Ons staan nie net aan die begin van die Lenteseisoen nie, maar ook aan die begin van wat bekend is as die geestelike nuwe jaar of ‘Rosh Hashanah’. Ek het die Here gevra wat Hy graag vir ons wil sê oor die begin van hierdie nuwe seisoen en nuwe jaar. ‘Peres’ was die woord wat die Heilige Gees in my binneste laat val het en ek nooi jou uit om saam met my op ’n kort reis te gaan sodat ons kan ontdek wat die Here deur hierdie woord vir ons wil sê.

Toe ek daaroor begin nalees het, was my aandag eerste getrek na die boek van Rut. Sekerlik een van die mees romantiese verhale in die Bybel vind ons in die Ou Testament, in die boek van Rut. Aan die einde van die boek, wanneer Obed met Rut trou, vind ons dat die oudstes van die stad vir Obed en Rut seën.

Rut 4:11-12  Toe sê al die mense wat in die poort was, en die oudstes: Ons is getuies; mag die HERE die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam die huis van Israel gebou het; en verwerf mag in Éfrata en maak ‘n naam in Betlehem!  (12)  En mag jou huis word soos die huis van Peres wat Tamar vir Juda gebaar het—uit die nageslag wat die HERE jou uit hierdie jong vrou sal gee!

Die oudstes sluit hulle seëngebed af met iets wat vreemd klink: hulle seën vir Obed en Rut dat hulle nageslag mag word soos die huis van Peres. Hoekom nie eerder soos die huis van Jakob of die huis van Abraham nie – maar Peres? Wie was Peres? Ek het agtergekom dat Peres een was van ’n tweeling en; wat dit so besonders maak, is dat die enigste ander tweeling is wat prominent in die Bybel uitgelig word: Peres se oupa en sy oom was naamlik die alombekende Jakob en Esau.

Die tyd voor Peres

Om vir Peres te verstaan het ons nodig om ’n bietjie terug te gaan in die geskiedenis van Israel, na die tyd van Jakob. Jakob het twaalf seuns gehad, waarvan Josef en sy verhaal seker die bekendste is. Josef se broers was jaloers op hom omdat hy Jakob se gunsteling seun was en het hom op ’n dag in ’n put gegooi met die bedoeling om hom te vermoor. Een van sy broers, Juda, het egter gekeer dat die moord plaasvind en voorgestel dat hulle Josef eerder moet verkoop aan ’n karavaan Arabiere wat daar verbygekom het. Terwyl Josef besig was met sy lewensverhaal in Egipte, het sy broers grootgeword en op hulle eie gegaan. Ons verhaal konsentreer nou meer op Juda, wie se naam ‘Danksegging’ of ‘Prys die Here’ beteken. Hy het later met ’n Kanaänitiese vrou getrou, by wie hy drie seuns gehad het. Sy oudste seun, Er, het met ’n Israelietiese meisie met die naam van Tamar getrou. Er was egter so boos in die oë van die Here dat die Here hom laat sterwe het – ongelukkig voordat hy ’n nakomeling by Tamar kon verwek. Ingevolge die reëls van die Ooste op daardie stadium, moes Juda se tweede seun toe met Tamar trou om ’n nakomeling vir sy broer te verwek. Onan, die tweede seun, het egter gekeer dat Tamar kon swanger word deurdat hy telkens sy saad op die grond verderwe het wanneer hulle intiem was. Dit was ’n verkeerde ding in die Here se oë en Onan het ook voortydig gesterwe. Tamar was steeds nie swanger nie en Juda wou nie sy jongste seun met Tamar laat trou nie omdat hy bang was dat diè ook sou sterwe. Jakob seën egter vir Juda met ’n besonderse seën terwyl hy op sy sterfbed lê:

Gen 49:10  Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.

Juda sal oor sy broers heers en uit sy nageslag sal Jesus Christus gebore word. Daar was egter net een probleem: Juda se oudste twee seuns was alreeds oorlede en sy jongste, wat ’n Kanaäniet was en nie ’n Israeliete nie, was nog te jonk om te trou. Juda was op die punt om sonder ’n nakomeling te sterf en daardeur die profetiese seën van sy pa te verloor. Hy het egter nie met Tamar rekening gehou nie. Tamar was geregtig op ’n nakomeling van haar skoonpa Juda se familie. Toe dit duidelik word dat sy dit nie gaan kry nie, het Tamar aksie geneem: sy het haarself as ’n prostituut voorgedoen en haar skoonpa Juda het by haar ingegaan, waarna Tamar swanger geword het met ’n tweeling. Juda het dit toe nie besef nie, maar Tamar het deur haar vasberadenheid verseker dat die stam van Juda sou bly voortbestaan – nie uit ’n Kanaänitiese nageslag nie, maar uit ’n suiwer Joodse nageslag, omdat Juda en Tamar albei Jode was terwyl Juda se enigste oorblywende seun, Sela, ’n Kanaänitiese nakomeling was.

Dit wil voorkom asof Juda hierna tot inkeer gekom het van sy verkeerde dade en hy het die res van sy lewe spandeer om sy seuns in die wee van die Here groot te maak. Dit is interessant om daarop te let dat die Here Juda se twee Kanaänitiese seuns wat gesterwe het weens hulle boosheid, vervang het met twee Israelietese seuns.

Noudat ons hierdie stukkie geskiedenis ken, sal ons beter verstaan toe die oudstes vir Obed en Rut geseën het en gesê het,

Rut 4:12   En mag jou huis word soos die huis van Peres wat Tamar vir Juda gebaar het…

Die geboorte van Peres en Serag

Die Bybel vertel vir ons hierna die baie interessante verhaal van Peres en sy tweelingbroer Serag, se geboorte:

Gen 38:26-30  En Juda het dit herken en gesê: Sy het reg teenoor my, want ek het haar mos nie aan my seun Sela gegee nie. En hy het haar verder nie meer beken nie.  (27)  En toe sy sou baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot.  (28)  En terwyl sy baar, het een die hand uitgesteek; en die vroedvrou het dit gegryp en ‘n rooi draad om sy hand gebind en gesê: Hierdie een is eerste gebore.  (29)  Maar toe hy sy hand teruggetrek het, word sy broer gebore! En sy sê: Hoe kragtig het jy deurgebreek! En hulle het hom Peres genoem.  (30)  En daarna is sy broer gebore aan wie se hand die rooi draad was. En hulle het hom Serag genoem.

Hier was die volgende leidraad oor die name van die tweeling en in besonder van Peres: Serag beteken ‘dagbreek’ of ‘nuwe lig’ en sy broer Peres se naam beteken ‘kragtige deurbraak’! Altwee is saam gebore. Hieruit is dit maklik om af te lei dat die Heilige Gees vir ons wil sê dat ons ’n geestelike nuwe jaar van ‘nuwe lig’, vars openbaringe en van ‘kragtige deurbrake’ binnegaan! Peres en Serag se geboorte was tekenend van presies die tye waarbinne ons nou leef. Dit lyk of die Bruid van Christus haar inspraak in die samelewing verloor het. Selfs die mees onlangse hofuitsprake oor ‘haatspraak’ maak dat tradisionele Christelike leerstellings baie meer versigtig gedoen sal moet word. Tog kom die Heilige Gees en sê, “Nuwe lig en kragtige deurbrake lê voor in die nuwe jaar!” Die Bruid van Christus gaan deurbreek en ook in hulle persoonlike lewens sal baie wat al hoop verloor het weens jare se swaarkry, wonderbaarlike en kragtige deurbrake ervaar.

Gematria

Ons weet dat baie van die name van die ou Israeliete ook ’n numeriese betekenis gehad het. Wanneer die Jode so na die numeriese waardes van ’n naam kyk, noem hulle dit ‘gematria’. Ek het gaan kyk na die naam Peres self en of iets oor die getalwaarde van die naam ons opval.

Die numeriese waardes vir Peres is 80, 200, 70. Volgens die beginsels van gematria is die waarde van hierdie naam 350 (80+200+70) en die som (met behulp van die klein metode) is 8 (3+5). Die getal agt is ‘n beduidende getal. Dit het ‘n Bybelse betekenis van ‘nuwe begin’, ‘oorvloedig’ en ‘redding’! Ander woorde met ‘n somwaarde van agt sluit in Torah en YHVH. Ons sien dus dat op elke vlak van die woord ‘Peres’, die Heilige Gees vir ons sê, “Nuwe begin, redding en kragtige deurbrake’! Ek gebruik nie gematria om nuwe leerstellings in te stel nie, maar dit is interessant om te sien hoedat dit die boodskap van vandag bevestig.

Hoekom is die naam Peres dan so betekenisvol? Peres het kragtig deurgebreek en uit sy nageslag uit is Boas en Rut, koning Dawid, Salamo en later Jesus Christus self gebore.

Breek deur!

Die seën van Peres is dat jy deur elke hindernis sal deurbreek om God se voornemens en beloftes vir jou lewe en bediening na te kom. Selfs al lyk dit asof dinge agteruit gaan en nie uitkom soos wat jy gedink het nie, word ‘n salwing vandag vrygestel om die hindernisse in jou lewe in die komende jaar te verbreek, sodat die profetiese woorde oor jou lewe vervul kan word. Dit is die seën van Peres. As dit lyk asof dinge agteruit gaan en nie in die rigting gaan waar jy gedink het dat dit moet gaan nie, moenie moedeloos word nie. Die les van van die seën van Peres is dat deurbrake soms lyk of dit agterstevoor om kom, maar vandag sê die Heilige Gees vir jou: My kind, breek deur!

Ek sê vandag vir jou wat na hierdie boodskap kyk of luister, dat vandag se woord ’n ‘vandag-woord’ vir jou is. Jou deurbrake sal hierdie jaar begin gebeur, selfs al is daar langdurige hindernisse en al lyk dit asof alles agteruit loop. Vandag se boodskap is egter, net soos enige ander profetiese woord, ‘n uitnodiging en ’n geleentheid. Profetiese woorde is gewoonlik nie outomaties nie. Hulle word bygevoeg tot ‘n lewe van gehoorsaamheid aan die Woord van God.

Gedurende hierdie nuwe seisoen, hierdie tyd van ’n nuwe begin en van deurbrake, daag ek jou uit om die Here te vra om dieper in jou lewe in te gaan en alle areas van ongehoorsaamheid en onverskilligheid te openbaar; en soos wat jy jouself oopstel voor Hom, te begin wandel in die goeie werke wat Hy spesiaal vir jou voorberei het:

Ef 2:10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Kyk, ’n nuwe dag het gebreek en ’n nuwe seisoen het begin. Breek deur!”

3 thoughts on “Die seëning van Peres

      1. Ja! Dit is darem maar wonderlik hoe ‘n mens elke keer iets nuuts ontdek al het jy die Bybel al soveel keer dwarsdeur gelees. Dit wys net dat dit ‘n Lewende Woord is en 100 persent van toepassing is op ons lewe vandag nog. Die Bybel sal nooit oud raak nie. Wat ‘n wonderlike boek!

        Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.