As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge  (21)  soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie?

Kol 2:20-21

Die doel van propaganda is om die publieke opinie te beïnvloed om jou narratiewe te glo deur verskeie maniere, hoofsaaklik deur die media, te gebruik. Ons het verlede keer een kant van die verhaal in ʼn neutedop vertel. Het die Apostels en die Vroeë Kerk ook met soortgelyke kwessies gesit en indien wel, hoe het hulle dit hanteer?

Vir agtergrond na die aanloop van wat gebeur het, moet ons eerste kyk na die delegering van gesag deur Jesus aan die Kerk:

Mat 28:18-19  En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.  (19)  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

In hierdie gedeelte sien ons dat Jesus Sy gesag delegeer. Nou is my vraag – Was die gesag eerste aan Jesus se dissipels gegee en toe aan die kerk, of eerste aan die kerk en laaste aan Jesus se dissipels? Ek glo dat Jesus dit eerste gegee aan die mense wat die naaste aan Hom was toe Hy die gesag oorgedra het: Sy dissipels. Hoekom vra ek so n oenskynlike dom vraag? Ek vra dit want diegene wat propganda makers is, bevraagteken die gesag van die Apostels en van die grootse deel van die NT, omdat dit nie in hulle wereld beskouiing val nie. Die gesag van die Apostels was wel deur die Heilige Gees self ook erken, soos wat ons later sal sien.

Kom ons lees nou saam uit

Hand 14:26-28  En daarvandaan het hulle weggevaar na Antiochíë, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle volbring het.  (27)  En toe hulle daar kom en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy ‘n deur van geloof vir die heidene geopen het.  (28)  En hulle het daar by die dissipels ‘n geruime tyd deurgebring.

In Hand 13 kan jy lees hoedat die gelowiges in Antiochie vir Paulus en Barnabas, onder die leiding van die Heilige Gees, afgesonder het om op n sendingreis te gaan. Hulle het nou teruggekeer van hierdie reis en verslag gedoen aan die gemeente oor wat alles met hulle gebeur het, in besonder hoedat die Here Jesus ‘n deur van geloof vir die heidene geopen het – m.a.w. die heidene kon ook kom tot geloof in Jesus Christus en dit was nie beperk tot net die Jode nie.

Dit bring ons na die begin van Handelinge Hoofstuk 15, wat die basis sal vorm van dit wat ons kan leer vandag:

Hand 15:1 En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie.  

Tot nou toe nog het die jong kerk nog net nodig gehad om weerstand te bied teen vervolging van buite die kerk. Nou het daar egter Christen-Jode van Judea af gekom wat presies dieselfde vir die Christene in Antiochie geleer het as wat baie vandag nog doen: Die genade van die Here Jesus is groot ja, maar as jy nie die Wet van Moses ook onderhou nie, kan jy nie gered word nie. Die fokus destyds was toe op die besnydenis – wat toe die belangrikste wet vir die Jode was. Die bedoeling daaragter was dat mens steeds die wette van Moses moes onderhou en dat mens sonder die onderhouding daarvan, nie gered kon word nie.

Vandag is die argument, hoewel die detail daarvan verskil tussen verskille groepe, in wese steeds dieselfde. Die fokus vandag is egter eerder op die onderhouding van die Sabbat en sommige van die ‘eet-wette’ in plaas van op die besnydenis. Hulle argument is gebaseer op teksverse soos

Ex 20:9-10  Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen;  (10)  maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.

Ons sien dus dat die kerk, 2000 jaar later, steeds met dieselfde probleme sit as wat dit toe gehad het. Hoe het hierdie gemeente (in Antiochie) dit hanteer?

Hand 15:2  Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog ‘n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk.

Hulle het die voordeel gehad wat ons nie vandag het nie – hulle kon die Apostels in Jerusalem gaan vra vir uitsluitsel en het daarop n afvaardiging na Jerusalem gestuur om uitsluitsel oor die vraagstuk te bring.

Onthou dat die kerk in Antiochie uit Jode sowel as nie-Jode bestaan het. Die redenasie van die nie-Jode sou wees, as ons dus eintlik Joodse proseliete (moet bekeer tot die Joodse geloof) moet word, watter wins het die werk van Jesus Christus dan, omdat nie-Jode van lank voor dit af alreeds proseliete kon word.

In Jerusalem het die afvaardiging die vraagstuk van die gemeente toe voor die apostels en die ouderlinge van Jerusalem gebring in die geskiedkundige eerste Raad in Jerusalem. Nadat die Raad daarna geluister het, het Jakobus opgestaan en die vergadering toegespreek. Hy het sy toespraak afgesluit met die volgende voorstel:

Hand 15:19-22  Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie,  (20)  maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed.  (21)  Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word.

Ons kan met sekerheid aflei dat Jakobus se voorstel toe eenparig deur die Raad aanvaar was, want ons lees in vers 22,   Toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om manne uit hulle te kies en na Antiochíë te stuur saam met Paulus en Bárnabas, naamlik Judas, met die bynaam van Bársabas, en Silas, manne wat voorgangers onder die broeders was.

n Brief wat hulle besluit bevat, is daarna opgestel en om die egtheid daarvan te bevestig, het hulle vir Judas en Silas saam met die afvaardiging teruggestuur na Antiochie:

Hand 15:23-29  En hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe: Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochíë en Sírië en Cilícië: Groete!  (24)  Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou,  (25)  het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus—  (26)  manne wat hulle lewe oorgegee het vir die Naam van onse Here Jesus Christus.  (27)  Ons het dan Judas en Silas afgevaardig om ook mondeling dieselfde berig te bring.  (28)  Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge:  (29)  dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!

Die verse wat vir my uitstaan, is verse 28 en 29:

Verse 28 bevat die gesag waarvolgens die opdrag uitgereik is: Naamlik dat die apostels, die ouderling en die Heilige Gees saam besluit het watter wette van die Ou Testament steeds deur die volgelinge van Jesus onderhou moes word. In vers 29 word hierdie wette uitgelig, soos per die voorstel van Jakobus tydens die Raad in Jerusalem:

  • dat julle jul onthou van afgodsoffers
  • en van bloed
  • en van wat verwurg is
  • en van hoerery.

Hierdie vier basis reels vir Christenskap word nie wyd en syd verkondig nie. Nee, net soos die Jode van Jerusalem af aangekom het en dinge verkondig het waarvoor daar geen opdrag was nie, gebeur dit vandag ook: Hierdie mense sal met groot oortuiging verkondig dat die Sabbat onderhou moet word en dat jy nie varkvleis moet eet nie, maar hulle sal sonder om twee keer te dink vleis met bloed in eet of verwurgde diere eet of betrokke wees in seksuele immoraliteit.

Net so vir interessantheid – die Griekse woord vir seksule immoraliteit of hoerery, soos dit hier vertaal word, is porneia. Die Strongs woordeboek verklaar dat hierdie woord seks buite die huwelik sowel as bloedskande insluit. Dit is ook die woord waarvan die eerste vier letters na n groot vloek verwys wat vandag heers in die Christen gemeenskap.

Terug na ons boodskap:

Alle kos wat nie bloed bevat of van verwurgde diere afkomstig is of wat afgodsoffers is nie, is rein en eetbaar mits daar oor gebid word:

1Tim 4:1-5  Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang  (2)  deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,  (3)  wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.  (4)  Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie;  (5)  want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.

Dit is ook nie nodig om die Sabbat of Maan feeste of enige ander OT feeste te onderhou nie:

Kol 2:16  Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie…

Wat dan van die Ou Testament?

Vandag se lering gaan oor redding. Geloof in Jesus Christus alleen red. Jou eie werke, soos bv. die hou van n Sabbat, kan jou nie red nie – die Wet van Moses maak dit glashelder duidelik.

Nogtans leer die Woord ons

2 Tim 3:16-17  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,  (17)  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Die Skrif, ingesluit die Ou Testament, is vir ons nuttig tot lering, weerlegging, teregwysing en onderwysing. Dit kan egter nie red nie. Die onderhouding van die Wet kan jou nie red nie. Net geloof in Jesus Christus alleen red.

Wat van my?

Indien dit voor jou persoonlik tog belangrik is om dit te doen, is die goeie nuus dat die Skrif vir jou voorsiening maak:

Rom 14:5-6  Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.  (6)  Hy wat die dag waarneem (bv. Om n Sabbat te onderhou), neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie (wat nie Sabbat onderhou nie), neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie (bv. Vark), eet nie tot eer van die Here, en hy dank God.

Die vermaning in Kollosense bly egter staan:

Kol 2:16  Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie…

Slot

Ek glo dat dit uit die Woord duidelik is wat die Heilige Gees en die Apostels oor hierdie vrae beveel het. Of dit nou Kersfees is of Paasfees, n Verjaarsdag of n Sabbat of sekere kosse of wat ook al – doen dit of doen dit nie tot eer van die Here – maar moenie rondgaan en ander medegelowiges daaroor aanspreek en oordeel net omdat hulle nie glo soos jy nie. Geliefdes, daar is baie anti-Christen propaganda in die wereld daarbuite. Raak bewus daarvan en pas die kosbare geloof op wat die Here Jesus aan ons toevertrou het. Moenie mekaar met allerhande nietige twisvrae aanval nie, maar behou die eenheid en kom laat ons eerder saam die Goeie Boodskap van die Evangelie aan die wereld verkondig.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.