Efese was ’n besige stad in die lente van 56 n.C. Met ’n populasie van meer as 250 000, was dit een van die grootste en rykste stede in die Oosterse Meditereense gebied. Dit was gedurende hierdie lente toe Paulus, vergesel van Priscilla en Aquila, daar aangekom het. Toe Paulus die stad binnegekom het, het hy ’n siek gemeente daar aangetref. Hulle was swak, klein en magteloos. In die stad self was daar ’n groot tempel vir die godin Diana, wat in die streek aanbid was. Toordery en die okkult was wyd verspreid beoefen en seksuele perversies was algemeen. Die geestelike atmosfeer in Efese het die kerk vasgedruk en versmoor sodat dit magteloos was en nie die demoniese invloede oor die stad, suksesvol kon bestry nie. Baie gemeentes verkeer vandag ook in dieselfde posisie. Hulle word versmoor deur hulle omgewing. Hulle is vleeslik, swak en magteloos om die demoniese invloede oor hulle stede suksesvol te bestry.

Een so ’n moderne stad is die stad Cali in Colombië. Die stad was vir baie jare lank die grootste uitvoerder van kokaïne en het tussen 700 honderd en 1000 ton per jaar na die Verenigde State en Europa alleen uigevoer. Die Cali-kartel, wat toe tot 70 persent van hierdie handel beheer het, was die grootste, rykste en mees georganiseerde kriminele organisasie in die land se geskiedenis genoem. Rosevelt Muriel, direkteur van die pastorale alliansie van die stad, onthou ook daardie dae. “Dit was aaklig” vertel sy. “As jy in ‘n motor rondgery het en daar ‘n konfrontasie met die kartel was, was jy gelukkig om met jou lewe te ontsnap. Ek het persoonlik gesien hoedat vyf mense in Cali vermoor word.” Teen die vroeë negentigerjare was Cali as een van die mees korrupte stede ter wêreld bekend.

Net soos met die kerk in Efese, was die kerk in Cali in wanorde en sieklik. Evangeliste was maar min en het nie veel vir mekaar omgegee nie. Elke pastoor het op sy eie gewerk; niemand wou saamstaan ​​nie. Die geestelike atmosfeer in beide Efese en Cali was ongesond en giftig vir enige gelowige Christen.

Paulus het egter geweet wat die behandeling vir Efese se geestelike ‘siekte’ was. Die giftige atmosfeer moes verander sodat die mense ontvanklik sou word vir die Evangelie. Paulus het dit gedoen deur ’n proses met twee stappe te volg. Die eerste stap was hulle Kennis – om hulle teologie in lyn te bring:

Hand 19:1-6  En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind  (2)  en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie.  (3)  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes.  (4)  Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.  

Die tweede was Ondervinding – hulle moes die doping (en krag) van die Heilige Gees ontvang.

(5)  En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.  (6)  En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Na hierdie gebeurtenis het die atmosfeer in Efese begin verander. Die gelowiges daar het met gesag begin getuig oor Christus en binne ’n kort tyd het die aantal Christene in Efese beduidend toegeneem, soveel so dat dit die demoniese houvas oor die stad gebreek  het en die kerk daar sterk geword het.  Die nagevolge van die herlewing was so groot dat Jesus die eerste van Sy sewe briewe waarvan ons in Openbaring lees, aan die kerk in Efese gerig het.

Terug in die moderne tyd vind ons dat die atmosfeer in die stad Cali in Colombië net so giftig was soos wat dit was in Efese. ’n Klein groepie pastore het begin saamkom en bid dat die Here die atmosfeer in Cali mos verander. Na ’n paar maande se intersessie het hulle gevoel dat hulle ’n aand van lofprysing en aanbidding moes reël. Hulle wou dit in die stadsaal, wat ’n groot ouditorium bevat het, doen. Die weerstand, selfs vanuit Christen geledere, was intens. Niemand het verwag dat daar baie mense sou opdaag nie. Hulle het nogtans besluit om deur te druk en die Here te vertrou vir die resultate. Toe die geleentheid uiteindelik in Mei 1995 gehou was, was die kritici en selfs sommige van die organiseerders verbaas. In plaas van die verwagte opkoms van ’n paar honderd mense, het meer as 25 000 mense die aand van gebed bygewoon – byna die helfte van die stad se destydse evangeliese bevolking! Die skare het hulself aan intense gebed oorgegee en het tot die volgende oggend 6 uur gebly om te bid. Die beroemde nagwaak van die stad – die ‘Vigilia’ – was gebore.

Agt-en-veertig uur na die gebeurtenis was die dagblad, El Pais, sê  hoofopskrif “No Homicides!”. Vir die eerste keer in so lank as wat iemand in die stad kon onthou, het ‘n tydperk van 24 uur verloop sonder dat ‘n enkele persoon doodgemaak is. Dit was ‘n nuuswaardige ontwikkeling in ‘n land wat die hoogste moordsyfer ter wêreld gehad het. Korrupsie in die stad het ook ‘n groot terugslag beleef toe 900 kartel-gekoppelde beamptes in die volgende vier maande uit die metropolitaanse mag ontslaan is. Die atmosfeer in Cali het begin verander.

’n Maand na die Nag van Gebed, in Junie 1995, het verskeie intersessors visoene gerapporteer waarin hulle gesien het hoedat ’n groep engele die kartel leiers in hegtenis neem. Ses weke later het die regering ’n mag van 6,500 in Cali ingestuur en was daar begin om die stad skoon te maak. Verbaas deur hul geestelike momentum, het die kerkleiers van Cali nou elke 90 dae gebedsbyeenkomste gehou. Die entoesiasme  was nou so groot dat hulle dit na die grootste lokaal in die stad, die 55 000 sitplek voetbalstadion, moes verskuif. Die atmosfeer in Cali het verander en net soos in Efese, het herlewing uitgebreek.

Slot

Beide die herlewings – die herlewing in Efese en die herlewing in Cali, sou nie kon plaasvind sonder dat die gelowiges daar Paulus se strategie gevolg het nie. Eerstens moes hulle hulle teologie in lyn kry (eenheid tussen kerkleiers) en tweedens moes hulle die doping met die Heilige Gees ontvang. Uit ons teksvers kan ons verskeie belangrike aspekte daaroor leer:

  1. Dit is ’n ondervinding wat apart staan van ons Wedergeboorte.
  2. Dit is vir alle gelowiges.
  3. Dit gee ons die krag om van Christus te getuig en Hom te verteenwoordig.

Net soos met die gelowiges in Efese, moet elkeen van ons ook in hulle ervaring kan deel toe die Heilige Gees op hulle geval het. Slegs wanneer ons as gelowiges oor kerkgrense heen begin saamstaan en met die Gees vervul word, sal die kerk by ons ook sterk genoeg word om die atmosfeer te begin verander. Dit blyk dat die Heilige Gees sterk daarop fokus dat ons as gelowiges die atmosfeer in ons land, stede en dorpe moet begin verander. Ek sluit daarom af deur jou weereens uit te daag: Jy kan begin deur die atmosfeer in jou huis of by jou werksplek te verander. Begin deur daaglikse gebed. Dit vat minder as 5 minute vir jou en jou vrou om die oggend voor werk gou saam te bid. Vra die Here om ’n hongerte na Hom in julle harte te bring en dat die Heilige Gees ook op julle sal val indien dit nog nie gebeur het nie. As die Here dit vir Efese kon doen; en 2000 jaar later vir Cali, sal Hy dit vir my en jou ook doen.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.