Toe die Cornerstone Bank in Waco, Nebraska, in November 2012 van sowat 6 000 dollar (ongeveer R80 000) beroof is, kon die kassiere die polisie ‘n redelike goeie beskrywing gee van die tienermeisie wat die misdaad gepleeg het en van die motor waarin sy ontsnap het. Dit het toe later geblyk dat die ondersoekers nie die beskrywings regtig nodig gehad het nie, want die dief het ‘n YouTube-video opgeneem met die titel “Chick bank robber” wat spog met haar kriminele vaardigheid. Die video is steeds op Youtube beskikbaar en ek het met verwondering daarna gekyk.

Die 19-jarige Hannah Sabata, wat die kontant voor die kamera uitsprei, hou onder andere ‘n bordjie op waarop staan: ‘Ek het nou net ‘n motor gesteel en ‘n bank beroof. Nou is ek ryk, kan ek my skuld afbetaal, en môre gaan ek op ’n inkopie tog. ‘ Later hou sy nog ‘n bordjie op wat sê: ‘Ek het vir my ma gesê dat dit vandag die beste dag in my lewe was … sy dink ek het ‘n nuwe kêrel ontmoet.’ Hannah se kort kriminele loopbaan het later dieselfde week geëindig toe die polisie haar in hegtenis geneem het.

Die aantal mense wat in die moeilikheid beland het weens iets wat hulle gesê het, is baie meer as misdadigers wat met hulle buit spog. Leuens, skinder, kritiek en laster kan nie net diegene oor wie hulle praat kwaad aandoen nie, maar ook die spreker beskadig. Die woorde wat uit ons mond kom, openbaar die toestand van ons harte en verstand.

Ons Skriflesing vir vandag is uit

Spr 21:4  Hoogheid van oë en trotsheid van hart—die glans van die goddelose is sonde.

Trots is die eerste van die Sewe Dodelike Sondes wat God haat. Dit is ‘n houding van selfonderhoudendheid, eie belang en selfverheffing teenoor God en ander. Die apostel Paulus het in 1 Korintiërs 13: 4 geskryf: ‘Die liefde is nie opgeblase nie.’ Opgeblase, wat ook as ‘arrogant’ vertaal kan word, is ‘n interessante woord. Dit is soos om ‘n ballon op te blaas of soos ’n blaasbalk wat lug saampers en dan uitblaas. Arrogansie of Opgeblasenheid beskryf ‘n persoon wat ‘n oordrewe siening van hulself het. Arrogansie is opgeblase selfsug.

Blaasoppies

As ek aan arrogansie of opgeblasenheid dink, dink ek aan ‘n vis – nie enige vis nie, maar ‘n blaasoppie (‘pufferfish’ of ‘blowfish’ in Engels). Blaasoppies gebruik hul elastiese mae en die vermoë om vinnig groot hoeveelhede water in te neem (en selfs lug indien nodig) om hulself in ‘n feitlik oneetbare bal te verander wat ‘n paar keer hul normale grootte is. Sommige soorte het ook stekels op hul vel om seker te maak dat ander visse wegbly.

Opgeblasenheid by mense beteken dat hulle groot hoeveelhede ‘self’ inneem. Hulle raak baie keer die werklikheid van wie hulle is, en hulle raak onsmaaklik vir ander. Byna alle blaasoppies bevat tetrodotoksiene, wat hulle laat sleg smaak en wat dikwels dodelik is vir ander visspesies. Vir mense is tetrodotoksien dodelik. Dit is tot 10 keer giftiger as kurare, 100 keer giftiger as sianied en 400 keer giftiger as strignien. Daar is genoeg gif in een spesifieke spesie se lewer om 30 volwasse mense dood te maak, en daar is geen teenmiddel voor nie. Die gif is so dodelik dat mens kan sterf deur selfs net te raak aan die binnegoed van ’n blaasoppie. Arrogansie of Opgeblasenheid proe sleg vir ander mense en blootstelling daaraan kan lei tot die geestelike dood van ander mense. Dit is net so giftig as tetrodotoksien vir verhoudings en die enigste teenmiddel is agape liefde – die liefde wat God vir die mens het.

Blaasoppies het lang lywe met bolvormige koppe. Sommige dra uitstaande merke en kleure om hul toksisiteit te adverteer, terwyl ander meer gedempte kleure het om by hul omgewing in te pas. Net so is sommige mense openlik spoggerig. Hulle word maklik raakgesien omdat hul arrogansie uitgestal word. Ons noem sommige sulke spesies ‘snobs’. Andere weer, is meer subtiel. Hulle het die kuns aangeleer om die aandag deurentyd op hulself te vestig deur die manier hoe hulle praat en dinge doen. Hulle beklemtoon hul onwaardigheid deurentyd en hou die fokus daarop (‘poor old me’ mentaliteit). Broers en susters, hierdie subtiele opgeblasenheid manifesteer deur minderwaardigheid en verwerping en is niks anders as dieselfde Opgeblasenheid en Trots van ’n openlike snob nie.

Trotse se baie gesigte

In die baie gewilde reeks Game of Thrones, word ’n jong meisie met die naam van Arya opgeneem in ’n kultus wat die ‘Many Faced God’ of ‘Him of Many Faces’ aanbid deur mense onopvallend te vermoor. Die Godheid waarna hulle verwys is gebaseer op werklike gode wat aanbid word en meer opvallend na die Indiese gode Shiva en Kali, wat bekend is vir ‘stille moorde’.

Net soos hierdie gode, het Trots baie gesigte, daarom waarsku God ons om waaksaam te wees daarteen. Hier is maar net ’n paar van die gesigte van Trots:

  • Arrogansie
  • Selfpromosie
  • Suinigheid
  • Egosentrisme
  • Weier om na ander se raad te luister
  • Kan nie onderwerp aan gesag nie
  • Minderwaardigheid en Verwerping
  • Spoggery (subtiel of openlik)
  • Die onvermoë om ‘n kompliment of geskenk te ontvang

As ons ‘n deur vir trots oopmaak, selfs ‘n klein een, sal die vyand die opening benut en in ons harte kom met gedagtes wat ons mislei om baie meer van onsself te dink as wat God wil hê. Geliefdes, God wil hê dat jy ‘n gesonde selfbeeld moet hê, maar Hy wil ook hê dat jy moet leer hoe om trots te herken en te hanteer, sodat jy nie Sy seëninge vir jou sal mis nie.

Satan se truuk is dat hy vir ons sê dat ons sekere vlakke van sukses in die lewe moet bereik om ‘n gevoel van waardigheid te hê. Hy wil ook hê dat ons moet glo dat ons niemand anders nodig het nie. Aan die persoon wat nog nooit Christus as sy Verlosser aangeneem het nie, fluister hy: ‘Jy het nie ’n Verlosser nodig nie. Moenie jou knie voor iemand buig nie. Jy is immers die skepper van jou eie geluk.’

Gelowiges is ook nie vrygestel van hierdie soort versoeking nie. Dit kom net uit ‘n ander hoek: ‘Moenie om hulp vra nie. Jy kan dit sonder God doen. Waarom moet jy vir jou vriende sê dat jy sukkel? Hulle sal dink dat jy swak is.’ Die waarheid is egter dat elkeen van ons ’n Verlosser nodig het. Ons het God se wysheid en bowenal sy liefdevolle sorg nodig. Hoogmoed kom dikwels na vore omdat iemand minderwaardig voel en dink dat hy of sy meer moet wees as wat hulle werklik is.

Moenie val vir Satan se taktiek nie. Deur Jesus Christus is jy alles wat jy ooit sou kon hoop om te wees. Vra die Here om jou te leer hoe om in Sy sorg te rus. As jy dit leer doen, sal jy nie net ‘n gevoel van hoop kry nie, maar jy sal ook besef hoe waardevol jy in Christus is.

Hoe ons kan waak teen Hoogmoed en Trots

Onthou dat ons redding slegs uit genade is

Geestelike trots kruip in as ons vergeet dat ons redding alleenlik deur genade is, nie as gevolg van iets goeds in ons nie. Niemand, of dit nou Jood of heiden is, verdien redding nie. Ons redding is deur God se genade alleen. Die Bybel leer vir ons in

Rom 3:23  want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God

en dan weer in

Rom 3:10-12  soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.  (11)  Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.  (12)  Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.

Ons kan nie sê dat ons gered kan word omdat ons hierdie groot filantroop is of al daardie goeie werke doen of omdat ons nie rook of drink of vloek nie. Dink net bietjie daaroor: Indien sulke dinge ons kon red, was dit nie nodig dat Jesus Christus aan die kruis moes sterf nie.

Die mate van jou sukses bepaal ook nie jou redding nie. Ek en Mari was vroeër die week by dierbare vriende aan huis toe die gesprek in daardie rigting gedraai het en ons het vir mekaar gesê, dit is slegs genade dat jy nie in in sinkhuisie in die veld bly nie. Dit is slegs genade dat jou vrou nie nodig het om ’n prostituut te wees sodat daar brood in die huis kan wees nie. Dit is slegs genade dat jy suksesvol in jou werk is en dit is slegs genade dat God aan jou die geleentheid gegee het om te glo. Die blote feit dat jy in staat is om hierdie stuk te lees, is ’n ekspressie van God se genade: dit impliseer dat jy intelligent kan dink (genade); kan lees en skryf (genade) en ’n rekenaar met internet verbinding het (genade).

Onderhou jou geloof

Die tweede manier hoe ons kan waak teen hoogmoed en trots, is deur ons geloof te onderhou. Ons geloof, net soos enige ander besitting wat ons het; vereis voortdurende onderhoud. Dink maar net aan jou motor, of jou fiets, of die stofsuier in jou huis. Jy kan dit vir ’n tyd lank gebruik; maar as jy dit nie gereeld onderhou nie sal jy gou agterkom dat dit nie meer wil werk nie. Ons geloof is dieselfde. Ons moet ons geloof gereeld onderhou sodat dit in ’n goeie toestand bly.

Een manier hoe ons dit kan doen, is om deur kritiese vrae te werk in jou geloofslewe. Dikwels wanneer ek met mense oor hulle geloof wil praat, sal hulle antwoord dat hulle hul kerk het en weet wat hulle glo. Indien ek dit dan opvolg met die vraag, Wat glo jy? dan word duidelik dat hulle ongemaklik raak omdat hulle nie seker is wat hulle glo nie. Weet wat jy glo en hoekom jy dit glo; want as jy dit nie weet nie het jy nie ’n vaste fondament nie en sal enige lering of slegte gebeurtenis vinnig jou geloof skud.

Hoe gereeld bid jy? As jy soos baie Christene is, is gebed eintlik net meer soos ‘n nagedagte. Miskien glip jy aan die einde van ‘n lang dag ‘n kort gebed in, of bid jy voordat jy jou gunsteling maaltyd geniet. Hoe gaan dit egter met die uitdagings in jou daaglikse lewe? Hoe meer jy gebed in jou roetine toelaat, hoe sterker sal jou geloof groei. Jy hoef ook nie ’n goeie redenaar of spreker te wees vir ’n doeltreffende gebed nie. Martin Luther het gesê, “Hoe minder die woorde, hoe beter is die gebed.”

Die laaste een is dat jy beslis moet inskakel by ’n geloofsgebaseerde gemeenskap. Hoe gereeld bespreek jy jou geloof met ander Christene? Selfs net ‘n kort geselsie met ‘n medegelowige kan jou batterye herlaai. Opsies is volop: raak betrokke by jou plaaslike kerk, neem deel aan ‘n Bybelstudie of sluit aan by ‘n geloofsgebaseerde vrywilligersbediening. Jy hoef nie te alle tye omring te wees deur medegelowiges nie, maar gereelde interaksie sal voorkom dat jy hopeloos of alleen voel.

Slot

Daar word vertel dat Alex Haley, die bekende outeur, ’n prentjie van ’n skilpad op ’n paal in sy kantoor gehad het. Wanneer iemand hom daaroor uitgevra het, dan het hy geantwoord, ‘dit herinner my dat die skilpad nie vanself daar kon gekom het nie, hy moes hulp gehad het.’ Liewe leser, kyker of luisteraar: Wanneer jy met trots terugkyk na jou lewe, onthou dan die verhaal van die skilpad op die paal. Onthou hierdie verhaal wanneer Trots met sy baie gesigte aan die deur van jou hart kom klop, want die Bybel leer ons in

Jak 4:10  Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

2 thoughts on “Oor Bankrowe en Blaasoppies

    1. Hi Wendy, dankie vir jou navraag. Ons bestaan nog en is in Bloemfontein geleë. Weens die covid pandemie is ons beradings ongelukkig ook beperk. Ons begin eers weer in Julie en sal ek moontlik middel Augustus weer na opening hê.

      Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.