Ons lewe in dae waar baie van God se mense moedeloos is en vervuld is met twyfel. Dit behoort nie so te wees nie, want ontmoediging kom altyd van die Duiwel af, hopeloosheid verlam ons vir nuttige diens en twyfel aan God se beloftes, doen die Here oneer aan.

Vertel my in elk geval tog: Is daar iets te moeilik vir God om te doen? Hoe dink jy?

Akademies sou jou antwoord maklik wees, want dit het jy op Sondagskool reeds geleer: Nee. God is Almagtig en kan alles doen.

Proefondervindinglik is die antwoord ongelukkig nie altyd so wit en swart nie. Het hulle jou ooit oor daardie stelling laat nadink? As God alles kan doen, kan God dan lieg? Of kan Hy vals sweer? Kan Hy sondig?

Die metode om ’n persoon te onderrig deur vrae aan hom te vra, staan bekend as die Sokratiese metode. Sokrates was gewoond om nie soseer ‘n feit te stel nie, as om ‘n vraag te stel en dan gedagtes uit te trek by diegene wat hy onderrig het. Sy metode was egter lank tevore reeds deur ‘n baie groter Onderwyser gebruik. God se gereelde onderrigmetode is om vrae te stel. Toe die Here Job uit die warrelwind geantwoord het, was dit ook met ‘n reeks vrae. ‘Verstaan jy die werkinge van die hemele? Kan jy hulle heerskappy op die aarde stel? Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat die oorvloed van water jou kan bedek? Kan jy weerlig stuur, sodat dit kan gaan, of dit roep en vir jou kan sê: ‘Hier is ons?’ ens.

Ons teksvers vir vandag gaan juis oor so ’n vraag wat die Here gevra het en is uit

Jer 32:27  Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?

Wanneer ons hierdie hoofstuk van die begin af lees, dan kom ons agter dat Jerusalem beleër was deur die Chaldeërs en daar was hongersnood in die stad. Allerhande siektes het uitgebreek en die saak het hopeloos gelyk vir die Israeliete. In hierdie tyd het die Here vir Jeremia opdrag gegee om nogtans ’n stuk grond te koop, al was die land reeds oorgeneem deur die Chaldeërs. Jeremia was gehoorsaam aan God se opdrag, maar vra dan vir die Here om hom te help verstaan hoekom hy die stuk grond moes koop as die grond in elk geval deur die Chaldeërs gekonfiskeer sou word.

Toe die Here vir Jeremia antwoord, het Hy begin met ’n vraag wat bedoel was om Jeremia tot nadenke te stem:

Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?

Daar is drie premises oor God waarna ons vandag kortliks gaan kyk:

Geen BELOFTE van God is vir Hom te moeilik om te vervul nie

Wanneer die Here praat, moet Hy seker maak oor wat Hy sê, want Sy woorde moet eerstens uitgaan en doen waarvoor Hy hulle gestuur het om te doen (Jes. 55:11) en tweedens is Hy nie ’n mens dat Hy sou lieg nie (Num. 23:19).

Daar word gereken dat daar ongeveer 30,000 beloftes in die Bybel is, wat almal ja is, en in Hom Amen is (2 Kor. 1:20); dit wil sê, dit is beloftes wat behoort aan die kind van God (2 Pet 1: 4) op, en hulle is almal absoluut seker (Num 23:19). Elke belofte wat God ooit gemaak het, sal vervul word, en dit sluit in Sy belofte om in jou behoeftes te voorsien. Hier is drie illustrasies van moeilike dinge wat God belowe en toe gedoen het:

  1. Hy het belowe dat die mure van Jerigo sou val, maar dat Ragab se woning in die stad se muur en haar gesin se lewens gespaar sou word. Dit was inderdaad ‘n moeilike ding – lees Josua 2: 1-24; 6: 1-25.
  2. Hy het belowe om Elia met kraaie by die spruit Krit te voed en toe daarna deur ‘n weduwee in Sarfat. Dit was moeilik – lees 1 Konings 17: 2-16.
  3. Hy het belowe dat Maria ‘n seun sou baar, alhoewel sy ‘n maagd was. Dit was moeilik – lees Lukas 1: 26-38.

Moeilike dinge uit ons moderne tyd

Ek wil egter nie net Bybel verhale vertel nie. Hier is ’n ware verhaal uit ons moderne tyd: Mark en Cassy het hulle derde kind verwag toe hulle agterkom dat iets nie pluis is nie. Iewers gedurende haar sewende maand van swangerskap het die plasenta van die uterus losgeskeur en dat was op hierdie punt dat die baba nie meer suurstof kon kry nie. Cassy is in die noodgevalle afdeling van die hospitaal opgeneem. Toe die baba gebore was, was haar prognose nie goed nie. Die dokters het hulle voorberei dat as, groot ‘as’, die baba dit maak, sy heel waarskynlik verstandelik sowel as motories gestremd mag wees.

Die bekommerde ouers het die een ding gedoen wat hulle kon doen en dit was om God se beloftes aan te gryp en te bid. Cassy sê in haar eie woorde:

“The faith of God just came up within me. I understand now of why it is so important to memorize scripture and to have revelation of His scripture before you go through storms. And the Lord started bringing up some different scriptures. And one of them was that, ‘You shall not die, but you shall live and declare the works of the Lord.’ And so we just began to speak that into her body and that we loved her and that we knew that God was faithful. And that He was going to touch her through this. God had a reason for her to be there on this earth and He was going to bring about that healing in her life.”

Stap vir stap het hulle gesien hoedat hulle dogtertjie beter word.

Sy moes minstens sewe weke in die hospitaal wees. Op die derde dag egter het die gaatjies in haar longe vanself heeltemal genees. Na nog twee dae het sy op haar eie asem begin haal. Daarna het haar breinaktiwiteit as normaal begin registreer, waar daar voorheen niks was nie, en toe net ‘n bietjie. Haar lewenskrag het normaal geword en klein Sophia Joy is ná slegs sewe dae uit die hospitaal ontslaan.

Cassy sê dat die dokter haar ‘super baba’ genoem het. Hy was absoluut stom verbaas. Vandag is Sophia Joy is ‘n gesonde kind en toon geen tekens van fisiese of geestelike probleme nie.

Geen GEBED aan God is vir Hom te moeilik om te verhoor nie

Een van die groot gebedsbeloftes in die Bybel is Jeremia 33: 3,

Jer 33:3  Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.

Die woord ‘ondeurgrondelik’ kan ook vertaal word as ‘verborge’, ‘omhein’ of ‘moeilik’. Die Here is lief daarvoor om moeilike gebede te verhoor. In elke situasie en lewensomstandigheid nooi Hy ons uit om te bid, en beloof Hy om ons gebede te verhoor.

Hier is weereens drie illustrasies uit die Bybel oor gebede wat moeilik was om te verhoor:

  1. Genesis 24: 1-67 – Hoe moeilik was dit, menslik gesproke, vir Abraham se kneg om net die regte bruid vir Isak te vind, maar tog het God die gebed verhoor deur Eliëser te lei om Rebekka te kies!
  2. 1 Samuel 1:1-20 – Hoe moeilik was dit, menslik gesproke, vir Hanna om swanger te word, maar God het haar gebed verhoor en een van die bekendste profete van alle tye is uit haar gebore!
  3. 1 Konings 18: 17-41 – Hoe moeilik was dit, menslik gesproke, om vuur uit die hemel op die altaar te laat val, maar dit was nie te moeilik vir die Here nie, en Elia se gebed is beantwoord!

Moeilike gebede verhoor in ons moderne tyd

Cathmare was op ’n moeilike plek toe sy by ons gemeente kom besoek het. Sy het hartprobleme gehad en daar moes ook dringend op haar geopereer word. Sy was ’n tikkende tydbom wat enige tyd kon ontplof en die dokters kon nie meer veel vir haar doen nie. Sy was moedeloos en op daardie stadium op die punt om Kaapstad toe te vertrek vir ’n soveelste operasie. Ons het vir haar hande opgelê en gebid en sy het vertrek. Verlede week, ’n jaar later – het ons ’n kort boodskap van haar ontvang dat dit goed gaan met haar. Haar hart is genees en sy werk en oefen soos enige ander gesonde persoon.

Ek en Mari het vroeër in die week na ’n getuienis oor beantwoorde gebed geluister wat my baie geseën het en wat ek graag wil herhaal. Daar was hierdie sendeling wat ’n groep kinders op ’n naweek kamp geneem het. Aan die einde van die kamp was hulle in kennis gestel dat hulle vervoer ongelukkig nie meer kan kom nie. Busse was maar skaars op daardie plek en die sendeling was in ’n penarie – die verantwoordelikheid vir die veiligheid van die kinders was op sy skouers! Hy het daardie aand toe saam met die kinders oor die saak gebid en toe ’n vreemde versoek tot God gerig, naamlik dat as dit moontlik was, dit ’n ROOI BUS moes wees wat die Here moes stuur, sodat hulle kon weet dat God hulle gebed geantwoord het.

Die volgende dag in die winkel het ’n man die sendeling genader en gesê dat sy bus gebreek het en hy kon nie sy afspraak nakom nie. Toe hy op die plek kom waar hy sy passasiers moes oplaai, het hulle toe alreeds met ander vervoer vertrek. Hy het ’n bus gehad, vol brandstof wat reeds voor betaal was en wou weet of die sendeling nie weet van iemand wat na busvervoer soek nie.

Julle kan dink hoe opgewonde die kinders was toe die sendeling saam met die busbestuurder die kamp binnegery het kort daarna – in ’n ROOI BUS!

Geen PROBLEEM is vir God te moeilik om op te los nie

Miskien het jy ‘n probleem wat jy self probeer oplos het – en het jy misluk! God is ‘n wonderwerkende God, en niks is vir Hom te moeilik nie. Hy sal jou graag help as jy Hom vra. Kyk hoe Sy krag na vore gebring is in die oplossing van die Israeliete se probleme:

  • Hy het hulle in staat gestel om ongedeerd en op droë grond deur die Rooi See te gaan – Ex 14: 13-31.
  • Hy het die probleem van die bitter water in Mara opgelos – Exodus 15: 23-26.
  • Hy het hulle water uit die rots gegee – Exodus 17: 5-7.
  • Hy het die water in wyn verander – Johannes 2: 1-11.
  • Hy het die storm stilgemaak – Markus 4: 35-41.
  • Hy het vyfduisend gevoed – Matteus 14: 15-21.
  • Hy het ’n dooie opgewek – Johannes 11: 38-46.

Wat Hy toe gedoen het, kan Hy vandag doen! Het ons so gou die wonderwerk van Dunkirk en ander soortgelyke wonderwerke in ons dag en generasie vergeet? –- en wat van die wonderwerke wat God in ons eie lewens gedoen het?

’n Verhaal uit ons moderne tyd

Unbroken is ’n trefferboek wat in ’n treffer film omskep is deur die  bekende aktrise en direkteur, Angelina Jolie. Dit vertel die verhaal van Louis Zamperini en die moeilike tyd wat hy deurgebring het onder die hande van ’n sadistiese soldaat in ’n Prisonierkamp in Japan. Unbroken vertel egter nie die hele verhaal nie. Ten spyte van sy ongelooflike uithouvermoë, en die held se verwelkoming wat hy ontvang het nadat hy huis toe gekom het, het Louis Zamperini hard gesukkel met die demone van PTSD en wraak. Sy huwelik het uitmekaargeval en hy het sy babadogter amper baie seergemaak en sy vrou Cynthia gewurg tydens ’n argument. Toe hoor Louis die boodskap van die evangelie en verander in ‘n heel ander persoon …

Iemand wat na sy getuienis geluister het, sê  hy was humoristies, vriendelik en inspirerend. Dit was moeilik om te glo dat hy een keer sulke vreeslike ervarings deurgemaak het en dat dit hom ‘n tyd lank in ‘n haatvervulde, bitter man verander het.

Slot

Ek glo dat vandag se boodskap, ’n boodskap van hoop is vir soveel mense wat deur diep waters moet gaan weens die invloed van die Corona virus op ons samelewing en ekonomie oor die laaste jaar.

God het jou nie vergeet terwyl jy deur jou beproewinge gaan nie. Hy het belowe dat alles ten goede sal uitwerk vir diegene wat Hy lief het, en Hy roep jou tot ‘n dieper begrip van hoe jy in alle omstandighede vreugde kan hê, omdat jy proefondervindinglik kan weet dat daar niks te moeilik is vir God om te doen nie.

Om God deur ‘n beproewing te vertrou, word ongelukkig nie blindelings gedoen nie. Geloof is nie blindelings nie, maar gebaseer op die Woord van God en op Sy beloftes. Ons moet leer hoe om ‘n oomblik-vir-oomblik, dag-vir-dag verhouding met God te hê wat deur ‘n daaglikse stiltetyd opgebou moet word. Wanneer ons geleer het dat Sy Woord betroubaar is, ook in ons unieke omstandighede, dan verander die antwoord op God se vraag van ’n akademiese antwoord na een wat getoets is in die vuur van die werklikheid.

1 thoughts on “Is daar iets te moeilik vir God om te doen?

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.