Ek het so ’n paar jaar gelede bedien by ’n gemeente en was toe gevra om vir iemand te salf en te bid. Onder die preekstoel was die botteltjie met die salfolie. Toe ek die botteltjie oopmaak, het dit snaaks geruik. Die olie het oud geword en was al galsterig. Ek dink dat baie kinders van die Here so ruik in die gees. Hulle ruik na die ou olie van gister. Dit wat hulle het, is oud en verouderd. Die Here wil hê dat sy mense iets wat werklik, vars en lewendig is, moet hê.

God se plan vir sy kinders is om met vars olie gesalf te word. Baie Christene leef ongelukkig van gister se openbaring, gister se brood. ‘Ek onthou hoe dit in die vroeë 2000’s was,’ sê hulle. ‘Ek kan onthou hoe dit was toe ek grootgeword het. As ons maar net kon teruggaan nou die ou dae.’ of ‘As ons maar net in die dae van Jesus en die apostels kon leef.’ Tog sê die Bybel dat die profete van ouds alles sou gegee het om in hierdie dae en tye te leef.

Ons leef in die belangrikste tyd in die geskiedenis van die mens. Hierdie opwindende dae is nie die tyd om ons hande in die lug te gooi nie. Dit is tyd om te werk! Die Bybel sê dat ons moet werk terwyl dit nog dag is, want die nag kom wanneer niemand kan werk nie. Jesus wil ‘n kerk hê wat gereed is, wat voorbereid is. As ons die wêreld wil bereik, moet ons gevul word met die Heilige Gees – gevul met vars olie.

Dit is dieselfde met jou motor. Jy moet gereeld die olie vervang sodat dit langer kan hou. As jy soveel aandag gee aan iets wat tydelik is, hoeveel te meer moet jy dan jou hart bewaar en toelaat dat jy gereeld deur die Heilige Gees met vars olie bedien word, sodat jy die Christelike lewe kan volhou? Baie mense laat ongelukkig toe dat hulle eerder verblind word deur dinge wat hulle van hul vreugde beroof.

Een van die simbole van die Heilige Gees is olie. Ek onthou dat dat daar ’n tyd gelede so ’n advertensie was op die televisie van ’n ou tannie wat inkopies doen met ’n trollie wat se wiele piep. Toe loop een van die winkelklerke agter haar aan en spuit die wiele met die olie sodat dit kan ophou piep. As iets olie kry, sal dit ophou piep. Die kerk het ongelukkig te veel pieperige Christene – altyd aan die kla of mor. As die diens te lank is – piep! As die prediker nie genoeg bel nie – piep! As die musiek te hard of te sag – piep! As die Heilige Gees olie egter kom, sal Hy van al die gepiep ontslae geraak en sal jy glad loop.

Die Heilige Gees word ook deur water gesimboliseer. Water bring verfrissing na droë lande. Ongelukkig het die Kerk tevrede geword met namaaksels in plaas van om te streef na wat werklik is. Kyk wat sê die profeet in

Jer 2:12-13  Verbaas julle hieroor, o hemele, en huiwer, verstyf heeltemal van skrik, spreek die HERE.  (13)  Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.

Die uitgekapte, gebreekte bakke is niks anders as godsdiens en tradisie nie. Godsdiens is die mens se poging om God te bereik, terwyl die Christendom mense deur Jesus Christus bereik.

Wat bevredig jou?

So baie mense soek en vind nooit rus nie, want die Heilige Gees is die enigste Persoon wat mens sal bevredig. Hy plaas terug wat die mens verloor het met die sondeval. Adam het in die koelte van die dag saam met God gewandel, maar die mens het sy vermoë verloor omdat sonde gekom het. In die plek daarvan is daar ’n diep, oerbegeerte in elke mens om na God te soek. Sonde sal jou, net soos wat dit met Adam gebeur het, van God skei. Die Heilige Gees het daardie intimiteit wat Adam met God gehad het, teruggebring. As jy as kind van God nie met die Heilige Gees saamwerk nie, sal jy ongelukkig ontevrede bly. Jy kan selfs gereeld kerk toe gaan en tog nog steeds leeg wees.

Die wisselwerking tussen die son en reën bring lewe in oorvloed. Die Woord van God is soos die son en die Heilige Gees is die reën. Sommige kerke het baie Woord, maar daar is tog ’n hongersnood in daardie plek. Die Woord is soos die son. As die son heeltyd skyn en daar nie reën is nie, sal dit droogte bring. Die Woord kan maar blink en skyn, maar as daar nie die reën van die Gees van God is nie, sal dit ‘n droogte bring. As die reën egter kom en daar is ‘n vloed, dan erodeer dit weer alles. Ons het die Woord maar ons moet die Gees ook hê. Die son en die reën saam bring bring lewe in oorvloed.

Berei jou hart voor

Die tyd waarna die gelykenis van die tien maagde verwys, het aangebreek. Die tyd het aangebreek om gereed te wees. Die tyd van voorbereiding is hier. Die tyd het aangebreek om elke gewig en elke sonde wat ons so maklik tref, opsy te sit. Die tyd het aangebreek om ons harte voor te berei, om die innerlike mens – nie ons koppe nie maar ons gees – voor te berei. Dit is tyd dat die kinders van die Here ‘n deurbraak in die gees kry.

Die duiwel het die Kerk lank genoeg in slawerny gehou. As jy die olie van die Heilige Gees kry, sal dit oor jou kom soos ‘n groot vuur. God sal jou met die vuurhoutjie van die Heilige Gees aansteek en jy sal deur die land marsjeer soos ‘n magtige vuur. As ons ons harte sal oopmaak vir die Here Jesus Christus en na die Gees van God sal luister, sal Hy ‘n vlam stuur daar waar jy is. Herlewing sal versprei soos ‘n groot vuur en die heerlikheid van God sal gestuur word! Dit is die dag van die uitstorting van die vars olie van die Heilige Gees. Dit is vir jou en vir elkeen wat wil drink uit die fontein van God se lewende water!

Heb 3:7-13  Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,  (8)  verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie,  (9)  waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het.  (10)  Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie,  (11)  sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie.  (12)  Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.  (13)  Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.

Een van die probleme in die Kerk is dat dit verhard geword het met die bedrieglikheid van sonde. Ons moet mekaar daagliks daaroor vermaan. Moet nooit sê dat jy dit sonder jou broers en susters kan regkry om ’n effektiewe Christen te wees nie. Moet nooit sê jy hoef nie kerk toe te gaan nie. “Ons het televisie en internet; ons kan daarna kyk en luister,” sê jy. Die Bybel sê egter in Heb 10:25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. Die dag kom nader! Ons is vandag nader as wat ons nog ooit was. Daar is ‘n dringendheid in my gees. Die horlosie tik en daar is nog baie werk wat gedoen moet word.

Jy sal nie in die Heilige Gees inbeweeg as jy toelaat dat jy hart verhard word en as jy toelaat dat dit met ongeloof getemper word nie. Het jy bv. al agtergekom hoedat sommige mense niks glo wat God doen nie. As iemand uit die dood opgewek is, vra hulle: ‘Hoe weet jy dat werklik hy dood was?’ As God die dak lig, sê hulle dat dit nie behoorlik vasgebout was nie. Hulle is altyd skepties, altyd vol twyfel, altyd vol ongeloof. Ons moet verander! Wat veroorsaak dit dat ons ongeloof het? Dit is die dwaalleer van sonde en dit verhard ons harte.

Dan is daardie mense wat by al die ‘lekker’ Skrifte wil bly. Hulle plaas al hul geloof in versies soos Filippense 4:19 en soortgelyke gedeeltes. Tog is Heb. 2 net soveel die Bybel as wat Filippense 4 is – en die Bybel sê in 2Tim 3:16 dat Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die kind van God deeglik toegerus kan wees vir alle goeie werke. Laat dit aan alle mense en aan al die duiwels in die hel bekend word dat jy vol is met die olie van die Heilige Gees en dat jou lamp brand.

Hoe kry ek vars olie?

God wil ‘n werk in jou hart doen. Hy gaan egter nie saamstap en dit doen terwyl jy daar in jou leunstoel sit en televisie kyk en koeldrank drink nie. As dit advertensies is, dan sê jy: ‘Heilige Gees, nou is jou kans!’ en jy verwag dat Hy sal beweeg nie. Nee, jy moet jouself afsonder, honger raak vir God en uitroep vir Hom. Ons moet tot Hom uitroep: “Here, ek wil deur U gebruik word. Gebruik my, Here. Gebruik my, o God. Gebruik my!” Dan sal Hy kom en Hy sal jou gebruik.

Daar moet ’n honger wees. Die Woord sê: ‘Die vurige gebed van die regverdige het groot krag’ (Jak 5:16). Daar is ‘n verhaal wat vertel word oor ‘n sekere man wat met sy gesig in die sneeu gelê en bid het. Die sneeu het glo vir meters rondom hom gesmelt weens die ywer van sy gebed. Mense wil dit nie vandag meer doen nie. Hulle sal “bid” in ‘n kamer waar die televisie aan is, sodat hulle die ‘game’ kan kyk terwyl hulle gou bid. Hou ‘n braai by die kerk en kyk hoe die mense kom – maar bel of stuur ’n whatsapp vir ‘n gebedsbyeenkoms of deurnaggebed, en luister na die verskonings: ‘Ek is so moeg, pastoor. Ek het die hele week gewerk.’

Om die salwing van die Heilige Gees te kry, moet jy die Heilige Gees wil hê. JY moet na Hom dors. JY moet die salwing meer as iets anders in die lewe begeer. Jy moet dit meer wil hê as wat jy die lewe self wil hê. Jy moet dit met God bedoel, ernstig wees met God. Jy moet dit begeer, uit die dieptes van jou hart en van die kern van jy wese. Roep tot God: “Doen wat U ook al moet doen, maar asseblief, laat ek deel wees daarvan. Doen ‘n werk in my hart!” Dan sal God ’n werk in jou hart doen.

Almal wil die krag en salwing van God hê, maar min wil die prys betaal om te word wat God wil hê. Sal jy die prys betaal?

5 thoughts on “Vars Olie

  1. Ons bid julle Jesus toe in julle bediening. Ons plaas julle in die holte van Sy liefdevolle hand vasgehou. Mag die Lieweheer julle bederf met Sy genadegawes en vreugdes en julle bedek met die Bloed van die LAM waarin die oorwinning is. Liefde in Christus

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.