Ek wil graag ’n paar springmielie feite met julle deel oor die hare op jou kop. Al die haar follikels op jou kop is gevorm toe jy omtrent ’n 5 maande oue fetus was. Sodra ’n haar uit ’n follikel gepluk word of val, begin hy dadelik weer uit sy follikel groei. Ons verloor op natuurlik wyse tussen 50 en 100 hare per dag. ’n Enkele haar op jou kop is sterker as ’n stukkie koperdraad van dieselfde omtrek en kan tot 2kg gewig dra. Al die hare op jou kop kan die gewig van ongeveer twee olifante dra! Een haar se leeftyd kan tot 5 jaar wees. Hare is ’n natuurlike absorbeerder van olie uit water en werkers wat olie op die see skoonmaak, gebruik soms mensehare om die olie te help absorbeer. Jou hare bevat dieselfde inligting as wat in jou bloedstroom is, bv. dwelmmisbruik, vitamiene, medisyne en minerale.

Ons Skriflesing is uit

Mat 10:29-31  Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.  (30)  En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.  (31)  Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.

Ons teksvers is vers 30: En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.

Hare…

Hoeveel hare is daar op jou kop?

  • Blondines het ongeveer 150 000 hare.
  • Rooikoppe het ongeveer 90,000 hare.
  • As jou hare swart of bruin is, het jy ongeveer 110 000 hare.

Die gemiddelde menslike kop het ongeveer 100 000 hare. Daar is ongeveer 7,6 biljoen mense op die aarde. Dit beteken dat God die huidige status van 7,6 x 100 000 hare op mensekoppe ken (sommige mense is bles, maar dit is ‘n gemiddelde). Dit is 7,66 kwadriljoen hare wat God baie goed ken. Dis baie nè?

Ek sien nie dat daar liggies in die oë aangaan nie want hoeveel is ’n kwadriljoen nou eintlik? Wie wil probeer? Jy weet hoeveel ’n miljoen is nè? Dit is ’n 1000 x 1000. Nou, ’n biljoen is ’n 1000 x miljoen en ’n triljoen is ’n 1000 x biljoen. ’n Kwadriljoen is ’n 1000 x triljoen. Dis baie, baie hare.

Dis so baie dat jy nie jou kop rondom dit kan kry nie. Ek sal gou probeer verduidelik aan die hand van tyd (dankie Louie Giglio vir die een 😊), want dit is verskriklik baie hare.

  • Een miljoen sekondes gelede…was 12 dae terug
  • Een biljoen sekondes gelede … was nie verlede maand nie. Dit is byna 42 jaar gelede.
  • Een triljoen sekondes gelede… is nie ’n eeu terug nie, nie die Middeleeue nie en ook nie in die Bybelse tyd nie. Nee, dit is 29,700 jaar voor Christus gebore is.
  • Een kwadriljoen sekondes gelede… is 30 miljoen 800 000 jaar gelede.

Dink nou hoe baie hare is 7,66 kwadriljoen hare en hier sê Jesus vir ons: Moenie bang wees nie, want die Vader ken selfs die getal hare op jou, as unieke mens, se hoof. Uit al daardie baie hare van die mensdom verseker Jesus ons dat God in detail belangstel en betrokke is by ons lewens. Hy is so betrokke dat Hy, uit al die mense op die aarde, selfs die getal hare op jou kop ken. Is dit nie ’n fantastiese versekering nie!

…En sterrestelsels

Dit is egter nie al nie. Kyk net wat lees ons in

Ps 147:4  Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.

Daar is nege planete wat om ons son wentel – 8 as jy Pluto weglaat. Die son is ’n ster van gemiddelde grote in ons Melkweg. Daar is meer as 200 biljoen sterre net in ons Melkweg alleen. Elkeen van daardie sterre het ’n naam in die hemel en God onthou elkeen se naam, net soos Hy jou naam ken en onthou.

Kenners reken dat daar so baie sterrestelsels in die heelal is dat daar elkeen persoon wat al ooit gelewe het op aarde, sy eie sterrestelsel kan kry – en elke sterrestelsel en unieke ster het sy eie naam in die hemel. As ons net die sterre in ons eie Melkweg alleen vat, kan elke persoon wat nog ooit gelewe het, sy eie persoonlike ster kry om oor te heers!

Die eerste deel van hierdie vers sê egter, Hy bepaal die getal van die sterre. Nou hier is die ding: Die heelal is nie staties nie, m.a.w. hy is nie ’n statiese entiteit nie. Nee, die heelal sit uit of word groter met elke sekonde wat verbygaan. Dit beteken dat die heelal vir elke megaparsek (3,3 miljoen ligjare, of 3 miljard triljoen kilometer vanaf die aarde), 73,3 kilometer per sekonde ekstra uitbrei. Elkeen van daardie nuwe sterrestelsels en individuele sterre wat vorm, kry ook sy eie unieke naam wat God nie vergeet nie.

Wanneer ons hieroor nadink, dan begin mens onwillekeurig saam aan daardie bekende lied dink:

O Heer my God

As ek in eerbied wonder

En al U werke elke dag aanskou

Die son en maan

Die aarde, sterre, wolke

Hoe U dit elke dag so onderhou

Dan moet ek juig, my Redder en my God

Hoe groot is U

Hoe groot is U

Want deur die hele skepping klink dit saam

Hoe heerlik Heer, U grote naam!

Wat is die boodskap wat Jesus vir ons deur Sy woorde wou gee? Dit is dieselfde boodskap wat Paulus later aan die gemeente in Fillipi oorgedra het:

Fil 4:6  Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.

En wat Petrus in hierdie bekende vers geskrywe het:

1 Pet 5:7  Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

Wanneer God sê dat ons ons bekommernis op Hom kan werp, dan kan ons Hom op Sy Woord vat, want ken Hy dan nie die getal hare op 7,6 biljoen mense se koppe nie?

Verkondig die Evangelie

Sommige van julle sal dalk nou vrae het oor wat ek sê. “Dit kan alles waar wees, maar haal jy nie hierdie vers buite verband aan nie?”

As dit is wat jy dink, is jy heeltemal reg! Toe Jesus gesê het dat elke haar op ons koppe getel is, het Hy nie spesifiek gepraat oor siekte of probleme by die werk, of geld probleme nie. Hy het ook nie gepraat oor probleme in jou gesin, of om God se leiding of selfs oor geestelike probleme nie.

In Matteus 10 het Jesus sy 12 dissipels gestuur om te gaan preek. Hy het hulle gewaarsku dat hulle teenkanting en selfs vervolging kan verwag wanneer hulle die evangelie verkondig. Dit is tot vandag toe so: Christene kan altyd opposisie en vervolging verwag as ons ons vir Christus uitspreek. Ons het egter die Heilige Gees in ons wat aan ons die regte woorde gee om te sê en ook die moed om dit te sê. Maar, sê Jesus, sommige mense sal ons haat en ons vervolg net omdat ons Hom volg. Dit is wanneer ons moet weet dat elke haar op ons koppe getel is!

Hierdie gedeelte gaan eintlik daaroor om nie bang te wees om die evangelie te verkondig nie – hoe moeilik dit ook al mag wees! Selfs die hare op jou kop is almal getel. Die tyd wanneer dit regtig saak maak, meer as enige ander tyd, is wanneer jy vir Christus getuig en die evangelie verkondig!

God ken egter ook ons unieke situasies. God verstaan, daarom moet ons nie bang of bekommerd wees nie. Dit sal altyd moeilik wees om vir Christus op te staan. Dit het Jesus sy lewe en meer gekos om aan ons ‘n evangelie te gee om te verkondig. Dit kos baie Christene in ander lande net soveel en meer om die evangelie te verkondig. Ons het daarom geen verskoning om stil te bly oor Christus nie.

Hoekom God?

Ek sluit af met die verhaal van ’n man wat ‘n hawelose man opgetel en vir ontbyt geneem het. Terwyl hy eet, vra die man hom hoe hy op straat beland het. Die hawelose man het gesê, ‘Tot verlede maand toe het ek nog alles gehad. Ek het genoeg gehad om te eet, my klere gewas en gestryk, ek het ‘n dak oor my kop, TV en internet gehad, ek het na die gim gegaan en die biblioteek. Ek het selfs aanlyn gestudeer. Ek het geen rekeninge gehad nie en geen skuld gehad nie. Ek het selfs volle medies gehad.’

Die man het hom hierop jammer gekry en gevra: “Wat het gebeur? Dwelms? Alkohol? Egskeiding?” ‘Ag nee, niks so erg nie,’ het die hawelose man gesê. ‘…. ek het parool gekry!’

Wanneer ek begin praat oor God se Alomteenwoordigheid en Liefde, dan hoor ek gereeld die vraag, As God liefde is, waarom dan die oorloë en verkragtings, die armoede en swaarkry en die boosheid wat so toeneem?

Dit is ’n onderwerp vir ’n hele reeks boodskappe op sigself en daar is vandag net tyd om dit kortliks te hanteer. Volgens my kan ons elke sodanige vraag terugneem na ’n vorige vraag totdat ons by die eerste vraag uitkom: Hoekom het God dan toegelaat dat Adam en Eva van die verbode vrug eet? Hoekom het God toegelaat dat Kain vir Abel doodslaan? Waar was Hy dan? Hoewel ek nie wil voorgee dat ek die antwoorde op hierdie moeilike vrae sommer net het nie, glo ek dat die eerste leidraad gevind kan word in

Gen 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

God het die mens geskape na Sy beeld en daarom het Hy die mens geskape met ’n vrye wil. Daardie vrye wil was getoets en uitgeoefen toe die Satan vir Adam en Eva versoek het in die Tuin van Eden. Van daardie dag tot nou toe, het ons elkeen ’n vrye wil. Ons kan doen wat ons wil; maar, sê die Bybel, eendag gaan ons rekenskap vir ons dade gee voor God.

Die tweede punt is eenvoudig dat ons in ’n gebroke, sondige wêreld leef. Mense doen lelike dinge aan ander mense en trauma gebeur. Ek het vroeër die week ’n aanhaling van Jeff Brown op ons gemeente groepie geplaas wat vir my so waar is:

Not all traumas were caused by mistakes that require a lesson to avoid repeating them. In fact, most serious traumas weren’t mistakes on the part of the victim. They weren’t events summoned by their unconscious or their karma to teach them something they need to learn. They were victimizations. They were attacks. So, let’s stop telling trauma survivors that they must learn a lesson from their experiences. That’s just another form of gaslighting. Sometimes there is no lesson. Sometimes, the most they can do is heal. Lets support that.

Vandag het ons die versekering, God ken die getal van al die hare op jou hoof. Hy laat ons nie alleen in ons pyn nie, maar ontmoet ons in die middel daarvan. Dit is hoekom ek hierdie boodskap met vrymoedigheid kan afsluit met

Heb 4:16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.