Daar is ‘n leuen wat sedert die begin van die Covid 19 pandemie gereeld vertel word en maklik geglo word; miskien het jy ook al daarvan gehoor. Dit is die leuen dat “kerk toe gaan nie nodig is vir die Christelike lewe nie.” Ander sêgoed wat hierdie leuen versterk, het ook toenemend gewild geword. Dit sluit in uitsprake soos; ‘Ons gaan nie kerk toe nie, ons IS die kerk’ en ‘ek het nie die kerk nodig om in my geloof te groei nie’, of selfs ‘Mens het nie ’n kerk nodig om ‘n Christen te wees nie.’ Gewilde Christen sprekers, skrywers, en selfs dominees het al soortgelyke taal begin gebruik.

Wanneer ons egter die Bybel, veral die Nuwe Testament, oor hierdie uitsprake begin bestudeer, dan word dit gou duidelik dat die Bybel, wat ons riglyn behoort te wees, homself sterk uitspreek daaroor dat Christene aktief betrokke by hulle gemeentes moet wees.  Die oorgrote meerderheid van die Nuwe-Testamentiese boeke is juis gerig aan gemeentes in die besonder. Selfs Jesus se bekende briewe aan die sewe gemeentes in die boek van Openbaring is baie spesifiek aan sekere kerke gerig en nie aan Christene in die algemeen nie.

Die Nuwe Testament verwys herhaaldelik na die instelling van plaaslike kerke deur die aanstelling van ouderlinge en diakens aan te moedig om die sake van die gemeente te bestuur (bv. Tit 1: 5), en raai gelowiges dan binne daardie plaaslike kerke om hulle aan die gesag daarin te onderwerp (Heb 13:17).

Ons teksvers vir vandag is uit

Heb 10:24-25  en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;  (25)  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

God sê deur die skrywer van die boek Hebreërs dat ons nie die byeenkoms van gelowiges moet laat vaar nie. Hierdie woorde is nie ’n versoek wat opsioneel is nie. Die skryfvorm daarvan is dat dit ’n opdrag is. Ons Vader weet wat gebeur as ons onttrek van die gemeenskap met ander gelowiges. Dit is dieselfde wat gebeur wanneer jy ’n warm kool uit ’n vuur krap en eenkant sit. Kort voor lank het daardie eensame kooltjie sy hitte verloor en gaan hy dood. Wanneer hy egter tussen die ander kole bly, dan sal hy die maksimum hitte en lig uitstraal vir solank as hy moontlik kan.

In die gelykenis van die saaier, vertel Jesus dat daar sekere sade is wat mooi opgekom en sterk gegroei het, maar wat dan verstrengel word deur die sorge van die lewe. Ek weet van baie gevalle waar mense die sorge van hierdie wêreld eerste laat begin kom het en dan opgehou het om eredienste by te woon. Die volgende ding wat jy weet, is dat hulle van God af wegglip. Dit is nie God se wil vir ons nie. Hy het ’n beter wil vir Sy kinders. Om beter te wees, moet ons egter Sy voorskrifte volg, en een baie belangrike voorskrif is om nie die onderlinge byeenkoms van gelowiges moet nalaat nie. Ek glo dat dit nie net op ‘n kerkdiens op ‘n Sondagoggend van toepassing is nie, maar ook op selgroepe, bidure en ander onderlinge byeenokmste.

‘n Onlangse opname van Pew Research het onthul waarom baie mense toenemend vermy of selfs heeltemal ophou om kerk toe te gaan. Dit is verbasend genoeg nie ‘n gebrek aan geloof wat die afname in die bywoning veroorsaak nie, maar dit is meer weens praktiese en persoonlike oorwegings wat vir hulle swaarder weeg. Dr. Jason Clark spreek hierdie fenomenoon aan wanneer hy sê,

“Human beings have been hiding away, withdrawing from God and one another since the garden of Eden. And, like Adam and Eve, we Christians are very good at making excuses for withdrawing, believing the lies we tell ourselves that underpin such backing away. The internal stories are often these: ‘I need a break, I need to focus on my kids/family, I want time to myself, I have to get this marathon/triathlon/course done’, etc. We then succumb to, and placate, any doubts we might have about our stories with more fabrications. ‘I can get back to church later’, ‘it won’t affect me’, and, even worse, ‘this is what’s best for me’…Satan is indeed the father of lies, prowling around looking to devour us. His greatest ploy and tactic has not been a full-frontal assault on belief; instead it has been the insidious entropy of attendance. A lion secures its prey by first isolating it, so it is then free to devour it.”

Die gevolge van isolasie

’n Meesterlike skuif teen die kerk was om die Covid 19 pandemie te gebruik om formele kerkbyeenkomste vir lang tye te verbied of om slegs baie beperkte getalle toe te laat. Die gevolge daarvan oor die tydperk van 18 maande was verwoestend vir baie gemeentes, juis omdat die ‘kole van die gemeente’ geïsoleer was en daarom hulle hitte en gloed verloor het. Ek het na die jongste statistieke en tendense oor kerkbywoning en christenskap gaan kyk en wat ek gesien het, het my bekommerd gemaak. Hier is paar tendense wat deur onlangse opnames waargeneem is:

Die aantal nie-praktiserende Christene is besig om toe te neem

’n Nie-praktiserende Christen is iemand wat sal sê dat hy of sy ’n gelowige is, maar glad nie kerkdienste of ander kerk byeenskomste bywoon nie en minimaal Bybel lees of bid. Nie-praktiserende Christene het gegroei van 35% tot 43% van 2000 tot 2020. Gedurende dieselfde tyd het praktiserende Christene van 45% tot 25% gedaal en nie-Christene of agnostici het van 20% tot 32% gestyg.

Die boodskap wat hierdie statistieke oordra is dat daar Christene daar buite is wat hulp nodig het. Dit is vir ons as kerk om innoverende maniere te vind om hulle te bereik en te aktiveer.

Die bywoning syfer van eredienste het verlaag

Gebaseer op die statistieke hierbo, behoort ‘n afname in gereelde kerkbywoning nie ‘n verrassing te wees nie. Dieselfde studie het bevind dat die weeklikse kerkbywoning afgeneem het van 45% in 1993 tot slegs 29% in 2020. In ’n onlangse gesprek met ’n kollega oor die onderwerp het hy gesê dat sy gereelde bywoningsyfers gedaal het vanaf 200+ op ’n Sondag na minder as 30 – en dit sluit die orkeslede en staf in! Iemand van ’n ander groot hoofstroom gemeente vertel dat hulle syfers verlaag het na 10 en op sommige Sondae selfs so min as 4 persone wat die dienste bywoon.

Hierdie strewe na isolasie en onttrekking kan selfs in die vroeë kerk gesien word. Hebreërs 10:25 is juis hiervoor geskryf, omdat sommige in die vroeë kerk al opgegee het om byeen te kom in die erediens. Die skrywer van Hebreërs spoor die lesers egter aan om die versoeking om te isoleer, te beveg. Om jouself los te maak van die plaaslike liggaam, sal jou net meer kwesbaar maak en die universele kerk meer verlam; soos Paulus vir die gemeente in Korinte sê in 1 Kor 12:14 – Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie.

Ons het mekaar nodig

Een woordeboekdefinisie sê dat die Griekse woord vir gemeenskap beteken om lewendig te hou. Ons moet nie net deel wees van die lewe van God nie, ons moet mekaar lewendig hou en ons is veronderstel om hierdie lewe met ander te deel. Hoe moet ons dit doen?

Eerstens kan ons nie as ons nie bymekaarkom nie. God sou nie vir ons sê om dit te doen as dit nie Sy wil was nie. Ons kan mekaar tog nie bemoedig en tot goeie werke aanspoor as ons nie bymekaar kom nie? Dit is juis ‘n belangrike deel van gemeenskap, om mekaar aan te moedig en op te wek.

Die Griekse woord episunagoogen as ’n selfstandige naamwoord, word nêrens anders in die Nuwe Testament as in ons teksvers gebruik nie, behalwe in 2 Thes 2: 1, waar dit vertaal word as ons vereniging met Christus. Die opdrag, hier, is dus om gereeld formeel bymekaar te kom vir die aanbidding van God, en dit word Christene as ‘n belangrike plig opgedra om dit te doen. Dit word ook geïmpliseer dat dit ’n fout is as dit verwaarloos word.

Soos die gewoonte van sommige is

Die bekende Bybelkenner Albert Barnes noem verskeie moontlikhede oor waarom kerkgangers hulle kerkbywoning moontlik afskeep:

(1) Sommige word moontlik afgeskrik deur die vrees vir vervolging, aangesien diegene wat so bymekaargekom het, meer blootgestel sou word aan gevaar as ander. Een vraagstuk wat baie van toepassing geword het in vandag se tyd; is die bitter stryd tussen die ‘vaxers’ en die ‘anti-vaxers’ – en die gevolge daarvan vir kerkbywoning.

(2) ’n Tweede rede wat Barnes noem, is dat sommige moontlik die plig versuim omdat hulle geen belangstelling daarin voel nie – net soos belydende Christene vandag nog soms doen.

(3) Derdens is dit moontlik dat sommige twyfel gehad het oor die noodsaaklikheid en die behoorlikheid van gereelde kerkbywoning, en daarom dit versuim het.

(4) ’n Laaste moontlikheid was uit ontevredenheid met ‘n prediker, of met ‘n lid van die kerk, of met ‘n funksie in die kerk.

Wat ook al die redes was, die apostel sê dat daardie redes nie toegelaat moet word om te werk nie, maar dat Christene dit as ‘n heilige plig moet beskou om saam te kom vir die aanbidding van God. Nie een van die bogenoemde oorsake mag mense daarvan weerhou nie. By almal wat die Christelike naam dra, moet dit as ‘n heilige plig beskou word om bymekaar te kom vir openbare aanbidding. Godsdiens is sosiaal; en ons genade moet versterk word deur saam op die Here te wag. Daar is ‘n duidelike opdrag dat mense bymekaar moet kom vir die aanbidding van die Allerhoogste.

Koinonia

Koinonia is ’n ander griekse woord vir die byeenkoms van gelowiges. Dit beskryf die eenheid van die Gees wat uit Christene se gedeelde geloof, oortuigings en gedrag kom. As hierdie gedeelde waardes in plek is, vind ware koinonia (Bybelse gemeenskap) plaas. Deur gereelde onderlinge gemeenskap werk ons saam met God in die aanbidding van God, die werk van God en die wil van God.

In die Bybel is koinonia meer as vriendskap. Dit is ‘n goddelik intieme, heilige eenheid tussen gelowiges self en tussen gelowiges en die Here; wat alles insluit van geestelike eenheid in die Heilige Gees, gemeenskapslewe, die deel van bydraes en die hou van die heilige Nagmaal wat ons deelagtigheid aan die Liggaam en Bloed van Christus Jesus bevestig. Die boek Handelinge is die eerste plek waar ons die praktiese werking van woord koinonia in die Bybel sien:

Hand 2:46-47  En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet,  (47)  terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.

Die sing van liedere

Kol 3:16  Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.

Hier is nog ‘n voorbeeld waar ons sien dat ons mekaar moet vermaan en onderrig met die Woord van God, met ook die sing van psalms en gesange en geestelike liedere. Ons sien ook dat die gawes van die Heilige Gees onder hierdie omstandighede kan in werking kan tree en daarom moet ons die Heilige Gees die geleentheid gee om in en deur ons te werk. Ons kan dit nie doen as ons nie fisies en eendragtig byeenkom nie.

Slot

Kerkbywoning is nie maar net ‘n ‘goeie voorstel’ nie; dit is God se wil en opdrag vir gelowiges. Ons het die aanmoediging en geestelike beskerming nodig wat gereelde kerkbywoning bied. Juis ons waarneming van die begin van die eindtye behoort ons daartoe aan te spoor om nog meer toegewyd te wees om kerk toe te gaan.

Die kerk is die plek waar gelowiges mekaar kan liefhê, mekaar kan aanmoedig, mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie werke, mekaar kan dien, mekaar kan onderrig  en vriendelik en medelydend teenoor mekaar kan wees.

Vir ‘n kerklike liggaam om behoorlik te funksioneer, moet al sy ‘liggaamsdele’ teenwoordig wees en werk (1 Korintiërs 12: 14–20). Dit is nie genoeg om net ‘n kerk by te woon nie; ons behoort betrokke te wees by die een of ander bediening aan andere deur die geestelike gawes te gebruik wat God ons gegee het. ‘n Gelowige sal nooit volle geestelike volwassenheid bereik sonder om ’n uitlaatklep vir sy gawes te hê nie, en ons het almal die hulp en aanmoediging van ander gelowiges nodig (1 Korintiërs 12: 21–26).

Om hierdie redes en meer, behoort kerkbywoning, deelname en gemeenskap gereeld aspekte van ‘n gelowige se lewe te wees.  Iemand wat aan Christus behoort, behoort ‘n begeerte hê om God saam met ander te aanbid, Sy Woord te ontvang en om gemeenskap met ander gelowiges te hê. Amen.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.