Past. Tommy Lessing

2015/10/11

Kliek hier om na ‘n opname van die preek te luister.

Wanneer ons wedergebore word, bevind ons onsself onverwags op ‘n slagveld. Ons het nie ‘n keuse om daarby betrokke te raak of nie, want oorlog is dadelik teen ons verklaar deur Satan en almal wat God haat. Die enigste keuse wat ons wel het, is of ons vertrap wil word deur ons vyand en of ons wil leer om terug te veg en in oorwinning te begin wandel. Die sneller wat aanvalle teen ons aktiveer, is wanneer ons van God se beloftes in die Bybel begin bewus raak en dit begin opeis.

Voorbeelde van aanvalle teen die Uitverkorenes

Wanneer ons sê dat ons meer van die Here in ons lewens wil hê, of dat ons die Here gaan vertrou vir hierdie of vir daardie ding – dit is dan wanneer die aanslag teen ons begin. Wie van u het al die Here vertrou vir ‘n deurbraak in u finansies – net dat die motor kort daarna breek, of die geyser bars, of jy kry rekening oor ‘n ou saak waarvan jy al vergeet het? As dit nie ‘n rekening is, is dit ‘n lang siekbed of ‘n ander terugslag.

Soms is daar sommer ‘n storm van teenstand wat teen ons losbars. Daar gaan dan so baie dinge verkeerd dat dit opvallend is hoedat dit bonatuurlik moet wees. Iemand het eendag iets gesê wat my laat lag het: Hy het gesê dat jy sal weet wanneer dit Satan is wat jou aanval, want hy oorspeel altyd sy hand.

Ek weet van ‘n aanbiddingsleier wat so teenstand ondervind het toe hy besluit het om voltyds in die bediening te gaan. Op sy eerste dag het twee van sy kinders waterpokkies gekry en die derde het ‘pink eyes’ gekry. Sy vrou, wat normaalweg die kinders versorg, het terselfteryd so siek geword dat sy in die bed moes bly. Die man moes toe noodwendig by die huis bly en sy gesin versorg. Twee weke later, net  toe almal gesond was, het sy rug probleme gegee en moes hy nog twee weke by die huis deurbring!

Die doel van sulke aanvalle teen ons is om ons te intimideer, te laat tou opgooi en te laat terugdraai. Ons sien dus dat offensiewe wapens nie altyd voldoende is nie. Soms het ons wapens nodig waarmee ons onsself mee kan verdedig. God het aan ons die Skild van Geloof gegee om onsself mee te verdedig. Ons lees in Ef 6:16 daarvan:

Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. (Ef 6:16 AOV)

Thureos  – Die Romeinse skild

Om Paulus se bedoeling in hierdie vers beter te verstaan, is dit nodig om na die skild te gaan kyk wat die Romeinse infanterie gebruik het in die Bybelse tyd. Die skild waarna Paulus in hierdie vers verwys, is die Romeinse ‘Thureos’. Ek het altyd gedink dat dit die ronde gevegskild was wat so gewild was onder baie soldate. Paulus verwys egter eksplisiet na die ‘Thureos’, wat ‘n langwerpige skild was. Die woord is afkomstig van die Griekse woord vir ‘deur’ –thura. Dit was van ‘n houtraam gemaak wat met verskeie lae beesleer oorgetrek was. Kort voor ‘n geveg het die soldate hulle skilde in water gedoop sodat dit enige vurige aanvalle kon weerstaan. Wanneer die Romeinse infanterie aangeval het, was hierdie skilde aanmekaar gehaak deur die voorste linies en sodoende gebruik om ‘n lewende muur te vorm teen die vyand se aanvalle. Paulus verwys egter nie na frontale aanvalle in hierdie vers nie. Hy verwys na ‘n storm van aanvalle wat skrikwekkend en vreesaanjaend was – ‘n storm van brandende pyle wat in pik gedoop was en gelyktydig op die vyand gevuur was. Dit was gewoonlik baie effektief, maar nie teen die Romeinse soldate nie. Hulle het hulle skilde eenvoudig bo hulle koppe gehou en sodoende ‘n baie effekiewe ‘dak’ gevorm waarop die pyle geval het en wat dit skadeloos gestel het.

Paulus wou sê dat, wanneer daar so ‘n storm van vurige pyle teen ons losbars, ons die Skild van Geloof op dieselfde wyse moet gebruik om dit te blus.

Hoe aktiveer ek my Skild van Geloof?

Finansies, Verhoudings en Siekte is baie gewilde areas waar mense aangeval word. Wat gebeur wanneer die vlammende pyle oral om jou val en jy begin voel dat jy oorweldig is? Hoe lig ons die Skild van Geloof op?

  1. Absolute vertroue in die Getroue. Ons aktiveer die Skild heel eerste deur te staan op die beloftes in God se Woord. Hoe meer ons dit doen, hoe makliker sal ons die Skild kan aktiveer. Ken die beloftes in God se Woord en staan daarop. Die Woord leer ons,

God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie? (Num 23:19 AOV)

God het die beloftes in die Bybel gespreek sodat dit JOU kan beskerm. Weier om Nee vir ‘n antwoord te vat. Jy moet onwrikbaar “weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Rom 8:28 AOV)

Kyk na belofte in Psalm 23:1: Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. (Ps 23:1 AOV)

En na die belofte in Fil 4:19

En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus. (Fil 4:19 AOV)

  1. Verklaar in geloof, jou porsie van God se seën ELKE DAG:

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. (Ps 16:6 AOV)

Wat is jou porsie? Deut 28:1-14 is maar ‘n deeltjie daarvan. Eis dit op daagliks in Jesus se Naam. Ondersoek die Skrift vir nog honderde beloftes van God aan jou. Staan daarop en moenie grondgebied afstaan nie.

  1. Kies ELKE DAG om moedeloosheid en vrees te verwerp: Die Kinders van God het ‘n besliste voordeel bo ongelowiges. Hulle het ‘n oop deur uit elke moeilike situasie: Vra daarom vir God om Sy strategie aan jou te openbaar om uit die situasie te kom:

Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. (1 Kor 10:13 AOV)

  1. Behou jou grondgebied. Glo onwrikbaar dat God vir jou gaan deurkom. Die Woord sê dat Abraham God geglo het, en dit was vir hom tot geregtigheid toegereken. Glo God. En staan.

Slot

U het reeds geleer hoe Swaard van die Gees – die rema woord van God – magtig in u lewe gebruik kan word tot God se eer en om in oorwinning te wandel. Die Swaard van die Gees werk saam met die Skild van Geloof, want die Skild beteken dat jy onwrikbaar glo dat God die rema wat Hy gespreek het, sal waar maak. Ek wil u bemoedig om die aanvalle in u lewe te herken en die Skild van Geloof daarteen te gebruik.

Amen.

4 thoughts on “Die Skild van Geloof

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.