So … 2020 het gebeur.

Ons is in die tweede golf van ‘n pandemie met hartseer en rimpeleffekte wat te veel is om te tel. Al hoe meer mense ly honger en word uit hulle huise gesit omdat hulle nie geld het nie omdat hulle hul werk verloor het. Verhoudings breek omdat ons nie kan saamstem oor wat die basis vir ons realiteit en die oplossing van ons probleme is nie. Ons het gehoor van en sommige van ons het ’n ongekende aantal tornado’s beleef terwyl  andere weer van die ergste veldbrandseisoene in ons geskiedenis gehad het.

O ja – en 2000 jaar gelede is Jesus is ook gebore. Geseënde Kersfees!

Maria en Josef

Vir baie van ons was 2020 ’n moeilike en harde jaar – maar dink ’n bietjie daaroor – 2000 jaar gelede was dit vir Josef en Maria ook ’n moeilike en harde jaar. Hulle wou ewe onskuldig trou toe die ding met die engel gebeur en die volgende oomblik was Maria swanger. Mos. Almal sou mos die storie glo van die engel wat aan haar verskyn het en die swangerskap sonder seks.

Asof dit nie genoeg was nie, het keiser Augustus ’n sensus afgevaardig en moes die egpaar sowat 140km vêr reis vanaf Nasaret na Bethlehem – dit met ’n vrou wat hoog swanger was. Dink aan die ongemak wat sy moes verduur het in die warm woestynson op daardie esel!

By Bethlehem aangekom, was die bietjie slaapplek wat daar beskikbaar was, alreeds opgeraap. Onthou dat Bethlehem ’n plaasdorpie, amper soos Dealesville of Boshoff in die Vrystaat, was. Die stal was nie ’n stal soos ons aan ’n stal dink nie. Dit was meer ’n oornagplek vir karavane (dink kamele en hulle eienaars) wat na Egipte op pad was. Tradisie het dit dat daar ’n grot aangrensend tot hierdie oornagplek was waar diere en die armer deel van die bevolking kon oorslaap. Josef en Maria het moontlik die grot bekom weens die feit dat sy op die punt was om geboorte te skenk en die kameelkamp self geen privaatheid gehad het nie. Dit is waarskynlik hier, in hierdie grot, waar Jesus gebore is. Dink net aan Maria – ’n maagd sonder enige kennis van geboorte of voorgeboorte klasse – en Josef wat die baba – wat as ’n buite-egtelike kind gebore was – moes vang en versorg. Ja, dit was vir hulle ook ’n moeilike jaar!

God se voorsiening

Toe Herodus egter die kindermoord beveel het, was dit God se voorsiening wat die gesin gered het. Hulle was reeds by die karavaan oornagplek op die roete na Egipte en toe die engel vir Josef gewaarsku het, was dit vir hulle maklik om by ’n karavaan aan te sluit en na Egipte toe te ontsnap. Geld om ’n nuwe begin te maak in Egipte, was ook bonatuurlik voorsien by wyse van die geskenke wat die wyse manne gebring het.

Op dieselfde wyse kan ons daarin berus dat God ook weet wat ons behoeftes is. Net soos wat Hy vir Maria en Josef voorsien het, sal Hy ook vir ons voorsien.

Kom ons wees eerlik met mekaar

Dit gaan vir baie ‘n moeilike Kersfees wees. Almal se geliefdes sal nie bymekaar kan kom nie om sodoende die verspreiding van die virus te beperk. Ander weer sal weer byeenkom — en die virus versprei. Baie het die afgelope jaar hul geliefdes aan hierdie siekte verloor. Nie net sal hul plek by die kersete leeg wees nie, maar ook hulle blokkie wanneer die familie aanlyn ontmoet. Sommige gesinne sal glad nie bymekaarkom nie omdat hulle oor die politiek verdeeld is. Ander weer sal nie genoeg geld hê om geskenke vir hul kinders te koop of om hul tradisionele Kersfees te kook nie. Nog ander sal op Oukersaand en -dag alleen wees, miskien vir die eerste keer in hul lewens.

Deur dit alles heen, glo ek, sal daar die gees van Kersfees staan. Ek is oortuig daarvan dat God se kinders sal onthou dat Kersfees se gees, die ‘gees van gee’ is en dat hulle diegene wat nie het nie, sal bystaan met ondersteuning en daad om ook aan hulle te toon dat ons Verlosser hulle nie vergeet het nie.

Kersfees 2020 is nie die nuwe ‘normaal’ nie

Een definisie van normaal is die gemiddelde van al die kere wat iets plaasgevind het. Ek het onlangs ’n baie goeie artikel gelees (skrywer ongelukkig onbekend) oor die toepassing van die term ‘normaal’ en ek vertaal dit graag vrylik:

‘Volgens die definisie van normaal is dit die norm om die geboorte van Christus te vier terwyl daar mense is wat swaarkry. Onsekerheid en hartseer tydens Kersfees is die historiese gemiddelde van al die kere wat Jesus se geboorte al gevier was.

In werklikheid is die verhouding ongeveer 1950: 70. Dit beteken dat, tot die jaar 1950, toe die ekonomie ná die Tweede Wêreldoorlog die stabielste geword het, het die baie mense in ‘n tipe ekonomiese onsekerheid geleef, daar was ook pandemies soos die Spaanse griep en polio, en daar was nie ‘n hoender in elke pot nie.

Eers oor die afgelope 70 jaar het ons gewoond geraak aan ’n sekere tipe stabiliteit, veral vir die middelklas bevolking. Die stabiliteit wat baie mense egter geniet, is nie die norm nie. Dit is net ‘n mooi stukkie van die pastei vir ‘n redelike klein deel van die wêreldgeskiedenis en sy bevolking.’

‘Gewoond’ beteken weer dat dit is waarmee ons die meeste vertroud is. Ja, dit is hartseer om nie Kersfees te vier op die manier waarop ons vroeër gewoond was nie. Ek is nietemin oortuig dat hierdie gemiddelde ‘normale’ kersfees van swaarkry en onsekerheid ons gaan laat nadink om die vreugde en aard van Jesus se geboorte in ‘n wêreld wat sy morele kompas verloor het, beter te waardeer.

Afsluiting

Ek wil daarom afsluit met ’n paar uitdagings vir jou oor hierdie Kersfees:

  • Dink na en skrywe neer oor hoe jy die viering van Jesus se geboorte hierdie jaar in jou eie lewe prakties kan toepas?
  • Hoe gaan jy, ten spyte van jou eie moegheid en swaarkry, die smarte van jou mede-gemeentelede en familie, die vrees en verdriet van diegene wat ly in ons wêreld, kan help verlig?
  • Hoe sou jy Maria se vraag, “Hoe kan dit wees?” beantwoord?

God gaan hierdie jaar weereens vir ons almal opdaag, en dit sluit jou persoonlik ook in. Beplan en sit ’n  stil en rustige tyd opsy tot wanneer jy Sy Naam – Imannuel – ‘God-met-ons!’ in jou gees verstaan en dit begin glo. Geseënde Christusfees!

One thought on “Geseënde Kersfees 2020

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.