Afgesonderd vir spesiale gebruik

 

Tommy Lessing

2016/04/24

Om heilig te wees, beteken om afgesonderd te wees vir spesiale gebruik. ‘n Paartjie wat verloof raak en wil trou, sonder hulleself af uitsluitlik vir spesiale gebruik deur mekaar. Hulle gaan dan nie meer uit met ander persone nie en is nie meer beskikbaar in sosiale verband vir sulke dinge nie. Wanneer ek ‘n baie duur nuwe stel gereedskap koop, dan sê ons dat ek ‘heilig’ is op daardie stel. Hoekom? Want ek laat niemand anders toe om daarmee te werk nie. Net ek mag daarmee werk. Dit is afgesonderd vir ‘n spesiale doel.

Ons lees in die Bybel

(1 Pet 1:14-16) Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

Ons teks vir vandag is uit Hand 13:1-4

En daar was in die plaaslike gemeente in Antiochíë sekere profete en leraars, naamlik Bárnabas en Símeon wat Niger genoem word, en Lúcius, die Cirenéër, en Manáen, wat saam met Herodes, die viervors, grootgeword het, en Saulus. En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en daarvandaan weggevaar na Ciprus.

Die bekende dr. Andrew Murray vertel  dat die hoof van die sendingstasie by Wellington destyds tydens die opening daarvan iets gesê het wat hom altyd bygebly het:

“Toe ons verlede jaar byeen was, was dit om die fondasie te lê. En wat was daar om te sien? Net bourommel, bakstene en oorblyfsels van die ou gebou. Daar het ons die fondasie gelê, en net ‘n paar mense het geweet wat moes gebeur. Niemand het die nuwe gebou perfek in elke detail geken nie, behalwe een mens: die argitek. In sy gedagtes kon hy die hele gebou sien. Elke kontrakteur, bouer en werker het opdragte in gehoorsaamheid van hom geneem. Die struktuur is opgerig en uiteindelik het hierdie pragtige gebou tot stand gekom. Op dieselfde wyse is die opening van hierdie gebou vandag die eerste stap deur die Heilige Gees om ‘n nuwe werk op te rig en net Hy weet hoe dit uiteindelik gaan lyk.”

Hy het hierop ‘n paar gedagtes gewissel wat ek graag vandag ook met julle wil deel:

God het Sy eie planne vir Sy koninkryk

Eerstens sien ons dat God Sy eie planne het vir Sy koninkryk op aarde. Die kerk in Antiochië was gevestig en suksesvol. God het egter verdere planne gehad vir Asië en Europa. Hy het Sy gedagtes bekend gemaak aan ‘n plaaslike gemeente en gevra dat twee van die kerkleiers (Barnabas en Saulus) afgesonder word vir ‘n spesiale opdrag.

God se planne is reeds in detail gemaak en Hy het ook reeds besluit wie Hy gaan gebruik in watter stadiums daarvan. Soos die gemeente in Antochië gemaak het, moet ons ook wag totdat Hy SY planne aan ons bekend maak en dan daarop reageer. Ongelukkig maak ons baiekeer ons eie planne en vra dan dat God ons pogings moet seën, in plaas daarvan om te wag tot God voor ons uitgaan en Hom dan te volg.

God wil graag aan Sy kinders openbaar wat Sy planne en wil is

In ons teks vir vandag het die Heilige Gees dit duidelik openbaar wat Hy wil doen en wie gestuur moet word en waarheen hulle gestuur moet word. Dit het deur die eeue heen nog nie verander nie. Hy is vandag nog gewillig om Sy planne  te openbaar aan diegene wat na Hom soek. Die geheim is dat ons moet leer om op Hom te wag. Ons moet leer om nie te beweeg voordat Hy nie Sy planne aan ons bekend gemaak het nie.

Ons eerste begeerte moet daarom wees om te soek na die geopenbaarde wil van God.

Aan die begin is dit nie altyd maklik nie, maar soos wat ons met selfdissipline deurdruk sal God se Woord en wil makliker duidelik word vir ons. Soms bid ons vir die krag en hulpbronne om die planne wat ons het, deur te voer. Ons maak egter nie altyd eers seker dat ons planne in lyn is met God se planne nie.

Hoe het die gemeente in Antiochië gemaak om die Heilige Gees se wil te leer ken?

Hulle het hulleself vir ‘n tyd lank afgesonder, gevas en gebid. Hulle toewyding om God se stem te hoor was so totaal dat hulle heeltemal van wêreldse dinge afgesonder was. Een ding het hulle egter gevolg in hulle afsondering: hulle moes eet. Hulle het dit te bowe gekom deur te vas. Die warboel stemme wat geroep het om aandag, het stiller geraak totdat hulle die sagte stem van die Heilige Gees duidelk kon hoor.

Wat is dan die wil van die Heilige Gees?

Afgesonder vir ‘n spesiale doel. Die Heilige Gees was duidelik: Sonder Paulus en Barnabas af vir die werk wat ek beplan het. Die plan is myne, die werk is myne. Ek weet presies hoe moet die eindproduk lyk. Wees gehoorsaam terwyl Ek instruksies gee en saam sal ons bou aan God se koninkryk op aarde.

Daar is ‘n verskil tussen die krag van die Heilige Gees as ‘n gawe; en die krag van die Heilige Gees tot genade vir ‘n heilige lewe. Ons bid baiekeer dat die Heilige Gees met krag in ons sal manifesteer, maar as daar nie ‘n groot mate van genade vir ‘n heilige lewe teenwoordig nie, sal die defek in ons lewens gou duidelik word.

 ‘n Heilige vennootskap

Daar was ‘n heilige vennootskap tussen die gemeente in Antiochiëen die Heilige Gees. Daardie een daad van gehoorsaamheid deur hulle het tot gevolg gehad dat die hele bekende wêreld die Evangelie van Christus kon hoor en dat die sendbriewe van Paulus, wat die grootste deel van die Nuwe Testament vorm, geskrywe is.

Laat ons begin glo dat God ons WIL seën. Die Heilige Gees staan bekend as die ‘Uitvoerende Gesag’ van die Heilige Drie-Eenheid. Hy is nie net die Gees van krag nie, maar ook die Gees van Liefde. Bid dat Sy genade jou sal oorweldig sodat jy ‘n heilige lewe kan lei – afgesonderd vir ‘n spesiale doel.

Ek wil jou bemoedig vandag: Die Heilige Gees is bereid om Sy wil aan jou te openbaar. Hy wil jou seën en Hy wil jou gebruik om Sy koninkryk te vestig op aarde. Ons is vry in Christus om te doen wat ons wil, maar daardie vryheid beteken nie dat ons kan lewe soos wat ons wil nie. Wanneer ons sekere besluite begin neem omdat ons afgesonderd vir God lewe, dan kan ons saam met die Heilige Gees in ‘n vennootskap begin werk. Laat Hom toe om jou hart te deursoek en elke area van self-wil, self-lewe en self-verhoging uitlig totdat jy heilig voor God kan lewe met ‘n skoon gewete: afgesonderd vir ‘n spesiale doel.

Bid saam hierdie gebed om jou lewe te verander:

“Here, laat die Heiige Gees volle heerskappy oor my hê – my huis, my humeur, my finansies, elke woord, elk gedagte, elke gevoel teenoor my medemens – laat die Heilige Gees oor my heers. Amen”

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.