Tommy Lessing

Die aanloop van die gebeure tot die kruisiging en opstanding van Jesus het baie profetiese vervullings tot gevolg gehad. Ons gemeente het ‘n simboliese Paasfees maal saam met Nagmaal gehou om ons daaraan te herinner. Dit het ons gehelp om beter te verstaan hoedat Jesus die Skrifte vervul het deur die Paasfees.

Jesus die Lam Geoffer vir ons sondes

Johannes het Jesus aan die wereld bekend gestel as die Offerlam:

Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!  (Joh 1:29)

Met die laaste Paasfees het mense van regoor Jerusalem na die priesters gegaan om ‘n geskikte lam sonder gebrek (die paaslam) vir die Paasfees te laat verklaar. By die Olyfberg is die Lam van God onwetend deur die mense geskik verklaar om geoffer te word:

En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele! (Matt 21:9)

Paulus het ook as sulks na Jesus verwys in sy sendbrief aan die Korintiers:

Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. (1 Kor 5:7)

Paasfees en die Nagmaal

Jesus hou ‘n effe verkorte en veranderde laaste Paasmaal met Sy dissipels na sononder op Woensdag 13 Nisan. Die Joodse dae strek van sononder tot son-op. Met Woensdag sononder het Donderdag 14 Nisan begin, so die laaste Pasga vind dus plaas op 14 Nisan volgens die Joodse gebruik:

En die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word. Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet. (Luk 22:7-8)

Hy stel onder andere die Nagmaal in

En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie. En toe Hy ‘n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie. Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word. (Luk 22:14-20)

Daar is tradisioneel vier bekers met wyn wat gedurende so ‘n Paasmaal gedrink word, ter herinnering aan die opdrag wat God aan Moses gegee het:

en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink. Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei [BEKER VAN VERLOSSING] en julle red uit hulle slawerny [BEKER VAN HEILIGMAKING], en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte[BEKER VAN VERLOSSING]; en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ‘n God wees [BEKER VAN AANVAARDING]. En julle sal erken dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit. (Ex 6:5-7)

Jesus drink die eerste drie bekers, maar nie die vierde beker (BEKER VAN AANVAARDING] nie. Dit word die volgende dag aan die kruis gedrink toe alles voltooi was:

Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was—sodat die Skrif vervul sou word—het Jesus gesê: Ek het dors! En daar het ‘n kan vol asyn gestaan; en hulle het ‘n spons met asyn gevul en op ‘n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring. (Joh 19:28-29)

Hierdeur het God die mense aanvaar indien hulle Jesus Christus sou aanneem as hulle Saligmaker en Verlosser. Dit was die BEKER VAN AANVAARDING.

Die teken van Jona is vervolgens vervul:

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. (Matt 12:39-40)

Jesus was op Donderdag, 14 Nisan, gekruisig. Die aand van 14 Nisan – (Donderdag nag tot Vrydag oggend) Nag 1. Die dag na die kruisiging [Vrydag 15 Nisan) was ‘n addisionele en spesiale Sabbat, die eerste dag van die Fees van Ongesuurde Brode. Geen werk mog op hierdie dag gedoen word nie:

En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was—want die dag van daardie sabbat was groot—het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word. (Joh 19:31)

Vrydagaand tot Saterdagoggend ( 15 Nisan) – Nag 2. Die volgende dag (Saterdag, 16 Nisan) was ‘n gewone Sabbat, waarop daar ook geen werk gedoen mog word nie. Daardie aand (Saterdagaand tot Sondagoggend) was Nag 3.

Op Sondag 17 Nisan was dit die Fees van Eerstelinge. Omdat die Vrydag en Saterdag albei Sabbatsdae was, was dit die eerste dag waarop die dissipels na die graf kon gaan om die lyk te versorg.

Na die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk. (Mat 28:1)

Die graf was egter leeg. Die Eersteling het opgestaan op die eerste dag van die Fees van Eerstelinge!

Ons kan daarom nagmaal hou met die wonderlike versekering:

Laat ons dan met vrymoedigheid na die Troon van die Genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word. (Heb 4:16)

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.