Die verhaal word vertel van ’n gevangene wat eendag tydens ’n uitreik, ’n Bybel ontvang het. Die bladsye van die Bybel was lekker sag en ideaal om sigarette mee te rol en die storie gaan dat hy elke dag ’n bladsy van die Bybel gelees het en daarna die betrokke bladsy uitgeskeur en ’n sigaret daarmee gerol het. Hy het vir lank so aangegaan totdat hy by die Evangelie van Johannes gekom het. Voordat hy by die einde daarvan gekom het, het sy verharde hart gebreek en het hy sy hart vir die Here gegee. Ek weet nie hoeveel waarheid daar in hierdie verhaal is nie, maar ek weet dat die apostel Johannes vir een ding onthou word: Hy was genoem die Apostel van die Liefde. Daardie liefde van hom het vasgevang geraak in die bladsye van die briewe wat hy geskrywe het, sodat nuwe bekeerlinge tot vandag toe aangeraai word om die briewe van Johannes heel eerste te lees as hulle kennismaking met die Bybel.

Die opskrif bo 1 Joh. 4:7 is God is liefde. Daarna begin die perikoop met hierdie bekende aanhaling:

1 Joh 4:7-10  Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.  (8)  Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.  (9)  Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.  (10)  Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.

Johannes het die intimiteit van die liefde van God geken en verstaan – in Joh. 13:25 lees ons dat hy met sy kop op Jesus se bors gelê het. Die voorreg om God se liefde vir ons te verstaan, is ’n voorreg wat min van ons beskore is, maar diegene vir wie dit ’n werklikheid word, verander die wêreld rondom hulle. Ek glo dat juis in vandag se tye, die boodskap van God se liefde meer relevant as ooit geword het. Die Bybel sê dat in die laaste dae, die liefde van baie sal afkoel en dit word al hoe duideliker wanneer ons na die wêreld rondom ons kyk. Afgestomp deur die voortdurende geweld en verhale van swaarkry, het ons harte die slagoffer geword van een van die mees demoniese aanvalle van ons tyd: Apatie. Apatie, om nie betrokke te wil raak nie. Ons weet van daardie gesin wat swaarkry maar ons kies om weg te kyk.

Liefde deur die eeue

Tog gebeur dit nou en dan dan iemand deur hierdie mure breek. Soms kom die wêreld dit nie dadelik agter nie en word die verhale jare later eers vertel. Een so ’n verhaal word deur die akteur Mel Gibson vertel in sy bekroonde film, Hacksaw Ridge, die ware verhaal van Desmond Doss wat die Congressional Medal of Honor ontvang het, ondanks die feit dat hy weens sy godsdienstige oortuigings geweier het om wapens te dra tydens die oorlog. Doss het die respek van sy mede soldate verdien vir sy dapperheid, onselfsugtigheid en empatie nadat hy sy lewe gewaag het – sonder om ‘n skoot te skiet – om 75 man in die Slag van Okinawa te red. Die enkele sin in daardie film wat by my gebly het, was die gebed wat hy telkens gebid het: “Lord, help me get one more.”

Schindler’s List vertel ook so ’n verhaal: die verhaal is gebaseer op die ware verhaal van die Nazi-Tsjeggiese sakeman Oskar Schindler, wat Joodse arbeid gebruik het om ‘n fabriek in Pole te begin. Namate die lot van die Jode al hoe duideliker geword het, het Schindler se motivering van wins na empatie verander en kon hy meer as 1100 Jode uit die gaskamers van die dood red.

Die wonder van ’n kind se lied

Hierdie volgende ware verhaal van ’n klein apostel van liefde het my in trane gehad. Dit is die verhaal van “The miracle of a brother’s song” en het plaasgevind in 1992 in Tennessee. Karen was swanger met klein Michael se sussie, Marlee. Gedurende hierdie tyd het Michael gereeld vir sy sussie gesing en stories vertel terwyl hy oor sy mamma se magie gevryf het. Toe Marlee egter gebore was, het daar onverwagse komplikasies ingetree en die dokters het nie hoop gehad dat Marlee sou oorleef nie. Haar ouers het alreeds ’n klein graffie bespreek toe Michael begin aanhou kla dat hy vir sy sussie wil gaan sing. Die reëls van die hospitaal was egter baie streng. Slegs mamma Karen was toegelaat en dan ook net met ’n isolasiepak aan. Michael het egter al hoe meer begin neul dat hy vir sy sussie wil gaan sing. Karen het uiteindelik besluit om Michael na sy sussie toe te neem, of hulle nou daarvan hou of nie. As hy sy sussie nie toe gesien het nie, sou hy haar dalk nooit lewendig sien nie. Sy het vir hom ‘n groot oorpak aangetrek en na die ICU gestap. Die hoofverpleegster het hom herken en gesê: Vat die kind nou hier weg. Geen kinders word toegelaat nie. ” maar die andersins saggeaarde mamma Karen het haar grond gestaan:  ‘Hy gaan nie hier weg voordat hy vir sy suster gesing het nie.’ By die bed het Michael gekyk na die klein baba wat besig was om die stryd verloor om te lewe. Na ‘n oomblik het hy in die helder stem van ‘n driejarige begin sing:

“You are my sunshine, my only sunshine, you make me happy when skies are gray.”

Die dogtertjie dadelik daarop reageer. Haar polsslag het begin bedaar en bestendig geword.

‘Hou aan sing, Michael,’ het mamma Karen hom met trane in haar oë aangemoedig.

“You never know, dear, how much I love you, please don’t take my sunshine away.”

Terwyl Michael vir sy suster gesing het, het die baba se asemhaling gelykmatig geword. ‘Hou aan sing, liefie.’

“The other night, dear, as I lay sleeping, I dreamed I held you in my arms”.

Michael se kleinsus het begin ontspan en ’n rustigheid het oor haar gesig gekom. ‘Hou aan sing, Michael.’ Trane het nou oor die gesig van die verpleegster gevloei. Karen het Michael se handjie styf vasgedruk.

‘Jy is my sonskyn, my enigste sonskyn. Moet asseblief nie my sonskyn wegneem nie … ‘

Die volgende dag, … die volgende dag … was die dogtertjie gesond genoeg om huis toe te gaan. Volgens die berig sê Marlee sy gesond en normaal soos enige ander mens.

Jy kan ook ’n apostel van liefde wees

Verhale soos hierdie – en nog vele meer – getuig dat mens nie ’n tipe Moeder Teresa hoef te wees om ’n apostel van God se liefde te wees nie. Van die gevangene in die tronk wat sy kos weggee tot daardie paar ou skoene wat verligting vir ’n paar skurwe voete bring, kan elkeen van ons God se liefde bring na die wêreld rondom ons.

Ek het eendag gekyk na ’n dokumentêr oor die skaapwagters van Israel en dit het vir my so ’n nuwe openbaring oor Psalm 23 gegee. Een van die dinge in daardie film wat by my gebly het, was dat die skape sonsteek kan opdoen in die woestyn. Die herder kom dan saans by sy skape om en salf diegene wat siek lyk met olyfolie. Op ’n vraag van die aanbieder of dit enigsins help, het die skaapwagter geantwoord dat hy nie weet nie, maar wat hy wel weet, is dat die skaap aanvoel dat daar vir hom omgegee word en dit laat hulle rustig word. Op daardie dag het ek besluit om steeds vir mense te bly bid, al lyk dit nie of dit help nie. Ek het begin verstaan dat my gebed alleen hulle laat voel het dat hulle nie alleen is nie. Wanneer ons, op welke klein maniere ook al, uitreik na die wêreld rondom ons met God se liefde, dan raak dit lewens aan. Ek wil jou bemoedig, op hierdie dag van die liefde, om nie net vandag nie, maar vir hierdie jaar – ’n apostel van God se liefde te word en ’n wêreld waar liefde skaars begin word het.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.