Daar is ‘n ou verhaal van ‘n koning en sy nar wat soms baie dwase dinge gesê het. Op ‘n dag het die nar iets so dwaas gesê dat die koning vir hom ‘n staf gegee en gesê het, ‘Hou hierdie staf totdat jy ‘n groter dwaas as jyself vind.’

’n Paar jaar later het die koning op sy sterfbed gelê. Sy hofdienaars is ontbied en sy gesin en sy bediendes het ook om sy bed gestaan. Die koning sê toe, ‘Ek is op die punt om julle te verlaat. Ek gaan op ‘n baie lang reis en ek sal nie weer na hierdie plek terugkeer nie; daarom het ek julle almal geroep om totsiens te sê.’

Toe tree sy nar na vore en sê: “Majesteit, mag ek ‘n vraag vra? Wanneer u na die buiteland gereis het om ander nasies te besoek of diplomatieke besoeke afgelê het, het u dienaars altyd voor u uitgegaan en voorbereidings getref vir u reis. Mag ek vra watter voorbereidings u getref het vir hierdie lang reis wat waarop u nou gaan? ”

“Helaas!” het die koning geantwoord, “Ek het geen voorbereidings getref nie.”

Toe sê die nar, ‘Neem dan hierdie staf saam, want nou het ek ‘n groter dwaas as ekself gevind.’

Daar is baie mense wat baie dinge doen onder die dekmantel van geloof, terwyl dit eintlik glad nie geloof is nie: dit is dwaasheid; en in baie gevalle is hulle bloot aanmatigend in hulle houding. Wanneer is dit dan geloof; en wanneer is dit dwaasheid of wanneer is mens bloot aanmatigend? Dit is ’n moeilike vraag om te antwoord, maar ons moenie wegskram van ’n vraag net omdat dit moeilik is nie. Deur iets eenvoudig te doen, soos om per definisie te onderskei tussen hierdie drie, kan dit ons baie help in ons geloofslewe om die regte besluite te neem.

Dwaasheid

Dwaasheid  word o.a. deur Webster se woordeboek beskryf as ‘n gebrek aan goeie verstand of oordeel, of om irrasioneel te wees. Baie mense wat andersins anders in ’n situasie sou optree, word tog deurmekaar wanneer hulle moet onderskei tussen geloof en dwaasheid. Ons ontmoet byvoorbeeld gereeld ouers wat hulle kinders voor op hulle skote laat sit wanner hulle bestuur. Hulle bid dat die Here hulle veilig moet bewaar en sonder ’n ongeluk, maar hulle optrede is dwaasheid. Nog ’n voorbeeld is wanneer jy op die pad gaan en bid voordat jy ry; maar jy dra nie jou veiligheidsgordel nie of jy ry onverskillig. Dit is dan nie geloof wat jou veilig hou nie, maar genade; want jy tree dwaas op. Iemand het eendag gehoor van ’n evangelis wat sy motor weggegee (‘gesaai’) het en toe het hy kort daarna ’n nuwe motor gratis ontvang. Hierdie man het toe hulle enigste gesinsmotor gaan weggee en gewag dat hulle ook ’n nuwe motor gratis ontvang. Dit het natuurlik nie gebeur nie en die gesin moes lank te voet regkom voordat hulle weer ’n motor kon bekostig. Dit was dwaas en aanmatigend en nie geloof nie.

Daar is ‘n ou spreekwoord in die Midde-Ooste wat sê dat dwaasheid aan ses dinge geken kan word:

  • Woede sonder oorsaak,
  • Praat sonder resultate,
  • Verandering sonder vordering,
  • Doellose vrae,
  • Vertroue stel in vreemdelinge en
  • Vyand vir vriend aansien.

Aanmatiging

Aanmatiging is om aan te neem of te veronderstel sonder behoorlike ondersoek of bewys en daardeur die grense van aanvaarbaarheid te oorskry. Sekerlik een van die bekendste voorbeelde van aanmatigende gedrag is toe Satan vir Jesus in die woestyn versoek het. Ek hou van die een waar hulle op die tempel se dak gestaan het:

Mat 4:5-7  Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan  (6)  en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.  (7)  Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.

Satan het geweet dat dit aanmatigend van Jesus sou wees indien Hy van die dak af sou spring op die sterkte van Psalm 91 se belofte. Hy het gehoop dat Jesus nie die verskil tussen geloof en aanmatiging sou verstaan nie en sou afspring.

Daar is so baie mense wat vandag nog aanmatigend optree en dan nie verstaan as hulle geloof nie werk nie. Dit laat ook my ook terugdink aan die paartjie wat ons jare gelede kom spreek het voordat hulle oorsee as sendelinge sou gaan. Hulle het toe reeds al hulle besittings verkoop en die boot sou binnekort vertrek maar hulle geld vir die kaartjies het nog nie gekom nie. Hulle het verwag dat die Here die kaartjies sou stuur. By navraag het ons agtergekom dat hulle al twee die roeping as sendelinge sterk ervaar het en gedink het dat hulle in geloof optree. Dit het egter ook duidelik geword dat hulle die saak nie behoorlik oordink en ondersoek het nie – hulle het net aangeneem dat die Here al die struikelblokke uit die weg sou ruim. Dit was ongelukkig aanmatiging en nie geloof nie en ons moes die paartjie adviseer om eers te wag voordat hulle vertrek sodat die aangeleentheid behoorlik aandag kon kry.

Geloof

Ek het al ’n paar keer in my lewe probeer om ’n dieet te volg en my persoonlike ondervinding was dat dit nie baie suksesvol was nie. Indien ek dit hoegenaamd kon regkry om die dieet te voltooi, was die gewig wat ek verloor het, kort daarna terug. Een keer kon ek dit egter regkry om ’n 14 dae dieet in slegs 4 ure en 20 minute te voltooi (grappie!). Ek het toe agtergekom dat diëte per se nie goed vir my werk nie. Wat vir my gewerk het, was om my leefstyl en eetgewoontes permanent te verander. ’n Suksesvolle dieet veronderstel ’n sekere leefstyl.

Heb 11:1  Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

Hab 2:4 … Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.

As die regverdige deur sy geloof sal lewe, dan beteken dit dat geloof nie alleen ’n vaste vertroue is op die dinge wat ons hoop nie (Heb. 11:1), maar dat geloof ook ’n leefstyl is. Wat wil ek hierdeur sê ? Ek wil sê dat jy sal sukkel – dit sal dalk selfs vir jou onmoontlik wees – om die vaste vertroue te hê wat geloof vereis, as jy nie gewoond is aan ’n leefstyl van geloof nie. Kom ons neem ’n voorbeeld: Baie mense sê dat hulle al hulle harte vir Jesus gegee het op die een of ander stadium van hulle lewens, maar as jy hulle sou vra waar hulle hul oë sal oopmaak as hulle nou sou sterf, is hulle of onseker of hulle sê dat hulle seker hel toe sal gaan weens hulle leefstyl. En dit is juis my punt: die persoon besef duidelik dat sy of haar leefstyl nie ’n leefstyl van geloof is nie, maar hulle besef nie so duidelik dat hulle wel ’n leefstyl van geloof kan hê nie.

Mylpale vir ’n leefstyl van geloof

Hier is ’n paar belangrike mylpale wat ons moet bereik vir ’n leefstyl van geloof:

  1. Elke gelowige het geloof, want sonder geloof kan jy nie gered word nie. (Ef. 2:8)
  2. Elkeen begin sy geloofslewe met dieselfde maat van geloof (Rom 12:3)
  3. Jou geloof kan groei en sterker word (2 Thes 1:3)
  4. Geloof groei deur die gehoor van die Woord van God, daarom is kerkbywoning belangrik (Rom 10:17)

Geloof is die manier waarop God wil hê dat ons moet lewe

Net voor die Olimpiese Spele van 1988 was ‘n program uitgesaai oor blinde skiërs wat gelei was deur siende skiërs. Hulle het op redelik gelyk terrein begin oefen omdat die blinde skiërs heeltemal afhanklik was van die sieners van die sienende skiërs om hulle te stuur: “Links, regs, links, regs.”

Nadat die opleiding klaar was, het hulle die skiërs  na ‘n Olimpiese ski baan geneem. Die siende skiërs het langs die blinde skiërs geski en geroep: “Links, regs, links, regs!” Die blinde skiërs was heeltemal afhanklik van die woord van diegene wat kon sien. Ek en jy moet op dieselfde wyse heeltemal afhanklik wees van die woord van die enigste Een wat waarlik in hierdie wêreld in kan sien: God, ons Vader. As Hy sê: “Gaan regs”  moet ons regs gaan.

Spreuke 3: 5–6 sê vir ons:

Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.  (6)  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Wat jy ook al geroep is om te doen in die lewe en waarheen God jou ook al lei, behou ‘n lewenstyl van geloof. Dit sal jou beskerm teen dwaasheid en aanmatiging wanneer jy besluite moet neem.

One thought on “Dwaasheid, Aanmatiging of Geloof?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.