Ek wil vandag begin deur te vra, “Kan jy God vertrou met jou hele lewe?”; en ek wil dit illustreer met drie verhale:

Verhaal 1 – Die Mier, Die Gebed en Die Kontaklens

In die Mei/Junie 1994 uitgawe van haar nuusbrief, het Elizabeth Elliot ’n artikel gepubliseer waarin Brenda Folz ’n byna ongelooflike ware verhaal vertel. Brenda was as ‘n jong vrou genooi om op ’n rotsklim uitstappie te gaan. Alhoewel dit haar eerste keer was, het sy tog saam met haar groep ‘n groot granietkrans gaan uitklim.

Ten spyte van haar vrees het sy teen die rots begin opklim totdat sy ‘n lysie bereik het waar sy ‘n blaaskans kon neem. Terwyl sy daar gerus het, het die veiligheidstou teen haar oog geklap en haar kontaklens uitgestamp. Brenda was gestrand op ‘n rotslysie, met honderde meters steil granietrots onder haar en honderde meters bo haar. Sy het bly rondkyk in die hoop dat dit dalk naby haar geval het, maar dit was net nie daar nie.

Met haar sig wat dof was, het sy paniekerig geraak en die Here gevra om haar te help om dit te kry. Sy het later toe versigtig verder geklim tot bo, waar ‘n vriend haar oog en haar klere deursoek het, maar die kontaklens was weg. Terwyl hulle gewag het vir die res van die groep om ook tot bo te klim, het sy eenkant, weg van die groep gaan sit. Sy het gekyk na die omvang van die reeks berge om haar, en gedink aan die Bybelvers in 2 Kron. 16:9 wat sê, “The eyes of the LORD search the whole earth in order to strengthen those whose hearts are fully committed to him.” Sy het gedink, “Here, U kan al hierdie berge sien. U ken elke klip en blaar, en U weet presies waar my kontak lens is. Help my asseblief. ”

Uiteindelik het hulle met die roete terug na onder geloop. Aan die onderkant van die berg het daar toe nog van die groep klimmers gestaan en wag om teen die rotswand op te klim. Een van hulle het geskreeu, “Haai, julle ouens! Het iemand dalk ‘n kontaklens verloor?” Brenda was verstom om haar kontaklens, teen alle rede in, ongeskonde te vind.

Verhaal 2 – God is in die detail

Die tweede verhaal is ’n Bybelverhaal. Daar is ’n bekende Skrifgedeelte wat sê

Rom 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk…

Josef se verhaal in die Ou Testament, is op baie maniere ’n bevestiging van die waarheid van hierdie teksvers in die Nuwe Testament. Met dit as agtergrond, wil ek hê dat ons vinnig weer na die verhaal van Josef kyk: Josef was die gunsteling seun van sy pa, Jakob, daarom was sy broers jaloers op hom. Eendag het sy broers saamgesweer om hom te verkoop aan ’n groep Midianiete wat by hulle verbygegaan het. Hulle het sy kleed met die bloed van ‘n bok gevlek om dit te laat lyk of hy deur ‘n wilde dier vermoor is. Daarna het hulle het die kleed aan hulle pa gewys, wat hul leuen geglo het dat Josef dood was.

Intussen is Josef na Egipte deur die Midianiete geneem. Daar is hy weer verkoop, hierdie keer na Potifar, wat die hoof van Farao se sekuriteit was. Genesis 39 vertel dat Josef guns gekry het by Potifar sodat hy Josef uiteindelik in beheer van sy hele huishouding geplaas het. Dit was ‘n groot eer vir ‘n Hebreeuse slaaf. Omdat hy bevoeg was, vol selfvertroue was en daarby nog mooi gelyk het, wou Potifar se vrou ‘n seksuele verhouding met hom hê. Josef het geweier maar die vrou het aangehou tot op die punt waar sy eendag, toe almal anders weg was, hom op haar bed wou neertrek. Josef het van die toneel weggevlug maar sy kleed het daar gebly. Verneder deur sy weiering, het Potifar se vrou vir Josef beskuldig van verkragting. Potifar het sy vrou geglo en het Josef in die gevangenis gegooi.

Na ongeveer 10 jaar in die tronk het die Farao se bakker en skinker ook in die tronk beland. Een nag het hulle albei drome gehad wat hulle nie kon interpreteer nie. Josef was nietemin in staat om hulle te interpreteer met die Here se hulp. Die drome het waar geword presies soos Josef voorspel het — die bakker is gehang, maar die skinker was vrygelaat. Josef het hom gevra om hom te onthou nadat hy uit die tronk gekom het, maar hy het nie.

Dit was nou meer as ’n dekade dat Josef se broers hom verkoop het. Hy was al vir tien jaar opgesluit vir iets wat hy nie gedoen het nie en het nie ’n goeie vooruitsig op vrylating gehad nie. Nog twee jaar het verbygegaan en toe het Farao het ‘n droom gehad wat hy nie kon interpreteer nie. Die skinker het toe eers van Josef onthou en vir die Farao van hom vertel. Josef het die droom reg uitgelê en was kort daarna Eerste Minister van die Farao gemaak.

’n Ruk later het daar ’n hongersnood uitgebreek. Jakob het sy seuns beveel om graan in Egipte te gaan koop. In die proses het hulle vir Josef ontmoet maar dit nie besef nie. Na die tweede keer het Josef sy ware identiteit aan sy broers bekend gemaak. Hulle was geskok en bang omdat hulle hom verraai het en hy was nou in die posisie om hulle terug te kry. Tog het Josef dit nie gedoen nie. Hy het vir sy pa en broers gesorg, wat hy in die land Goosen laat bly het. Toe Josef se pa, Jakob, jare later oorlede is, was sy broers bang dat Josef nou op hulle sou wraak neem omdat hulle hom verkoop het as ’n slaaf en vir hom gesê dat dat dit hulle pa se wens was dat hy goed vir hulle moes wees. Toe antwoord Josef hulle met hierdie woorde:

Gen 50:19-20  Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God?  (20)  Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.

Josef was as ’n slaaf verkoop en moes daarna meer as tien jaar in ’n tronk sit oor iets wat hy nie gedoen het nie. Hy het alle rede en meer as genoeg geleenthede gehad om bitter te word teenoor God, sy broers en die mensdom. Tog het hy God se hand gesien in alles wat met hom gebeur het. Dink vir ’n oomblik aan die implikasies van sy woorde:

  • Op net die regte oomblik het sy broers hom in die put gegooi.
  • Op net die regte oomblik het die Midianiete daar aangekom.
  • Op net die regte oomblik is hy verkoop aan Potifar.
  • Op net die regte oomblik het Potifar se vrou hom valslik beskuldig.
  • Op net die regte oomblik het hy die bakker en skinker ontmoet.
  • Op net die regte oomblik het die skinker van Josef onthou.
  • Op net die regte oomblik het Farao Josef laat ontbied.
  • Op net die regte oomblik is hy bevorder tot Eerste Minister.
  • Op net die regte oomblik het Jakob sy seuns na Egipte gestuur.
  • Op net die regte oomblik het sy broers Josef ontmoet.
  • Op net die regte oomblik het Jakob se familie na Egipte verhuis.
  • Op net die regte oomblik het Farao hulle in die land van Goosen laat bly.

Al hierdie dinge het gebeur op “net die regte oomblik” en in “net op die regte manier” sodat die regte mense sou wees op die regte plek op die regte tyd sodat alles uitgewerk het op die manier waarop God dit in die begin reeds georden het. God het nooit iemand se vrye wil in die proses geskend nie, maar alles het gebeur soos Hy beplan het.

Die woord ‘voorsien’ beteken ‘om vooruit te sien’. Josef se verhaal is die verhaal van God se voorsienigheid in aksie. As ons soos Josef met die oë van geloof kyk, sal ons God se vingerafdrukke oral sien.

Verhaal 3 – ’n Vrou ry haar verloofde dood

Die laaste verhaal handel oor ’n jong meisie wat haar verloofde laat verongeluk het. Twee dae na haar sewentiende verjaardag het Laura Welch en ‘n vriendin in haar motor gery. Die wind het deur haar hare gewaai, Die wêreld was jonk in 1963, en hierdie dag was bedoel vir bestuur, radio luister en kuier met haar beste vriendin. In die middel van hulle kuier het Laura opeens besef dat daar ‘n groot fout was. Sy het nie die stopteken gesien nie en kan net die geluid van bande wat skreeu en knarsende metaal onthou. Laura en haar vriend was geskok, maar in staat is om die ander motor te herken. Dit het behoort aan die sewentienjarige Michael Douglas, ‘n student in Texas en ook Laura se verloofde. Teen die tyd dat hulp aangekom het, was hy reeds dood. Laura het geweet dat die ongeluk haar skuld was.

Dit sou baie jare wees voordat Laura weer ernstig aan ’n romanse kon dink. Laura het getrou, haar kinders in liefde grootgemaak en die geestelike aspek van haar familie hanteer. Na daardie dag in 1963 het Laura net een ware krag gevind wat haar nie sou faal nie, en dit was haar geloof in God. Net haar geloof het Laura deur daardie dae na die ongeluk gedra. Laura se huwelik het ook later jare by ’n kruispad gekom, net soos daardie dag baie jare gelede. Haar man het meer en meer begin drink en een dag in 1986 het Laura hom gekonfronteer: hy moes kies tussen haar of die alkohol.

Laura se man het ‘n wyse keuse gemaak. Hy het sy alkoholisme oorkom en die pad van geloof begin volg wat sy vrou hom gewys het. Gou het hy gevind dat ‘n diep, blywende geloof die moeite werd was. Vandag kan beide Laura en haar man – oud-President George W. Bush – terugkyk na daardie seisoen van stryd wat die keerpunt was vir hul huwelik, hul familie en hul politieke loopbaan.

Slot

Onthou jy nog die eerste verhaal, die een waar die rotsklimmer Brenda se kontaklens op ’n fantasiese wyse gevind het? Die hele verhaal sou op sigself verstommend genoeg gewees het, maar weet jy hoe die klimmer die kontaklens gesien het? ‘n Mier het stadig oor die rotswand geloop terwy hy die kontaklens gedra het. Sy vertel dat sy die voorreg gehad om self haar kontaklens by die mier te neem, af te spoel met water en terug in haar oog te plaas.

Brenda het die ongelooflike verhaal geëindig deur te vertel dat haar pa ‘n spotprenttekenaar is. Toe sy aan hom die ongelooflike verhaal van die mier, die gebed en die kontaklens vertel het, hy het ‘n tekening van die mier wat die kontaklens dra geteken met die woorde,

“Here, ek weet nie hoekom U wil hê ek dat ek hierdie ding moet dra nie. Ek kan dit nie eet nie, en dit is verskriklik swaar. Maar as dit is wat U wil hê ek moet doen, sal ek dit dra.”

Ek het hierdie boodskap begin met die vraag, “Kan jy God vertrou met jou hele lewe?”

Dit is egter nie heeltemal die regte vraag nie. Een woord moet verander: dit is nie “kan jy?” nie, maar “sal jy?”

Sal jy God vertrou met die al detail van jou hele lewe?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.