In een van Europa se groot stede was daar jare gelede geadverteer dat ‘n groot violis op ‘n viool ter waarde van duisende rand sou speel. Die teater was stampvol op die afgespreekte aand. Baie mense het gekom om die duur viool te sien en om die musiek te hoor. Uiteindelik het die violis uitgekom en gespeel en die mense was betower. Skielik het hy die viool neergegooi en daarop gespring totdat dit flenters was en toe van die verhoog af gestap. Die mense was geskok en het gedink dat die man sy verstand moes verloor het. Die seremoniemeester het toe op die verhoog gekom en gesê: ‘Vriende, die violis het nog nie op die duur viool gespeel nie. Die instrument wat julle gehoor het, het hy in ‘n tweedehandse winkel vir R100 gekoop. Hy sal nou op die duur viool speel. ‘

Daar was min mense in die gehoor wat die verskil tussen die twee viole kon agterkom. Die violis wou vir sy gehoor wys dat dit die violis eerder as die viool is wat die musiek maak. Jy mag dalk voel dat jy nie so waardig of slim soos die volgende persoon is nie – dat jy ‘n R100 viool is; maar die Meester sal net sulke pragtige musiek met jou maak as jy jouself aan Hom oorgee.

Ons tema vir vandag is ‘Wonderwerke’ en ons teksvers is uit Ex 4:2 Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand?

In die woestyn

Ons almal het al van Moses gehoor. Hy was die man wat God gebruik het om die tien plae aan die Egiptenare te besoek, om Israel uit Egipte uit te lei en om die Farao en sy magtige weermag te oorwin sonder om ’n hand te lig.

Dwight L. Moody het gesê, “Moses spent his first forty years thinking he was somebody. He spent his second forty years learning he was a nobody and his next forty years discovering what God can do with a nobody.”

In Exodus 4 vind ons vir Moses in gesprek met God. Hy was toe al ’n ou man – 80 jaar oud en was in die woestyn besig om die skape te laat wei toe hy op ’n brandende bos wat nie uitbrand nie, afkom. Die snaakse gebeurtenis het gelei daartoe dat God met Moses begin praat het en dit is hier waar ons vandag op fokus:

Ex 4:1-4 Toe antwoord Moses en sê: Maar as hulle my nie glo

en na my stem nie luister nie, maar sê: Die HERE het nie aan

jou verskyn nie? (2) Daarop vra die HERE vir hom: Wat is

daar in jou hand? En hy antwoord: ‘n Staf. (3) En Hy sê: Gooi

dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het ‘n

slang geword; en Moses het daarvoor gevlug. (4) Toe sê die

HERE vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert.

Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ‘n

staf in sy hand geword…

In die dorre wydtes van die Sinai woestyn het God vir Moses ‘n eenvoudige vraag gevra: “Wat is daar in jou hand?” Moses was ‘n herder. Dit is al wat hy 40 jaar gedoen het, en hy was gereed om op 80-jarige ouderdom af te tree. ‘Wat is in jou hand, Moses?’ Moses het na sy hand gekyk. “‘n Staf,” sê hy vir God. Gedurende die volgende 40 jaar van Moses se lewe het God daardie eenvoudige staf gebruik om die Israeliete van Farao te verlos, om die Rooi See te verdeel, om ‘n geveg met die Amalekiete te wen en om water uit ‘n rots te laat vloei. Wie sou dit kon gedink het? Namate Moses geleer het om dit wat God in sy hand gegee het in geloof te gebruik, het sy lewe verander – sowel as die verloop van die wêreldgeskiedenis.

My vraag aan jou is: Wat het God in jou hand gesit? Vra jy hoe God jou kan gebruik? Kyk wat Hy vir jou gegee het. God rus mense op verskillende maniere toe. ‘Ek hou daarvan om mense te onthaal’, sal een dalk sê. ‘n Ander kan miskien sê, ‘ek is goed met my hande’ of ‘Ek kan ‘n groep help om dinge gedoen te kry.’ ‘Ek hou van kook.’, en so aan. Wanneer ons in geloof aan God dit bied wat Hy aan ons gegee het, al is dit hoe eenvoudig, sal Hy dit gebruik – soms bonatuurlik – om Sy werk te doen.

Op ’n berg

Een van die mooiste verhale vir my oor Jesus se wonderwerke, is waar Jesus die brode en visse vermeerder het.

Mat 14:13-21 En toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan in ‘n

skuit vertrek na ‘n verlate plek alleen. En die skare het dit

gehoor en Hom van die stede af te voet gevolg. (14) En toe

Jesus uitgaan, het Hy ‘n groot skare gesien en innig jammer

vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond

gemaak. (15) En toe dit aand geword het, kom sy dissipels

na Hom en sê: Die plek is verlate, en dit is al oor die tyd; stuur

die skare weg, sodat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle

voedsel koop. (16) Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie

weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets om te eet. (17) Maar

hulle antwoord Hom: Ons het hier net vyf brode en twee

visse. (18) En Hy sê: Bring dit hier vir My.

(19) Toe gee Hy die skare bevel om op die gras te gaan sit;

en Hy neem die vyf

brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en

nadat Hy die brode gebreek het, gee Hy dit aan die dissipels

en die dissipels aan die skare. (20) En almal het geëet en

versadig geword, en hulle het die oorskot van die brokstukke

opgetel, twaalf mandjies vol. (21) En dit was omtrent vyf

duisend manne wat geëet het, buiten die vroue en kinders.

Jesus het vir sy dissipels gesê, “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle was verstom oor die omvang van die behoefte en Jesus moes dit tot op hul vlak bring. ‘Ok julle, neem ‘n bietjie inventaris. Vind uit watter kos ons het.’ ‘Wat is daar in jou hand? Hulle het rondgekyk. Daar was vyf brode en twee visse. Daarop het Hy die eeue-oue tafelgebed gebid wat die Jode vandag nog bid voordat hulle eet:

Geseënd is U, Here onse God, Heerser oor die Heelal, wat brood uit die aarde voortbring.

Daardie eenvoudige gebed het die samestelling van die ete vir ewig verander: dit het bly vermeerder totdat 5000 manne, behalwe nog vir die vrouens en kinders wat daar was, almal geëet en en daar nog twaalf mandjies vol oorskot oorgebly het.

Wat is daar in jou hand?

Regoor die hele Bybel vind ons telkens die vraag: Wat is daar in jou hand?

‘Wat is daar in jou hand, Abel? ‘

Niks behalwe ‘n lam nie, o God, wat uit die kudde geneem is nie. Ek wil dit aan U bring, ‘n gewillige offer. ‘ Die soet reuk van daardie offer het die lug gevul en die verhaal daarvan word tot vandag nog vertel.

‘Wat is daar in jou hand, Moses?’

‘Niks anders nie, o God, as die staf waarmee ek my kudde oppas.’ ‘Neem dit en gebruik dit tot My eer.’ Hy het dit gedoen; en daarmee meer wonderwerke bewerk as wat Egipte en haar trotse koning ooit voorheen gesien het.

‘Wat is daar in jou hand, Maria?’

‘Net ‘n pot met salfolie, o Heer, waarmee ek u Heilige Kind wil salf.’ So het sy gedoen; en nie net het die geur van die parfuum die hele huis waarin hulle was gevul nie, maar die Bybel is vandag nog gevul met die geur van daardie olie.

‘Wat is daar in jou hand, arme weduvrou?’

‘Net twee pennings, Here. Dit is baie min; maar dit is alles wat ek het. Ek wil dit in U skatkis plaas.’ So het sy gedoen; en die verhaal van haar skenking inspireer vandag nog mense om aan die Here se werk te gee.

Dalk het jy en jou gesin vandag nood vir voedsel. Julle is nie alleen nie, maar julle is gereed om aan te sluit by nog ’n heldin van die Ou Testament:

‘Wat is daar in jou hand, weduvrou van Sarpat?’

‘Die laaste bietjie meel en olie wat ons kon bekostig, o Heer. Dit is so min dat die vuur van slegs twee stokke genoeg sal wees om dit gaar te maak.’

1 Kon 17:14-16 Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee. (15) En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet—sy en hy en haar gesin dae lank: (16) die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het.

Wat is daar in jou hand?

Ek sluit af met die vraag, ‘Wat is daar in jou hand? Moses se staf was maar net die gereedskap waarmee hy sy werk gedoen het. In God se hande het dit wonderwerke gedoen. Die weduwee het net ’n bietjie meel en olie gehad. In God se hande het dit vir drie jaar lank kos aan haar en haar seun voorsien.

Miskien gaan jy of jou gesin deur ’n moeilike tyd en dit lyk nie of daar ’n oplossing is nie. Kyk rond, soos wat die dissipels op die berg gemaak het. Neem inventaris, lig dit op tot God en vra dat Hy dit vir jou sal seën.

Al wat nodig is vir jou wonderwerk, is geloof in die belofte van die Een wat gesê het: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. (Heb. 13:5).

One thought on “Wonderwerke – Wat is daar in jou hand?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.