Die Koninkryk van God (1)

Wat is die Koninkryk van God?

Ons lees baie in die Nuwe Testament hoedat Jesus gesê het dat die Koninkryk van die Hemel naby gekom het of hoedat Hy van die Koninkryk van die Hemel vertel het in sy gelykenisse. Het jy al gewonder, soos ek, wat dit is waarvan Hy gepraat het? Ek het veral my wonder begin wonder oor daardie Skrif in Mat 6:31-33 wat sê 

Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle Hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God En en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Ek het vir lank oor hierdie ding geloop en nadink, die ding wat die Bybel sê dat dit die koninkryk van God is; daarom wil ek vandag daaroor praat. Die term ‘die koninkryk van God’ of ‘die koninkryk van die hemele’ beteken dieselfde. Vir my is dit ’n ‘suitcase woord’ of ’n ‘uitpak-woord’ – ’n term wat ryk en vol beloftes is aan allerhande fassinerende en effe misterieuse dinge. Omdat dit ’n ‘suitcase woord’ is, moet ons dit uitpak en soos ’n kind wat ’n geskenk oopdraai, opgewonde daarna kyk.

Hoe proe biltong?

Die Skrif leer ons duidelik dat die koninkryk van God die erdeel van gelowiges is:

Luk 12:32  Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.

Gal 3:29  as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.

1 Kor 6:9  Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?

Ek verstaan dit die beste as ek daaraan dink dat dit is asof ons ’n groot landgoed geërf het. Daar is baie verskillende fasette van alles wat daarop aangaan en mens kan nie sommer goedsmoeds die bestuur daarvan oorneem as jy nie eers geleer het totdat jy ’n detail begrip van elke faset daarvan het nie.

Dit maak daarom vir my sin dat die koninkryk van God – wat dit ook al is – progessief aan ons gegee of geopenbaar word. Daar is dus ’n gedeelte wat nou aan ons gegee word sodat ons kan leer hoe: hoe dit werk en hoe om dit reg te bestuur:

Gal 4:1-2  Maar ek sê: So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles;  maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal.

1 Kor. 13:9-10  Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.

Daar is ook ’n ander faset van die koninkryk van God waarvan Christus self ons meer gaan leer tydens die duisendjarige vrederyk:

Op 5:10  en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

Op 20:4-5  En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.

Laastens is daar ’n gedeelte wat die fisiese manifestasie van die koninkryk van God is – ’n plek waar mens kan ingaan en waar jy woonagtig is.

Op 21:2-3  En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.

Ons kry m.a.w. nou reeds ’n gedeelte, dan later weer ’n gedeelte wanneer ons saam met Christus heers en dan heel laaste die fisiese manifestasie of die volheid daarvan.

Hoe verduidelik mens aan iemand die koninkryk van God? Wel, hoe verduidelik jy aan iemand hoe proe biltong? Of kondensmelk op Marie biscuits? Of bazaar pannekoeke op ’n plattelandse dorpie?

Jesus het dit gedoen deur dit te vergelyk met alledaagse gebeurtenisse en dinge rondom ons – dinge waarmee ons kan identifiseer sodat ons kan verstaan wat Hy wou oordra.

Dit is veronderstel om ’n fees te wees

Mat 22:1  “En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het…”

Terwyl ek voorberei het vir hierdie reeks, het ek op hierdie ware verhaal afgekom wat Tony Campolo vertel en waaroor hy later ’n boek geskrywe het:

Tony vertel dat hy na Honololulu uitgenooi was as ’n gasspreker. Die een oggend drie uur het hy wakker gelê en kon nie slaap nie. Hy het toe besluit om iets te ete te gaan soek. Uiteindelik het hy op ’n klein restaurantjie afgekom en vir hom koffie en ’n dougnut bestel. Skielik het die deur oopgegaan en ongeveer agt vroue wat duidelik prostitute was, het ingekom. Hulle was luidrugtig. Aangesien die vertrek klein was, het die vrouens aan beide kante van Tony, die Baptiste-dominee, gaan sit. Hy het al hoe meer ongemaklik gevoel en was net op pad om op te staan en te loop toe een van die vroue sê,

‘Môre is my verjaardag. Ek gaan nege-en-dertig wees. ‘

Haar vriend langs haar het gesê: ‘Wat wil jy van my hê? ‘n Verjaarsdagpartytjie? Wil jy hê ek moet vir jou ‘n koek kry en ‘Happy Birthday’ sing?’ Die eerste meisie het toe gesê: ‘Waarom moet jy so gemeen wees? Ek het net iets gesê, dis al. Ek wil niks van jou hê nie.’ Sy het ’n rukkie stilgebly en toe vervolg, ‘Ek wil niks hê nie. Ek bedoel, waarom moet jy vir my ‘n verjaarsdagpartytjie hou? Ek het in my hele lewe nog nooit ‘n verjaarsdagpartytjie gehad nie. Waarom sou ek nou een wou hê? ”

Dit was toe dat Tony ‘n besluit geneem het.

Toe die vrouens weg was, het hy vir die man agter die toonbank gesê: ‘Kom hulle elke aand hierheen?’

‘O ja,’ sê hy. ‘Die een wat langs my gesit het? Kom sy ook elke aand in? ” ‘Dit is Agnes. Ja, sy kom elke aand in. Waarom  wil jy weet? ” Tony het gesê: “Omdat ek haar hoor sê het dat sy môre verjaar. Wat sê jy en ek doen iets daaraan? Wat dink jy daarvan dat ons ‘n verjaardagpartytjie vir haar gooi – net hier – more aand? ‘ ‘Dit is ’n wonderlike plan !’ het die ou gesê. “Ek hou daarvan!” Harry, die eienaar van die restaurant, het sy vrou gebel en saam het hulle begin planne maak. Hulle sou die koek maak en Tony sou die plek versier. Om half drie die volgende oggend het Tony die restaurant versier met kreukelpapierversierings en ‘n bordjie wat sê: “Gelukkige verjaardag, Agnes!”

Tony vertel verder: ‘Die vrou wat die koekgebak het, moes die woord op straat uitgekry het, want teen 3:15 was elke prostituut in Honolulu in daardie die plek. Dit was prostitute van muur tot muur… en ek! ”

Op daardie punt het Agnes saam met haar vriendin ingekom en almal het uitgeroep: “Gelukkige verjaardag Agnes!” ‘Ek het nog nooit ‘n persoon gesien wat so verslae is nie … so stomgeslaan nie’, vertel Tony. ‘Haar mond het oopgeval en vir ’n oomblik het dit gelyk asof haar bene gaan swik. Toe sy gelei word om op een van die stoele te gaan sit, het ons almal vir haar ‘Happy Birthday‘ gesing.’ Dit was egter toe hulle die koek uitbring, dat Agnes dit verloor het. Sy het begin huil. Harry het gesê: ‘Blaas die kerse dood, Agnes! Kom! Blaas die kerse dood! ” Toe gee hy vir haar die mes en sê: “Sny die koek, Agnes. Ons wil almal ‘n bietjie koek hê. ‘

Agnes het na die koek gestaar en toe hakkelend gesê: ‘Harry, sal dit reg wees met jou as ek … ek bedoel, is dit O.K. as ek… wat ek jou wil vra is … is dit O.K. as ek die koek net ‘n rukkie hou? As ons dit nie dadelik eet nie? ‘ Sy het gesê: ‘Ek wil die koek huis toe vat. Dis net om die hoek. Ek sal terugkom, rerig! ‘ Tony sê dat Agnes daardie koek daar uitgedra het asof dit die ‘Holy Grail’ self was.

Nadat sy uitgegaan het, was daar vir ’n oomblik stilte. Omdat hy nie geweet het wat om nog te doen nie, het Tony uitgeroep: ‘Wat sê julle, kom ons bid?’ ‘Dit het net soos die ding gevoel om te doen’, skryf hy. Tony het vir Agnes gebid. Hy het God gevra om haar te red. Hy het gebid dat haar lewe verander sou word en dat God met haar sal gaan. Toe hy klaar was, het Harry oor die toonbank geleun en gesê: ‘Haai! Jy het nooit gesê dat jy ‘n dominee was nie! Van watter soort kerk is jy? ‘

Tony sê: ‘Dit was een van daardie oomblikke wat net die regte woorde gekom het. Ek het gesê,’Ek behoort aan ‘n kerk wat verjaardagpartytjies gooi vir prostitute om half vier die oggend! ‘ Harry was vir ‘n lang oomblik stil, en toe sê: ‘Daar is geen kerk soos dit nie! Maar as daar wel was, sou ek graag deel daarvan wou wees!’

‘Sou ons nie almal nie?’ skryf Tony.  Dan voeg hy by: ‘Dit is die soort kerk wat Jesus tot stand gebring het! Aan die einde van die hoofstuk sê Tony Campolo: ‘Ons Jesus was en is die Here van die Fees.’

Slot

Liewe leser, verhale soos die verhaal van Agnes is God se hart; het ek geleer. Hy het ’n ongelooflike passie en kompassie vir mense. Om die koninkryk van God hoegenaamd te begin leer ken, het ons eerste nodig om te leer dat dit meer geseënd is om te gee as om te ontvang. Ons lewe in ’n wêreld waar die reëls totaal die teenoorgestelde is as die van die koninkryk van God. Ons het geleer om nie betrokke te raak nie en om ons harte styf toe te knyp. Ongelukkig, saam met die toeknyp, het ons die koninkryk van God ook toegeknyp. Die realiteit daarvan is rondom ons, in hierdie dae van die oorheersing van die Corona virus. Elke bietjie omgee vir hulle wat soos Agnes in armoede lewe, is ’n stukkie van God se koninkryk wat kom hier op aarde.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.