Die oggendson het verblindend en genadeloos gebrand op die onherbersame berghange van Juda. ‘n Skaapwagter het langs die hange af gesoek na moontlike weiding vir sy skape en bokke. Om ‘n slap draai het daar voor hom opeens die donker bek van ‘n grot verskyn. Mohammed, want dit was sy naam, het versigtig nader gegaan, met sy kierie gereed.

Roofdiere was bekend daarvoor dat hulle bedags in die koeler grotte geskuil het voordat hulle snags uitgekom het om te jag. Hy was beslis nie van plan om die een of ander roofdier se ete te word nie. Hy het om hom rondgekyk en tevrede gebrom. Hier naby hom was presies die regte grootte klip wat hy gesoek het. Mohammed het waaksaam nader gegaan en die klip hard in die grot in gegooi.

Maar wag, wat is dit wat hy gehoor het? In plaas van ‘n roofdier wat uitstorm, het hy die geluid gehoor van iets wat breek. Nuuskierig het hy nog ‘n klip opgetel en weer hard in die grot in gegooi. Nog ‘n geluid van iets, amper soos ‘n kleipot, wat breek. Met sy avontuurlus aangewakker, het die jong skaapwagter versigtig die grot binnegestap. Diep agter in die grot het hy vir ‘n oomblik stilgestaan om sy oë aan die skemer gewoond te maak. Voor hom het daar ‘n klomp groot klei potte gestaan. Die een wat hy raakgegooi het, se inhoud het op die grond uitgeval. Dit het soos ‘n klomp ou dokumente gelyk.

Opgewonde het hy die dokumente opgetel. Hy het baie verhale gehoor van die mense van oorsee wat die ou dokumente soek en baie geld daarvoor betaal.  As hierdie is wat hy dink dit is, was sy skaapwagter dae getel. Hy het opgewonde gegiggel, van die dokumente in sy drasak gedruk en vir sy trop gefluit. Vandag was daar belangriker dinge om te doen as om na droë stukke gras te soek. Die jaar was 1947.

Die Qumran grotte en Fragment 7Q5

Die Qumran grotte, oos van Jerusalem en by die strande van die Dooie See, was hoofsaaklik vanaf 150 vC – 68 nC beset deur ‘n godsdienstige gemeenskap wat bekend is as die Esseners. Hulle het, amper soos in ‘n klooster, in isolasie in hierdie verlate streek by die Dooie See gewoon. Die grot en ‘n reeks papirus rolle wat groot gedeeltes van die Bybel bevat, is in 1947 ontdek deur ‘n Palestynse herder. Hierdie papirusrolle sou bekend word ​as die “Dooie See-rolle”. Hulle verteenwoordig die grootste manuskripversamelings van tekste uit die Tweede Tempeltydperk wat in die gebied van Juda gevind is. Ongeveer 930 tekste is weggesteek gevind in 11 grotte in die heuwels rondom Qumran en hulle het die historiese akkuraatheid van die tekste van groot gedeeltes van veral die Ou Testament bewys.

Die Qumran-grotte word beskou as die grootste argeologiese ontdekking van die 20ste eeu. Die ontdekking is selfs meer fassinerend as ‘n mens die beroemde fragment van papirus genaamd 7Q5 in ag neem, wat die 5de manuskrip is wat in die 7de Qumran-grot gevind is. Hierdie fragment het ‘n internasionale debat tussen papiroloë en Bybelwetenskaplikes ontketen, toe die vooraanstaande geleerde José O’Callaghan in 1972 die teks op die fragment geïdentifiseer het as ‘n stuk van Markus se Evangelie: Markus 6:52-53, om presies te wees. Die rede hoekom die fragment soveel opslae gemaak het, was omdat dit Markus se Evangelie se datering met minstens 20 jaar vervroeg het. Markus se Evangelie word gewoonlik op 70 nC gedateer, maar as O’Callaghan se fragment eg was – soos wat dit toe wel bevind was – was  Markus se Evangelie eerder ongeveer 50 nC  (slegs ongeveer 20 jaar na Jesus se dood) alreeds geskrywe. Die papiroloog Herbert Hunger, emeritusprofessor van Bisantinisme aan die Universiteit van Wene en direkteur by Departement Papiri van die Oostenrykse Nasionale Biblioteek, het oor die fragment gesê: “I’m not religious and I’m not a Bible scholar. I am a scientist and as scientist say that from the closely papyrological point of view there’s no question: O’Callaghan is right!

Dit maak histories ook sin uit om dat een van die Kerkvaders later sou skrywe dat Markus, wat algemeen bekend was as die Apostel Petrus se tolk, die verhale wat Petrus aan hom vertel het, akkuraat opgeneem en in sy evangelie weergegee het – waarskynlik terwyl Petrus nog geleef het.

Lukas as Evangelieskrywer

Nou – dit mag dalk klink of ek vandag oor Markus wil praat, maar ek wil nie. Ek wil eintlik eerder oor ‘n ander Evangelieskrywer praat; naamlik ‘n man met die naam van Lukas. Die rede hoekom ek hierdie lang aanloop geneem het, is omdat Lukas ongeveer die helfte of 50% van sy materiaal vanaf Markus gekry het. Dit raak veral betekenisvol as ons onthou dat Lukas ‘n geneesheer was en dat hy in sy inleiding tot sy Evangelie, die volgende duidelik stel:

Aangesien baie onderneem het om ‘n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons al vervul is, soos hulle wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het, het ek ook dit goedgedink, hooggeagte Theófilus, nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe, sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is. (Luk 1:1-4)

Lukas toon hier aan dat hy die beproefde en erkende tegnieke gebruik het vir beriggewing en ondersoek wat tot vandag nog gebruik word – verklarings van betroubare ooggetuies wat of self eerstehands die gebeure self beleef het, of wat dit op betroubare wyse van ander ooggetuies af bekom het. Sy werkswyse word tot vandag toe gevolg. Eers was daar geskrewe verklarings, toe bandopnames gemaak en nou word sulke onderhoude sommer op ons selfone opgeneem. Die media wat gebruik word, het dalk deur die jare verander, maar die metodes nie juis nie – en Lukas het as ‘n opgevoede persoon die aanvaarde metodes van sy tyd gebruik, naamlik die verklarings van betroubare getuies wat so ver moontlik ooggetuies was. Dit was omdat hy sy Evangelie besonderlik gerig het aan ‘n persoon met die naam van Theophilus. So ver vasggestel kan word, was Theophilus ‘n hooggeplaaste in Rome en sou Lukas se beweringe wyd in die Romeinse gemeenskap gelees word; dus wou hy seker gemaak het dat sy feite so akkuraat moontlik was.

Indien Markus se Evangelie wel minder as 20 jaar na Jesus se dood geskrywe was en dit terwyl die Apostel Petrus nog moontlik gelewe het, maak dit net sin uit dat Lukas baie van Markus se materiaal sou gebruik het, juis omdat die geloofwaardigheid daarvan bo verdenking was. Die mate van die details wat Lukas opgeneem het sy evangelie, het eers later jare meer duidelik geword toe ‘n skeptikus van die Bybel, vir Lukas as ‘n ongeloofwaardige skrywer wou diskrediteer.

Sir William Ramsay vs dr. Lukas

Sir William Ramsay, wat een van die grootste argeoloë was wat nog ooit geleef het, het ‘n studie van die boek Handelinge as ‘n skeptikus begin, omdat hy geglo het dat dit in die tweede eeu geskryf is en nie histories korrek was nie. Terwyl hy dit bestudeer het, het hy bewyse gevind wat anders aandui, en hy het ‘n volledige ommekeer in sy denke gekry oor Lukas se akkuraatheid toe hy gesê het: “Lukas se geskiedenis is onoortreflik ten opsigte van sy betroubaarheid.” Ramsay het ook van Lukas gesê: “Hierdie skrywer moet geplaas word saam met die heel grootste historici.”

Josh McDowell het ‘n lys bewyse vir Lukas se akkuraatheid saamgestel saam met die Romeinse historikus Colin Hemer, ‘n bekende Romeinse historikus: “Daar is gespesialiseerde besonderhede, wat nie bekend sou wees nie, behalwe aan ‘n kontemporêre navorser. . .besonderhede sluit in presiese titels van amptenare, identifikasie van weermageenhede. . .korrelasie van datums van bekende konings en goewerneurs binne die kronologie van die vertelling. . .‘onbedoelde toevallighede’ tussen Handelinge en die Pauliniese Briewe. . .” en “geografiese verwysings wat vertroudheid met algemene kennis aandui.” McDowell merk op dat historici baie keer gedink het dat Lukas op sommige punte verkeerd was, net om later deur ‘n argeologiese ontdekking verkeerd bewys te word. Daar is ongelukkig nie vandag ruimte om hierop in te gaan nie, want ek het reeds ‘n sterk fondasie gelê vir vandag se boodskap, waarvoor ons moet verstaan dat Lukas se bronne onberispelik was en dat sy geskiedskrywing selfs die strengste ondersoeke oor baie jare heen, deurstaan het.

Daar is verskeie unieke verhale wat Lukas vertel, wat nie in die ander Evangelies voorkom nie – verhale waarvan verskeie ook later deur die Argelologie bevestig kon word.

Lukas se Kersverhaal kan vertrou word

Nou is my vraag, as daar soveel klem op historiese korrektheid gelê was deur die goeie dokter, sou hy dan sy skrywe wou besoedel deur onbevestigde gerugte en sprokiesverhale? Die antwoord daarop is, volgens my, ‘n ondubbelsinnige ‘NEE’!

Ons het ‘n geskiedskrywer hier, wat ‘n bewese rekord van akkuraatheid en detail het en wat so ver moontlik van eerstehandse getuies gebruik gemaak het. Sommige van die getuies waarvan Lukas verklarings afgeneem het, was heel waarskynlik van die herders buite Bethlehem wat toe nog geleef het, of hulle gades of kinders.

Lukas skrywe hieroor dat hy “van voor af alles noukeurig ondersoek het” – ingesluit die Kersverhaal. Die Blye Boodskap wat ek ondubbelsinnig vandag wil bring, is dat Lukas se Kersverhaal maar vertrou kan word. Hy het met die selfde kenmerkende akkuraatheid en aandag aan detail, hierdie verhaal geskrywe as al die ander in sy Evangelie. Ek lees ter afsluiting hieruit voor:

En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê. En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae! En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het. En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê. En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is. En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is… (Luk 2:8-18)

Slot

Ek sluit my Blye Boodskap vandag af met die vreugde wat net sekerheid kan bring:

  • Daar was inderdaad herders wat in die nag oor hulle skape waggehou het. Die verhaal van die verskyning van die Engel aan die herders is enige tyd net so outentiek as die historiese akkuraatheid van die skape wat hulle opgepas het.
  • Die leërskare Engele wat toe verskyn het en vir God geprys het, het werklik verskyn.
  • Die Boodskap van Goeie Tyding is vandag nog net so ‘n boodskap van groot blydskap as wat dit toe was.
  • Die skaapherders was waarskynlik van die eerste betroubare ooggetuies wat vir Baba Jesus gesien het waar Hy in die krip gelê het.
  • Die skaapwagters het opgewonde aan almal vertel wat hulle beleef het en ons kan saam met hulle aan hulle vreugde deel.

Wanneer ek oor die Kersverhaal preek, dan sal mense gereeld maar heel van die punt af, iets soos hierdie vir my sê, “Jou preek was baie mooi, maar Jesus was nie waarskynlik nie in Desember gebore nie, so wat help dit?” Hulle maak dan of die historiese akkuraatheid van Sy presiese geboortedatum die hele verhaal met sy akkurate navorsing, ongeloofwaardig maak. En dan dink ek by myself, ‘really?’

En ek dink aan Peanut. Peanut is ons worshondjie, hy is ‘n rescue-hond. Ons weet nie op watter dag Peanut histories gebore is nie, maar maak daardie feit dan regtig die vreugde wat Peanut vir ons bring, ongeloofwaardig? Of word ons herinneringe aan al Peanut se stories ongeloofwaardig die dag wanneer Peanut sterwe, net omdat ons nie sy akkurate geboortedatum het nie? Vir my is sulke redenasies absoluut absurd. Ons, as ‘n gesin, kan oor Peanut se lewe getuig – julle kan maar die verklarings kom vat. Eendag, wanneer hy nie meer met ons is nie, sal ons ook oor sy sterwe kan getuig. Die feit dat ons nie weet presies wanneer hy gebore was nie – of dit in Desember was of in April, is tog nie ter sake nie. Ons vier sommer sy verjaarsdag elke jaar op die dag tot hy by ons kom bly het. En dis wat belangrik is vir ons. Dit is dieselfde met Kersfees – met ons viering van Jesus se verjaarsdag. Oor drie weke vier ons die geboorte van die Verlosser van die Wêreld. Ek daag jou uit, ervaar in jou diepste binneste dieselfde blydskap as ek, omdat die Woord bewys deur die Argeologie bewys is dat dit akkuraat en betroubaar is en dat daar werklik vir ons ‘n Verlosser gebore was – die dag toe God ‘n mens geword het.

1 thoughts on “Die dag toe God ‘n mens geword het

  1. Dankie Tommy vir jou praktiese manier om vir ons die evangelize te bring. Sal graag baie van hierdie stukke lees. Dit fasineer my.

    Dankie baie pastoor Tommy

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.