weste nie. In plaas daarvan bied hulle gewoonlik ‘n soort vrymaking van die illusies en lyding in die huidige wêreld. Hierdie aksie of karma veroorsaak dat ons deelneem aan ’n siklus van dood en wedergeboorte waaruit dit moeilik is om te ontsnap. As jy aan jou onkunde kan ontsnap en besef dat jy uiteindelik Brahman self is, dan kan jy bevry word uit die kringloop van reïnkarnasie. Dit word moksha genoem.

Redding in Boeddhisme

Die Boeddhistiese tekste sê dat daar een -en -dertig vlakke of toestande van bestaan ​​(loka) in die heelal is, insluitend dié van mense. Wesens word in ‘n bepaalde vlak gebore, afhangende van hul opgehoopte kamma.

Op die menslike vlak is daar vier vlakke wat beskryf word as ongelukkige bestaanstoestande. Wesens word in die laagste toestand gebore wanneer hulle ongesonde kamma het. Oormatige hebsug en gehegtheid aan wêreldse besittings kan veroorsaak dat mens in die siklus van bestaan gebore word in ’n ongelukkiger bestaanstoestand as voorheen, terwyl ’n gesonde kamma kan veroorsaak dat mens uit die menslike vlak na die volgende vlak (deva) gebore kan word deur die proses van reïnkarnasie.

Die Boeddha self het geleer dat begeerte ‘n vlam is wat ons brand, dat dit al die lyding veroorsaak en ons vashou aan die kringloop van reïnkarnasie. Waarop hulle hoop is Nirvana, of die blus van die vlam, wat ook die einde van lyding is.

Redding in Islam

Die Islamitiese weergawe van die hemel is ‘n paradys vir diegene wie se goeie werke die slegte oortref het, soos bepaal deur die pad wat in die Koran uiteengesit is. Die Paradys of Jannah is vir diegene wat Allah se  goedkeuring verwerf het deur hulle dade, terwyl die hel of Jahannam vir diegene is wat dit nie verwerf het nie. Die meeste Moslem teoloë is dit eens dat hierdie ewigdurende plekke is.

Redding in Judaïsme

Mens sou dink dat die konsep van ’n hemel sy oorsprong het in Judaïsme, maar dit het vreemd genoeg nie. Selfs in die Nuwe-Testamentiese tye is die vurige verskille opgeteken oor die stryd tussen die Fariseërs (glo in ’n lewe na die dood) en die Saduseërs (glo dat mens ophou bestaan wanneer jy sterf). Oor die millennia het Jode in verskillende weergawes van Gan Eden (Tuin van Eden) of hulle hemel begin glo, wat plaasvind nadat die Messias gekom het en die regverdiges weer lewendig sal word.

In Judaïsme verkry mens die goedkeuring van God deur die Wette van Moses en die skrywes van die Profete te onderhou.

Pluralisme – ’n kykie na jou hand

Ek het hier 4 verskillende wêreldgodsdienste se siening oor die redding van die mensdom genoem. Die vyfde is die redding van die mensdom deur geloof in Jesus Christus. Ter illustrasie wil ek hê dat jy jou hand voor jou moet oopmaak, met die palm na jou toe en die vingers van mekaar uitgesprei. Jou handpalm verteenwoordig die mensdom en jou vyf vingers hierdie vyf sieninge oor die mensdom se redding. Omdat jou vingers uitgesprei is, sal jy sien dat elke vinger sy eie, unieke pad na redding aandui; elk met sy eie reëls en vereistes. Die een vinger meng nie met die ander nie, elkeen volg sy eie pad.

Die einddoel van elke vinger is om die goedkeuring van jou redding te bekom deur die Godheid oor daardie weg. In bv. Hindoeïsme moet jy die god Brahman se goedkeuring verkry om moksha te behaal en van die siklus van reïnkarnasie te ontsnap; terwyl in die Islam jy weer Allah se goedkeuring moet verkry om in sy Paradys te kom.

Ons kan dus sê dat hulle gemeenskaplik eksklusief is: deur een van hulle te kies, sluit jy noodwendig die ander uit. Ek sien dat die mensdom lief is daarvoor om ’n soort ‘doringdraad benadering’ te probeer volg en te probeer om alle godsdienste te versoen, sodat hulle basies kan doen wat hulle wil en steeds ‘gered’ kan wees vir die lewe in die hiernamaals. Ons noem hierdie benadering ‘pluralisme’.

Daar staan ongelukkig ’n klein probleempie in die pad van hierdie ‘doringdraad benadering’: deur die leringe van enige van hierdie godsdienste te verander sodat dit die leringe van ander godsdiente insluit, sal die aanhangers van daardie godsdiens noodwendig moet erken dat hulle leringe foutief was en dat hulle oor die laaste paar millenia mislei was – en dit gaan nie gebeur nie. ’n Dapper poging in die vorm van ’n eenwêreldgodsdiens word nietemin steeds aangewend.

Geloof in Christus vir ons redding is uniek

Daar is wel een vereiste wat die ‘geloof in Jesus Christus alleen’, uniek onderskei van elke ander godsdiens in hierdie wêreld: dit is dat ons uit genade gered is, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef. 2:8). In elke ander godsdiens moet jy jouself red en deur jou eie dade die goedkeuring van die god van daardie godsdiens verwerf. As Christen glo ons volgens die lering in die boek Romeine, dat

(22) die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie;  (23)  want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,  (24)  en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. (Rom 3:22-24 )

Solus Christus: Redding deur Christus Alleen

In Lukas 8:25 lees ons die verhaal waar die dissipels op ’n skuit in ’n storm is. Die storm dreig om die skuit te laat sink en die dissipels smeek vir Jesus om hulle red, waarna Jesus toe die storm stilmaak en dit opvolg met die woorde, Waar is julle geloof?

Deur die vraag op hierdie manier te stel, vra Jesus hulle om te sien dat die kritiese faktor in hulle geloof nie die krag is (m.a.w. hoe sterk hulle geloof is nie), maar die objek daarvan. Tim Keller gee ‘n goeie analogie in sy boek Jesus the King: Stel jou voor jy val van ‘n krans af, en uit die krans steek daar ‘n tak wat sterk genoeg is om jou te hou, maar jy weet nie hoe sterk die tak is nie. Jy het net genoeg tyd om die tak te gryp. Hoeveel geloof moet jy in die tak hê om jou te red? Moet jy heeltemal seker wees dat dit jou kan red? Nee, natuurlik nie. Jy hoef net genoeg geloof te hê om die tak te gryp. Dit is omdat dit nie die kwaliteit van jou geloof is wat jou red nie; dit is die objek van jou geloof. Dit maak nie saak hoe jy oor die tak voel nie; al wat saak maak, is die tak. In ons geloof, is Jesus die tak; daarom fokus ons op wat die objek van ons geloof behoort te wees; en dit is Solus Christus – Christus alleen.

Een van die redes wat gelei het tot die Reformasie was juis die standpunt van die Rooms-Katolieke kerk in Luther se tyd: Hulle het geglo dat redding kom deur geloof in Christus sowel as deur intervensie deur die kerk – waar ander mense oor jou redding kan besluit. Die Hervormers het egter bevestig dat Christus se gratis geskenk van die redding van sonde deur geloof in Christus alleen ontvang kan word, daarom het Luther pertinent gesê, “I teach that people should put their trust in nothing but Jesus Christ alone, not in their prayers, merits, or their own good deeds.”

Johannes Calvyn het gesê, “we must understand that as long as Christ remains outside of us, and we are separated from him, all that he has suffered and done for the salvation of the human race remains useless and of no value for us.”

Solus Christus is aanstootlik vir die wêreld

Vir die Hervormers het die leer van geloof in ‘Christus alleen’ die godsdienstige owerhede beledig omdat dit die gesag van die Rooms -Katolieke Kerk uitgedaag het. Dit is nie minder aanstootlik vandag nie, maar vandag is dit aanstootlik omdat dit die godsdienstige pluralisme van ons tyd uitdaag. Dit is aanstootlik, want dit leer dat een manier beter is as ander en deur dit te doen, bevraagteken dit wat ander glo. Dit is aanstootlik omdat dit die algemene opvatting dat die waarheid relatief is, verontagsaam – die idee dat elke persoon kan glo wat hulle wil, en solank die waarheid vir hulle waar is, dat niemand dit mag bevraagteken nie. Dit is aanstootlik omdat dit eksklusief is, omdat dit sê dat verlossing deur Christus en deur Christus alleen is, en daardeur veroordeel dit elke godsdiens en geloofstelsel wat nie versoening met God leer deur geloof in Jesus Christus nie. Dit is aanstootlik omdat dit beweer dat dit waar is.

Ons bevestig vandag nietemin nie Christus alleen in die naam van die waarheid nie, ons moet Christus ook alleen in die naam van liefde bevestig. Redding in Christus alleen is miskien eksklusief, maar dit is ook inklusief, want dit is ‘n manier van redding wat vir almal oop is. Maak nie saak waar jy gebore is nie, wat jou etnisiteit is, wat jou sosiale status is of hoe regverdig of onregverdig jy ook al was nie. Dit hou ook nie rekening met hoe oud of wys of ryk of suksesvol of mooi jy is nie. Dit is ‘n geskenk – wat deur Jesus vir jou gekoop is – en ‘n geskenk wat jy nie hoef te verdien nie – jy hoef dit net te ontvang deur geloof in die een wat dit aanbied.

Derhalwe sluit ek af: Brahman se leringe dui nie die pad na Christus se redding aan nie, ook nie die van Boeddha of Allah of watter ander godsdiens ook al nie. Hulle dui die pad na hulle eie, unieke weergawe van hulle eie redding aan. Alle paaie lei dus nie na die Rome van Christenskap nie. Elke pad van die wêreldgodsdienste lei na sy eie Rome. Dit is slegs deur Solus Christus – Christus alleen –  dat ons die geregtigheid van God kan ontvang. Amen.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.