Ek vra om verskoning, hierdie is verlede week se boodskap wat ek nou eers kan publiseer!

Jer 29:11  Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.

Sukkot of die Loofhuttefees staan ook bekend as die Dankofferfees of die Fees van Tabernakels; en word vir sewe dae lank deur die Joodse nasie gevier gedurende die einde van Sept/begin Oktober van ons kalender. Die rede vir die fees was tweeledig: Eerstens het die Here dit so beveel deur Moses en tweedens is dit om vir die Here dankie te sê vir Sy voorsiening deur die afgelope jaar. Ons lees van hierdie fees in

Lev 23:34  “Sê vir die Israeliete: Van die vyftiende van die sewende maand af moet julle sewe dae lank die huttefees vier tot eer van die Here.

Lev 23:39-43  “Julle moet dus op die vyftiende van die sewende maand wanneer julle die vrugte-oes insamel, sewe dae lank die fees van die Here vier. Die eerste en die agste dag moet rusdae wees.  (40)  Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem saam met palmblare en takke van digte bome en rivierwilgers, en dan moet julle sewe dae lank met vreugde feesvier by die heiligdom van die Here julle God.  (41)  Julle moet hierdie fees van die Here elke jaar sewe dae lank vier. Dit moet ‘n vaste instelling wees vir julle nageslag. Julle moet dit in die sewende maand vier.  (42)  Sewe dae lank moet julle in hutte woon, alle gebore Israeliete moet dan in hutte woon.  (43)  Die doel daarmee is dat julle nageslag moet weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.”

Julle sal opmerk dat die Jode opdrag gekry het om vir die duur van die fees, in hutte te woon. Dit is vandag nog so en baie Jode bly vir hierdie tydperk in hutte met dakke wat gewoonlik van palmblare gemaak is. So ‘n hut se naam is ‘n Sukkah en daarom staan die fees ook onder die Jode bekend as Sukkot. Ons gemeente begin vandag met ons jaarlikse dankofferfees waar ons vir die Here dankie sê vir die afgelope jaar se seeninge en dit was vir my so kosbaar toe ek sien dat ons Dankofferfees hierdie jaar, op Sondag 1 Oktober begin.

Sukkot verteenwoordig egter meer as net danksegging vir die jaar se seëninge; want hierdie fees volg direk na ‘n tydperk van verootmoediging voor die Here en die die Joodse oordeelsdag (Yom Kippur); waartydens die Jode tradisioneel deur God geoordeel was as ‘n nasie. Sukkot simboliseer die herstel van die verhouding tussen God en mens. Ons as gemeente fokus in die besonder op die restourasie van intimiteit in verhoudings. Ons kan dit simboliseer met die vorm van ‘n kruis of as jy jou arms albei uitsteek:

  • Die bokant van die kruis (of jou nek en kop) wys na jou verhouding met God
  • Die onderkant van die kruis (jou middellyf en bene) verwys na jou verhouding met diegene oor wie jy aangestel is, bv. die mense by jou werk, jou bediende of tuinwerker ens.
  • Die linkerkant van die kruis (of jou linkerarm) wys heen na jou verhoudings met jou familie en vriende en
  • Die regterkant van die kruis (of jou regterarm) wys heen na jou verhoudings met jou eggenote en kinders.

Daar is drie groot feeste wat die Jode jaarliks moet hou volgens die Bybel. Uit ‘n landbou perspektief in antieke Israel het die Paasfees (Pesach) ooreengestem met die Plantseisoen; Shavuot [Pinkster] het ooreengestem met die insameling van die graan oes en Sukkot met die insameling van die vrugte oes. Wanneer jy jou oes in die lente geplant het, het jy jou nog nie verheug nie omdat jy onseker was oor hoe die oes sal uitkom. En wanneer jy wel jou graan aan die begin van die somer geoes het , sou jy dalk bly wees dat jy nou brood gehad het, maar jy sou steeds onseker wees oor die sukses van jou vrugte oes. Totale vreugde sou eers kom nadat jy jou totale oes in die herfs ingebring het, en sodoende jou voorsiening vir die komende jaar van die HERE ontvang het. Om hierdie rede is Sukkot ook bekend as die Fees van Insameling.

Uit ‘n geestelike perspektief vier ons as Christene ook steeds die feeste elke jaar. Tydens die Paasfees herinner Goeie Vrydag ons dat Christus vir ons sonde aan die kruis gesterwe het; en Opstandingsdag herinner ons daaraan dat Hy opgestaan het en dat ons nou toegang tot God se Troon van Genade en die ewige lewe het.

Pinkster of Shavuot word ook steeds deur Christene gevier omdat dit ons herinner aan die dag tot die Heilige Gees uitgestort is oor die dissipels; en dit van daardie dag af moontlik geraak het vir elkeen van ons om die Heilige Gees te ontvang.

Ek glo dat dit wel ook nodig is om, net soos die ander twee feeste, jaarliks die derde fees – die  Dankseggingsfees – te vier tydens Oktober. Sukkot of die Dankseggingsfees stem ooreen met die vreugde om te weet dat jou sondes vergewe is, en herinner ons ook aan God se wonderbaarlike voorsiening en sorg. Profeties vier ons Sukkot ook in afwagting van die koms van die koninkryk van Jesus, die Messias. Hoekom is dit so? Het jy geweet dat, wanneer Jesus Sy Koninkryk kom vestig, al die nasies verplig sal wees om jaarliks na Jerusalem te gaan om die Here te aanbid tydens die huttefees of Dankofferfees? Kyk wat voorspel die profeet Sagaria hieroor:

Sag 14:16-17  Al die mense wat oor is uit die volke wat teen Jerusalem opgetrek het, sal jaar na jaar kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid en om die huttefees te vier.  (17)  Geen volk op aarde wat nie na Jerusalem toe kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid nie, sal [daardie jaar] reën kry nie.

Ons sien dus dat die Dankofferfees nie sal wegval wanneer Jesus weer kom nie, maar deur al die nasies onderhou moet word.

Hierdie jaar se tema is ‘Voorsiening in die Woestyn’ en ons teksvers is uit

Jer 29:11  Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.

Terwyl ek op hierdie Skrif gemediteer het, was my aandag getrek na die Hebreeuse woorde vir “hoopvolle toekoms” – tikvah akareeth. Die woord tikvah kan ook vertaal word as ‘die uitkoms wat jy verwag’ en die woord akareeth beteken nie net toekoms nie, maar ook ‘tou’ en ‘einde’ – m.a.w. daar is ‘n tou wat die goeie uitkoms wat jy verwag, verbind met jou toekoms en jou uiteinde. Dit is kragtig want dit leer ons dat ons toekoms met ‘n tou verbind is aan ons verwagtinge.

Hoewel die ekonomie wêreldwyd onder druk is, is dit besonders die geval in ons land hierdie jaar. Die rekordhoogte wat die brandstofpryse oor die laaste maande bereik het, het die koop van kos vir die algemene publiek ‘n uitdaging begin maak. Al hoe meer gesinne begin hulle kredietkaarte gebruik om kos mee aan te koop, wat beteken dat hulle volgende maand meer skuld moet maak om te oorleef. Ons kan met veiligheid sê dat ons in ons land, in ‘n ekonomiese woestyn beland het. Wanneer ons egter na die Ou Testament kyk, dan sien ons dat God juis woestyn situasies gebruik om vir Sy kinders te sorg en daardeur die eer en heerlikheid te verkry wat Hom toekom.

Dit is asof die profetiese stem van die Heilige Gees ons hierdie jaar uitnooi om te verwag dat Hy ook in ons ekonomiese woestyn, hierdie jaar manna en kwartels aan Sy kinders gaan voorsien terwyl baie ongelowiges gaan krepeer van ellende.

Jy gaan egter moeilik glo as jy nie eers ‘n bewustheid ontwikkel van God se ingryping en voorsiening in jou lewe nie. Ek wil jou daarom bemoedig om jou fokus weg te neem van die woestyn om jou en om te fokus op God se beloftes.

Neem jou focus weg van jou probleme en hoe sleg dit met jou gaan; want dit waarop jy fokus, gaan jou toekoms bepaal.

Jou verwagtinge is met ‘n tou aan jou toekoms verbind! Ek wil daarom elke luisteraar of kyker bemoedig om saam met ons deel te neem aan ons Dankoffermaand wat vandag begin. Ons gaan van volgende Sondag af, elke Sondag by die eredienste, getuienisse voorlees van God se hulp en voorsiening aan ons gedurende die afgelope jaar. Dit is nie net om as bemoediging te dien van God se voorsiening nie, maar ook om erkenning aan Hom te gee vir alles wat Hy vir ons gedoen het. Maak hierdie week tyd en gaan dink wat God alles vir jou gedoen het hierdie jaar. Skrywe dit neer sodat jy Sy goedheid sal onthou wanneer daar weer swaar tye kom en ook om as getuienis te dien oor Sy voorsiening vir jou. Getuienisse kan by die kerkkantoor afgegee word, of u kan dit SMS of Whatsapp na 072 790 3005 of epos na thureosgemeente@gmail.com.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.