Die dag toe Jesus op ’n donkie die strate van Jerusalem binnegery het, het elkeen wat langs die strate gestaan het, sy eie rede gehad om sy palmtakke te waai. Sommige was politieke aktiviste; hulle wou hê dat Jesus Sy bonatuurlike magte moes gebruik om Israel uit die Romeinse heerskappy te bevry. Ander weer het geliefdes gehad wat siek of sterwend was. Hulle het hulle takke gewaai en gehoop op genesing. Baie was net nuuskierig, terwyl die opregte volgelinge Jesus graag wou hê as ‘n aardse koning. Op daardie dag was Jesus die enigste Een in die optog wat geweet het waarom hy na Jerusalem gegaan het – om te sterf. Hy het ‘n missie gehad, terwyl almal anders ‘n agenda gehad het.

My eie agendas

Terwyl ek nog ’n jong Christen was, was my verstaan van die wisselwerking tussen my en God dat ek situasies moes opsom en dan besluit wat moet gebeur, daarna moes ek ’n hond uit ’n bos bid dat dit wel so moet gebeur. Ek was die Lone Ranger en die Heilige Gees was Tonto. Ek was Batman en die Heilige Gees was Robin. Ek het gedink dat die Here my sidekick was wat, as ek hard genoeg gebid het, goedkeurend en liefdevol geglimlag het en die gebed beantwoord het.

Ek moet egter bieg: Dit wat ek nou vertel het, is nie heeltemal die waarheid nie – dit klink net so mooi as ek sê  ‘terwyl ek nog ’n jong Christen was’…. Ek het ongelukkig daardie indruk van hoe dit tussen my en God moes werk, gehad nog lank nadat ek ’n meer volwasse Christen geword het. Soos hulle in Engels sê, ek gedink dat ‘I called the shots, and the Holy Spirit jumped’.

Jy sien, sonder dat ek dit besef het, het ek eintlik gebid, ‘Onse Vader wat in die hemel is, laat my wil geskied, hier op aarde sowel as daarbo in die hemel.’ Ek het my eie agenda gehad, my eie idee van hoe die lewe nou eintlik behoort te wees. God se werk was net om te sorg dat dit so gebeur. Indien dit nie so gebeur het nie, het ek gedink dat my geloof te klein was of dat ek nie hard genoeg gebid het nie.

Eers later jare het ek besef dat God my nog altyd sonder ’n agenda of voorbehoud liefgehad het. Soos die mense langs die strate van Jerusalem, was dit ek wat die agendas gehad het. Luister gou na hierdie een:

‘Here, X het sy werk verloor. Gee asseblief vir hom ander werk, hy het ’n vrou en kinders om voor te sorg…’

Dit klink so mooi nè? Hierdie edele gebed van my. Todat jy die ‘asseblief’ uithaal. Dan word die ware natuur van my sogenaamde gebed duidelik: Dit was eintlik ’n opdrag aan God, met ’n regverdiging in kodetaal daarvoor aan die einde. Kom ons lees dit weer, hierdie mooi gebed van my, maar hierdie keer sonder die ‘asseblief’:

‘Here, X het sy werk verloor. Gee vir hom ander werk, hy het ’n vrou en kinders om voor te sorg…’

Nou klink dit nie meer so mooi nie, nè? X het sy werk verloor en volgens my opsomming van die situasie, moes hy so gou moontlik ’n ander werk kry. Nou begin ek my wil afbid: ‘Gee vir hom ander werk…’ O ja – daai laaste stukkie, oor die vrou en kinders om voor te sorg? Dit was eintlik kodetaal wat beteken het, ‘En maak gou!

Ek sê  nie dat elkeen wat so bid, verkeerd bid nie – ek vertel net hoedat ek bewus geraak het daarvan dat ek my eie agendas gehad het in my wandel met God. Ek het lank so gelewe, maar my lewe het nie getuig van die oorwinnings en wonderlike dinge wat ek in andere se lewens gesien het nie. Eers heelwat later het ek begin verstaan dat ek my eie agendas het en dat ek wou hê dat God dit net moet implementeer – ek was mos die een wat beter geweet het. Die gevolg was dat daar ’n frustrasie en woede in my hart ontstaan het teenoor God. Ek het gevoel dat ek alles probeer en dit was vir my net of Hy nie wou saamwerk nie.

Missie teenoor Agenda

Een van my gunsteling Skrifte in die Bybel is Jer 29:11  Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.

Ek het in ’n stadium vir die Here gesê dat ek dink daardie Skrif is almal behalwe my bedoel, want my planne wou nie uitwerk nie en ek het nie eens ’n hoopvolle toekoms gehad nie. Toe, een aand gedurende Bybellees, spring daar opeens ’n Skrif uit tussen al die ander versies wat ek gelees het – jy weet mos – een van daardie versies wat, as jy dit lees dan weet jy dis die Here wat nou met jou praat. Ek het nie gehou van wat ek gelees het nie, maar dit het my laat dink… Die versie was in

Ps 32:8-9  Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.  (9)  Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.

Die Heilige Gees het vir my daardie aand gesê dat Hy my graag wil leer oor die pad wat ek moet volg, maar dat ek steeks is soos ’n donkie. Dit het seergemaak, maar die waarheid het mos maar daardie manier! Van toe af het ek minder steeks probeer wees, maar dit sou nog ’n hele rukkie neem voordat die liggie begin aangaan het. Die Heilige Gees het in die tydperk daarna vir my nog ’n paar Skrifte laat uitstaan.

Ek is geskape tot goeie werke wat God voorberei het

Ef 2:10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Ek het toe begin verstaan dat ek nie die een was wat die planne moes maak en God die Een was wat moes sorg dat dit uitgevoer word nie. Nee, dit was andersom: God het die planne geken wat Hy vir my gekoester het, Hy het my gemaak tot goeie werke wat HY vir my voorberei het, Jesus het net gedoen wat Hy die Vader eers gesien doen het.

Die Skrif in Ef. 2:10, waar hy sê dat ons geskape is tot goeie werke wat God vir ons voorberei het; beteken letterlik dat ek met ’n missie gebore is. Ek bestaan nie sommer maar net nie. Ek is gebore met ’n rede, met ’n doel, met ’n spesifieke opdrag – net soos Jesus, het ek ’n lewensmissie. My talente, my persoonlikheid, alles wie ek is en wat ek is; is daarop ingestel dat ek my missie suksesvol kan voltooi.

Jesus het niks gedoen uit Homself nie

Joh 5:19  Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.

Hier was ’n kosbare lewensles om te leer. Ek moes afleer om situasies op te som, te redeneer wat volgende moet gebeur en ’n aksieplan uit te werk. Ek is hartseer om te rapporteer dat hierdie proses nog nie heeltemal voltooi is nie, maar ek werk daaraan. Die kere wanneer ek wel die Here se advies gevra het aangaande die weg waarop ek moet gaan; het dit telkens perfek uitgewerk. Ek het begin leer hoe belangrik drome en visioene is as ’n manier om vooraf te sien wat die Vader doen. Wanneer situasies dan gebeur het, was dit amper soos déjà vu en het mens geweet wat om te doen. My eie agendas het ondergeskik begin raak aan die missie waarop God my gestuur het.

Soek allereers die koninkryk van God

Mat 6:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Die derde ding wat ek geleer het, was om die koninkryk van God te leer soek. Ek het daaroor begin nadink en die Skrifte daaroor gelees. Dit het my opgeval dat Jesus telkens gesê het, ‘Bekeer julle want die koninkryk van God het naby gekom!’ Wat was die koninkryk van God dan? Hoekom moes mens hulleself bekeer oor die koninkryk van God? Moes hulle nie eerder bang wees vir die hel of vir God se wraak nie?

My soektog na die koninkryk van God (Johannes noem dit die koninkryk van die hemel) het my finaal geleer hoekom dit beter is om op ’n missie vir God te wees as my eie agenda te hê. Ek het geleer dat God se kompassie en empatie vir die mens baie meer en groter is as wat ek ooit ooit sou kon dink of droom. Hy het liefgehad wat ek verafsku het en in dit wat vir my gemors was, het Hy ’n skat gesien. Ek moes leer om Hom te vertrou, want Hy het geweet hoe om die goud uit sulke mense te laat kom. Ek het ook geleer dat die koninkryk van God nie soveel ’n plek was nie as die uitdrukking in ons  materiële wêreld van God se liefde vir die mens.

In Lukas 8:26 evv. lees ons hoedat God vir Jesus op ’n spesiale missie gestuur het. Daar was ’n man in Gadara wat demonies besete was; buite hulp, alleen en verstote het hy in die begraafplaas van die dorp gewoon. Die man was nie eers ’n Jood nie, maar God het hom raakgesien en Hom oor daardie man ontferm. Toe vra Hy vir Jesus, wat op daardie stadium baie besig was om mense te bedien; om alles te los waarmee Hy besig was en eers daardie besete man te gaan help. Jesus se missie het ingesluit om ’n storm wat oor die see waarop hulle gereis het, losgebars het; stil te maak. Daardie dag het die koninkryk van God vir die besete man naby gekom.

In Johannes 4 lees ons van nog so ’n verhaal teen ’n totaal ander agtergrond. Jesus het by ’n waterput gaan rus toe daar ’n vrou aankom om water te skep. God se empatie vir haar en die mense in haar dorpie, het hulle lewens vir altyd verander.

Jaïrus se dogtertjie is uit die dood opgewek en die koninkryk van God het daardie dag vir haar pa en ma ’n tasbare werklikheid geword. Dieselfde was die geval met die hoofman wie se dienskneg genees is. En met Maria uit wie sewe duiwels gegaan het. En met die vrou wat van die bloedvloeiing genees is. En van die melaatses wat genees was en van die blindes wat weer kon sien. En van die man by die bad van Bethesda wie na agt en dertig jaar weer kon loop.

Dieselfde is steeds waar vandag. Elke keer wanneer jy vir iemand wat siek is; bid en hulle word gesond, dan kom die koninkryk van God vir hulle naby. Elke keer as daar ’n nood is en God voorsien, het Sy koninkryk naby gekom. Elke keer wanneer iemand van demoniese verdrukking bevry word, het Sy koninkryk naby gekom.

En ek het geleer dat DIT God se hart is. Hy stuur nie virusse om duisende mense dood te maak sodat Hy hulle kan straf nie. Nee, Hy stuur eerder Sy enigste Seun om vir die mensdom te sterwe sodat hulle kan lewe. Daarom probeer ek om nie meer my eie agendas te volg nie. Ek probeer eerder om te onthou dat ek, soos Jesus, op ’n missie is. Een om Sy koninkryk naby te laat kom vir die mens. Daarom het ek vrymoedigheid om vir jou vandag te vra: Ek weet hoekom ek, op hierdie Palm Sondag, my palmtak swaai. En jy?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.