Kan jy jou indink hoe ’n pa moet voel as sy vier-jaar-oue seun na sy dood sou val vanaf die 53de verdieping van ‘n woonstelgebou? Ondenkbaar soos dit klink, dit is presies wat gebeur het met die seun van die Britse ‘rock’ ster, Eric Clapton. Sy seun se dood het hom so diep geraak dat hy uiteindelik ‘n lied daaroor geskryf het. Hy het dit genoem, “Tears in Heaven”. in Februarie 1993 het hierdie lied van Clapton die Grammy as die lied van die jaar gewen. Eric Clapton self het die Grammy as die manlike sanger van die jaar gewen.

Die wêreld is vol trane, is dit nie? Die menslike bestaan word gekenmerk deur tragedie, hartseer, teleurstelling en boosheid. Dit is gerusstellend om te weet dat daar ’n tyd kom wanneer “God … al die trane van hulle oë [sal] afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie…” (Openb 21:4). In antieke Athene was daar ‘n altaar toegewy aan Trane. Geen offerandes was daar gebring nie en geen offergawes was daar gegee nie. Dit was bloot ‘n plek waar die diegene wat rou, kon gaan om hulle smarte uit te huil.

Het jy geweet dat jou trane het verskillende teksture het, afhangende van hoekom jy gehuil het? Rose-Lynn Fisher het ‘n projek genaamd “The Topography of Tears” begin, waar sy menslike trane deur ‘n mikroskoop afgeneem en bestudeer het. Sodoende het sy agtergekom dat trane van vreugde, verskil van trane van droefheid en smart; en dit verskil weer van trane soos bv. trane a.g.v. ’n ui wat geskil is. Nadat sy
menslike trane vir baie bestudeer het, het sy gesê, “Tears are the medium of our most primal language in moments as unrelenting as death, as basic as hunger and as complex as a rite of passage. It’s as though each one of our tears carries a microcosm of the collective human experience, like one drop of an ocean.”

Dit trek my aandag na ’n ander geleentheid van smart waar ’n vrou by ’n graf gestaan en huil het. Hierdie vrou se lewe was glad nie een om op trots te wees nie, maar sy het ’n ontmoeting met Jesus gehad. Daardie ontmoeting het haar lewe radikaal verander en sy het net vir Hom gelewe. Tragedie het egter toegeslaan en sy moes in angs en skok toekyk hoedat Jesus, haar Jesus – die Een wat dan net goedgedoen het aan ander – gekruisig was soos ’n krimineel. Joh 20:11-16 neem ons na ’n toneel by Jesus se graf, drie dae na Sy kruisiging:
Maar Maria het buitekant by die graf gestaan en ween; en terwyl sy ween, buk sy na die graf toe (12) en sien twee engele daar sit met wit klere aan, een by die hoof en een by die voete waar die liggaam van Jesus gelê het. (13) En hulle sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Sy antwoord hulle: Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie. (14) En toe sy dit gesê het, draai sy haar om agtertoe en sien Jesus staan, en sy het nie geweet dat dit Jesus was nie. (15) Jesus sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy? Sy het gedink dat dit die tuinier was en antwoord hom: Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem. (16) Jesus sê vir haar:
Maria! Sy draai haar om en sê vir Hom: Rabboeni! dit beteken Meester.
Hoekom het Maria nie dadelik vir Jesus herken nie? Maria was op soek na ‘n dooie Jesus, maar Jesus was nie dood nie – Hy was lewend! Baie van ons maak vandag ook dieselfde fout. Die Christus wat baie mense ken, het 2000 jaar gelede in Palestina gewoon. In hulle gedagtes staan hulle steeds by Sy graf en ween, want hulle het geen ondervinding met die opgestane Here gehad nie … en hulle stap nie dag vir dag saam met Hom nie. John Wesley het hierdie mense ‘the Almost Christian’ genoem. Hy het selfs ‘n preek met daardie titel gepreek.


Die verhaal word vertel van ’n kerkleier wat besig was om ‘n Paaspreek te skrywe toe die werklikheid van die opgestane Here hom getref het soos nog nooit vantevore nie. “Christus leef!” het hy in verwondering vir homself gesê; “Hy lewe!” en toe het hy gestop… “Kan dit regtig waar wees?… lewe so regtig soos ek self is? ” Hy het opgestaan en heen en weer in sy studeerkamer bly loop terwyl hy oor en oor sê, “Christus leef! Christus leef!” Vir hom was dit ‘n nuwe ontdekking. Hy het die hele tyd gedink dat hy dit geglo het; maar eers op daardie oomblik het hy geweet. Hy het toe gesê, “my gemeente sal dit weet; ek sal daaroor preek en weer preek totdat hulle dit glo soos wat ek dit nou glo.”

Terug by Maria Magdalena: na al haar soektogte, was dit nie regtig Maria Magdalena wat vir Christus gekry het nie, maar dit was Christus wat haar gekry het! Dit is die hele punt van die evangelie, naamlik dat Christus ons soek –
• nie net wanneer ons Hom verloor het en nie ons pad huis toe te vind nie • maak nie saak hoe ons soek nie • selfs wanneer ons skaamteloos wederstrewig is en op ons eie selfsugtige en vernietigende maniere ingestel is.
Hoewel Maria na Christus met haar hele wese gesoek het, het sy Hom nie herken toe sy Hom gesien het nie. In plaas daarvan, het sy gedink dat Hy die tuinier was.

Die legende word vertel van St Francis van Assisi wat vreesbevange was vir melaatsheid. Eendag het hy op ‘n nou paadjie gestap, toe hy opeens wit in die sonskyn gesien het – ‘n melaatse! Instinktief het sy hart teruggekrimp, omdat hy bevrees was om deur die siekte besmet te wees. Maar toe het hy homself beskaam en gehardloop en sy arms rondom daardie melaatse se nek gegooi en die melaatse daar langs die pad gesoen. ‘n Paar oomblikke later het hy teruggekyk, maar daar was niemand daar nie, slegs die leë pad. Vir die res van sy lewe, was St Francis seker dat dit nie ’n melaatse was nie, maar Christus self wat hy op daardie nou paadjie ontmoet het. So dikwels is daar mense wat ons sien en miskien nie so aantreklik is nie, maar wat net ’n drukkie of vriendelike woord of ’n koeldrank nodig het. “Het jy my nie herken nie?” vra Jesus. “Dit was Ek.”

“Waarom huil jy?” Jesus en die engele het vir Maria gevra. Dit is ‘n goeie vraag om in die lig van die opstanding van Jesus te vra. Ons mag dalk nog rede het om te huil, want die lewe kan groot wonde toedien – maar, soos Maria Magdalena, ons moet weet waarom ons huil: Ween ons vir onsself? Voel ons jammer vir onsself? Dit is ‘n nutteloos soort geween. Huil ons omdat iemand wat ons liefhet, seergemaak is of gesterf het? Sulke trane kan genesing bring sodat ons kan aanbeweeg. Wanneer ons egter huil omdat soek na God, sal Christus ons kom troos. Ons mag Hom aanvanklik nie herken nie, maar die lewende Here staan gereed om ons name te spreek en die trane weg te vee van ons oë af.

Dit is dan wanneer ons soos Maria Magdalena deur ons trane kan uitroep, ‘Rabboeni!’ of soos die prediker in verwondering kan roep, ‘Hy leef, Christus leef!’

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.