Vandag is die eerste Sondag van Advent, wat bestaan ​​uit die vier weke voor Kersfees. Dit is ‘n ou tradisie van toe die vroeë kerk ‘n tyd van voorbereiding voor Kersfees gehou het. Advent is ‘n tyd wanneer ons ons harte voorberei op die koms van God se Seun, ons Verlosser, Jesus Christus. Die woord “Advent” beteken “om te kom”, en in die Adventseisoen fokus ons eerstens op Christus se koms met Kersfees en tweedens op die wederkoms van Christus.

Ons Christengeskiedenis het verskeie mooi tradisies oor die eeue heen ontwikkel wat ons help om ons kinders te leer van God, Christus en die Evangelie. Dit is ontwikkel in navolging van die opdrag wat Moses gegee het in

Deut 6:6-7  En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;  (7)  en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.

Een pragtige tradisie het onstaan in 1839, toe ’n pastoor in Duitsland wat die opsigter van ’n kinderhuis was, die kinders telkens moes antwoord as hulle gevra het, ‘Is dit al Kersfees?’. Hy het ’n ou wawiel geneem en 25 kerse daarop geplaas, 6 kortes vir die weeksdae en lang, wit kerse vir die Sondae. So het die kinders dan die dae na Kersfees afgetel. Sy idee het vinnig byval by die Christengemeenskap gevind en dit het mettertyd ontwikkel tot 5 kerse wat tradisioneel oorgebly het: 4 kerse vir elke Sondag voor Kersfees en ’n vyfde kers vir Kersfees self. Die kerse het mettertyd ook elkeen ’n tema ontwikkel wat dit gesimboliseer het: Hoop, Vreugde, Vrede en Liefde.

Die eerste kers verteenwoordig Hoop en daarom fokus ons vandag op hoop. Advent gaan allereers oor hoop. Hoop is egter nie iets wat mens kan vervaardig of kan gaan koop nie. Jy kan nie probeer om meer hoopvol te wees nie. Hoop kom nie eers wanneer ons positiewe denke of ‘positive thinking’ probeer toepas nie.

Emmánuel – die ‘met ons God’

G.K. Chesterton het geskrywe

Hope is the power of being cheerful in circumstances that we know to be desperate.

Hoop is nie ‘n kinderlike naïwiteit of blote wensdenkery nie, maar ‘n innerlike toestand wat weier om omstandighede te laat seëvier oor ons moed om aan te gaan. Dit weier dat twyfel ons geloof oorwin of dat teenspoed ons deernis oorwin. Dit is nie altyd maklik nie; want ons is nie van nature  geprogrammeer om te hoop nie – as ons ’n baksteenmuur tref, is ons eerste emosie ​​gewoonlik nie hoop nie. Hoop vereis ‘n krag wat kom wanneer ons fokus op ‘n groter visie as dit wat verkeerd is. Ons mag miskien nie die oplossing vir elke probleem hê nie, maar ons dien ‘n God wat hierdie wêreld genoeg liefgehad het om ons daarby in te sluit.

Hoop beteken nie ’n redelose verwagting – ’n verwagting sonder logika – nie, maar ’n vaste vertroue in iets wat nog moet manifesteer, met gepaardgaande pogings om dit te bereik. Hoop is gebaseer op die seker beloftes wat God aan ons in die Bybel gegee het. Ons sal Hom sien. Ons sal soos Hy wees. Ons sal vir altyd by Hom wees! Ons het baie redes om God te hoop en te glo dat alles wat Hy beloof het, vervul sal word.

Baie mense verwar hoop met optimisme. Dit is nie dieselfde ding nie. Denise Inge skrywe in haar boek, A Tour of Bones oor die verskil tussen hoop en optimisme:

Hope is not the same thing as optimism. Optimism says that things will get better. Hope says that the good we envisage is the good we work towards. Optimism is largely passive: it is about waiting for what is better to come to you. Hope is active: it goes out and does. It falls and fails sometimes, but it is tenacious and unafraid… it will not let go of the notion that the good is real, and that we can find it.

In Matteus beskrywe die skrywer hoe die engel met Josef oor Maria praat en in vers 23 sê hy:

Matt. 1:23  Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.

Ons eerste rede vir hoop vind ons in Jesus se ander Naam – Emmánuel. Dit sê vir ons dat Jesus die ‘God met ons’ God is – nie ’n god wat die heelal gemaak het en nou afwesig is of alles van ’n afstand af aanskou nie. Hy is ‘God met ons’ – dit beteken dat Hy deel wil wees van ons daaglikse se handel en wandel, van elke deurbraak en van elke mislukking. ‘Met ons’ beteken dat ons nie alleen is nie – nooit nie! God het Homself deur die eeue heen bewys as Een wat nie onwillig is om wonderwerke te doen nie. God is werklik en sy verhouding met ons is werklik. Daarom is dit vir Hom lekker wanneer ons Hom deel maak van ons elke dag se dingetjies. Hy is soms stil en soos ’n wyse vader wat vir ons raad gee oor wat om te doen in of met ’n seker situasie of feitestel;  ander kere is Hy weer saam met ons opgewonde en dan laat gebeur Hy klein dingetjies wat lyk of dit sommer toevallig was, maar wat die hele situasie verander. Dit het aan Dawid die oortuiging gegee om te verklaar: ‘Met my God spring ek oor ’n muur!’

En omdat Hy die ‘met ons God’ is, gee dit vir ons hoop – werklike, regtige hoop en nie ’n redelose verwagting nie.

Hoop en Vrees

Die koninkryk van die wêreld word gebou op fondamente van vrees. Oral rondom ons lewe mense in vrees – vrees of hulle môre gaan opstaan, vrees oor hoe hulle deur die maand gaan kom, vrees oor wat van volgende jaar, vrees oor hulle oudag, vrees oor hulle bankbalans – noem dit maar op. Jesus het self gesê dat mense sal beswyk van vrees in die laaste dae:

Luk 21:26-28  en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.  (27)  En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid.  (28)  En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.

Wat vrees ons dan regtig? Wat is dit in ons eie lewens wat Jesus se woorde vervul – mense se harte sal beswyk van vrees vir wat oor die wêreld kom? Dit kan siekte wees of die vrees om alleen gelaat word; miskien is dit die dood of dat ons vrees dat die land gekaap word; dit kan vrees wees dat iets met iemand anders gebeur – ‘n kind, ‘n ouer, ‘n maat. Daar is allerhande vrese wat onder die oppervlak van ons bewussyn boer.

Wat doen ons met al hierdie vrees? Hoe skyn ons die lig van die Evangelie in die donkerste hoeke van ons gedagtes, waar dit die vrees wat ons so bespook, kan laat verdwyn? Daar is geen maklike antwoord op die vraag nie, maar ons moet een vind – en elkeen van ons moet een vir onsself vind. Om Paulus in Filippense 2:12 aan te haal, ons moet elkeen ons eie redding met vrees en bewing uitwerk. In I Pet. 3:15 sê  hy dat ons elkeen moet rekenskap gee van die hoop wat in ons is.

Hoe verklaar ons dan die hoop wat in ons is? Hoe deel ons die liefde en die lewe van Christus met diegene rondom ons, en veral diegene vir wie die lewe moeilik is? Die antwoord lê daarin dat ons ’n basis moet vind vir die hoop binne ons; en die basis van daardie hoop is liefde – die liefde wat God in die wêreld uitgestort het, die liefde wat ons vir ander ervaar, die liefde wat Christus deur die kruis na die opstandingslewe gebring het en wat Hy aan ons almal bied.

Ons praat hier nie net oor optimisme nie – ‘O, alles sal goed gaan, dit sal uiteindelik uitwerk !’ nie. Nee, ons praat van hoop – hoop wat beredeneerd gegrond is in God, in Sy beloftes, in Sy getrouheid, in Sy liefde. Hoop is soos om jou voet in die mis neer te sit en op ‘n rots te staan. Hoop is gebaseer op Jesus se belofte: ‘Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nie verbygaan nie’ [Luk 24:33].

‘Jy is nie vergeet nie’

Ek sluit af met ’n ware verhaal wat plaasgevind het gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Die Amerikaanse magte was gedwing om van die Filippyne af terug te trek. Van hul soldate was agtergelaat en het gevangenes van die Japanese geword. Hulle het hulleself later “ghosts” genoem, omdat hulle deur hulle eie mense vergeet was.

Vroeg in 1945 het daar nog 513 van hierdie manne oorleef, ​​maar hulle het hoop opgegee. Die Amerikaanse weermag was wel op pad terug, maar die gevangenes het die nuus gehoor dat hulle tereggestel gaan word indien die Japannese magte moet terugtrek. Hulle wankelende hoop was egter besweer deur een van die wonderlikste reddingspogings van die oorlog. In ‘n verbasende optrede het 120 soldate van die Amerikaanse weermag en 200 Filipynse guerrilla’s daarin geslaag om 8000 Japannese soldate te laat vlug en sodoende kon hulle die gevangenes red.

Alvie Robbins was een van die reddingswerkers. Hy beskryf hoedat hy ‘n gevangene hoor mompel het in ‘n donker hoek van sy sel, terwyl trane oor sy gesig val. ‘Ek het gedink dat ons vergeet is,’ het die gevangene gesê. ‘Nee, jy is nie vergeet nie,’ het Robbins sag gesê. ‘Julle is helde. Ons het gekom vir jou. ”

Dikwels in die lewe voel ons om hoop op te gee, of ons voel dat God ons vergeet het en ons aan ons donker en seer ervarings oorgelaat het, maar die kruis van Christus herinner ons: ‘Nee, jy is nie vergeet nie’. Die Opstanding gee ook aan ons die die versekering dat ons ook eendag ons Redder van aangesig tot aangesig sal sien en bevry sal word van die nood van hierdie lewe. As Hy terugkom, sal jy hom ook hoor sê: ‘Ek het gekom vir jou.’ Amen.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.