Geloof is van die uiterste belang vir ‘n Christen. Daar is niks waaroor ons ‘n groter en ‘n meer ernstige bekommernis moet hê as oor ons geloof nie. Geloof is die  gawe waardeur ons gered word. Ons word nie verlos deur liefde nie; maar deur genade;  en ons word deur die geloof gered. Ons word ook nie deur moed gered nie, of deur geduld nie; maar ons word deur die geloof gered. God  gee sy saligheid aan geloof en nie aan enige ander gawe nie. Dit staan nêrens geskrywe nie dat hy wat liefhet, gered sal word nie. Dit is ook nêrens geskrywe dat ‘n geduldige sondaar gered sal word nie. Maar dit staan wel geskrywe dat, “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word” (Mark 16:16) Geloof is ‘n noodsaaklike deel van verlossing. As ‘n man ‘n gebrek aan geloof het, mis hy alles, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag.” (Heb 11:6) As ‘n man sy geloof oppas dan maak dit nie saak hoe min hy van enige ander gawe het nie – daardie man is veilig. Ons lees in die Bybel dat ons geloof soos ‘n skild is wat ons veilig kan bewaar teen aanvalle vanuit die Bose:

Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. (Ef 6:16)

Om Paulus se bedoeling in hierdie vers beter te verstaan, is dit nodig om na die skild te gaan kyk wat die Romeinse infanterie gebruik het in die Bybelse tyd. Die skild waarna Paulus in hierdie vers verwys, is die Romeinse ‘Thureos’, wat ‘n langwerpige skild was. Die woord is afkomstig van die Griekse woord vir ‘deur’ –thura. Dit was van ‘n houtraam gemaak wat met verskeie lae leer oorgetrek was. Kort voor ‘n geveg het die soldate hulle skilde in water gedoop sodat dit enige vurige aanvalle kon weerstaan. Wanneer die Romeinse infanterie aangeval het, was hierdie skilde aanmekaar gehaak deur die voorste linies en sodoende gebruik om ‘n lewende muur te vorm teen die vyand se aanvalle. Paulus verwys egter nie na frontale aanvalle in hierdie vers nie. Hy verwys na aanvalle wat skrikwekkend en vreesaanjaend was – ‘n swerm brandende pyle wat in pik gedoop was en gelyktydig op die vyand gevuur was. Dit was gewoonlik baie effektief, maar nie teen die Romeinse soldate nie. Hulle het hulle skilde eenvoudig bo hulle koppe gehou en sodoende ‘n baie effekiewe ‘dak’ gevorm waarop die pyle geval het en wat dit skadeloos gestel het. Paulus wou sê dat, wanneer daar so ‘n storm van vurige pyle teen ons losbars, ons die Skild van Geloof op dieselfde wyse moet gebruik om dit te blus.

‘n Gewone skild sal verweer wanneer daar nie na dit omgesien word nie. Die leer sal verdor en bros raak en dit sal begin bars. Die hout sal eweneens begin bros raak en bars. Na een of twee harde houe sal so ‘n skild begin opbreek en nie meer effektief wees nie. ‘n Goeie soldaat het altyd sy swaard, skoene en skild goed in stand gehou, want daarsonder was hy so goed as dood. Ons geestelike skild – die skild van die geloof – sal ons ook in die steek laat wanneer ons dit nodig het indien ons dit nie voortdurend behoorlik versorg nie. Hier is ‘n paar maniere waarmee ons, ons Skild van die Geloof kan versorg:

Die Raam

Die raam het die basis van die Romeinse skild of scutum gevorm en was uit twee of drie lae hout wat op mekaar geplak was, gevorm. Populier hout was ‘n gewilde keuse want dit was maklik bekombaar en maklik om te bewerk, tog was dit sterk genoeg om die aanslag van ‘n geveg te weerstaan. Die boonste en onderste dele van die raam was van yster stawe gemaak sodat dit kaphoue en verwering makliker kon weerstaan.

Op dieselfde wyse vorm ons geloof die basis van die gawes; en alle ander deugde en gawes ontspring daaruit. As ons geloof vals is, is die res ook vals. Vertel my byvoorbeeld van die liefde; hoe kan ek iemand liefhê in wie ek nie glo nie?   As ek nie glo dat daar ‘n God is nie, en dat Hy ‘n beloner is van almal wat hom ywerig soek nie, hoe kan ek Hom dan liefhê? Of sê vir my oor geduld: hoe kan ek geduld hê as ek nie ook geloof het nie? Geloof kyk na die beloning van die geduld. Geloof sê dat “vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk” (Rom 8:28). Neem enige deug wat jy wil, en jy sal sien dat dit afhang geloof.

Die raamwerk van ons geloof word gevorm deur die basis van ons Christenskap, en ons versorg dit deur dit suiwer te hou. Wat is die basis van ons geloof?

  1. Jesus Christus is volkome God (Joh 10:30);
  2. Ons kan onsself nie red nie. Ons word gered uit genade, deur die geloof (Ef 2:8-9);
  3. Ons redding is deur Jesus Christus alleen (Hand 4:12);
  4. Die opstanding van Jesus Christus uit die dode (1 Kor 14:15)
  5. Die Evangelie
    1. Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, … dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte (1 Kor 15:1-4)
  6. Die Heilige Drie-Eenheid (Mat 28:19 en 1 Kor 8:5-6).

Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! (Gal 1:9)

Die Bedekking

Die binneste deel van die bedekking was van skaapvel en die buitenste bedekking, volgens ‘n beskrywing van Polebius, was van gemaak van seil en beesleer. Die skilde, wat voor ‘n geveg in water gedoop was om dit dig te maak, was ook met olie ingesmeer of gesalf sodat dit glad was en aanvalle makliker weerstaan het.

Die skaapvel binne bedekking – Die Bybel leer ons dat Jesus, “die Lam van God [is] wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Joh 1:29)

Die beesleer en seil buite bedekking – “hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Heb 11:6) en dat “vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk” (Rom 8:28).

Ons versorg die binneste bedekking deur gereeld intieme tyd saam met Jesus Christus deur te bring volgens Sy uitnodiging en belofte in Open 3:20 “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Ons het mekaar nodig om staande te kan bly. Die Bybel vergelyk die gelowiges met die liggaam van Christus en leer ons dat ons mekaar nodig het net soos ‘n liggaam die verskillende dele nodig het om te kan funksioneer. In die Bybel is water gereeld ‘n simbool van mense. Wanneer ons dus ons Skild van Geloof in water doop om dit meer bestand teen aanvalle te maak, dan beteken dit dat ons deel vorm van ‘n gemeenskap van gelowiges wat gereeld byeenkom en mekaar ondersteun: “ laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie”  (Heb 10:25)

Die olie waarmee die skild gesalf word, is natuurlik die Heilige Gees, sonder wie ons niks kan doen nie. Hy is Helper, Leermeester Bystand en Advokaat. Met die salwing van die Heilige Gees, kan ons enige aanval van die Bose weerstaan en oorwin. Dit is die salwing wat deur die gawes van die Gees, bonatuurlik aan ons die planne van die Bose openbaar of wat ons daaruit red deur Sy wonderwerkende krag.

Slot

Daar is drie dinge in die Nuwe Testament wat kosbaar genoem word – Een van hulle is die kosbare bloed van Christus (1 Pet 1:19);  tweede is die buitengewone groot en kosbare beloftes (2 Pet 1:3-4); en geloof het die eer om die derde ding te wees – “aan die wat net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het” (2 Pet1:1). Ons sien dus dat geloof een van God se drie kosbare dinge is, dit is een van die dinge wat Hy bo alle ander dinge na waarde skat. Ek sluit af met ‘n laaste gedagte oor ‘n gebed wat die dissipels gebid het in Luk 17:5, “Gee ons meer geloof”. Charles Spurgeon het gesê dat “Faith needs to be increased in its power, as well as in its extent. We do not wish to act as some do with a river, when they break the banks, to let it spread over the pasture, and so make it shallower but we wish, while it increases in surface, that it may increase likewise in its depth. God gee geloof gratis aan die wat nie het nie. Aan die wat wel het, bid ek vandag toe: “Here, gee hulle meer geloof!”

One thought on “Hoe om jou Skild van Geloof te versorg

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.