Ons het verlede week gesien hoe vernietigend die effek van geeste wat beskuldig (‘accusing spirits’), in mense se lewens is. Hierdie sataniese aanvalle se hoofdoel is om die mens te isoleer van sy ondersteunings-basisse sodat hy weerloos word en dus maklik oorrompel kan word. Hulle fokus op drie vlakke van isolasie:

  1. Isolasie van God en Sy Woord, Sy Persoon en Sy Liefde.
  2. Isolasie van jouself ¬– jy aanvaar nie jouself soos jy is nie, jy is nie lief vir jouself nie of neem jouself kwalik en kan jouself nie vergewe nie.
  3. Isolasie van andere –  verhoudings word verbreek en vervang deur wantroue, bitterheid, jaloesie, afguns en nog ’n lang lys van verwante sondes.

Hierdie week kyk ons na die belangrikste poging tot isolasie – die mens se verhouding met God. Skade aan die mens se verhouding met sy Skepper begin in baie gevalle alreeds baie vroeg – soms so vroeg as voor geboorte en word dikwels vererger deur die beeld van God wat ons kry vanaf ons aardse vaders en selfs tot die onbedoelde gevolge van wat ons oor God leer in die Sondagskool. Baie mense wat ek al ontmoet het, was kwaad vir God as gevolg van die gevolgtrekkings wat hulle gemaak het nadat hulle oor God se eienskappe in Sondagskool geleer het, maar nooit geleer is oor die praktiese toepassing daarvan nie. Klassieke voorbeelde is soos die kind wat deur trauma gegaan het en dan begin vra, ‘Waar was God toe hierdie slegte ding met my gebeur het? Hy is mos Almagtig en Alomteenwoordig!’ of ‘Die Here is dan Alwetend. Hy het mos geweet hoe nodig ek my ma/pa gehad het. Hoekom het hy toegelaat dat hulle skei/sterf? Dan is Hy mos nie die goeie God waarvan ons gehoor het nie?

Die gevolge van so ’n wond is ’n ernstige vertrouensbreuk wat in later jare tot ander probleme lei. Kom ons neem die voorbeeld van iemand wat baie siek geword het maar nie sy genesing tydens gebed kon ontvang nie. Tydens navraag het dit aan die lig gekom dat hy, weens trauma tydens sy kinderjare, God nie vertrou nie en eintlik kwaad is vir God. Hy het egter in die kerk geleer dat God goed is en hom wil help. Hy wou graag met God ’n positiewe verhouding bou maar dit het nie met sy persoonlike Godservaring gerekonsilieer nie. Die gevolg was dat hy graag ’n positiewe ervaring wou beleef, maar hy kon nie. Die negatiewe dinge oor God wat hy geglo het, moes in hierdie geval eers aangespreek word voordat hy sy genesing kon ontvang.

Hierdie is ’n tipiese voorbeeld hoedat Satan te werk gaan om die mens te weerhou daarvan om ’n sinvolle, liefdevolle verhouding met God te hê.

Die wond aan ons verhouding met God

Die premise waarop aanvalle teen mense se verhouding geloods word, is tweeledig en kan verduidelik word oor die twee maniere wat mens kan volg om ’n plant te vernietig:

  1. Tree openlik vyandig op. Trek uit, ontwortel, kap af.
  2. Verlaat die plant en moenie enige aandag, kos of water gee nie.

Die gevolg in beide gevalle is die dood. Dit is dieselfde met ons. Wanneer ons voel dat God vyandig teenoor ons optree (soos dat Hy my straf omdat…) of ons verlaat het (Hy gaan my nie help nie, ek sal self moet…) dan is die uiteinde van daardie verhouding die dood.

Ons kom almal hulpeloos die wêreld in, afhanklik van ander en ons benodig aanvaarding, om waardig behandel te word en om geseënd te wees. Die vaderwond is die afwesigheid van hierdie liefde van jou vader. Dit los ons met ’n weeskindhart wat nie liefde kan ontvang nie. Die wond kan veroorsaak word deur:

  • Verwaarlosing – ek is onbelangrik
  • Afwesigheid – Egskeiding, afwesige vader, dood
  • Mishandeling – Geestelik, fisies, seksueel, emosioneel
  • Beheer – verdrukkende oorheersing
  • Weerhouding – Liefde, seëninge en / of bevestiging kan lei tot ‘n ernstige gebrek aan jou selfbeeld en selfaanvaarding.

Die effek van ‘n vaderwond is ‘n lae selfbeeld, ‘n diep emosionele pyn in die binnekant en ‘n prestasiegerigtheid wat van ons ‘doeners’ maak eerder as ‘wesens’. Terwyl ons verlossing ons nuwe skepsels in Christus maak, spreek dit nie noodwendig hierdie wonde aan nie. Vier hindernisse keer ons om genesing te ervaar en in ’n sinvolle verhouding met God te staan

  1. Die wond self – Voortgesette emosionele seer diep binne ons;
  2. Trots – Geen wil om te verander nie, “Ek sal reg wees dankie”;
  3. Sonde – ‘n onwilligheid om sonde te erken, bely en te los kan nie vergifnis te ontvang nie;
  4. Leuens – negatiewe dinge van God wat ons as waarheid glo en aanvaar isoleer ons van ’n liefdevolle verhouding met God.

Word vry

As ons sukkel om God se liefde te ontvang en vry wil word, moet ons eers aan onsself erken dat ons maklik liefde of hulp aan andere kan gee, maar moeilik self liefde of hulp ontvang. Die wortel hiervan wissel van minderwaardigheid tot intense verwerping met (kan ek dit maar sê) ’n stewige skootjie trots daarby.

Aanvaar God as jou Vader

Wanneer jy wedergebore is en Christus die Here van jou lewe geword het, is kindskap in God se huis, deel van jou erfporsie. God is ’n vader, maar nie soos jou (onperfekte) aardse vader nie. Hy is die perfekte Vader by wie jy soos ’n kind in die huis kan voel; sonder vrees vir straf of verwerping. Anders as mense, onthou Hy wat Hy beloof het en Hy hou sy beloftes. Ons lees om dit in

Rom 8:15  Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!

Wees eerlik dat jy sukkel, maar moenie daar bly nie

Ons almal sukkel met verhoudings en dit is nie ’n skande om te sukkel in jou verhouding met God nie. Die geheim is om nie op daardie plek vas te val nie. Jy kan dit doen deur jou probleemstelling (‘ek sukkel in my verhouding met God’) om te draai na ’n vraag: ‘Hoe kan ek begin om God se liefde vir my te ervaar en te ontdek?’ Die tweede ding wat jy kan doen, is om aktief te begin rondkyk rondom jou vir tekens van Sy Teenwoordigheid en omgee vir jou. Ek praat nie van ‘tel jou seeninge’ nie; ek praat van aktief rondkyk rondom jou, elke dag.

Stel realistiese verwagtinge

Hoewel dit nie onmoontlik is dat jy meteens visoene gaan sien of Jesus self in lewende lywe gaan ontmoet nie, is dit hoogs onwaarskynlik. Jy gaan ook nie vandag sukkel om liefde te ontvang en môre in hierdie fantasiese verhouding wees nie. Om aan gesonde verwagtinge te voldoen, moet jy geduldig wees met jouself. As jy in ‘n koue of liefdelose huis grootgeword het, sal dit ‘n rukkie neem om gewoond te raak aan die dinamika van gesonde liefde. Mense raak ook soms kwaad vir hulleself omdat hulle nie dadelik God se liefde kan ontvang nie. Hulle is ongelooflik hard op hulself, wat die genesingsproses soveel moeiliker maak. Wees geduldig met die proses en met jouself. Sien jou verhouding met God as ‘n reis en nie as ‘n bestemming nie. Hoe meer jy gemaklik raak met die idee dat jy saam met God op ’n ontdekkingsreis is, hoe meer sal die druk op jou afneem en hoe makliker sal die proses word.

Onthou, die probleem is nie God nie en dit is ook nie jy nie. Daar is iets in die pad, en net soos ui wat baie lae het, sal dit tyd neem om al daardie lae af te skil.

Leer om te ontvang

Baie van ons is gekondisioneer om te glo dat ons moet verdien om geliefd en aanvaar te voel. Die Koninkryk van God behels dat ons leer wat vrylik aan ons gegee word, sonder die aanneming van ’n persoon. Dit kan dikwels ‘n groot aanpassing wees vir diegene wat onwaardig voel, of wat voel dat hierdie liefde net te goed is om waar te wees. Daar is egter min dinge wat so vervullend in ’n verhouding is, as wanneer jy geleer het om te gee sonder voorwaardes en om te ontvang sonder voorwaardes.

Die pad vorentoe

Wat ek wil hê jy moet weet, is dat daar, reg oor die hele wêreld, mense is wat dieselfde as jy voel, indien nie erger nie. Jy is nie alleen nie. As vandag se boodskap ’n deeltjie van jou hart aangeraak het, herken een of ander dieper deel van jou die waarheid daarin. En dit is waar alles begin – met erkenning.

Van hier af gaan die pad om jou Vaderwond te genees soms deur donker en onvoorspelbare terrein kronkel. Dit mag dalk ook nie so vinnig wees as wat jy wil hê nie. As jy nietemin aanhou om rond te kyk en te verken, sal jy aanhou om die volgende stukkie waarheid of opwindende insig te ontdek, wat jou sal motiveer om vorentoe te bly beweeg.

Genesing vind volgens sy eie skedule plaas en soms met verrassende resultate. God se belofte aan jou bly egter staan; en daarom kan ek saam met Paulus stem wanneer hy skrywe,Fil 1:6  omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.