Ons het verlede week begin om te fokus op die Koninkryk van God, wat dit is en wat dit beteken. Ons tema is uit

Mat 6:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Heel eerste het ons gesien dat die Koninkryk van God progressief aan ons openbaar word en dat ons eerste openbaring is dat ons die Koninkryk van God hier op aarde moet laat kom. Ons teksvers vir vandag is

Mat 5:13  Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.

Die sout van die Midde-Ooste

Voordat ons oor die koninkryk van God binne die konteks van sout gesels, net eers ’n bietjie agtergrond oor die sout wat in die Midde-Ooste gevind word en wat ons daaruit kan leer. Die sout wat in hierdie lande gebruik word, word nie verkry deur soutwater te ontgin nie en dit kom ook nie uit myne nie, maar word verkry uit die vleie of moerasse langs die strandgebiede. Dit word meestal sommer bymekaar geskraap en daarom vermeng dit met baie ander organiese materiale – dit is dus nie heeltemal suiwer sout soos wat ons dit ken nie. Iemand wat daar besoek het, het ’n stuk soutkristal daar van ’n rots afgebreek en gevind dat dit geblink het soos soutkristalle en gelyk het soos sout, maar dit het glad geen soutsmaak gehad nie. Daar verskeie redes hoekom die lawwe sout juis op die strate gegooi was. Die eerste rede was dat, al was die sout self goed vir niks, dit ook alle vrugbaarheid rondom dit vernietig het. Daar het dus nie plant of onkruid of bossie gegroei in die strate nie. Die tweede rede was dat die lawwe sout veroorsaak het dat die pad kliphard geword het namate dit nat geword het en weer drooggeword het terwyl die mense deurentyd daaroor geloop het.

Sout wat laf geword het

Daar is verskeie dinge wat ons hieruit kan leer oor hoe die Koninkryk van God nie is nie:

Die eerste is dat die sout in die Midde-Ooste nie suiwer is nie. Dit kom vermeng voor. Dit is dieselfde met ons as Christene. Ons leef vermeng met die wêreld rondom ons, tog bring ons smaak en geur na die wêreld deur ons teenwoordigheid. Die Here Jesus het in Sy alwysheid op die sout van die Midde-Ooste besluit as ’n voorbeeld, want te veel suiwer sout byeen op een plek is ook nie goed nie. Op dieselfde wyse is te veel ‘suiwer Christene’ op een plek byeen ook nie goed nie. Ek praat nie hier van kerkbyeenkomste nie, maar van die gewoonte van sommige om hulleself as ’n groep af te sonder en so te leef. Watter goed is dit as jy ’n sak sout het maar dit nooit gebruik om mee te sout nie? Ons was van die begin af bedoel om te meng sodat ons die Koninkryk van God vir die wêreld daar buite naby kan laat kom. Wanneer ons egter ophou om ‘sout te wees’ (om Christus uit te leef), wil selfs die wêreld ons nie meer hê nie en gooi hulle ons weg.

Die tweede is dat daar rondom ons baie is wat ‘blink’ soos Christene en lyk soos Christene, maar wat glad geen soutsmaak het nie. Hulle wil graag goed lyk vir die wêreld maar hulle wil ook nie regtig te veel in die kerk wees nie. Daar waar hierdie Christene leef, het hulle die aanskyn van Christenskap, maar hulle is nie sout nie. En nie net is hulle nie sout nie, net soos sout wat laf is, vernietig hulle die atmosfeer en mense rondom hulle se harte sodat die Woord van God nie daar kan groei nie.

Die derde is dat mense met die aanskyn van Christenskap maar wat ‘laf’ geword het en verwerp is, so baie deur mense vertrap, verneder en verkleineer word, dat hulle emosies afstomp en hulle so hard soos ’n teerpad word  – en hoe meer die mense op hulle trap, hoe harder word hulle. Ons moet nie wees soos sout wat laf geword het nie en ons moet ook nie wees soos sout wat in ’n sak gestoor word, maar nooit gebruik word nie.

Hoe ons sout kan wees

Sout verander sy omgewing

Die eerste ding is dat sout sy omgewing verander. Gooi sout by jou braaivleis of potjiekos en onmiddelik verander die smaak daarvan. Jesus het gesê dat Sy volgelinge se inherente eienskappe verander het: hulle hoef nie te probeer om sout te wees nie. Hulle is sout: ‘julle is die sout van die aarde…”. Sout verander sy omgewing vanself, sonder om te probeer. Wanneer jou blote teenwoordigheid in jou werksplek of jou huis nie die omgewing verander nie, moet jy begin wonder of jou sout nie dalk laf geword het nie? Ek sê altyd dat wanneer jy ’n kind van God is, jou werkgewer se besigheid geseën behoort te word deur jou blote teenwoordigheid daar, sonder dat jy eers iets hoef te doen. Hoekom? Want die Heilige Gees woon binne jou en jou teenwoordigheid daar is dieselfde as om die Ark van God daar te hê.

Daar is ook ‘n verskil tussen bv. vriendelikheid en geregtigheid. Vriendelikheid gee kersgeskenke aan minderbevoorregte kinders wat as goedkoop arbeid gebruik word. Geregtigheid is om hard te werk om die wette te verander, sodat dit onwettig is vir kinders om in die eerste plek so misbruik te word. Dan is ons sout, ons laat die Koninkryk van God kom en ons soek na SY geregtigheid. In ons land is dit ook so. Dit help nie om bv. te sê dat CSE (eksplisiete seksonderrig vir kinders) in ons skole verkeerd is, maar dan gaan stem jy vir ’n party wat dit promoveer nie. Daar is ’n bekende spreekwoord wat sê  dat al wat nodig is vir die bose om te triomfeer, is vir goeie mense om niks te doen nie. As ons dit doen, dan is ons nie sout nie en dan kan die Koninkryk van God nie naby kom nie.

Iemand het eendag gesê dat die Christene die sosiale gewete van die samelewing is en ek stem heelhartig daarmee saam. Om te sê dat kerk nie standpunt moet inneem oor ’n politieke situasie of ’n verkeerde sosiale tendens nie, is om nie sout te wees nie. Wanneer ons sout is, dan verander hele gemeenskappe. George Otiz Jr. het ’n paar jaar gelede ’n reeks dokumentêre films daaroor uitgebring, wat insluit hoedat Fiji getransformeer het en God absoluut asemrowende wonderwerke daar gedoen het nadat die Christene daar sout begin word en die samelewing verander het. Verhale word vertel van vergiftigde riviere wat oornag weer vars geword het, seelewe en vis wat teruggekeer het, koraalriwwe wat deur besoedeling verbleik was, het weer begin lewe en nog vele meer. Die Hebrides herlewing van 1949 in Skotland is nog ’n voorbeeld waar ’n magtige herlewing begin het toe ’n paar Christene begin het om sout te word en die samelewing verander het. Ek wil graag afsluit met die verhaal Mizoram, ’n klein plekkie wat ’n groot impak het.

Die verhaal van Mizoram

Een van die vroegste en grootste getransformeerde gemeenskappe van die twintigste eeu word gevind in Mizoram, ‘n bergagtige staat in die noordooste van Indië. Die naam van die streek word vertaal as “Die land van die hooglanders.” Dit is ‘n goeie beskrywing, aangesien die meerderheid van die inwoners, bekend as Mizos, in dorpies woon wat omring is met pragtige berge en skilderagtige klowe.

Die Mizos is passievolle boere wat gewasse soos rys, koring, tapioka, gemmer, mosterd, suikerriet, sesam en aartappels verbou. Dit is nietemin nie die boere se bekwaamheid wat Mizoram se skamele 750,000 burgers onderskei nie. Dit is ook nie hulle Mongoolse afkoms nie. Inteendeel, dit is die verstommende grootte van die nasionale Christelike geloof, wat na raming tussen 80 en 95 persent van die huidige bevolking is. Hierdie prestasie is des te meer opmerklik in die lig van die feit dat Mizoram vasgevang lê tussen die Islamitiese Bangladesh in die weste, Boeddhistiese Myanmar in die ooste en suide, en die Hindoe-state Assam, Manipur en Tripura in die noorde.

Voor die koms van Christen-sendelinge in die laat negentiende eeu, het plaaslike stamme geglo in ‘n gees met die naam van Pathan. Hulle het ook daarvan gehou om die koppe van hul vyande te verwyder. In net vier geslagte egter het Mizoram getransformeer van ‘n nasie van koppesnellers na ‘n model gemeenskap – en heel moontlik die suksesvolste Christelike plek van vergelykbare grootte op aarde. In Indië is daar beslis geen ander stad of staat wat daarop aanspraak kan maak dat hulle geen haweloses het nie, geen bedelaars nie, geen hongeres nie en dat hulle 100% geletterdheid het nie.

Die kerke van Mizoram stuur tans ongeveer 1000 sendelinge na omliggende streke van Indië en elders regoor die wêreld. Fondse vir hierdie missie word hoofsaaklik gegenereer deur die verkoop van rys en vuurmaakhout wat deur die gelowiges geskenk word. Elke keer as ‘n Mizo-vrou bv. rys kook, plaas sy ‘n handvol rys in ‘n spesiale ‘sendingbak’. Hierdie rys word dan na die plaaslike kerk geneem, waar dit op die mark verkoop word en die fondse vir sendingwerk gebruik word.

In 1994 het Mizoram sy honderdjarige herdenking van kontak met die Christendom gevier, wat begin het met die koms van twee sendelinge, William Frederick Savage en J. H. Lorraine. Besoekers vertel dat een van die opvallendste kenmerkte van die Mizos, hulle inherente vreugde en warmte is. Volgens die woorde van een verslaggewer, kan besoekers nie anders as om ‘die laggende oë in die glimlaggende gesigte’, op die gesigte van die kinders en ander inwoners van Mizoram te sien nie; en nêrens is hierdie gees van goddelike vreugde meer sigbaar as in die kerke nie, waar die tradisionele liefde vir musiek en dans van die Mizo in hulle aanbidding opgeneem is. Die vrygewigheid van die mense word ook gesien in hul gemeenskaplike pogings om die bamboeshutte van bure wat deur die jaarlikse moesons verwoes is, te herbou.

Tagtig persent van die bevolking van Mizoran woon minstens een keer per week kerkdienste by. Gemeentes is so volop in Mizoram dat mens vanaf een uitkykpunt in die stad Izol, 37 kerke kan tel. Die meeste kerke het drie dienste op Sondae en dan nog een Woensdagaande.

Slot

Ed Silvoso, bekende outeur en ’n leiersfiguur van die herlewing in Argentinië, het gesê  dat die kerk se primêre sending nie is om kerke te bou nie, maar om die koninkryk van God in te neem na waar die koninkryk van die duisternis heers, sodat Jesus Sy kerk daar kan vestig. Dieselfde is waar in ons land en besonderlik in hierdie tyd waar ons nou lewe. Vrees vir die toekoms, absurde reëls deur magsdronk amptenare en supervirusse dreig om ons te oorweldig, maar dit is alles maar net tekens van die koninkryk van duisternis en niks om voor bang te wees nie. Dit is dan juis in die grootste duisternis dat die kleinste liggie die opvallendste is. Volgens Ed Silvoso se woorde, is die kerk in Suid-Afrika vandag perfek geposisioneer om die Koninkryk van God te laat kom. Ek glo dat, na die skudding van die Corona virus, daar nog ’n erge skudding in ons land gaan kom. Daardie skudding sal gevolg word deur ’n magtige herlewing, maar ons moet nou reeds begin om die grond daarvoor voor te berei. Kom ons volg Jesus se woorde deur ons aksies en ons word die sout van ons gemeenskappe en die lig van die land, sodat Sy koninkryk kan kom.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.