Terwyl ek voorberei het, het ek afgekom op ‘n verhaal wat so van toepassing is op vandag se boodskap dat ek dit eenvoudig net moes deel (dit was in die tyd voor selfone):

Die storie word vertel van ‘n man met die naam Brian Hice van Provo, Utah, wat so ‘n slegte dag gehad het dat dit die koek vat. Sy moeilikheid het glo begin toe sy woonstel oorstroom het van ‘n stukkende waterpyp van die woonstel bo syne. Hy het toe die werk gebel en sy bestuurder het hom aangesê om ‘n waterpomp te gaan huur om die water uit te pomp. Dit is toe dat Brian ontdek het dat sy motor ‘n pap band het. Hy gaan toe terug woonstel toe om ‘n vriend te bel vir hulp, maar omdat hy in die water gestaan ​​het, het hy ‘n elektriese skok gekry toe hy probeer bel het. Die skok het hom op sy knieë gegooi en dit het weer veroorsaak het dat hy die foon uit die muur geruk het. Toe hy uiteindelik gereed was om uit die woonstel te gaan, het die deur van die water toe geswel. Hy moes toe vir ‘n buurman skree om die deur te kom afskop. Terwyl dit alles aan die gang was, het iemand Brian se motor gesteel, pap wiel en al – want hy die sleutels in die motor gelos. Dit was gelukkig amper sonder petrol, en hy het die motor ‘n paar blokke verder gekry, maar toe hy moes dit eers na ‘n vulstasie stoot om dit vol te maak. Daardie aand moes Brian ‘n militêre seremonie by sy universiteit bywoon. Ongelukkig het hy homself ernstig beseer toe hy op een of ander manier op sy bajonet gaan sit het wat hy op die voorste sitplek van sy motor gegooi het. Gelukkig kon dokters sy wond toewerk! Sy vier troetelkanaries was egter nie so gelukkig nie. Almal van hulle was vergruis deur die vallende pleister van die nat woonstelplafon af. Toe hy van die universiteit af terugkom, het Brian op die nat mat gegly en sy rug seergemaak. Hy het gesê dat hy op daardie stadium begin wonder of, “God wou hom dood hê, maar net bly mis het.”

Het jy al ooit so gevoel? Het jy al ooit gevra: “Hoekom ek?” Of het jy ook al gedink dat die lig in die jou tonnel die trein is wat op pad is om jou dood te ry? Ek wil vir jou sê dat dit met elkeen van ons gebeur deur die loop van ons lewens. Selfs nie eers koning Dawid of Jesus self was daarvan gespaar het. Moeilikheid kom vir sowel die Christen as die nie-Christen. Dit val beide die jonge en die oue aan. Moeilikheid diskrimineer ook nie weens ouderdom, ras of geslag nie. Daar is tye dat ons vyande en teëspoed ons in die gesig staar. Soos wat met Brian gebeur het in ons verhaal hierbo, kan dit vir ons voel asof daar nie ‘n weg uit is nie.

Die verhaal van vier reuse

Ons Skrifgedeelte vir vandag vertel die verhaal van vier reuse wat deel gevorm het van maar net nog ‘n aanslag van die Filistyne op God se volk, die Israeliete. In die Bybel, blyk die Filistyne ‘n simbool te wees van Satan en sy trawante se voortdurende aanslag op God se kinders. Dit was net ‘n bietjie meer as veertig jaar nadat Dawid as ‘n jong seun vir Goliat verslaan het en Dawid was ongeveer in sy middel vyftiger jare toe hierdie aanslae gebeur het:

1 Kron 20:4-8  En daarna het daar by Geser oorlog ontstaan met die Filistyne; toe het Síbbegai, die Husatiet, Síppai, uit die kinders van die Refaïte (hulle was die reuse) verslaan, sodat hulle onderworpe geraak het.  (5)  En daar was weer oorlog met die Filistyne; en Élhanan, die seun van Jaïr, het Lagmi, die broer van Goliat, die Gittiet, wie se spiessteel soos ‘n wewersbalk was, verslaan.  (6)  En daar was weer oorlog by Gat, en daar was ‘n baie lang man met ses vingers aan elke hand en voet, vier en twintig; en hy was ook ‘n afstammeling van die Refaïete.  (7)  En hy het Israel uitgedaag, maar Jónatan, die seun van Símea, die broer van Dawid, het hom verslaan.  (8)  Hulle was afstammelinge van die Refaïete in Gat, en hulle het geval deur die hand van Dawid en deur die hand van sy dienaars.

Ons kry addisionele inligting oor hierdie kort verhaal in

2 Sam 21:15-22  En toe die Filistyne weer oorlog gehad het met Israel, het Dawid afgetrek, en sy dienaars saam met hom, en hulle het teen die Filistyne geveg, en Dawid het al moeg geword.  (16)  En Jisbi-Benob wat uit die kinders van die Refaïete was—die gewig van sy spies was drie honderd sikkels koper in gewig, en hy was omgord met ‘n nuwe swaard—het gedink om Dawid te verslaan.  (17)  Maar Abísai, die seun van Serúja, het hom gehelp en die Filistyn verslaan en hom gedood. Toe het die manne van Dawid hom besweer en gesê: U mag nie meer saam met ons uittrek na die geveg nie, dat u die lamp van Israel nie uitblus nie.  (18)  En daarna was daar weer oorlog met die Filistyne in Gob. Toe het Síbbegai, die Husatiet, Saf, uit die kinders van die Refaïete, verslaan.  (19)  En daar was weer oorlog met die Filistyne in Gob; en Élhanan, die seun van Jáäre-Orgim uit Betlehem, het Góliat (se broer Lagmi), die Gittiet, wie se spiessteel soos ‘n wewersbalk was, verslaan.  (20)  En daar was weer oorlog in Gat; en daar was ‘n baie lang man, met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, vier en twintig in getal, en hy was ook ‘n afstammeling van die Refaïete.  (21)  En hy het Israel gehoon, maar Jónatan, die seun van Símea, die broer van Dawid, het hom verslaan.  (22)  Hierdie vier was afstammelinge van die Refaïete in Gat, en hulle het geval deur die hand van Dawid en deur die hand van sy dienaars.

Wanneer ons bogenoemde perikope saamlees, ontvou die verhaal van vier reuse wat ons kom aanval wanneer ons al volwasse in ons geestelike lewens begin word het.

Reus 1: Jisbi-Benob – die aanval uit die kerk

‘n Mens kan baie leer van iemand in die Bybel deur na sy naam te kyk, omdat die naam in baie gevalle ‘n weerspieëling was van die persoon se karakter of van sy herkoms. In hierdie geval beteken Jisbi-Benob, ‘Man afkomstig van Nob’. Nob beteken ‘hoë plek’ of ‘n plek van aanbidding. In die Bybel was Nob inderdaad geleë op ‘n heuwel en was dit ‘n priesterlike stad. Dit is ook die plek waar Goliat se swaard gebere was nadat Dawid hom oorwin het. Die Bybel sê dat Jisbi-Benob hom voorgeneem het om vir Dawid te vermoor – na alle waarskynlikheid was hy ‘n seun of familielid van Goliat van Gat. Die Bybel sê dat hy dit ook amper reggekry het, dit was net omdat Abisai vir Dawid kom help het dat Jisbi-Benod verslaan was.

Die simboliek agter hierdie aanval is duidelik. Daar word byna daaglikse sulke vreemde leringe gepropageer dat mens amper nie meer die Bybel of vir Jesus kan herken nie. Onder die dekmantel van ‘liberale teologie’ word wilde teorieë verkondig wat selfs vir Paulus in sy graf sal omdraai as hy dit sou moes hoor. Dit op sigself is egter nie die totale aanval nie. Wat opmerklik is, is die intentiseit waarmee almal wat dit durf waag om te verskil van hierdie nuwe sieninge, aangeval word. Hofsake word gemaak en kinders van die Here word meedoënloos vervolg net omdat hulle nie kans sien om teen die leerstellinge van die Bybel – en hulle gewetens – te handel nie.

Dit is die hedendaagse reus wat gesimboliseer word deur Jisbi-Benob.

Sy wapens

Kom ons kyk na sy wapens waarmee hy Dawid probeer vermoor het:

Sy spies was 300 sikkels koper in gewig. Teen ongeveer 13g per sikkel, het sy spies alleen 39kg geweeg – dit is so swaar soos ‘n sak bousand! Die spies is simbolies van die lering dat ons deur ons werke verlos word, of minstens dan deur ‘n mengsel van ons werke en ‘n mate van genade. Dit is glad nie snaaks om leringe te hoor dat die Sabbat steeds onderhou moet word of dat mens nie varkvleis mag eet as ‘n Christen nie (die reels mbt die gebruik van nagmaal is glo nie so erg nie) – maar dade wat vir God ‘n gruwel is, aanvaarbaar is nie. Wanneer mens met so ‘n swaar spies aangeval word, kan dit so erg wees as dat jy onder sensuur geplaas of uit ‘n groep geskop word omdat jy by die Bybel se beginsels wil bly.

Jisbi-Benob se swaard was ‘n nuwe swaard. Die swaard veronderstel openbaringe, soos bv. in Ef 6. waar die swaard ‘n woord van God aan ‘n gelowige, veronderstel. In hierdie geval is dit ‘n ‘nuwe swaard’, en dit verteenwoordig nuwe ‘openbaringe’ of leringe. Dit is wanneer die kinders van God nie hierdie nuwe leringe wil aanvaar nie, dat die aanval teen hulle baie hewig word.

Reus 2: Sippai (Saf) – weerstand op die oomblik van jou deurbraak

Sippai of Saf se naam beteken ‘groot’ en ‘drumpel’. Tydens hierdie veldslag het die Filistyne vir Sippai of Saf die Reus gestuur as ‘n impakspeler of ‘game changer’ om die geveg in hulle guns te laat draai. Sippai die Reus is ‘n simbool van die groot weerstand wat mens gewoonlik ondervind net voor jou deurbraak. Sy taak is om jou moedeloos te maak en te laat moed opgooi net voor jou deurbrake. Hy laat alles oënskynlik verkeerd loop.

Sy wapens

Hoewel die Woord niks rep oor die tipe wapens wat Sippai gebruik het nie, kan ons uit sy naam afleidings maak van sy wapens of taktiek wat hy waarskynlik gebruik het.

Sy eerste taktiek of wapen is om alles te laat verkeerd loop vir jou wanneer jou so hard gewerk het vir sukses. Hy probeer sy bes om jou te laat moed opgee en om op te hou probeer sodat jy ‘n gewillige slagoffer in sy hande word.

Sy tweede taktiek is dat hy die beginsel van ‘negatiewe geloof’ of ‘negatiewe verwagtinge’ teen sy slagoffer gebruik , sodat die slagoffer naderhand ‘n negatiewe uitkoms verwag in ‘n situasie waar hy eintlik positief behoort te eindig.

Sippai die Reus sal sy bes doen om jou skeppingsdoel by jou te steel of om jou weg daarvan te hou.

Reus 3: Lagmi – die brood eter

Die bekende Goliat se broer Lagmi, is die derdie van die vier reuse om te oorwin op ons geestelike reis. Lagmi beteken ‘brood eter’ en ‘oorlog maker’. Die  Bybel sê dat hy ‘n spies soos ‘n wewersbalk gehad het. Navorsing dui daarop dat die spies nagenoeg 3.6m lank en 50mm dik moes wees – indien dit veel langer was sou dit te moeilik hanteer het. Dit beteken dat Lagmi homself ‘n baie groot en sterk man moes wees.

Selfs nadat hulle alreeds twee reuse verloor het teen die Israeliete, het die Filistyne steeds nie moeg geword om die kinders van God te teister nie. Dit is vandag nog so.

Sy wapens

Lagmi se taktiek was eerstens om die bevolking se kosvoorraad aan te val en te beroof. As jy nie seker is waar jou volgende bord kos vandaan gaan kom nie, dan is dit heel waarskynlik ‘n aanval van die geestelike tipe van Lagmi. Voedsel(on)sekerheid en werk(on)sekerheid word as kragtige wapens deur hom gebruik om onsekerheid en twyfel by sy slagoffers te skep. Dit word dan deur bekommernis en angs vererger totdat die slagoffer selfs begin om te twyfel aan sy geloof.

Lagmi aanvalle teiken mans of broodwinners in die besonder. Onverwagse afleggings by die werk, oormatige skuld of selfs erge inflasie wat jou geld se koopkrag erodeer, is alles tekens van hierdie reus se aanvalle.

Sy ander taktiek is om jou van jou geestelike brood te beroof. Jy raak te moeg of lusteloos om Bybel te lees en jy voel te skuldig of net nie lus om te bid nie. Saam met die bekommernis en angs werk dit in ‘n bose kringloop om jou van die kerk en van jou geestelike ondersteuning af te isoleer, sodat jy ‘n maklike of sagte teiken word om aan te val.

Reus 4: die Godloënaar

Daar word nie veel van die vierde reus vertel in die Bybel nie, behalwe dat hy die kinders van God uitgedaag het en die krag van God om hulle te verlos, betwyfel het. Ek het ‘n voorbeeld van hierdie reus se aanval gesien toe ek onlangs in Gauteng was, waar daar groot advertensieborde langs die hoofweë aangebring was wat God se krag in twyfel getrek het en mense aangemoedig het om na ‘n ander geloof oor te gaan. Sy einddoel is om die krag van Evangelie so te verwater dat die mense nie meer langer glo nie.

Dit was ook bv. onlangs in die nuus toe ‘n bekende politieke leier die Here Jesus se krag betwyfel het en die kinders van God gehoon het, net soos wat sy fisiese manifestasie met die Israeliete gedoen het. Selfs die politieke leiers in ons land hanteer die land asof dit sekulêre staat is terwyl ons eintlik ‘n Christen land is waar 80% van die inwoners belydende Christene is.

Die probleem is ongelukkig dat, net soos met die Israeliete van ouds, daar nie ‘n kampioen is uit die geledere van die kinders van God, wat bereid is om na vore te tree en hierdie reus te konfronteer nie.

Slot

Die Bybel is baie meer as ‘n geskiedenisboek. Dit kan ook as ‘n tipe krygsboek gesien word waaruit daar geleer kan word van watter taktieke die vyande van God gebruik maak om SY kinders aan te val asook om te sien watter tipe teenaanvalle gewerk het en watter nie gewerk het nie. Ek het hierdie week ‘n interessante sêding gelees waarmee ek vandag se boodskap afsluit:

Iemand wat nie vyande het nie, se vriende sal sy vyande word.

Volgende week: Hoe om hierdie reuse te oorwin.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.