Ons lewe in ’n tyd wat die gesag van die Heilige Woord van God al hoe meer bevraagteken word. Die Bybel word toenemend beskou as ’n boek met goeie lewenslesse, maar wat foute bevat en wat nie as die finale gesag alleen oor die Woord van God beskou kan word nie. Ons word vinnig ‘n Bybels ongeletterde samelewing. Wanneer ek en Mari met Christene gesels oor die Bybel, dan word ons vinnig gekonfronteer met hierdie feit. Dinge soos ‘God help those who help themselves’ word beskou as dat dit in die Bybel staan. Bekende Bybelse karakters is onbekend aan baie of hulle kan die karakters nie in die korrekte gebeure plaas nie.

Christene beskou die Bybel beide as ‘n goddelik geïnspireerde boek en terselfdertyd as ‘n boek wat nie die mensdom van die een-en-twintigste eeu op sigself kan bereik nie. Hierdie kwessie is van kardinale belang vir evangeliste, want die gesag van die Bybel is die eerste en belangrikste domino. As die gesag van die Bybel val, val die hele ry domino’s van ons geloof.

Die hartseer waarheid is dat 43% of byna die helfte van die mense wat saamstem dat God die outeur van die Skrif is, ook sê dat die moderne wetenskap die aansprake van die Bybel in diskrediet bring. Die skeppingsverhaal vorm ‘n groot deel hiervan.

‘n Opname deur die Barna Group het gevind

  • Net 23% van die respondente wat identifiseer as Christene, glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is en as sulks opgeneem moet word
  • 18% glo dat dit net nog ‘n boek is
  • 15% glo dat dit die geïnspireerde woord van God is, maar dat dit feitelike en historiese foute bevat
  • 10% glo dat die Bybel glad nie deur God geïnspireer nie en
  • 30% glo dat die Bybel die geïnspireerde woord van God is, dat daar geen foute is nie, maar dat sommige verse simbolies is

Dit is duidelik dat ons besig is om ‘n probleem met die gesag van die Bybel te ontwikkel. Hierdie probleem lê ongelukkig nie net in die breë samelewing nie, maar in die kerk se leierskap self ook; daarom is dit nodig dat ons gesels oor een van die fundamentele beginsels van die Reformasie, ’n term wat bekend staan as ‘Sola Scriptura’ en wat, as dit vertaal word, beteken ‘Alleenlik die Skrif’ en wat heenwys na die inherente gesag van die Bybel as die goddelik geïnspireerde Woord van God.

Ons teksvers vir vandag is

2 Tim 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid

Cassius Clay was ’n beroemde persoon wat in die 18de eeu gelewe het. Hy was afkomstig van die Amerikaanse staat Kentucky waar hy, nadat hy by Yale Universiteit gegradueer het, onder andere ook as ambassadeur na Rusland gedien het. Terwyl hy ’n lid van Kentucky se Wetgewer was, moes hy op ’n dag uitspraak lewer oor ’n dispuut. Hy het toe die Bybel op die tafel gesit en gesê: ‘Dit is vir diegene wat in die wet van God glo.’ Toe het hy die Amerikaanse Grondwet op die Bybel geplaas en gesê: ‘Dit is vir diegene wat in die wette van die mense glo.’ Heel laaste het hy ‘n pistool bo-op die Grondwet gesit en gesê: ‘Dit is vir diegene wat nie in een van die twee glo nie.’

As jy van die absolute gesag van die Bybel afwyk, eindig jy noodwendig uiteindelik by die gebruik van brute geweld omdat jy niks anders oor het nie. Vandag word die pistool nie orals letterlik gebruik nie, maar mense word op ander geweldadige maniere aangeval net omdat geloofsoortuigings verskil van die van ander. Buiten vir opspraakwekkende hofsake waar reg skielik verkeerd genoem word, word nuwe tipe pistole met toenemende geweld teen Christene afgevuur: die sogenaamde ‘cancel culture’, ‘woke people’, Gender Equality en vele meer.

Die Reformasie van die 15de eeu

Die gesag van die Bybel was in die 15de eeu die hoofrede vir die Reformasie. Luther en diegene wat hom gevolg het, het verklaar dat ons redding nie in die kerk of die kerkraad was nie, maar slegs in Jesus Christus. Hoekom was dit nodig? Dit het nodig geword want die hoofstroom kerk van daardie tyd het verkondig dat God se gesag drieledig op aarde is: Die Bybel, die kerkraad en die tradisies van die kerk saam het die volle gesag van God verteenwoordig. Toe kom daar ’n pous, pous Leo X, wat baie uitspattig gelewe het. Hy het die grootste deel van die destydse kerk se groot rykdom verkwansel en baie kunswerke van beroemde kunstenaars aangekoop daarmee. Toe begin hy ’n nuwe baselisk bou maar omdat daar nie meer geld oor was nie, het hy ’n nuwe tipe tradisie in die kerk ingebring: Die koop van genietinge of indulgences. Jy kon, deur ’n bedrag geld aan die kerk te betaal, jouself of jou oorlede geliefdes letterlik uit die hel of die doderyk loskoop. Het jy owerspel gepleeg, of diefstal of selfs moord? Betaal dan net hierdie bedrag aan die kerk en jy is vry van die gevolge van jou sondes. Het jou pa of ma of oom ’n sondige leefstyl gevolg? Betaal net en alles is reg.

Albert van Brandenburg in Duitsland het ook geld nodig gehad en hy het toe ’n ‘franchise of indulgences’ by pous Leo X gekoop. Hy het ’n Dominikaanse monnik met die naam van Tetzel aangestel om hierdie nuwe lering aan die mense van Duitsland te bemark en weet julle wat sy bemarkingstema was?

As soon as the coin in the coffer rings,

The soul from purgatory springs.

Wat was die gevolg was van hierdie afwatering van God se Woord? Die kerk moes geweld begin gebruik om hulle geloofsoortuiginge af te dwing op die mense, net soos wat Cassius Clay gesê het. Martin Luther was in sy siel gegrief deur hierdie opsigtelike wetteloosheid en dit is hoekom hy sy bekende 95 tesisse aan die kerk se deur vasgespyker het en daardeur die Reformasie begin het.

’n Nuwe Reformasie!

Vandag word die kerk deur baie soortgelyk uitdagings in die gesig gestaar. Predikers kan nie meer met vrymoedigheid die volle Woord van God verkondig sonder vrees vir vervolging nie. Gewone Christene soos ek en jy mag nie eers meer hulle besighede bedryf ooreenkomstig hulle geloofsoortuiginge sonder die vrees vir uitgerekte hofsake wat hulle lewensonderhoud bedreig nie.

Hoekom was Luther se Reformasie so radikaal gewees? Want hy het dit duidelik gestel: Sola Scriptura – God se gesag is in die Bybel alleen. Die Bybel red jou nie, dit is die evangelie van Jesus Christus wat jou red. Maar waar kry jy die evangelie? Jy kry dit nie op Oprah Winfrey nie. Jy kry dit nie deur na al die sosiale menings op sosiale media te luister nie, ook nie deur na Star Wars te kyk of die Matrix nie. Waar het God die evangelie geplaas? Hy het die evangelie in Sy Boek geplaas.

Die kwessie van die Bybel se gesag is nie maar net nog ‘n debat nie. Dit is die hoogste kwessie. Totdat jy die saak uitgemaak het, totdat jy die vrae beantwoord het, totdat jy jou lewe op die een of ander manier reggemaak het, sal jy soos ’n blaar op die golwe van sosiale opinie heen en weer geslinger word.

Ons is Protestante en trots daarop. Ons staan ​​saam met Martin Luther, Johannes Calvyn, Jonathan Edwards en ‘n magdom ander mense wat die universele kerk van God op die waarheid van Sola Scriptura gevestig het.

Ons gesag is die reg om ons geloofstelsel te definieer en die mag om dit op ons gedrag af te dwing.

Ons glo dat die Bybel goddelik geïnspireer is, dat dit woord vir woord waar is en dat die goddelike inspirasie daarvan tot in al sy dele strek. Dit is deur God ingegee en dit is dus absoluut gesaghebbend in alles wat dit sê. Elke woord daarvan is absoluut waar; daarom moet ons die Bybel vashou – daarom moet ons die Bybel glo en moet ons nooit daarvan afwyk nie.

Ek glo dat ek op stewige grond staan wanneer ek vandag verklaar: Dit is tyd vir ’n nuwe Reformasie. Weg met die liberale teologie wat die gesag van God se Woord bevraagteken! Die slang het vir Eva gevra, ‘Het God werklik gesê…?’ en vandag vra baie van die liberale teoloë daardie selfde vraag. Ja, God het werklik gesê en Hy het nie gehakkel of getwyfel toe Hy dit gesê het nie.

Luister na hierdie (1992) opdatering van ’n bekende hoofstroom kerk se kategismus:

As a result the Churchdoes not derive her certainty about all revealed truths from the holy Scriptures alone. Both Scripture and tradition must be accepted and honored with equal sentiments of devotion and reverence

The task of interpreting the Word of God authentically has been entrusted solely to the magisterium of the Church, that is to the Pope and to the bishops in communion with him.

Hierdie kerkgroep is ook nie bang om van hulle gesag gebruik te maak nie. Die Vatikaan het op 8 Desember 2020, tydens die plegtigheid van die Immaculate Conception, aangekondig dat Pous Franciscus ‘n spesiale jaar van St. Josef ingestel het, wat eindig op dieselfde datum in 2021. Gedurende hierdie tyd is weereens moontlik om, net soos in Luther se tyd, indulgences te bekom vir jou en jou afgestorwe familielede en vriende. Daar is dus geen motivering meer om ’n heilige leefstyl te lewe nie. Gaan koop net ’n indulgence en jy is vergewe en weer op pad hemel toe!

Hier is nog ’n  hoofstroom kerk se verklaring oor die gesag van die Woord van God:

The Bible is an organizational book and belongs to the Christian congregation as an organization, not to individuals, regardless of how sincerely they may believe that they can interpret the Bible…the Bible cannot be properly understood without Jehovah’s visible organization in mind”

Vreemd genoeg vind ons dat Jesus met dieselfde tipe bevraagtekening van God se gesag te doen gehad het. Dit word mooi duidelik tydens Jesus se toespraak aan die Fariseërs gestel toe Hy vir hulle gesê het

Mark 7:13  So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering (tradisies) wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.

Sola Scriptura vandag

Soos wat ons gesien het, was tradisie die grootste uitdaging vir die gesag van die Skrif tydens die Reformasie. Dit is nie noodwendig so vandag nie. Vandag lê die klem op ’n ander plek: daar is nie meer absolute waarheid nie. Vandag is die klem meer op jou persoonlike of subjektiewe ervaring – dat ons nie onsself hoef te onderwerp aan wat die Skrif sê nie, maar dat ons bloot ons gevoelens en ons ervarings moet volg – jou waarheid is nie noodwendig my waarheid nie.

Vir ons as Protestante is die Bybel alleen die finale en normatiewe gesag vir die geloof en praktyk van alle Christene. Daarsonder het jy nie ’n fondasie om op te bou nie en het jy geen verwysingsraamwerk (‘terms of reference’) om jou op te beroep wanneer die waterstrome en winde kom nie. Jesus het hieroor gesê,

Mat 7:24-27  Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.  (25)  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.  (26)  En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.  (27)  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.

As jy ’n Protestant is, dan roep ek jou, soos ’n Luther van ouds, dat jy sal protesteer ten gunste van Sola Scriptura. Amen.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.