Ons Skrifgedeelte verlede keer was uit 1 Kron 20:4-8. Dit het die verhaal vertel van vier reuse wat deel gevorm het van vier besonderse aanslae van die Filistyne op God se volk, die Israeliete. Dit was besonders omdat die Filistyne in hierdie vier gevalle van reuse gebruik gemaak het om vrees in te boesem by die Israeliete. In die Bybel, blyk die Filistyne ‘n simbool te wees van Satan en sy trawante se voortdurende aanslag op God se kinders. Dit was net ‘n bietjie meer as veertig jaar nadat Dawid as ‘n jong seun vir Goliat verslaan het en Dawid was ongeveer in sy middel vyftiger jare toe hierdie aanslae gebeur het.

Ek beveel aan dat jy na die vorige boodskap kyk, luister of dit lees ten einde die konteks van vandag se boodskap beter te verstaan.

Reus 1: Jisbi-Benob – die aanval uit die kerk

Toe Dawid teen hierdie reus geveg het, was hy al ‘n veteraan van baie veldslae en het hy geweet hoe om teen reuse te veg. In vandag se tye kan ons sê dat hy ‘n volwasse Christen was wat geestelike oorlogvoering redelik goed verstaan het. Tog lees ons dat die reus byna vir Dawid oorwin het en dat Abisai hom moes kom help.

Ons kan leer uit hierdie voorval sodat ons beter toegerus kan wees wanneer die reus met sy aanval begin:

  1. Dawid was al gevorderd in jare en geestelik volwasse,
  2. Nogtans was hy byna oorrompel en hy moes hulp kry om hierdie reus te oorwin.
  3. Die aanvaller was afkomstig van die priesterlike stad Nob – ‘n simbool van sekere groeperinge wat gevorm het by ons kerk leiers.
  4. Die intensiteit van die aanval was so sterk dat Dawid hulp moes kry – ons sal ook nie self staande kan bly wanneer so ‘n aanval vandag geloods word nie en sal die hulp van ons mede-gelowiges nodig hê.
  5. Die tipe aanval waarvoor ons op die uitkyk moet wees, is tipies dat die ‘woord van die mense bo die Woord van God gestel word’ en dat die leringe van die Bybel deur liberale interpretasies vervang behoort te word om in pas te bly met die ontwikkeling van die moderne mens.

Jisbi-Benob se spies kan in vandag se tye vergelyk word met die gewig van die druk hierdie groeperinge kerk leiers om gelowiges te dwing om nuwe leerstellinge te aanvaar.

Sy swaard is simbolies van nuwe ‘openbaringe’, liberale interpretasies van die Woord en om dit te verpak in die vorm van leerstellinge en geloofsbelydenisse wat afdwingbaar is op elke lid van daardie besonderse gemeente o groep.

Oorwin die reus

Let wel dat die aanval geloods word op volwasse Christene – wat weer die ander moet leer. Indien suksesvol, sal hulle die volgende geslag volgens die nuwe leerstellinge en so sal ‘n hele nuwe dispensasie tot stand kan kom.

Die teen-strategie sal wees vir gelowiges in saam te smelt in een groep en om dan as ‘n groep teen hierdie reus te veg. Die leiding van die Heilige Gees en behoud van die Skrif se leringe sal deurentyd sentraal moet staan.

Die apostels, Paulus ingesluit, was nie vreemd teenoor sulke aanvalle nie. Hier is ‘n paar Skrifgedeeltes waaruit dit waargeneem kan word.

Gal 1:6-7  Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe,  (7)  terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.

Gal 3:1-3  o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?  (2)  Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?  (3)  Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?

1Tim 1:3-7  Soos ek jou versoek het toe ek na Macedónië op reis was, moet jy in Éfese wag om sekere persone te beveel dat hulle geen ander leer moet leer nie,  (4)  en hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is.  (5)  Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof  (6)  waarvan sommige mense afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies;  (7)  hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie.

Ef 4:4-5  Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping;  (5)  een Here, een geloof een doop…

Abisai het hierdie reus oorwin. Abisai se naam beteken ‘Vader van ‘n geskenk’ of dan – die besitter van ‘n gawe. Dit sal derhalwe deur die werkinge van die gawes van die Gees soos beskrywe in 1 Kor 12, dat hy oorwin sal word (vgl. bv. die Woord van Kennis, Woord van Wysheid, Gawe van Onderskeiding van geeste).

Die aanvalle van hierdie reus sal baie hewig word teen diegene wat nie sy leringe wil aanvaar nie maar – hy was deur Abisai oorwin en sal ook deur die gelowiges wat in die Gees wandel, oorwin kan word.

Reus 2: Sippai (Saf) – weerstand op die oomblik van jou deurbraak

Sippai die Reus is ‘n simbool van die groot weerstand wat mens gewoonlik ondervind net voor jou deurbraak. Sy eerste taktiek is om jou moedeloos te maak en te laat moed opgooi net voor jou deurbrake. Hy laat alles oënskynlik verkeerd loop.

Sy tweede taktiek is dat hy die beginsel van ‘negatiewe geloof’ of ‘negatiewe verwagtinge’ teen sy slagoffer gebruik , sodat die slagoffer naderhand ‘n negatiewe uitkoms verwag in ‘n situasie waar hy eintlik positief behoort te eindig.

Sippai die Reus sal sy bes doen om jou skeppingsdoel by jou te steel of om jou weg daarvan te hou.

Oorwin die Reus

Dawid was goed bekend met die geestelike reus Sippai in sy lewe. Ek glo nie daar is iemand anders in die Ou Testament van wie daar so hard probeer is om hom moedeloos te maak en sy skeppingsdoel te steel, as juis Dawid nie. Dit is omdat die reus Sippai so hard probeer het om sy skeppingsdoel te steel by hom, dat Dawid so baie van die psalms geskrywe het. Uit hierdie psalms leer ons hoe om hierdie reus te oorwin.

Die psalms volg almal ‘n spesifieke patroon. Dit is dieselfde patroon wat ‘n burger van die land gevolg het wanneer hy vir die koning gaan vra het vir hulp.

  • Eerstens beskrywe die Psalmdigter sy omstandighede.
  • Tweedens erken hy hoe dit hom laat voel. Sommige mense vermy hierdie fases want hulle is bang dat hulle te veel kla, terwyl ander weer hier vashaak en nie verder kom nie. Dit is hoekom hulle nie die reus oorwin nie.
  • Derdens vra hy om hulp. Dit is die belangrikse fase. Let wel  Hy vertoef in hierdie fase totdat hy in sy gees ervaar dat hy daardie hulp ontvang het; al neem ook dae van vas en gebed – en 
  • Laastens loof en prys hy die Here omdat hy hulp ontvang het.

Wat daarna gebeur is ‘n fisiese uitspeling van wat reeds in die gees gebeur het.

Wanneer jy gaan kyk na die omstandighede waarin elkeen van daardie Psalms geskrywe is en wat die uiteinde daarvan was, dan raak dit duidelik dat Dawid elke liewe aanslag op hom, op ‘n geestelike wyse hanteer het. Hy het ook elke keer dieselfde patroon gevolg want dit het vir hom gewerk.

Die man wat vir Sippai oorwin het, se naam was Sibbegai. Sibbegai beteken ‘wewer’ en dit is die strategie wat hier werk, naamlik om ‘n geestelike net te weef soos ‘n spinnerak om jou waardeur die reus nie kan breek nie. Daardie net word geweef wanneer ons in vas en gebed op God wag totdat ons die deurbraak ontvang.

Reus 3: Lagmi – die brood eter

Die bekende Goliat se broer Lagmi, is die derde van die vier reuse om te oorwin op ons geestelike reis. Lagmi beteken ‘brood eter’ en ‘oorlog maker’. Lagmi se taktiek was eerstens om die bevolking se kosvoorraad aan te val en te beroof. Armoede en werkloosheid is dus die eerste wapens wat hy gebruik. Klink dit bekend? Sy tweede taktiek is om dit op geestelike vlak ook te doen – die slagoffer wil nie meer Bybel en bid nie want God voel ver van hom af. Die slagoffer word dus nie net fisies verarm en verswak nie, maar ook geestelik. Lagmi konsentreer veral op die broodwinners in huishoudings.

Oorwin hierdie reus

Sekerlik die grootste faktor wat bydra tot die sukses van hierdie reus se aanval, is dat jy voel dat dit buite jou beheer is. Ek bedoel, jy kan tog nie iemand forseer om vir jou te werk te gee nie?

Elhanan het vir Lagmi verslaan. Elhanan beteken ‘die genade van God’. Omdat hierdie reus so sterk is, kan hy slegs deur die genade van God verslaan word.

Aanvalle van Lagmi word ook net oorwin deur getalle. Die armoede vraagstuk of hoë werkloosheidsyfer in ons land sal bv. nie vanself regkom nie. Die geestelike leiers van ons land moet leiding aan die politieke leiers gee en saam sal hierdie reus oorwin word. Elhanan het vir Lagmi oorwin, maar kyk wat Dawid voor die tyd gedoen het:

2Sa 5:22-25  Maar die Filistyne het nog weer opgetrek en hulle in die dal Refáim versprei.  (23)  Toe raadpleeg Dawid die HERE, en Hy sê: Jy moet nie optrek nie: trek agter hulle om en val hulle aan vlak voor die balsembosse.  (24)  En as jy ‘n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse hoor, moet jy gou maak, want dan het die HERE voor jou uitgetrek om die leër van die Filistyne te verslaan.  (25)  En Dawid het gedoen net soos die HERE hom beveel het, en hy het die Filistyne verslaan van Gíbeon af tot naby Geser.

As Dawid nie voor die tyd by die Here gaan raad vra het nie, dan kon Elhanan nie sy werk doen nie.

Dit is ongelukkig so dat baie mense wat onder aanval van hierdie reus is, nie die advies van hulle geestelike leiers wil volg nie en sodoende die leiding van die Here mis.

Reus 4: die Godloënaar

Daar word nie veel van die vierde reus vertel in die Bybel nie, behalwe dat hy die kinders van God uitgedaag het en die krag van God om hulle te verlos, betwyfel het. ‘n Bekende politieke leier in ons land het onlangs onder invloed van hierdie reus, die krag van God uitgedaag en die kinders van God gehoon. Die godloënaars in ons land word al hoe meer en al hoe uitdagender.

Oorwin hierdie reus

Jonatan het hierdie reus oorwin. Jonatan beteken ‘geskenk van God’. Vir Jonatan om te werk, het ons nodig om te besef dat hierdie reus in werklikheid nie die kinders van God uitdaag nie, maar vir God self. God sal hierdie reus oorwin en in die openbaar verneder net soos wat hy met hierdie een en met Goliat gedoen het.

Die taktiek om hierdie reus te oorwin:

  • Korporatiewe gebed om die Here attent te maak op wat besig is om te gebeur
  • Geloof in God dat Hy hierdie reus sal vergeld in die openbaar
  • Korporatiewe Lofprysing en Aanbidding

Slot

Let daarop dat Dawid net met die eerste reus, self of alleen betrokke was. Selfs toe kon hy net met hulp die reus oorwin. In die res van die gevalle, was die reuse oorwin deur helde uit die geledere van God se weermag. Dieselfde geld vir vandag. Dit gaan deur die werking van die gawes van die Heilige Gees wees dat die Here sekere manne en vroue gaan gebruik om die oorwinning vir jou te help bring. Moet dus nie die samekoms van die gelowiges minder ag nie. Die Bybel leer ons dat God in die lofprysinge van sy mense woon – dit is wanneer ons as gelowiges saam is in Jesus se Naam, dat Hy daar is. Moet dus nie alleen probeer nie. Staan saam as ‘n gemeente en staan saam as die Liggaam van Christus.

1 thoughts on “Hoe om die vier Reuse te oorwin

  1. Baie dankie. Ons as kinders van God miet net meer en meer daarop fokus om saam te staan, mekaar te versterk in saam tyd in God se teenwoordigheid deur te bring.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.