Hideyoshi, ‘n Japannese krygsman wat in die laat 1500’s oor Japan regeer het, het opdrag gegee dat ‘n kolossale standbeeld van Boeddha vir ‘n tempel in Kyoto gebou moet word. Dit het 50,000 mans vyf jaar geneem om te bou, maar die werk was skaars voltooi toe die aardbewing van 1596 die dak van die heiligdom laat inval het en die standbeeld verwoes het. In ‘n woedebui het Hideyoshi ‘n pyl na die gevalle standbeeld geskiet. “Ek het jou hier teen groot koste vir my geplaas,” het hy geskree, “en jy kan nie eens na jou eie tempel kyk nie.”

Dit is ongelukkig die geval met alle afgode. Ek onthou hoedat ek tydens die Covid 19 video materiaal gesien het waar die mense in Indië hulle afgode buite hulle huise gegooi het omdat dit hulle nie teen die siekte kon beskerm het nie. Ons praat hierdie week oor die afgode in ons hart. Vroeër hierdie week het die Heilige Gees my aandag getrek na hierdie Skrif in

Eze 14:4  Daarom, spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Elke man uit die huis van Israel wat sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom—Ek, die HERE, sal hom daarvolgens, volgens die menigte van sy drekgode, antwoord gee

Die Heilige Gees praat deur die profeet Esegiël en leer daardeur vir ons ’n paar belangrike lesse oor afgode:

  • Wanneer jy jou afgode in jou hart toelaat en dit word so erg dat jy die beeld of beelde daarvan voor jou oë kan sien
  • En dan die Here kom soek oor ’n sekere saak
  • Dan sal die Here jou antwoord volgens die afgode in jou hart.

Ware afgodery is van die hart

Dit is waar alles begin. Lank voordat iemand probeer om ‘n sigbare simbool van sy afgod te maak, is sy afgod reeds in sy hart. Ons sien dit in die lewens van mense rondom ons en ook in ons eie lewens: jy word soos jou afgod. Dit maak nie saak of jy dit glo of nie. Jy sal word soos dit wat jy aanbid. Diegene wat hulle lewens spandeer om God te aanbid, is gevul met die Heilige Gees en dit is duidelik in hulle lewe. Wanneer jy iets jou afgod maak, word jy daardeur oorgeneem. Waarvan praat jy die meeste oor? Dit is jou afgod. Waaraan dink jy die meeste? Dit is jou afgod. Aanbidding is ‘n kragtige ding. Dit verander jou hele wese. Ongelukkig word aanbidding meer vir die slegte as vir die goeie gebruik.

Afgode skei ons van God af

Daar is baie gelowiges wat geestelik droog is omdat hulle God met ander dinge vervang het. Hulle voel asof iets in hulle lewe kort. Afgode skep ‘n honger in ons wat nie deur aardse dinge gestil kan word nie. Die Bybel leer ons dat Jesus ons Wingerdstok is en wanneer jy jou van die wingerdstok skei, dan skei jy jou van die bron van lewe af. Dink byvoorbeeld aan wat gebeur wanneer jy jou foon van die laaier ontkoppel, wat gebeur? Na ’n rukkie gaan hy dood. Wanneer ons van die Here afgeskei word, begin ons op dieselfde manier om stadig geestelik te sterf. Ons voel dat God ver is. Ons voel asof God ons verlaat het waar dit in werklikheid ons was wat onsself van Hom geskei het.

James Durham het in die 16de reeds al gesê dat daar vyf dinge is wat onbetwisbaar aan God behoort: respek, liefde, vertroue, eerbied en diens. Dit is nie dat ons geen eer, liefde, ens. aan enigiemand anders as God moet gee nie, maar dat ons niemand of enigiets te veel, d.w.s. meer as God, moet liefhê of dien nie. Ek hou van wat hy gesê het en wil dit graag opbreek as maniere hoedat ons kan sien of daar afgode in ons harte is:

Wat respekteer jy?

Respek beteken om eervolle agting of bewondering teenoor ’n saak of persoon te voel en te toon. Ons pleeg afgodery wanneer enigiets of enige iemand – selfs ’n goeie ding – te veel van ons respek kry, sodat dit ons geluk bepaal of bepaal hoedat ons voel. As jy hierdie ding of persoon moet verloor en alles, insluitend die beloftes van God of God self, word vir ons minder belangrik, dan wys dit dat daardie ding te veel van ons respek gehad het.

Wat het jy lief?

Ons pleeg afgodery wanneer ons ons harte gee aan geskape dinge – ons word verslaaf aan hulle, ons streef hulle met oormatige energie na, of ons treur ontroosbaar wanneer ons dit nie meer het nie. Ek hoor net gister van iemand se jong dogter wat onlangs vir ’n naweek saam met vriende gaan kamp het. Teen 11 uur daardie aand moes haar ouers ry om haar te gaan haal nadat sy ’n paniekaanval gekry het omdat sy nie ’n selfoon, tablet of toegang tot die internet gehad het nie.

Daar is drie maniere hoe jy kan vasstel of jou liefde vir geskape dinge oormatig is:

  • Wanneer jy so afhanklik van die saak of persoon is dat jy nie gelukkig kan wees daarsonder of sonder die persoon nie,
  • Wanneer jou liefde vir die saak of person in kompetisie met God raak, sodat jou respek en liefde vir die persoon of saak sterker as jou aanbidding aan God en
  • As jou liefde vir die saak of persoon jou lus of ywer om Bybel te lees of iets vir God te doen, vervang.

Waarin vertrou jy?

Om ons vertroue in mense of in menslike uitvindings te stel, is afgodediens. Sommige mense plaas dikwels hulle vertroue in hulle geld (Job 31:24). Hulle beskou hulself as veilig omdat hulle toegang tot hierdie hulpbronne het. Ons lees bv. in 2 Kron. 16 hoedat koning Asa op dokters vertrou het en nie God vir die genesing van sy siekte nie. In die verhaal van Die ryk man en Lasarus het die ryk man sy vertroue op sy vol graanskure geplaas (Lukas 12:19). Mens kan maklik agterkom dat sommige mense se vertroue misplaas is as gevolg van die aksies wat hulle neem wanneer probleme op hulle pad kom. Party mense huiwer dan nie om van sondige maniere gebruik te maak om dinge gesorteer te kry nie.

Waarvoor is jy bang?

Ons vrees dikwels mense of iets wat dalk kan gebeur, meer as wat ons God vrees. Vrees kan ons laat sondig, of ons ten minste daarvan weerhou om te doen wat ons moet. In Johannes 12:42 lees ons hoedat sommiges, uit vrees vir die Jode, Christus nie wou bely nie. Die realiteit is dat ons eintlik ’n afgod maak van ons werklike vyande! Ons het meer vrees vir “die een wat die liggaam kan doodmaak”, as vir “hom wat beide siel en liggaam kan vernietig”! Dit was sy vrees vir die golwe en dat hy dalk kan verdrink, wat gemaak het dat Petrus sy oë van Jesus afgehaal en begin sink het.

Wie dien jy?

Wanneer ons onder die mag van enigiets of iemand is, is dit afgodery. Ons kan nie twee here dien nie, bv. beide God en Mammon nie; en as ons mense dien, is ons nie dienaars van Christus nie. Jy kan hierdie soort afgodediens identifiseer deur byvoorbeeld te sien waarmee mense die meeste gefasineer is of wat die belangrikste vir hulle is om te bereik. Nog maniere is deur te kyk na waardeur mense alles sal gaan om iets te bereik; of deur te kyk waaraan hulle die meeste van hul tyd en energie spandeer.

Koolstofmonoksied vergiftiging

Suurstof is goed vir jou liggaam. Dit gee lewe aan jou. Koolfstofmonoksied daarteenoor, is nie goed vir jou nie. Dit kan jou versmoor en laat sterf. Daar is ‘n spesiale plek in jou liggaam se selle waar die suurstof molekules moet sit. Dit is soos ‘n klein gleufie wat, chemies gesproke, perfek gevorm is om daardie molekule suurstof te hou. Die probleem is ongelukkig dat ’n koolstofmonoksied molekule byna identies aan ’n suurstof molekule is, sodat dit ook perfek pas in daardie gleufie waar slegs suurstof behoort in te gaan. Wanneer dit begin om in massa hoeveelhede in die suurstof se plek in te gaan, sal jou liggaam begin versmoor. Jy besef ongelukkig nie dadelik wat besig is om te gebeur nie. Jy dink jy is nog okay – jy kan nog asemaal, jou longe werk nog want jy voel hoedat lug inkom en uitgaan. Jou liggaam gaan deur al die bewegings wat dit moet deurgaan. Alle voel normaal maar jy versmoor, al weet jy dit nie.

Geestelik gesproke is dit wat afgodery kan doen wanneer dit die verkeerde plek in ons harte inneem, daardie plek wat net vir God gereserveer is. Dit lyk bv. of geld so maklik in hierdie gleuf pas omdat dit so aanloklik kan wees om dit op dieselfde manier te vertrou as wat ons God moet vertrou. Soms voel dit so perfek. Die spreekwoord sê mos dat geld alles kan koop. Die probleem is dat jy nog okay voel, maar dat jy stadig besig is om te versmoor, totdat jy eendag wakker word en besef dat jy vêr van God is.

Die antwoord na die afgode in jou hart

Die Here Jesus sê egter dat Hy jou sal antwoord na die afgode in jou hart. Vandag se boodskap is duidelik dat Hy wil hê dat ons ons harte moet deursoek vir dinge wat nie daar moet wees nie, sodat ons Hom kan hoor wanneer ons na Hom toe gaan vir raad of vertroosting. Hoor net wat sê  Hy vir ons in verse 6 en 7:

Eze 14:6-7  Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Bekeer julle en wend julle af van julle drekgode en wend julle aangesig af van al julle gruwels.  (7)  Want elke man uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat hom afsonder en My nie navolg nie en sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom, dat dié My vir hom kan raadpleeg—hom sal Ek, die HERE, self antwoord gee.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.