Past. Tommy Lessing
2015-10-04
Kliek hier om te luister na ‘n opname van die preek.
“Laat dit vir julle wees volgens julle geloof”
Inleiding
In Matt 9 lees ons hierdie bekende verhaal:
En toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg, terwyl hulle uitroep en sê: Wees ons barmhartig, Seun van Dawid! En nadat Hy in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. En Jesus sê vir hulle: Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Here. Toe raak Hy hulle oë aan en sê: Laat dit vir julle wees volgens julle geloof. En hulle oë het oopgegaan. (Mat 9:27-30 AOV)
Die oomblik toe die blindes “Ja Here” geantwoord het op Jesus se vraag, was die oomblik wat hulle, hulle genesing ontvang het. Wat daarna gebeur het, was slegs die gevolg daarvan. Mens kan ook sê dat wat daarna gebeur het, ‘n logiese uitvloeisel was van wat hulle ‘ontvang’ het.
Geloof wat ontvang
Die Engelse term om te ontvang, is ‘appropriate’. Dit word die beste in Afrikaans vertaal deur die woord ‘toe-eien’. “Appropriating faith” is dus “geloof wat toe-eien”. Jy kan jouself slegs iets toe-eien wanneer jy oortuig is dat jy die eienaar daarvan is. Wanneer jy bv. iets gekoop het, is jou strokie jou bewys van jou eienaarskap. Daarna maak jy die pakkie oop en gebruik die item sonder om weer oor jou eienaarskap na te dink. Hoekom? Want jy het jouself dit toege-eien. Met geloof is dit dieselfde, jy moet met vertroue of vrymoedigheid eienaarskap neem van dit waarvoor jy gebid het. Die voorbereiding waarvan ons verlede keer geleer het, is jou ‘strokie’ of bewys van eienaarskap. My finansies, of die feit dat die wind waai, of die feit dat my toon pyn – het niks te doen met my eienaarskap nie, want dit is onverwant daaraan. Ek sê dit want, na gelang van die situasie, sal mense sê dat hulle lee beursies, of die wind wat steeds waai, of die pyn wat hulle steeds ervaar – bewys dat hulle geloof nie gewerk het nie. Dit bewys eerder dat hulle nog nie “toege-eien” of ontvang het nie. Die omstandighede sal eers verander nadat die ‘ontvang’ plaasgevind het.
Sê nou maar dat Jannie se pa het belowe het dat hy ‘n nuwe fiets kan kry. Dink net hoe snaaks dit sal wees as hy kort daarna sy enkel beseer en dan huil dat hy nie sy nuwe fiets gaan kry nie omdat sy enkel pyn. Sy pa sal vra, ‘my kind – kan jy dan nie my woord vertrou nie?’ Sy seer enkel en die nuwe fiets is tog glad nie verwant nie. Ek vertel hierdie voorbeeld om te bewys hoedat ons soms snaaks redeneer wanneer dit by geloof kom. Ons sal al God se beloftes betwyfel net omdat ons bv. steeds pyn ervaar nadat ons gebid het. Tog is die pyn en God se beloftes eintlik onverwant. God se Woord is en bly waar en betroubaar, ondanks omstandighede.
Wanneer ons met ‘n debiet kaart betaal vir aankope, dan doen is dit omdat ons eienaarskap geneem het van die geld in die bank. Ons sien nie op daardie oomblik fisies die geld nie, maar ons weet dat daar geld in die bank is. Die gee aan ons die vrymoedigheid om die kaart (die bewys van die belofte) te gebruik.
Dit is dieselfde met geloof. Wanneer ons vurig tot God bid oor ‘n saak, sal geloof begin vloei en sal ons kan ‘ontvang’ – daarna sal die omstandighede self verander om in lyn te kom met ons geloof.
Ons ontvang met die hart
Iemand het eendag gesê dat mens met die hart ontvang en nie met jou kop nie. Ek dink dit is baie waar.
Die mens se natuurlike reaksie is om te sê dat ‘sien is glo’. In Hebr 11:1 leer ons egter dat geloof ‘n bewys is van wat ons nie sien [met die natuurlike oë] nie. Wanneer jy in die gees ontvang, is sien ook glo – want jy sien dan met jou geestelike oë.
In Luk 17 lees ons van tien mense wat ontvang het, maar eers later genees is:
En toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: Gaan vertoon julle aan die priesters. En onderwyl hulle weggaan, het hulle rein geword. En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met ‘n groot stem verheerlik. En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was ‘n Samaritaan. Toe antwoord Jesus en sê: Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege? (Luk 17:14-17 AOV)
Drie dinge wat jou kan help om te ontvang
Omring jouself met positiwiteit
Vermy negatiwiteit so ver moontlik. Sommige mense is geneig om altyd vir jou al die redes te vertel hoekom jy jou tyd mors of hoedat hulle nie kan sien dat dit gaan werk nie of dat jy laf is. Vermy hulle sover jy kan totdat jou geloofsprojek voltooi is. Mediteer gereeld oor die antwoord, sien die antwoord in jou geestesoog en dank God daarvoor. Kry mense om saam met jou te bid en te glo en jou aan te moedig.
Glo een keer, praat vier keer
Ons lees in Markus 11: 23
Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see—en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur—hy sal verkry net wat hy sê. (Mar 11:23 AOV)
Merk op dat die woord ‘sê’ vier keer voorkom en die woord ‘glo’ net een keer in die vers. Mens kan dus sê dat jy een keer moet glo en vier keer moet bely. Ek neem dit die 4:1 beginsel, en dit stem ooreen met hierdie Skrif in Romeine:
Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. (Rom 10:17 AOV)
Hoe meer jy oor die saak praat, hoe meer stig dit jou geloof. Positiewe belydenis is eintlik die vrug van ‘n hart wat ontvang. Ek sê dit weens die spreekwoord, “waarvan die hart vol is, loop die mond oor.” Daarom is positiewe belydenisse en deklarasies elke oggend, so belangrik.
Punt van kontak
‘n Punt van kontak is iets wat jy doen, wat wanneer jy dit doen, jou geloof vrystel na God. Dit help om ‘n beginpunt vir jou wonderwerk vas te stel. ‘n Punt van kontak bou geloof en dit bou hoop. Dit is soos ‘n geestelike skakelaar wat die krag van God af na jou laat vloei wanneer jy die knoppie druk. Dit help jou om in geloof te ontvang.
Die bekende Oral Roberts se seun, Richard, vertel hoedat hy as jong seun met vraatjies gesukkel het. Nadat sy pa die ‘punt van kontak’ aan hom verduidelik het, het Richard in sy kinderlike onskuld met sy handjies die ‘geloof’ uit hom uitgetrek en opgewaai (vrygestel) na God toe. Hy vertel dat dit tyd gevat het, maar na twee maande was al die vraatjies weg en het hy nooit weer daarmee gesukkel nie.
In die verhaal van die tien melaatses in Lukas 17, was die ‘punt van kontak’ toe hulle in gehoorsaamheid na die priesters toe begin loop het. Hulle was op daardie tydstip nog melaats en het eers op pad na die priesters genees geraak.
In Joh 9 lees ons hoedat Jesus klei en ‘n bad gebruik het as ‘n manier om die blinde man se geloof vry te stel:
En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom. (Joh 9:6-7 AOV)
‘n Punt van kontak kan wees wanneer jy iemand die hand ople, vra dat hulle moet raak aan die seerplek, ‘n instruksie, ens.
‘n Praktiese manier is bv. om ‘n ete soos middagete te vas. Jy verklaar dan hardop dat jy glo dat jou wonderwerk gaan begin aan die einde van die etenstyd. Dit is ‘n fisiese wyse met ‘n definitiewe beginpunt wat jou kan help om jou geloof vry te stel.
Slot
Ek wil u bemoedig om hierdie week die geloofsprojek van verlede week te voltooi en die antwoord vir uself toe te eien deur vandag se lering te volg. Deur met klein geloof projekte wat maklik tot sukses kan lei, te begin, is dit moontlik om u geloof te laat groei totdat u opwindende projekte saam met die Here kan aanpak.
Amen.
5 thoughts on “Hoe om te vat met die vingers van geloof (2)”