Oktober is ons Dankoffermaand, wanneer ons vir die Here dankie sê vir Sy voorsiening die afgelope jaar. Die Bybel maak die eerste keer melding van die dankofferfees in Levitikus 7, die slothoofstuk van die Mosaïese offerstelsel. Die Bybel noem die offer wat in hierdie afdeling beskryf word (Lev 7.11-36), ’n ‘lofdankoffer’. Die vleis moet gebraai word en saam met broodkoek geëet word, dit laat my nogal dink aan ons tradisionele braaivleis en braaibroodjies waarvoor ons so lief is. Een uitstaande kenmerk van die lofdankoffer is dat dit ‘n gemeenskapsoffer is, waar die gelowiges ‘n deel van die offer eet asof dit ’n ete met God self is. Dit beeld die gesonde verhouding tussen gelowiges en God pragtig uit.

Tydens die dankofferfees het gelowiges gemeenskap gehou tussen die individu, die Here en die priester. Al die partye het deelgeneem aan die ete. Almal het ‘saam aan tafel gesit’ en tyd saam met die Here deurgebring. Die dankofferfees het God se verlossing gevier. Die brandoffer, sondoffer, skuldoffers wat vroeër in Levitikus uiteengesit is, het meer te doen gehad met die mens se sonde en God se genade,  maar die dankofferfees het die verhouding van die mens met God, gevier.

Ek voel nietemin dat ons nie ’n dankofferfees kan hou en dit bedoel, as ons nie eers oor geloof in God se goedheid en Sy voorsiening oor die afgelope jaar, reflekteer nie. Die omstandighede in ons land, laat my terugdink aan die verhaal van die skip in die mis.

Die skip in die mis

George Mueller was ‘n man van geloof en wonderwerke. Sy bediening was so voorspoedig omdat hy ten volle op God vertrou het en hy ‘n werk begin het wat in sy hart gebore is. Gedurende sy bediening van 63 jaar was hy direk betrokke by die Christelike onderrig van 121 683 leerlinge. Hy alleen het 281 652 Bybels, 1 448,662 Nuwe Testamente, 21 343 eksemplare van die Psalms en 222 196 ander gedeeltes van die Bybel versprei. Hy het sendingaksies in 26 verskillende lande finansieel ondersteun en was op enige een tydstip betrokke by die opvoeding en versorging van meer as 2 000 weeskinders. Dit alles het hy gedoen sonder om vir èèn mens enigiets te vra of by iemand te skimp.

Daar was geen behoefte of saak wat te onbelangrik was om in gebed na die Here te neem nie. Hy het letterlik volgens die gedeelte geleef: ‘Laat alles in gebed en smeking met danksegging aan God bekend word.’ “Werklike vertroue in God is meer as omstandighede en voorkoms” het hy altyd gesê.

Die Muellers het gedurende Augustus 1877 na Amerika vertrek aan boord van die skip die Sardian. Naby Newfoundland het die weer verander en was die vordering van die skip ernstig vertraag deur digte mis. Die kaptein van die skip was gedurende hierdie tyd 24 uur per dag op die brug toe iets gebeur het wat sy lewe sou verander. George Mueller het op die brug aangekom. ‘Kaptein’, het hy gesê, ‘ek het jou kom vertel dat ek teen Saterdagmiddag in Quebec moet wees.’

‘Dit is onmoontlik,’ het die kaptein geantwoord. ‘Goed’, sê Mueller toe, ‘as die skip my nie kan neem nie, sal God ‘n ander manier vind. Ek het in 52 jaar nog nooit ‘n afspraak verbreek nie. Laat ons na die kaartkamer toe gaan en bid.’ Die kaptein het Mueller aangekyk asof hy gek was. ‘Meneer Mueller’, het hy gesê, ‘weet jy hoe dig hierdie mis is?’

‘Nee, my oog is nie op die digtheid van die mis nie, maar op die lewende God, wat elke omstandigheid in my lewe beheer’ was Mueller se antwoord. Mueller kniel toe neer en bid ’n eenvoudige gebed. Toe hy klaar was, wou die kaptein ook bid, maar Mueller het sy hand op sy skouer gesit en gesê dat hy nie moes bid nie, want; ‘Eerstens glo jy nie dat God sal antwoord nie en tweedens, ek glo dat Hy alreeds geantwoord het, en daar is geen rede meer vir jou om daaroor te bid nie’. Die kaptein het verbaas na Mueller gekyk. ‘Kaptein’, het Mueller voortgegaan, ek ken my Here al 52 jaar, en daar was nog nooit een dag dat ek nie ‘n oudiënsie by die Koning kon kry nie. Staan op, kaptein, en maak die deur oop, ek glo dat jy dan sal sien dat die mis verdwyn het.’

Hierop het die kaptein na die deur toe gestap en dit oopgemaak. Die mis was weg. Dit was die kaptein self wat die verhaal van hierdie insident oorvertel het, en wat later deur ‘n bekende evangelis beskryf was as ‘een van die toegewydste mans wat ek ooit geken het’.

Grote God aan U die eer

Toe die nasionale grendelstaat begin het, was ons op die een of ander manier deur die Here gelei om betrokke te raak by die voorsiening van voedsel en klere aan families wat hulle inkomste weens die grendelstaat verloor het. Op wonderbaarlike manier het ons by hulporganisasies betrokke geraak en later weer, ander organisasies by ons. Ons het in geloof een naweek gedurende April vir die eerste keer vir 50 gesinne voedselhulp bymekaargemaak en gaan aflewer. Dit was duidelik dat die Here se seën op die saak was. Teen einde Julie 2020 het ons weekliks vir meer as 200 gesinne van voedsel, klere en ander items voorsien. In hierdie tyd het die gemeente self se inkomste met ongeveer twee-derdes verminder, tog is daar meer R200 000 addisioneel deur die gemeente se boeke vir hulpvoorsiening aan behoeftiges. Hierdie inkomste sluit uit skenkings van ongeveer 1 000 rolle toiletpapier, meer as 1 000 brode, 2000 pakkies sanitêre doekies,  ongeveer 5 ton vleis, meer as 7 ton mieliemeel, 10 ton aartappels,  meer as 10 ton wortels, 3 ton beet, meer as 2 ton patats en meer as 2 ton pampoen. Soms het daar soveel kos oorgebly nadat ons die kospakkies opgemaak het, dat ons dit op die straathoeke van die meer behoeftige woonbuurte gaan uitdeel het.

Ons vereiste was dat die kospakkies deur vrywilligers verpak en op eie koste en risiko persoonlik by die verskeie adresse afgelewer moes word ten einde enige onnodige blootstelling aan die Covid virus te beheer. Die kospakkies was met reelmaat, elke naweek, deur genoeg vrywilligers verpak en afgelewer. Daar was nooit ’n tekort nie en die Here het telkens voorsien. Ons het telkens, voor elke aflewering, die Here gevra om die afleweraars veilig te bewaar, veral aangesien die inperkingsreels vir onnodige rondry baie streng was. Ek kan met dankbaarheid getuig dat nie een persoon gedurende hierdie  tyd ooit beboet of in die moeilikheid was oor die werk wat hulle gedoen het nie.

Ek het gewoonlik die aankope gaan doen op Donderdag en Vrydagoggende voor werk. Ek onthou hoedat daar, een Vrydagaand, absoluut geen fondse in die kerk se bankrekening was nie. Die volgende dag moes ons aan meer as 200 gesinne ons onderneming om kos te voorsien, nakom. Hoe sou ons dit doen? Ons het gebid en gevra dat die Here ons moes wys wat om te doen. Twee ure later was daar amper R10 000 in die kerk se rekening inbetaal en kon ons die volgende oggend vroeg met blydskap gaan aankope doen.

Dan is daardie wonderlike verhaal van die eiers. ’n Dierbare suster in die geloof bel my een Donderdagmiddag en sê dat sy voel dat ons eiers moet uitgee die naweek. Ek het geantwoord dat dit reg was, maar wie sou vir ons eiers gee? Die geld wat ons gehad het, was te min om vir 200 gesinne elk ’n dosyn eiers te gee. Ons het saam daaroor gebid en die oproep beeïndig. Minder as 5 minute later bel die suster my weer, in trane. Terwyl sy praat, slaan die hoendervleis uit op my lyf. Sy sê dat sy net die telefoon neergesit het nadat sy met my gepraat het, toe die foon weer lui. Die persoon aan die ander kant het gevra of sy nie weet van iemand wat eiers wil uitgee vir behoeftige gesinne nie. Daardie Saterdag kon ons ons gesinne seën met vleis en eiers in hulle kospakkies.

Daar is soveel wonderlike dinge wat gedurende hierdie tyd gebeur het. Een slaghuis het aangebied om vir ons die vleis skenkings te maal en te verpak teen ’n baie prys. Voordat die slaghuis dit aangebied het, was ek een Vrydagaand by ’n gesin wat aangebied het om die vleis self te maal en te verpak. Die aandkloktyd was toe om 20:00 en ek was seker so 7 uur daar, net op te sien hoedat die kinders, almal jonger as 10 jaar oud, kliphard saam met hulle ouers werk om vleis te verpak en te weeg sodat dit gereed kon wees die volgende dag. My hart het sommer warm geklop vir die Here se kosbare kinders.

Ek ontmoet iemand eendag terwyl ek besig is om die aankope te betaal. Hy merk op dat dit lyk asof ek kos vir behoeftiges koop. Ek antwoord instemmend en ons ruil nommers uit. ’n Paar weke later laai hy ’n vrag splinternuwe klere en skoene af. Hulle winkeltjie het toegemaak, sê  hy; en kan ons nie dalk die voorraad vir minderbevoorregtes gee nie, dis nog splinternuut.  Terwyl ons die pakkies opmaak en dink aan al die hartjies wat ons gaan bly maak, kom die lied by my op: Grote God aan U die eer, heerlik is waar U regeer…

Iemand kontak my en vra hoeveel behoeftige kindertjies daar is? Ek sê hoekom en sy sê dat sy gelei voel om vir hulle handskoentjies, mussies en pantoffels te hekel teen die erge winterkoue. Iemand anders bel en sê dat hulle weer gelei voel om sweetpakkies te maak vir die kinders. Ek sit die foon verstom neer en buig in nederigheid voor God se liefde en voorsiening. ’n Rukkie voor hierdie gebeurtenisse, hoor ek van ouers wie se kinders almal hulle werk verloor het of nie mag werk gedurende die grendeltyd nie. Daar is nie inkomste nie en ongeveer 10 persone wat saambly in een klein huisie. Baie van hulle slaap op die grond want daar is nie vir hulle beddens nie. ’n Samaritaan hoor daarvan en bou op eie tyd en koste vir hulle beddens. Daarna koop hy uit sy eie sak nog vir hulle matrasse ook. Al wat ek moes doen, was om dit af te lewer. Ek glo dat hierdie persoon eendag met die Groot Afrekening, sy goeie loon vir hierdie daad sal ontvang.

’n Jong getroude paartjie gaan lewer een aand kospakkies af. Hulle bel vooraf om te hoor of die mense tuis is en sê hulle is op pad. Toe hulle daar aankom (dit was in ’n klein buitekamertjie van hout gemaak), sit twee jong dogtertjies grootoog op die kermisbed (daar was nie ’n bed nie en hulle het saam met hulle mamma op die grond geslaap) en wag. Toe hulle inkom, gryp hulle die kospakkies met gretige handjies en sê opgewonde dat Liewe Jesus vir hulle kossies gestuur het en dat hulle vanaand nie honger hoef te gaan slaap nie. Die paartjie het my in trane geskakel met hierdie verhaal terwyl ek laat daardie aand besig was om groente aan te ry wat ons as skenking ontvang het. Ek het so gehuil dat ek eers vir ’n rukkie moes stilhou voordat ek verder kon ry. ’n Paar dae later het iemand wat van die verhaal gehoor het, vir hulle ’n bed en matras geneem.

Die 2020 skip

Oktober is dankoffermaand. Dit is ons maand om dankie te sê vir die Here. Dankie, vir 2020 en vir alles wat Hy vir ons gedoen het. Ja, ek weet. Daar is baie, nee oorgenoeg rede, om vies te wees oor 2020. Wanneer ons so oor die jaar terugkyk, mag dit selfs lyk asof die laagtepunte meer was as die hoogtepunte. Inderdaad kan baie van ons sê dat die skip van 2020 in digte mis vasgevang is. Die pad is onseker, ons wonder wanneer die volgende slegte ding gaan gebeur en ons eindbestemming lê vêr buite ons klein wêreldtjie. As iemand nou vir jou moet sê dat jy betyds jou eindbestemming gaan bereik, sal hom ook dalk, soos die kaptein, met ongeloof aankyk. Tog kan ons sê dat, wanneer ons terugkyk oor die jaar, God se hand steeds oor ons was. Ons was gesond bewaar en die paar wat wel siek geword, het sonder nagevolge herstel. Dankie, Here, vir 2020. Ons kon so baie daaruit leer.

Ek sluit af met die Skrifgedeelte in Joh 10:10  Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Ons kan waarlik sê dat ons die eerste gedeelte van hierdie Skrif in werking gesien het deur die jaar. Daar was baie diefstal en korrupsie, baie slagting – veral van ons boere – en nou ook die ongelooflike verwoesting van die plase met die geweldige brande wat uitgebreek het. Die Here Jesus het ons geleer dat ons die boom aan sy vrug sal ken; daarom kan ons maklik sien dat hierdie nie die wil van God is nie, maar die werke van die dief wat ons land plunder.

Ek sit vanaand stil en bid, ‘Here, wat nou? Quo Vadis?’ Ek verbeel my ek hoor ’n stil stemmetjie sê, ‘Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.’ En ek verstaan: dit is ’n fokus ding. Ek gaan, soos George Mueller, nie meer my oë op die werke van die dief en die digte rook wat soos mis oor hierdie plase en ons land hang, vestig nie. Ek gaan my oë vestig op Jesus, ons Leidsman en Verlosser. En ek gaan Hom vertrou om ook die mis van moedeloosheid en oor begin en verliese, vir hierdie mense om te draai in lewe en oorvloed. Ek moet, ek voel dat ons, as Sy kinders, dit aan daardie mense verskuldig is. Ons skuld dit aan hulle om te glo en te bly te glo totdat die wonderwerke verskyn. Kom jy saam?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.