Ons geslag lewe binne ’n tydperk waarvan ons kinders se kinders in geskiedenisboeke gaan leer. Die impak van die Corona virus wêreldwyd gaan nog vir lank gevoel word. Die belangrikste invloed daarvan is nie hoeveel mense daarvan gaan sterf nie, maar hoeveel mense deur die invloed daarvan ekonomies benadeel gaan word. Weens die staat van algehele afsondering het die ekonomie bykans tot stilstand gekom. Tienduisende mense gaan na alle waarskynlikheid hulle werk verloor. Volgens die media is talle mense in armoede gedompel met weinig vooruitsigte op ’n inkomste. Miljoene mense benodig ook voedselhulp of is van toelaes afhanklik. Iemand vra nou die dag tereg vir my, ‘Met al hierdie negatiewe dinge wat nou gebeur, watter hoop is daar dan nog vir ons?’ en ek besef: Sonder hoop is die mens se wil om te oorleef, weggeneem. Sonder hoop wil jy nie meer veg vir môre nie. Dan is daar nie meer sin om verder te lewe nie. Sonder hoop kyk jy na jou kinders en jy wonder, ‘Watter tipe toekoms gaan daar op hulle wag as dit nou al so gaan?’

Hoop vorm die fondasie van geloof. As jy nie die een of ander tipe hoop het dat dinge dalk tog kan reg uitwerk vir jou nie, sal jy nooit kan glo nie. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. So leer die Skrif ons. Ek het toe vir die Here gevra, ‘Here, hoe gee ons vir die mense hoop?’ en ek glo dat die Woord van die Here na ons toe kom uit

Mat 6:11  “gee ons vandag ons daaglikse brood…”

Dit was beter in die ou dae

Daar mag dalk net 6 woorde in die vers wees, maar wanneer mens daaroor nadink, dan sê dit ongelooflik baie. Om te leer uit die Woord, help dit soms om te gaan kyk na voorbeelde uit die Woord want dit lyk of die mens na 4000 jaar nog nie baie geleer het nie. Toe hulle in die woestyn was sonder kos, het die Israeliete kort-kort gemurmureer dat dit beter was ‘in die ou dae’ – toe hulle nog in Egipte was. In Salamo se tyd het die mense nog steeds so gemaak en vandag hoor ek gereeld nog ‘dat dit beter was in die ou dae’. Tog leer die wyse Prediker vir ons in

Pred 7:10  Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie.

Daar is ook ’n ou Oosterse spreekwoord wat dit bevestig:

“Many say, This is a corrupt age. This mode of speaking is not just, it is not the age that is corrupt, but the men of the age.”

Ek beklemtoon hierdie punt want dit is een van die dinge wat mens se hoop negatief beïnvloed.

Brood in die woestyn

Ons teksvers vir vandag neem ons terug na die tyd toe Israel in die woestyn was. Die realiteit van  omstandighede het ingesink by die volk. Elke dag was hulle vasgevang in dieselfde ou roetine – vasgevang die warm woestyn met geen vooruitsig dat omstandighede gaan verbeter nie, was hulle ook in ’n tipe grendelstaat vasgevang. Daar was geen hoop of toekoms vir die kinders nie en aangesien niemand kon werk nie, was daar nie meer ‘salarisse’ nie. Tog het die behoeftes nie verander nie. Drie miljoen monde moes nog steeds elke dag gevoed word en water kry. Die vee moes nog steeds water kry en eet. Gras was skaars en dit het lank geneem om die diere voldoende te laat wei voordat hulle kon trek. Die slagdiere het vinnig minder begin raak en die algemene gevoel was dat hulle ’n groot fout gemaak het om agter Moses aan die woestyn in te trek. God het nou wel ’n paar wonderwerke gedoen maar dit sou nie die kinders voed nie.  Die gordyn lig vir ons in Exodus 16 waar ons sien hoedat ’n omgekrapte volk se leiers het voor Moses se tent kom betoog:

Exo 16:2-4  En die hele vergadering van die kinders van Israel het teen Moses en teen Aäron in die woestyn gemurmureer.  (3)  En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe.

Die Israeliete het gou hulle swaarkry, armoede en verdrukking onder die Egiptenare vergeet: In hulle gedagtes het hulle die herinneringe aan Egipte geromantiseer en vir hulle was die ou dae nou beter, want daar het hulle ten minste lekker vleis en brood kon eet elke dag. Hier het ons ’n belangrike les om te leer:

Die realiteit van hulle omstandighede was vir hulle baie meer oortuigend as die beloftes wat God aan hulle gemaak het.

In die volgende vers sê  God vir Moses:

(4)  Toe sê die HERE vir Moses: Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie.

Die Here moes ’n nasie leer om op te hou om soos slawe te dink. Hulle moes leer dat daar wel ’n lewe en ’n goeie lewe, kan wees nadat mens uit slawerny bevry is. In hierdie opsig is die verhaal van Israel wat afspeel, telkens ’n tipering van die verhouding van die mens met God – elke keer is daar die reaksie van die ongelowige of onwedergeborene in die aangesig van desperate omstandighede. Telkens gryp God in, Hy laat brood uit die hemel reën en wys dat Hy getrou is aan Sy Woord en Sy beloftes en elke keer sukkel die mens – ongeag die aantal wonderwerke – om God te vertrou.

Dit is vandag steeds die geval met ons. Hoeveel keer het God nie al wonderwerke vir jou gedoen nie? Tog, wanneer daar ’n storm kom, vergeet ons so vinnig daarvan en betoog soos die Israeliete, voor die kerk se deur.

Exo 16:13-15  En in die aand het daar kwartels opgekom en die laer oordek. En in die môre was daar ‘n doulaag rondom die laer.  (14)  En nadat die doulaag opgetrek het, het daar oor die woestyn iets gelê wat fyn en korrelrig was, fyn soos ryp op die grond.  (15)  Toe die kinders van Israel dit sien, sê hulle vir mekaar: Wat is dit? Want hulle het nie geweet wat dit was nie. Daarop sê Moses vir hulle: Dit is die brood wat die HERE julle gee om te eet.

Die Hebreeus vir Manna klink soos ‘Man-hu?’ – ‘Wat is dit?’ en dit is waar die woord Manna vandaan kom.

Die Israeliete het, sonder dat hulle dit besef het, gevra: “gee ons vandag ons daaglikse brood…” Die Here het geantwoord, maar wanneer ons hierdie gebed bid, is daar drie lewenslesse waaruit ons kan leer:

Lewensles 1: God se hart

In vers 4 sê  die Here, “Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; … sodat Ek hulle kan beproef”

Die Israeliete se fokus was vleis en brood gewees, daarom wou God hulle harte beproef. Ons doen ook dieselfde vandag:

‘Here, dit is amper maandeinde en die aftrekorders moet afgaan. Ons moet kruideniersware koop en daar is nie geld nie.’

God het vir hulle gegee, maar die vraag in Sy hart was gewees, ‘Sal jy my vertrou?’ God wou Sy kinders leer deur die gawe van die manna. Eerste, voor enigiets anders, wou Hy hulle leer dat Hy sorg vir hulle. Sy hart is dat Hy hulle God kon wees en dat hulle Sy volk was en dat Hy daarom Homself verbind het om vir hulle voorsiening te maak. Dink aan die detail van die sorg wat God oor hulle gehad het, oor elkeen van hulle: elke persoon het sy eie houer met manna gehad. Geen vrou, geen kind is vergeet nie. Daar was elke oggend voldoende manna vir elke persoon. Vir die een met ’n groot aptyt was daar genoeg manna om hom knuppeldik te eet en vir die een wat minder eet, was daar net genoeg manna dat dit nie sou mors nie, so sorgvuldig het God oor elke individu gewaak.

God wil vir jou ook gee, net soos vir die Israeliete, maar dit is ook Sy vraag aan jou: Al is jy in die woestyn, in ’n grendelstaat vasgevang – sonder kos, sonder inkomste en dalk met min of geen hoop vir die toekoms nie – vra Hy ook vir jou: My kind, wanneer jy bid ‘Gee ons vandag ons dag se brood’ – sal jy My vertrou? Is jou fokus so op die dinge van God dat jy die God van die dinge vergeet? Sy karakter is om vir jou te sorg, die vraag is of Hy maar jou hart kan beproef?

Lewensles 2: God se grootheid

Die tweede lewensles is dat God vir hulle – en vir ons – Sy Grootheid wil leer. Hy het die Israeliete in Egipte geleer deur sy magtige plae en toe by die Rooi See, toe Hy waters vir hulle verdeel en hulle van die dood gered het. Maar nou, deur die voorsiening van hulle daaglikse brood, het Hy hulle liefderyk Sy grootheid geleer:

Eerstens was daar die hoeveelheid manna. Daar was genoeg vir almal. Hoeveel nodig was, weet ek nie. Onthou net, daardie hoeveelheid het elke oggend, vir veertig jaar lank, gereën om die kamp van die Israeliete. Watter groot God is Hy nie wat veertig jaar lank Sy uitverkore volk kon voed, maar tog het Sy winkel se rakke nooit leeggeloop nie.

Sy grootsheid word ook gesien deur die wyse waarop Hy hierdie magdom kos gevoed het. Brood kom normaal deur ’n lang proses vanuit die grond af op, maar hierdie mense was in ‘n woestyn. Tog, wonder van wonders, het hulle brood elke dag uit die lug neergedaal! Sal die mens dan brood alleen leef? Of sal die brood kom wanneer God spreek?

Sy goedheid waarvan die Israeliete moes geleer het, was omdat Hy hulle voorsien het met smaaklike voedsel. Volgens oorlewering en die Apokriewe boeke, het elkeen se manna volgens sy eie smaak geproe. Daar was iets daaraan wat die mond in staat gestel het om sy eie smaak daaraan te gee.

Geliefdes, God wil ook Sy grootheid vir jou en selfs vir ons land wys. Ons dink dat Hy genoeg kos gehad het vir 3 miljoen mense, maar nie vir 60 miljoen nie. Al wat ons maar moet doen, is om te vra: “gee ons vandag ons daaglikse brood…”

Lewensles 3: Groei in Genade

Die derde en laaste lewensles waarvoor ons tyd het, is dat die Here graag wil hê dat ons moet groei in genade. Iemand vra my ’n rukkie gelede oor ’n droom wat sy gehad het. Terwyl ek daaroor bid, lei die Here my na die boek van 2 Petrus, wat Hy wou gebruik om haar daaruit te leer. Die laaste versie van daardie boek bevat die bewoording van die derde lewensles wat ons kan leer wanneer ons omstandighede desperaat lyk en ons bid “Gee ons vandag ons daaglikse brood”. Dit gaan so:

2 Pet 3:18  “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. “

God gee vir ons manna of daaglikse brood in baie areas van ons lewens, nie net ons finansies nie. Hoeveel van julle het byvoorbeeld al een keer so maklik antwoorde op gebede gekry soos niks, maar sonder enige duidelike rede het jou sukses met gebed skielik verminder? Of dalk het jy oënskynlik genees van ’n siekte en eendag toe lyk of die siekte weer teruggekom het? Of miskien het jy in ‘n geestelike gawe vir ‘n seisoen gevloei, maar om een ​​of ander onbekende rede het dit kaarblyklik skielik gestop?

Weet jy waarom dit gebeur? Dit is sodat ons geestelik volwasse kan word of kan toeneem in die genade en kennis van Jesus. Dink net daaraan – as jy skielik maklik antwoorde op jou gebede kry, sal jy naderhand jou hart oplig en verhewe begin voel bo ander mense om jou. Jy sal dink jy ken vir Jesus, maar Jesus het baie meer fasette om van te leer as waarvan jy ooit kan droom. Daarom, tydens ons geestelike ontwikkelingsproses, groei Christene ‘in die genade’ deur na God se weë te soek, na te streef en van te leer. God sal die gebede van ‘n nuwe gelowige byvoorbeeld maklik beantwoord om die waarde van gebed aan hom of haar te leer. Hy mag egter huiwer om die gebed van ‘gesoute’ Christene elke keer so maklik te beantwoord – nie om hulle te straf of om hulle ’n les te leer nie – maar om die geheime van gebed aan hulle te leer. Hy wil nie hê dat ons gebedslewe of ons verhouding met Hom eentonig word nie. Hy wil hê dat ons sal toeneem in genade en in in die kennis van Hom.

’n Gunsteling prediker van my is ’n man met die naam van Smith Wigglesworth. Hy het aan die begin van die vyftigerjare bedien en God het groot wonderwerke deur hom gedoen. Na ‘n seisoen van bediening, het Wigglesworth gesê, het die wonderwerke egter skielik opgehou. Hy was verward. Ek is seker dat enige iemand verstom sal wees oor hoekom dit dan so skielik verdwyn het en hy het dan niks verkeerd gedoen nie. Wigglesworth het toe die Here daarom gevra en die Here het hom gewys wat gebeur het. Wigglesworth sê  dat, toe hy met sy bediening begin het, God hom ‘wonderwerke op krediet’ gegee het, omdat hy nie die beginsels van die koninkryk begryp het nie. Hy was geestelik ongeleerd. Met verloop van tyd egter het die genesings gestaak omdat God wou hê dat Wigglesworth na die geheime van die koninkryk sou soek. Terwyl hy die wonderwerke van Christus uit die vier Evangelies bestudeer het, het hy gesien hoe Jesus met siekes gewerk het, en toe Hy die beginsels van Christus implementeer het, het die wonderwerke weer begin verskyn.

Slot

In jou en my lewens is dit dieselfde. Iemand bid vir jou en jy genees – nie dadelik nie, maar oor ’n tydperk – want God wil hê dat jy groei in genade en in die kennis van Hom. Jy bid dalk, “gee ons vandag ons daaglikse brood” en dit voel of God jou nie antwoord nie. Geliefde, God het dieselfde kompassie vir jou as wat Hy vir elke Israeliet – man, vrou en kind – gehad het. Hy sal nie Sy eie karakter verraai nie. Hy sal vir jou manna gee, maar Hy wil ook hê dat jy sal onthou: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van God uitgaan.

Moenie so fokus op die brood van God dat jy die God van die brood vergeet nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.