Ons is besig met ‘n mini-reeks oor die demoniese drieling, Vrees, Angs en Stres.  Verlede keer het ons gesels oor Vrees self. Ons het o.a. gekyk na  

  • ʼn paar statistieke oor vrees,  
  • die invloed van vrees op ons lewens,  • wat die Bybel sê oor vrees en  
  • hoe ons vrees kan oorwin.

Hierdie keer kyk ons die tweede lid van die demoniese drieling, naam Angs. Ons Skrifgedeelte is uit Luk 12:22-34:

 En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie.  (23)  Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere.  (24)  Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!  (25)  En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?  (26)  As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?  (27)  Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie.  (28)  As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!  (29)  Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie;  (30)  want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.  (31)  Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.  (32)  Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.  (33)  Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.  (34)  Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

Volgens Max Lucado in sy boek “Anxious for Nothing” is die Verenigde State die angstigste nasie in die wêreld. Die land van die ‘Stars and Stripes’ het ‘n land van stres geword Lucado sê: “Stresverwante siektes kos die VSA jaarliks $300 miljard aan mediese rekeninge en verlore produktiwiteit. Amerikaners het hul besteding aan angs medisyne soos Xanax en Valium, meer as verdubbel, van $900 miljoen tot $2,1 miljard.”

R.C. Sproul onderskei tussen twee kategorieë angstigheid: spesifieke angs en nie-spesifieke angs.

Spesifieke Angs

Spesifieke angs is daardie vrese wat algemeen in ons lewe is: bang vir siekte, bang vir die verlies van ons geld, ons werk, ons sekuriteit, ensovoorts.

‘n Studie wat ‘n paar jaar gelede oor getroude mans gemaak is, het aangetoon dat die nommer een ding waaroor getroude mans bekommerd is, geld is, spesifiek met betrekking tot hul vermoë om vir hul gesinne te sorg en te voorsien.  

Die ander verrassende bevinding van die studie was dat, wanneer mans sosiaal bymekaarkom, hulle oor allerhande dinge praat: politiek, vroue, sport, besigheid, en al die res. Die een ding waaroor hulle egter nooit met mekaar praat nie, is hul onsekerheid oor hul vermoë om vir hul gesinne te voorsien. Dit is ‘n angs, ‘n vrees wat spesifiek maar verborge is.

Nie-spesifieke Angs

Benewens spesifieke vrese of angs wat ons in hierdie wêreld teëkom, is nie-spesifieke vorme van angs.

Martin Heidegger, ‘n Duitse skrywer, het gesê dat een van die grootste probleme wat elke mens teëkom, die sensasie van naamlose angs is. Hierdie angs is ongedefinieerd en vaag. Dit vreet voortdurend aan ons, maar ons kan nie duidelik sê hoekom nie. Ons kan dalk ‘n berader gaan sien en sê: “Ek is angstig en bang.” Hy kan dan vra: “Waarvoor is jy bang?” en die antwoord kan wees: “Ek weet nie. Ek is net bang.”

Heidegger het ook gesê dat elke mens in die wêreld ervaar wat hy noem ‘n gevoel van Geworfenheit, dat jy in die lewe geslinger of chaoties gegooi is sonder ‘n duidelike gevoel van doel of bestemming. Daardie gevoel om op ‘n sinlose manier te lewe, vreet dag in en dag ‘n stukkie van ons siele weg.  Kinders gaan bv. skool toe en hul onderwyser vertel hulle dat die heelal en menslike lewe deur evolusie tot stand gekom het. Hulle word vertel dat hulle kosmiese ongelukke is. Daar word vir hulle gesê hulle kom uit niks en dat hul toekoms niks is. Wanneer jy nie hoop het vir ‘n goeie toekoms nie, dan maak daardie angs vir hom ‘n tuiste in jou siel en jou vas met kettings. Daardie angs sonder ‘n naam, is ongespesifeerde angs en dit vernietig duisende lewens.

Verstaan angs

Mense met angsversteurings is drie tot vyf keer meer geneig om dokter toe te gaan. Die goeie nuus is dat angsversteurings hoogs behandelbaar is, maar tog ontvang slegs 36% van mense wat daaraan ly, behandeling.  

Simptome van angs

Hier is ‘n paar algemente tekens en simptome van angs:

  • Jy voel senuweeagtig, rusteloos of gespanne
  • ‘n voortdurende gevoel van dreigende gevaar, paniek of ondergang
  • ‘n Verhoogde hartklop weens die angstigheid
  • Jy hiperventileer
  • Jy sweet of bewe weens die angstigheid
  • Jy sukkel om te konsentreer of aan enigiets anders as die huidige bekommernis te dink
  • Jy sukkel om te slaap
  • Jy ervaar gastro-intestinale (GI) probleme
  • Jy het die drang om dinge te vermy wat angs veroorsaak.

Gregory Hollifield vertel dat Nederlandse navorsers ‘n paar jaar gelede ‘n eksperiment uitgevoer waarin hulle vir een groep mense gesê het dat hulle 20 sterk elektriese skokke sou ontvang. Hulle het aan ‘n tweede groep gesê dat hulle net 3 sterk skokke saam met 17 ligte skokke sal ontvang, maar die skokke sal lukraak toegedien word. Die navorsers het ontdek dat die tweede groep meer gesweet en vinniger hartkloppe ervaar het as die eerste. Dit was die onsekerheid wat hul angs veroorsaak het, nie die intensiteit van die skokke nie.

In ‘n ander studie was kolostomiepasiënte wat geweet het hul kolostomieë permanent sou wees, ses maande na hul operasies gelukkiger as diegene wat vertel is dat daar ‘n kans is om hul kolostomieë om te keer. Weereens het onsekerheid die groter pyn veroorsaak.

In sy kommentaar op hierdie studies het die Harvardsielkundige Daniel Gilbert tot die gevolgtrekking gekom: “‘n Onsekere toekoms laat ons gestrand in ‘n ongelukkige hede met niks anders om te doen as om te wag nie.” Dit is vandag net so waar as wat dit meer as ‘n dekade gelede was toe daardie studies gedoen is. Dit was net so waar meer as 3 000 jaar gelede, toe Moses vir sy mense gesê het dat hy besig is om te sterf en dat hulle sonder hom sal moet aangaan.

‘n Onseker Toekoms

Aan die einde van 40 jaar wat hulle in die woestyn geswerf het en net toe hulle die beloofde land moes binnegaan, het Moses vir die Israeliete gesê, “Ek is vandag honderd en-twintig jaar oud; ek kan nie meer uit— en ingaan nie, en die HERE het vir my gesê: Jy mag deur hierdie Jordaan nie gaan nie.”  (Deut. 31:2).  

Sonder hulle leier wat 10 plae laat gebeur het, die aarde loop oopskeur het en hulle vir 40 jaar deur die woestyn gelei het, was die Israeliete onseker en angstig oor die toekoms wat op hulle wag.  

Moses wou egter nie hê hulle moes wag nie. In plaas daarvan het hy die volk geroep en voor hulle ore sy opvolger Josua met hierdie woorde beveel: Deut 31:8  “En dit is die HERE wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik [bang of angstig] wees nie.” 

Deel van wat onsekerheid so stresvol en potensieel aftakel maak, is dat dit soos Simson stoot teen die twee pilare waarop lewe en geloof rus—die pilare van vertroue vir vandag en hoop vir môre. Wanneer daardie pilare begin skud, vul vrees ons harte en verswak ons vasberadenheid.  

In plaas daarvan om toe te laat dat onsekerheid ons in plek laat vries, moet ons Moses se herinnering aan Josua onthou en daarop reageer: Deut 31:8  “En dit is die HERE wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik [bang of angstig] wees nie.”

Vertrou op die vooruittrek van die Here

Dit is die HERE wat voor jou uit gaan. Yahweh is die verbondsnaam van God en Hy het ‘n verbond met jou. Hy is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie en hy is absoluut betroubaar.

Dit is hierdie HERE wat voor jou uit gaan, God self. Ons dank God vir godvresende leiers soos Moses; soos jou Christenouers (as jy so geseënd was); getroue pastore en gelowige vriende, bure en kollegas!

Jy sal egter moet besef dat daar ‘n tyd gaan kom wanneer al hierdie leiers op jou pad, net soos Moses, ook moet gaan. Daar kom ‘n tyd wanneer jou fiets se oefenwiele moet afkom. Die doel van oefenwiele is nie om jou te leer om op oefenwiele te ry nie. Hulle doel is om jou te leer om sonder hulp fiets te ry. So is dit met die leiers in ons lewens. Hulle word vir ‘n seisoen gegee om jou te help, maar uiteindelik moet jy self vertrou op die Here wat voor jou uitgaan.

Onthou julle, dit was die HERE wat voor sy volk uitgegaan het toe hulle uit Egipte uitgetrek het. Moses was dalk wel die leier, maar God het bedags met die wolkkolom en snags met die vuurkolom, hulle gelei en bewaar.  

Wanneer jy onseker voel, vertrou daarop dat die Here alreeds voor jou uitgetrek het. Hy gaan jou voor sodat Hy die weg voor jou kan voorberei. Waar hy ook al lei, voorsien hy. Vertrou dit. Vertrou Hom.

Rus in die teenwoordigheid van die Here

God sal by jou wees. Hy sal jou nie begewe of verlaat nie. Behalwe vir Sy belofte in Deut 31:8, lees ons ook in  

Jes 41:13  …Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie.

Wanneer jy angstig en onseker voel, hoef jy nie bekommerd te wees dat die God wat jou tot hierto veilig gebring het, jou gaan los in die middel van alles nie. Al wat jy hoef te doen is om af te kyk – na die middel van jou bors, na jou hart – en te onthou Hy is met jou. Een van Jesus se name is “Immanuel”, wat beteken “God met ons.” Jesus het belowe om saam met ons selfs na die eindes van die wêreld te gaan. In 2 Tim. 4:16-17 getuig Paulus hoe hy die Here se teenwoordigheid aangevoel het toe hy in Rome en al die ander hom verlaat het.

As jy jou geloof in Jesus geplaas het, kan jy rus in die versekering dat Hy jou nooit sal verlaat nie. God hardloop nie voor jou uit sodat Hy later vir jou kan weghardloop nie. Hy gaan saam met jou. Wanneer jy angstig voel, onthou dat die Here voor jou uittrek. Hy gaan voor jou uit. Rus in die teenwoordigheid van u Here. Hy is saam met jou. Gaan dieper

Gaan dieper

Moses het nie vir sy volk gesê dat die teenstand wat hulle in Kanaän teëkom, geen bedreiging sou inhou nie. Dit sou dwaas gewees het! In plaas daarvan het hy daardie teenstand in perspektief gestel deur hulle te herinner dat hulle ‘n Here het wat in ‘n verbond met hulle staan, wat voor hulle uitgegaan het en dat Hy met hulle sou wees.

Ek sluit af deur jou te bemoedig: Gaan dieper hierdie week. Dink na oor watter areas daar in jou lewe is wat jou angstig maak. Ontdek wat dit is wat jou onseker maak. As dit buite jou beheer is, onthou God se beloftes en vertrou Hom om jou veilig daardeur te bring.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.