Bitterheid is ’n donker emosie wat nie net individueel nie,  maar ook korporatief ervaar kan word. Mens hoef maar net te dink aan die volksmoord in Rwanda in 1994 om die vernietigende effek daarvan op ’n groep mense te onthou. Ek het ’n paar jaar gelede oor bitterheid gepreek, maar ek wil vandag weer oor Bitterheid praat, want ek kan die uitwerking daarvan op individue sowel as op groepe mense in ons samelewing sien.  Vandag wil ek waarsku, soos wat die skrywer van die boek Hebreërs gewaarsku het, oor die gevolge van bitterheid:

Heb 12:15  …pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.

Hier, in ons land, sien ek hoedat wortels van bitterheid opgeskiet het by verskeie groepe mense. Ek sien hoedat dit onrus verwek en ek sien hoedat baie, baie mense daardeur besoedel word. My hart breek, want ek weet dat dit nie God se beste plan vir ons pragtige land is nie. Dit word van mnr. Nelson Mandela vertel dat hy, na sy vrylating uit die gevangenis, gesê het:

“AS I walked out the door toward the gate that would lead to my freedom, I knew if I didn’t leave my bitterness and hatred behind, I’d still be in prison.”

Ek wens so dat die mense wie sê dat hulle hom volg, daardie woorde ernstig sal begin opneem want baie mense is vandag steeds vasgevang in ’n tronk – ’n tronk van bitterheid en haat.

Bitterheid ontwikkel, net soos enige ander sonde, oor ’n tydperk. Dit begin deur die klassieke patroon van sonde-ontwikkeling te volg wat ons vind in

Jak 1:14-15  Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.  (15)  Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

Die patroon is soos volg:

  • Jy sien of hoor van ’n idee. Jy hou daarvan en jy begin daaroor nadink. (jou begeerte verlok jou);
  • Die idee begin jou fassineer en jy begin planne uitwerk om dit te laat realiseer (jou begeerte ontvang of jy word ‘swanger’ met jou begeerte);
  • Jy bring jou planne tot uitvoer en jou begeerte manifesteer fisies (dit baar sonde) – daardeur maak ons ongelukkig baie keer ook die deur oop tot demoniese beheer in ons lewens;
  • Sonde wat ongehinderd ontwikkel tot in sy volheid, bring die dood voort (nie net fisiese dood nie, maar ook dood in bv. verhoudings, gesondheid of finansies).

Die Bybel sê dat bitterheid soos ’n gal is. Dit vergiftig eerste ons siel en uiteindelik ook ons liggame. Dit word dikwels gekenmerk deur sinisme en vyandigheid teenoor andere. Ongelukkig is bitterheid nie net ’n donker emosie nie. Dit is ook ’n sogenaamde ‘sterk man’ of demoniese entiteit wat deur verskeie onderdane onderhou word. Die vlak van boosheid en sonde van elke demoniese onderdaan is progressief of erger as die vorige vlak.

Die eerste vlak van bitterheid word beheer deur Onvergewensgesindheid en Onvergewensgesindheid begin sy bose werk op ’n baie eenvoudige maar slinkse wyse: dit laat jou boekhou van oortredings teenoor jou. Ons lees in

1 Kor 13:5  [Die liefde] handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie…

In die NIV lees dit, ‘[love] keeps no record of wrongs.

Paulus sê nie hier dat ons nie moet onthou as iemand ons kwaad aangedoen het nie. Hy praat van ’n rekord van oortredings wat gehou word teenoor ’n bepaalde persoon of groep: ‘Nou die dag het jy dit aan my gedoen, toe weer dit en gister dat.’ My ondervinding is dat mense wat met onvergewensgesindheid sukkel, gewoonlik ’n datum of tydperk kan koppel aan die oortredings wat betrokke is. Dit is so ’n rekord van oortredings wat die eerste fase van bitterheid begin. Jou begeerte het jou verlok. Ek en in my eie lewe telkens ondervind dat, wanneer ek bereid is om die rekord van oortredings te vernietig en te vergeet, die vergifnis daarna baie makliker kom. Die rede is omdat die demoniese entiteit dan geen wettige reg meer het om verder in jou lewe te werk nie. Hoe vernietig jy die rekord van oortredings? Jy kan dit slegs doen deur die oortredings korrek te hanteer. Stilbly en sterk wees is nie altyd die beste manier nie. Hoe dit ook al sy, Onvergewensgesindheid is nie bereid om te vergewe en aan te gaan nie en daardeur maak dit die deur oop vir volgende fase en gees wat werk:

Jy begin om ’n Wrok te hou. Jy sê, ‘ek hou nie van die persoon nie en ek sal hom of haar nooit vergewe vir wat hulle aan my gedoen het nie.’ Deur ’n wrok teen iemand te hou, hou jy Onvergewensgesindheid in plek. Ons kan ook sê dat jy nou ‘swanger’ is met bitterheid of dat die begeerlikheid ‘ontvang’ het. Jy het nog niks gedoen nie, maar jy voel baie negatief teenoor die ander persoon of groep persone. Wanneer jy ’n wrok teen iemand hou, vergewe jy baie moeiliker want jy moet nou met twee geeste deel.

Vergelding is die volgende fase in die ontwikkeling van die sonde van bitterheid. Jou sonde ‘baar’ of gee nou geboorte aan jou gevoelens. Hierdie fase laat my altyd dink aan ’n bufferplakker wat ek jare gelede gesien het: I don’t forgive, I get even. Vergelding sê dat dit nou tyd geword het om die ander party terug te kry. ’n Gees van Vergelding (‘demon of vengeance’) begin om beheer van jou logiese denkprosesse oor te neem. Vergelding vind plaas in enige een of meer van die volgende vier fases, afhangend van die mate van ontwikkeling wat toegelaat word:

Woede en wraak is sulke sterk emosies dat dit soms fisies gevoel kan word. Ek glo dat elkeen van ons al iemand teegekom het wat so kwaad was dat mens die hitte van sy of haar emosies kon voel. Jy begin nou om jou gevoelens te verbaliseer teenoor ander persone. Party mense sal in hierdie fase aktief probeer om andere ook op te sweep teen die persoon of groep waarvoor hulle kwaad is. Ek het al bevryding gedoen op ’n persoon wat ’n gees van woede gehad het. Tydens die sessie was sy woede so erg dat, as God nie die persoon bonatuurlik in sy stoel gehou het nie, ek dalk baie seer kon gekry het. Ek het die persoon se vrou ’n jaar of wat later weer ontmoet en sy het gesê dat hy weer sy sagmoedige self is en dat hulle elke dag nog dankbaar is omdat hy van die gees van woede bevry is.

Haat is die volgende fase. Jy voel so sterk teenoor die party dat jy voel daar is nie plek vir julle al twee op die aarde nie. Die mense rondom jou sal intens bewus wees van jou gevoelens en dit sal hulle of motiveer om ook so te voel of dit sal hulle heeltemal van jou wegdrywe. Jy is ongelukkig nou so vasgevang in jou emosies dat jy nie omgee nie. Een van die manifestasies van ’n gees van haat is dat geen redenasie of ‘common sense’ hulle kan oortuig dat die fout by hulle ook kan wees nie. Dit is vir almal om hulle duidelik dat die een of ander vorm van vernietiging die enigste uitkoms kan wees.

Sonde wat tot volle ontwikkeling gekom het, bring die dood voort

Geweld is woede en haat in aksie. Dit mag so eenvoudig wees soos om op iemand te skreeu of gil of om dinge rond te gooi of dit mag selfs eskaleer tot stakings, fisiese, seksuele of emosionele mishandeling. In ons land het die bitterheid van sommige groepe mense alreeds ge-eskaleer tot by hierdie fase en selfs verder, daarom dat ek so sterk voel om ’n woord van waarskuwing te bring.

Die laaste fase is Moord. Dit hoef nie fisiese moord te wees nie. Jy kan ook mense vermoor met jou tong, soos deur skinder, ‘fake news’, ens. of jy kan mense finansieel vermoor (hulle kan hulle werk verloor), hulle verhouding vermoor (saai agterdog) of selfs hulle gesondheid vermoor (afbrekend optree). Dit stem ooreen met wat Jesus vir ons oor die duiwel geleer het in Joh 10:10  Die dief kom net om te (i) steel en (ii) te slag en (iii) te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. Die ongelukkige realiteit is egter dat moorde, plaasmoorde en uiters gewelddadige martelings deel van ons samelewing geword het.

Dit loop nie skeef nie, dit begin skeef

Iemand het jare gelede vir my gesê, ’n ding loop nie skeef nie, hy begin skeef. Ek glo nogal aan die waarheid daarvan en ek dink dat Jesus ook so glo, want net nadat Hy die Onse Vader aan sy dissipels geleer het, het Hy gesê,

Mat 6:14-15  Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.   Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.

Ek glo dat Bitterheid begin by oortredinge wat eerstens nie heel aan die begin reg hanteer word nie (in baie gevalle word dit glad nie hanteer nie – mens sluk dit maar en bly stil) en daarna eskaleer, daarom sê die Bybel tereg in Ef 4:26  Word toornig (kwaad) [maar] moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie. Ek is wel deeglik bewus daarvan dat alle oortredings nie fisies met die ander persoon hanteer kan word nie (hoe hanteer jy as kind ’n onderwyser wat jou bv. verkleineer voor andere?), maar daar is wel maniere om dit sodanig te hanteer dat dit nie die deur na Onvergewensgesindheid oopmaak nie.

Vergifnis

Vergifnis is om jou wraak of woede te laat gaan. Vergifnis beteken egter nie noodwendig versoening of goedkeuring van die verkeerde daad nie. ‘n Mens hoef nie na dieselfde verhouding terug te keer of dieselfde skadelike gedrag van ‘n oortreder te aanvaar nie, soos bv. in die geval van ’n molestasie nie. Vergifnis is wel uiters belangrik vir die geestesgesondheid van diegene wat geviktimiseer is, want dit doen dalk niks vir die oortreder nie, maar dit genees jou. Erwin Lutzer het gesê, “There’s no such thing as a bitter person who keeps the bitterness to himself” en iemand anders het gesê “Unforgiveness is choosing to stay trapped in a jail cell of bitterness, serving time for someone else’s crime.”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.