Mense vra dikwels, hoekom sê ons ‘Goeie Vrydag’ vir die dag waarop Jesus so mishandel is voordat Hy uiteindelik vermoor is? Dit is mos eintlik ’n hartseer dag! Ek onthou hoedat ek as jong seun met hierdie vraag geworstel het. Niemand kon my vraag regtig antwoord nie, want ons ouers en hulle geslag was nie regtig baie goed met die dieper vrae rondom die Bybel nie. Ek het dit uiteindelik vir myself uitgewerk dat mense dit ‘Goeie Vrydag’ noem omdat Jesus op daardie dag vir ons sondes gesterf het. Was ek reg?

Goeie Vrydag is God se Vrydag. Het jy geweet dat die oorsprong van die frase uit die Engels is? Goeie Vrydag was oorspronklik ‘God se Vrydag’ genoem: (spreek ‘God’s uit soos ’n Engelsman – Ghoed’s) – ‘God’s Friday’. Dit is hoe die mense oorspronklik daarvan gepraat het. Op dieselfde wyse kom die Engelse woord ‘goodbye’ van ‘n ander ou Engelse frase: ‘God [‘Ghoed’] by ye.’ Dit was hoe mense van mekaar afskeid geneem het en mekaar ’n goeie reis toegewens het: ‘God gaan saam met jou’. Op God se Vrydag het Jesus nie egter die wêreld vaarwel geroep nie. Hy het die finale offer gebring sodat die mensdom in sy totaliteit toegang tot God se genade en vergifnis kon verkry. Na Jesus is geen ander offer nodig nie. Daarom was Jesus se laaste woorde aan die kruis Sy finale uitspraak, nie oor homself nie, maar oor ‘n doodsvonnis tot sonde en dood. Sonde en dood sal nooit weer ‘n doodsgreep oor die wêreld hê nie.

Die apostel Johannes het Jesus se laaste woorde op aarde neergeskrywe vir ons om dit te onthou: ‘Tetelestai’ – Dit is volbring. Jesus se offer aan die kruis het sonde se greep op ons verbreek. In Hom was God die Vader nou toeganklik vir ons almal. Die mensdom kon van daardie oomblik af nie meer gevange gehou word nie. Die Seun van God het die heerskappy van die sonde beëindig deur die volle straf van die sonde op Homself te neem.

Dit is wat Goeie Vrydag goed maak. God se Vrydag sê nie ‘good bye’ nie, maar ‘God by julle’.

Ons elkeen is ewe skuldig aan Jesus se dood

Die opstanding en die leë graf, wat ons op Opstanding Sondag vier, staan sentraal tot ons Christelike geloof.  “As Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof”, sê die apostel Paulus in sy brief aan die gemeente in Korinte (1 Kor. 15:13-14). Sonder God se Vrydag kan daar nie ’n Opstanding Sondag wees nie. Die pad na ons verlossing loop deur die kruis op Golgota.

Op ’n manier is elkeen van ons skuldig aan Jesus se kruisiging daardie dag, want deur deelagtig te wees aan Sy kruisiging, het ons deelagtig geword aan Sy verlossing. Sommige van die ou skilders het hierdie waarheid probeer versinnebeeld in hulle skilderye. Die beroemde Nederlandse skilder Rembrandt het sy eie gesig geskilder op die soldaat wat die spykers deur Jesus se hande gedryf het. Toe Mel Gibson sy film, The Passion of the Christ, vervaardig het, het Mel sy eie hand verfilm waar hy Jesus aan die kruis vasspyker. Hy het gesê dat hy en alle lewendes ewe skuldig is aan Jesus se dood.

Tetelestai – dit is betaal

Die kruis het die simbool van ons Christenskap geword en met goeie rede ook. Ons vind daardie rede opgeteken in Jesus se laaste woord op aarde voordat Hy gesterwe het: ‘Tetelestai’ – dit is volbring! Tetelestai moes ’n belangrike woord gewees het as Christus dit gebruik het om Sy laaste woorde op aarde te wees, daarom is dit waaroor ons vandag nadink.

Die Griekse woord Tetelestai is ryk aan betekenis. Ons woorde kan nie die gewig van hierdie woord so goed as die Grieks uitbeeld nie.

  • Tetelestai was eerstens deur diensknegte gebruik wanneer hulle ‘n taak gekry het om te voltooi en sodra hulle hul werk voltooi het, sou hulle aan hul meesters terug rapporteer: ‘Tetelestai’ – dit is klaar. Jesus, ons perfekte dienskneg, het aan God die Vader terug gerapporteer dat Sy verlossingswerk aan die kruis voltooi was.
  • Kunstenaars het volgens oorlewering ook ‘Tetelestai!’ uitroep wanneer hulle klaar is met ‘n meesterstuk. Die skilderstuk aan die kruis, hoe wreed dit ook al sou wees, was God se perfekte meesterstuk – deur die kruis kon die mens die greep van sonde oor hulle lewens verbreek.
  • Joodse priesters en herders het hierdie woord ook gebruik as hulle die perfekte skape vir die jaarlikse offergawe gevind het. Elke jaar, op die Dag van Versoening, sou die Hoëpriester die tempel binnegaan en ‘n spesiale offer bring vir die sondes van die volk Israel. Daardie offer was ’n lam gewees wat perfek moes wees, daarom was daar buitengewoon aandag geskenk aan die voorkoms van die offerlam. Jesus is die volmaakte Lam van God wat die sondes van die wêreld vir ewig wegneem.
  • Heel laaste was hierdie woord ook deur handelaars en bankiers gebruik om aan te dui wanneer ‘n sekere skuld ten volle betaal is. Jesus het ons skuld ten volle betaal vir ons aan die kruis.

 Paulus skryf in

Kol 2:13-14  En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het,  (14)  en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael

Hoe lekker sal dit darem nie wees as iemand jou na afloop van die diens bel en vir jou sê, ‘Jy hoef jou nie verder te bekommer oor jou skuld nie; want ek het al jou skuld betaal.’ Dink net – geen motor skuld, huisverbande, persoonlike lenings – niks meer nie, want alles is vir jou betaal!

Die woord skuldbrief in vers 14, verwys na al die skuld wat ons voor God gehad het vir ons sondes. Dit was uitgedelg en uit die weggeruim deurdat dit aan die kruis vasgenael was. Boonop dui die verbuiging van die woord aan dat dit aksie is wat in die verlede en die toekoms eenmalig voltooi is. Jesus se werk word aan die was gedoen, is nog altyd gedoen en sal altyd gedoen wees.

Wat was volbring?

Die bekende Bybel kommentator, Matthew Henry, noem agt dinge wat daardie dag volbring was toe Jesus sy laaste woorde gespreek en gesterf het:

  1. Die kwaadwilligheid van Sy vyande was afgehandel. Deur Hom aan die kruis te spyker, het hulle hul ‘beste slegste’ gedoen. Daar was niks meer wat hulle aan die Seun van God kon doen nie.
  2. Die lyding wat deur God vereis was, was voltooi. Jesus het baie keer tydens sy bediening gepraat van ‘die werk’ waarna hy gestuur is en van die ‘uur’ van benoudheid wat sou kom. Al hierdie dinge is deur God bepaal. Nie een van hulle het toevallig gebeur nie. Selfs die bose planne van die Jode pas op een of ander manier in by God se groter plan om die wêreld te red deur die dood van sy Seun (Hand. 2:23). Die lyding was egter nou op ‘n einde.
  3. Al die Ou-Testamentiese soorte en profesieë is vervul. Matthew Henry noem ‘n aantal voorbeelde – Hy het asyn gekry om te drink (Psalm 69:21), Hhy is vir 30 silwerstukke verraai (Sagaria 11:12), Sy hande en voete is deurboor (Psalm 22:16), Sy klere was verdeel (Psalm 22:18) en Sy sy is deurboor (Sagaria 12:10). Daar is ook nog baie ander profesieë rondom Sy dood. Alles wat moes gebeur het, was vervul.
  4. Die vereistes van die Wet is afgeskaf. Soos Paulus dit stel in Rom 10:4  Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. Daarom was al die Ou-Testamentiese reëls rakende diereoffers ter syde gestel. Aldie reëls en voorskrifte rakende die priesterskap was nou verouderd, aangesien die Groot Hoëpriester nou Sy lewe vir die mens afgelê het. Al die Ou Testamentiese wette het na die kruis gewys. Toe Jesus gesterf het, was hulle nie meer nodig nie.
  5. Die prys van sonde is ten volle betaal. Onthou jy nog die woorde van Johannes die Doper toe hy vir Jesus gesien het? …Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!  (Joh 1:29)
  6. Sy fisiese lyding was op ‘n einde. Die storm was verby, al Sy pyn en lyding was op ‘n einde en Hy het met ’n verheerlikte Liggaam na die Hemele gegaan.
  7. Sy lewe op aarde was voltooi. Hy het Sy skeppingsdoel bereik. Toe Jesus ‘Dit is volbring!’ uitgeroep het, het Hy nog net ‘n paar sekondes gehad om te lewe. Alles wat Hy moes doen, was ten volle voltooi. Die mensdom se skuld was betaal en Jesus se lewe en Sy missie het op presies dieselfde oomblik tot ‘n einde gekom.
  8. Die verlossingswerk was nou voltooi. God het deur die betaling van die losprys deur die vergieting van Jesus se kosbare bloed, ons verlos van die verbond met sonde, ons vrygemaak en by die wederkoms van Jesus Christus sal ook ons liggame verlos word sodat ons ‘n verheerlikte liggaam sal hê wat ‘n liggaam sal wees wat in staat is om die nuwe lewe wat ons nou het deur Jesus Christus ten volle te openbaar.

Daar is niks groter as die liefde nie

Die liefde kan ons baie vreemde dinge laat doen. ‘n Tiener met die naam van Arthur Hinkley het ‘n plaastrekker met sy kaal hande opgetel. Hy was nie ‘n gewigopteller nie, maar sy beste vriend, die agtienjarige Lloyd, was onder ‘n trekker vasgepen. Sy liefde vir sy beste vriend het hom in staat gestel om te doen wat normaalweg onmoontlik sou wees.

Daar is ook die verhaal van ‘n priester wat sy lewe in die plek van ‘n tienerseun in Nazi-Duitsland aangebied het. Sy aanbod was aanvaar en die priester het gesterf om die seun se lewe te red.

En dan is daar die verhaal van die jong soldaat wat deur Oliver Cromwell ter dood veroordeel was. Hy sou geskiet word met die lui van die aandklok. Sy verloofde het egter in die klok se toring geklim en haarself aan die klep van die reuse klok vasgebind sodat dit nie kon lui nie. Toe die klok nie lui nie, het die soldate ondersoek ingestel en die meisie daar gevind – gehawend en bebloed soos wat sy teen die kante van die klok vasgeslaan was. Cromwell was so beïndruk deur haar liefde vir die jong man dat hy begenadig is. As gevolg van liefde doen mense buitengewone dinge vir ander mense. Hulle gee ons ‘n kykie, ‘n klein kykie, na die soort liefde wat God vir ons het. God die Vader het sy geliefde Seun na ons wêreld gestuur. Hy het toegelaat dat sy Seun wreed behandel word. Hy het gestaan ​​en toegekyk hoe Sy onskuldige Seun aan ‘n kruis vasgespyker word en daar in pyn hang. God het dit vir ons gedoen, sodat ons die ewige lewe kan beërwe. Op God se Vrydag. Goeie Vrydag. Amen.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.