Maak gou toe jou oë! Dink nou aan jou grootste behoefte op hierdie spesifieke oomblik. Reg? Okay, maak maar oop jou oë!

Ons Skriflesing vir vandag is uit

Jak 1:5-8  En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.  (6)  Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.  (7)  Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—  (8)  so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.

Jakobus leer aan ons ’n belangrike geestelike beginsel in hierdie gedeelte. Hy verwys na wysheid spesifiek in vers 5, maar omdat dit ’n beginsel is, sal dit ook geld vir enige ander behoefte. Kom ons lees nou weer vers 5, maar by die woord ‘wysheid’, wil ek hê dat jy die woord met die behoefte waaraan jy netnou gedink het, sal vervang. Wat was jou behoefte? Gesondheid? Finansies? ’n Sterk huwelik?

Hier is wat jy moet doen om dit te ontvang, sê  Jakobus: Jy moet dit van God bid, omdat God aan almal gee sonder om te verwyt (dit beteken dat jou goeie of slegte dade nie die antwoord by God kan ‘koop’ nie) – en dit sal aan hom gegee word. Hoekom? Want wanneer jy die God van die heelal is, is jy te groot dat die dade van ’n nietige mens jou sal beïnvloed – daarom reën dit oor die gelowige sowel as die ongelowige; en is daar droogte oor die land van die gelowige sowel as die ongelowige.

Noudat ek die fondament vir gelowige gebed gelê het, kan ons voortgaan na die crux van vandag se boodskap.

Volgens oorlewering het Jakobus knieë gehad met eelte soos dié van ‘n kameel as gevolg van al die tyd wat hy in gebed gebring het. Gebed wat nie in geloof gebid word nie, is ‘n vermorsing van tyd volgens Jak 1: 7. Daarna, in vers 8, word dubbelhartigheid deur Jakobus beskrywe as ‘n groot hindernis van beantwoorde gebed.

Dubbelhartigheid gedefinieer

Die woord “dubbelhartig” in die Grieks wat Jakobus hier gebruik, is “dipsuchos”, wat opgemaak is uit twee woorde, ‘di’ wat ‘twee’ beteken en ‘psugos’ wat ‘siel’ beteken en waar ons woord ‘psige’ vandaan kom. Die siel word deur baie verduidelik as die area van ons intellek, emosies en wil. ‘n Dubbelhartige persoon is voortdurend of besluiteloos of hy kan nie bly by ‘n besluit nie. Hy is nou positief en later twyfel hy weer. Hy bevraagteken altyd of hy die regte besluit geneem het as dinge nie lyk soos hy dink nie. Dit maak dat hy homself nie kan verbind tot ’n saak nie.

Die goeie nuus is dat selfs manne wat naby aan die Here leef, soms in dubbelhartigheid kan verval. Een voorbeeld is Johannes die Doper wat eers met oortuiging aan almal verkondig het, ‘Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!’ en dan ’n rukkie later uit die gevangenis uit ’n boodskap aan Jesus stuur en vra: Mat 11:3  “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?

Oorsake van Dubbelhartigheid

Ek wil graag die tyd neem om kortliks na ’n paar oorsake van dubbelhartigheid te kyk:

Dubbel visie

My ondervinding is dat die vraag wat gereeld voorop in die gedagtes van ’n dubbelhartige persoon is, is ‘sê nou maar…?’ ‘Sê nou maar dit is nie die Here se wil nie…’ of ‘Sê nou maar dit of sê nou maar dat’.

Ek het onlangs ’n interessante artikel gelees oor dubbel visie. Soms word dubbel visie deur oormatige angs of stres veroorsaak; dan begin mens twee beelde of dubbeld van alles om jou sien en kort voor lank is jy naar en siek daarvan. Dit was vir my ’n ‘aha!’ oomblik, want ek weet na jare in die bediening hoe baie siektes deur vrees, angs en stres veroorsaak word. Hoe meer ek daaroor nagedink het, hoe meer het dit vir my sin begin uitmaak: een van die oorsake van dubbelhartigheid is beslis angstigheid en/of vrees – en beide is gesetel in jou psige waar jou wil, intellek en emosies is. Dit weerhou jou daarvan om geloof in God se getrouheid en beloftes uit te leef omdat al hierdie ‘sê nou maar’ scenario’s in jou kop bly afspeel totdat die angs of vrees groter word in jou gedagtes as wat die getrouheid van God is om jou te help.

Dit bring ons by wat ek noem ‘geestelike katatonika’ – ’n tipe van skaakmat tussen positiewe geloof (jy wil regtig die Here op Sy Woord neem en glo) en negatiewe geloof (vrees of angs indien dit nie gebeur nie). Dit verlam ons geloof sodat ons nie in staat is om gelowig te bid nie; met die gevolg dat ons sukkel om deur te breek in ons gebedslewe.

Ons kan die voorbeeld gebruik van iemand wat leesbrille aanpas. Eers pas die persoon ’n bril met die korrekte sterkte vir sy oë aan en kan goed lees. Daarna plaas hy ’n ander (verkeerde) bril bo-oor die regte bril en skielik is dit wat voor hom geskrywe staan, nie meer helder nie. Ons noem dit filters en kameramanne sal die effek van filters op hulle kameras se lense, goed ken.

Verdeelde Lojaliteite

Die volgende oorsaak van dubbelhartigheid is verdeelde lojaliteite. Ons lees in 1 Kon 18 die bekende verhaal van Elia en die 450 profete van Baal. Aan die begin van hierdie verhaal draai Elia na die volk Israel en vra hy aan hulle ’n belangrike vraag in v.21. Ek lees van v. 19 af:

1 Kon 18:19-21  Stuur dan nou, laat die hele Israel by my bymekaarkom op die berg Karmel, ook die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd profete van Asjéra wat aan die tafel van Isébel eet.  (20)  En Agab het gestuur onder al die kinders van Israel en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom.  (21)  En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.

Een Engelse vertaling lees, ‘“I hate people with divided loyalties.” Ons kan nie bekostig om as dubbelhartige mense met verdeelde lojaliteite te leef nie. Dit is onmoontlik om lojaal aan God te wees en terselftertyd dinge te dien wat onverenigbaar is met Sy lewenswyse.

‘n Dubbelhartige Christen word altyd in twee rigtings geskeur. Hy het ‘n verhouding met Jesus Christus as sy Heer en Verlosser, maar hy het ook ‘n verhouding met ‘n besondere sonde. Dit is ‘n geestelike fasinering met ’n spesifieke sonde en dit kan selfs ‘n fisiese aspek hê. Nogtans is dit ‘n ellendige manier om die Christelike lewe te probeer leef. Geen Christen word nietemin oornag dubbelhartig nie. Dit neem tyd om ‘n onweerstaanbare begeerte te ontwikkel om ‘n bepaalde koers te volg, daarom het Jesus gesê,

Mat 6:24  Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!

Onbestendigheid

Jak 1:7 sê vir ons dat ’n dubbelhartige man onbestendig is in al sy weë. Die woorde ‘onbestendig’ in Grieks is “akatastatos” en beteken “onstabiel, onbestendig en rusteloos.” Die etimoloë sê dat hierdie  een van die woorde is wat die invloed van politieke veranderinge toon en is dit algemeen gebruik om politieke onstabiliteit aan te kondig. Dit behoort ’n nuwe lig te skyn op baie probleme wat die hedendaagse kerk in die gesig staar! Dink maar byvoorbeeld aan die kompromieë wat baie kerke voel om aan te gaan weens die ‘akastatos’ of politieke druk op hulle sodat hulle sosiaal aanvaarbaar kan bly.

Een van die Griekse vertalers van die Ou Testament gebruik dit in die sin van angs of angstige bekommernisse. Die onstabiliteit van die een van wie Jakobus praat, word veroorsaak deur verkeerde keuses in die persoon se gedagtes. Hy is nie toegewyd aan die Here wanneer dit seer is nie. As dit ‘n opoffering behels, neem hy liewer die maklike uitweg. Daarom is hy onstabiel en onbetroubaar.

Die woorde “in al sy weë” beteken dat hierdie man nie betroubaar kan wees nie. Hy is onstabiel in alles wat hy onderneem om te doen. Aan die een kant wil hy graag dien. Net om ’n illustrasie uit my eie pastorale ervaring te gebruik, sal hy bv. vra om Sondagskool klas te gee of om betrokke te raak by ’n ander area soos die finansies of die klank. Nadat die nuwigheid egter afgeneem het, sal hy sy verantwoordelikhede misloop en nie reëlings tref nie. As jy hom dan uit die klas of van sy posisie ontneem, sal hy optree net soos die baba wat hy is en jou probeer laat voel asof jy die skuldige is.

Oorkom Dubbelhartigheid

Ons het vandag gesien dat ’n dubbelhartige man aan geestelike dubbelvisie lei, dat sy lojaliteite verdeel is tussen God en ’n spesifieke sonde of sondes en dat hy onbestendig is in al sy weë. Dit is belangrik om dubbelhartigheid te oorkom, want Jakobus sê dat so ’n persoon se gebede nie beantwoord sal word nie. Hoe oorkom ons dubbelhartigheid?

  • Eerste dinge eerste! Die fondasie van effektiewe Christenskap is gereelde Bybelstudie (nie net vinnig Bybel lees nie – sien Psalm 1) en gereelde gebed wat ’n tweerigting gesprek met God is, m.a.w. nie net ek praat met God nie, maar ook dat ek stil word en hoor hoedat God met my praat terwyl ek dit wat ek glo dat Hy vir my sê, neerskrywe. Dit sal verseker dat ons dubbel visie verdwyn en dat God se Woord sterker in ons gedagtes sal word as die twyfel van woorde soos ‘sê nou maar…’
  • Dubbelhartigheid kan verskillende areas van ons lewens beïnvloed. Ons dink dat ons gedagts ons eie is, maar die Bybel leer ons dat ons elke gedagte gevange moet neem tot gehoorsaamheid aan Christus. Dit beteken dat ons nie net kan dink wat ons wil nie. Ons moet ons gedagtes filter deur die waarheid van God se Woord.  2 Kor. 10:4-5 se,  want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,  (5)  terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus…

In die oorspronklike Griekse teks, beteken die woorde ‘neer te werp’ om met groot geweld af te breek. Om die leuens in ons gedagtes af te breek, moet ons dit met groot geweld doen. Die Heilige Gees sal ons help om die waarheid van die leuens wat ons glo, te onderskei. Wanneer ons wel in die strik van dubbelhartigheid trap, dan hanteer ons dit soos enige ander sonde deur dit te bely en daarvan weg te draai.

  • Onstabiliteit word aangeval deur bestendigheid. Ek leer my gemeentelede altyd dat ek glo dat ’n mens net een keer in jou lewe ’n besluit oor ’n sekere onderwerp hoef te neem. Die res van jou lewe pas jy dan net daardie besluit toe, bv. as jy besluit om nooit weer in ’n kroeg te kom nie, sal daardie besluit namens jou werk wanneer jy wel in die versoeking kom om saam met jou vriende daar te gaan kuier.
  • Stabiliteit beteken ook dat jy moet verstaan dat JY in beheer van jou lewe is. Jy moet self verantwoordelikheid neem vir wat jy sê en doen. Jy kan nie jou lewe deur gaan en heeltyd ander mense of insidente blameer vir waar jy nou is nie. Jy moet self aksie neem en uit daardie plek van dubbelhartigheid kom. Kry hulp as jy moet, maar doen net iets!
  • ’n Laaste gedagte oor stabiliteit is dat Jakobus sê, “hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.” Ek het gevind dat wanneer ons, voordat ons bid oor ’n sekere saak, eers ons huiswerk doen oor die saak; ons baie makliker glo as andersins. Dit beteken dat ons vrae moet vra soos, Wat sê die Bybel daaroor? Wat ervaar ons in ons gees daaroor? Wat sê ons geestelike leiers daarvan?

Wanneer jy die versekering kry (voordat jy bid) oor die saak, sal jy gelowig bid, sonder om te twyfel. Hoekom? Omdat jy voor die tyd reeds al die vrae in jou gemoed beantwoord het en die rustigheid van die Heilige Gees kan ervaar terwyl jy bid.

1 thoughts on “Wat is ‘n dubbelhartige man?

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.