‘Daar is ‘n algemene opvatting’, het die bekende prediker Charles Spurgeon gesê, ‘dat gebed ‘n baie maklike ding is, ‘n soort algemene taak wat sonder veel sorg en moeite gedoen kan word. Sommiges dink dat ’n mens slegs ‘n gebedeboek hoef te gebruik en ’n toepaslike gebed daaruit op te sê, dan het jy gebid en kan jy die boek weer wegsit. Andere weer dink dat die gebruik van ‘n gebedeboek bygelowig is en dat jy eerder net die sinne hardop hoef te spreek …wat lukraak in jou gedagtes opkom…’

Hoewel elkeen van hierdie gebede in ’n toepaslike situasie wel kan en sal werk deur God se groot genade, is nie een van hierdie maniere van gebed deur die heiliges van ouds as ’n tipiese wyse van gebed beoefen nie. Dit lyk asof hulle baie ernstiger oor gebed gedink het as wat baie van ons deesdae doen. Dit lyk eerder asof gebed ‘n groot besigheid vir hulle was. Die apostel Jakobus verwys daarna in

Jak 5:16-18  Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.  (17)  Elía was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie;  (18)  en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.

Die woorde ‘vurige gebed’ wat hier gebruik word, is die Griekse woord ‘de–esis’, wat dui op ’n goed voorbereide, argumentatiewe tipe gebed wat ’n sekere saak bepleit.

Dawid stel dit so in Ps. 5:4 “In die môre sal ek aan U voorlê en afwag”

‘Voorlê‘ beteken dat hy sy petisies voor God bring of lê. Daarna sê hy nie Amen en loop nie. Nee, hy wag.

Die woord ‘afwag’ is die Hebreeuse woord ‘tsa-fà’ wat beteken; om op te kyk, om vooroor te leun, of om waar te neem of om vir iets te wag.

Mens kan dit beter verstaan as mens daaraan dink dat hy sy gedagtes of sy gebede soos pyle uit ’n boog gerig het. Hy het nie net die pyl op die boog se snaar gesit en sommer links en regs en oraloor geskiet nie; maar nadat hy die pyl gelaai het, het hy dit doelbewus gerig. Hy het daarna baie stip na die middel van die teiken (die verlange antwoord) gekyk, sy boog met al sy krag getrek (gedink wat hy wil sê) en toe die pyl of sy gebed laat vlieg (sy petisies tot God gerig). Wat het hy daarna, nadat die pyl sy hand verlaat het, gesê? ‘Ek sal afwag.’ Hy het opgekyk om te sien waarheen die pyl gaan en gewag om te sien watter uitwerking dit het; want hy het ‘n antwoord op sy gebede verwag, hy was nie so baie van ons wat skaars verder aan hulle gebede dink nadat hulle gebid het nie.

Ons moet hard werk en versigtig bid. Hoe waardevoller die werk, hoe meer aandag verdien dit. Dink ’n bietjie daaroor na, ‘om angstig in jou winkel te wees maar oppervlakkig in jou binnekamer, is eintlik weinig minder as godslastering, want dit insinueer dat sommer enigiets vir God sal doen, maar die wêreld moet ons beste pogings kry.’

Die ware geestelike orde van gebed beteken vir my meer as net ‘n reëling met God. Dit is die beste vir ons om te voel dat ons nou iets doen wat werklik is; en dat ons op die punt staan ​​om onsself tot die almagtige God te rig; soos wat Abraham gesê het toe hy om Sodom se redding gepleit het:

Gen 18:27  En Abraham antwoord en sê: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek alhoewel ek stof en as is.

Argumente en gebed

Daar kom tye dat ons nodig het om ons saak voor God te bepleit. God is altyd oop vir oortuiging deur Sy kinders, daarom nooi Hy ons telkens uit:

Jes. 41:21 NLV “Stel nou julle saak,” sê die Here. “Kom met julle beste argumente,” sê die Koning van Jakob.

Jes 1:18  Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here…

Fil 4:6  Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.

Jak 5:16  Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.  

Ek haal weer vir Charles Spurgeon aan wanneer hy sê, ‘Ons moenie ons monde net met goeie frases of mooi uitdrukkings vul wanneer ons bid nie, maar ons moet ons monde met argumente vul, soos wat die heiliges van ouds in gebed gedoen het. As ons by die Poort Van Barmhartigheid kom, is die klank van die deurklopper wat die poort oopmaak, ons sterk argumente.’

Waarom moet argumente in gebed hoegenaamd gebruik word? Dit is beslis nie omdat God traag is om te gee nie, nie omdat ons die goddelike doel kan verander nie en ook nie omdat God ingelig moet word oor iemand se omstandighede. Nee, die argumente wat gebruik moet word, is vir ons eie voordeel en nie vir Syne nie. Hy vereis van ons om by Hom te pleit en ons sterk argumente na vore te bring, soos Jesaja sê, omdat dit sal wys dat ons die waarde van barmhartigheid verstaan.

As iemand na argumente vir iets soek, is dit omdat hy belang heg aan dit wat hy soek.

Charles H. Spurgeon

Die gebruik van argumente is ook bedoel om ons vurigheid aan te wakker. Die man wat een argument by God gebruik, sal meer oortuiging kry om die volgende te gebruik en die volgende met nog groter krag, en die volgende met meer krag. Die beste en vurigste gebede wat ek nog ooit in ons gebedsbyeenkomste gehoor het, was die wat die grootste argumente gehad het. Soms kon jy voel asof jou binneste smelt as ek na broeders wat voor God gekom het, geluister het en dan kon voel dat die barmhartigheid regtig nodig is, en dat hulle dit moet hê, omdat hulle eers by God gepleit het om dit te gee en dan om ‘n tweede en dan vir ‘n derde en dan vir ‘n vierde en ‘n vyfde rede totdat hulle die vurigheid van die hele vergadering wakker gemaak het.

Tye wanneer die gebruik van argumente besonder effektief is

Wanneer persone of bose magte sonder rede met jou baklei

Het jy ook al in ’n situasie beland waar jy rustig jou werk doen en niemand pla nie of iewers heen gaan en dan – boom! – skielik ontvang jy hierdie oproep of iets gebeur en as jy weer sien is jy sommer in die middel van ’n ding?

Dit is dan ook een van die redes waarom Dawid tot God om hulp geroep het. Hy kon nie die regverdiging verstaan ​​vir die teenstand waarvoor hy te staan ​​gekom het nie; daarom vra hy toe aan God:

Ps 35:6-7  Laat hulle weg duister en glibberig wees, terwyl die Engel van die HERE hulle vervolg!  (7)  Want hulle het sonder oorsaak die kuil met hul net vir my verberg, hulle het sonder oorsaak gegrawe teen my lewe.

Wanneer die magte wat teen jou baklei, sterker as jy is

Dit gebeur gereeld dat sulke ongevraagde aanvalle wat bedoel is om jou of jou familie skade te berokken, sterker as jy is. Boelies kom mos altyd in groepies. Om hierdie rede bid Dawid in

Ps 35:10  Al my beendere sal sê: HERE, wie is soos U? U wat die ellendige red van die wat sterker is as hy; ja, die ellendige en behoeftige van sy berower!

In 2 Kronieke 20 lees ons hoedat koning Josafat by God met argumente om hulp geroep het nadat hy ingelig is dat verskeie leermagte teen Juda opgetrek het:

2 Kron 20:12  Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.

Wanneer jy voor situasies van onreg te staan ​​kom

Onlangs was my dogter in twee voorvalle, kort na mekaar, betrokke waar sy onverwags voor situasies van onreg te staan gekom het. Sy het ons in trane gebel want die aanvalle was van seniors bo haar wat haar sonder rede sleg wou aandoen. Ons het saam met haar gebid dat die Here haar moes help want sy kon haar werk verloor. Ons basis argument vir haar was uit

Jes 54:17  Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.

In al twee gevalle het haar hoof die aanvalle gesien vir wat dit was en die betrokke seniors se gedrag gerapporteer, terwy sy met sterk bewyse die tonge wat teen haar opgestaan het, kon weerlê.

In Psalm 35 het Dawid ook gesê dat diegene wat teen hom opgestaan ​​het, valse getuies was wat hom beskuldig het van misdade waarvan hy niks weet nie (Psalm 35:11).

Hierdie saak van onreg was ook die hoof rede waarom Josafat tot God geroep het en gevra het of Hy nie die sameswering teen Juda wou oordeel nie. Dit was omdat dieselfde mense wat teen hulle opgestaan ​​het om hulle uit te wis, afstammelinge was van die nasies wat God vrygestel het van die banvloek toe Israel uit Egipte gekom het.

Herinner God aan Sy beloftes

In Jesaja 43 nooi God ons uit,

Jes. 43:26  Maak My indagtig; laat ons teen mekaar pleit; vertel jy, dat jy in die gelyk gestel kan word.

Indagtig beteken om God in herinnering te bring. Wat beteken dit om God in herinnering te bring? Dit beteken dat jy as verbondskind voor die troon van God kan staan ​​wanneer jy bid en Hom aan Sy beloftes kan herinner. Jy kan jou saak wettig voor Hom stel en jou saak bepleit, net soos wat ‘n prokureur jou saak voor ‘n regter sou bepleit. ‘n Prokureur bring voortdurend regsreëls en presedente na vore. Op dieselfde manier moet ons God se Woord onder Sy aandag bring. Dit is wat Hy ons uitnooi om te doen in Jesaja 43:26. Stel Hom dus in herinnering. As jy genesing nodig het, as jou kinders ongered is – waaroor jy ookal bid – soek die tekste op wat jou saak dek en lê dan jou saak voor jou hemelse Vader. As jy op die Woord staan ​​en jou saak met sterk argumente op grond van Sy beloftes pleit, sal Hy namens jou en vir jou werk!

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.