Het jy al ooit gesit en dink, ‘daar moet meer wees in die lewe as die lewe wat ek ken?’, ‘n dieper wete na die sin van die lewe, om te behoort en om ’n doel te hê waarvoor jy gebore is? Dit is heel waarskynlik ’n aanduiding dat daar ’n geestelike bewuswording by jou ontstaan het. Wat beteken dit om geestelik bewus te wees? Woorde kan verskillende dinge vir verskillende mense beteken. Die idee om ‘bewus’ te wees, kan uiteenlopende standpunte by verskillende mense regoor die wêreld opwek. Vir ’n sekere persoon kan dit impliseer dat hy of sy bewus is van iets voor die hand liggend, soos dat daar baie verkeer op die snelweg is of dat daar ‘n storm is wat onstaan. Vir iemand anders is daar ‘n groter roeping van êrens buite sy of haar alledaagse lewe. So ’n persoon raak bewus van die moontlikheid dat hulle bedoel is vir meer as die 9-tot-5 alledaagse lewenstyl waaraan hulle gewoond geraak het. Hulle voel gedring om na iets meer sinvol te strewe as geld of reputasie. Hulle kan hoor hoedat hulle siel roep om ‘huis toe te kom’ en kontak te maak met met God.

 By wedergebore kinders van God sal so ’n bewuswording ’n verlange insluit om God meer en beter te ken of om ‘dieper te gaan’ by ’n gebrek aan ’n beter beskrywing.  So ’n geestelike bewuswording is noodsaaklik vir jou geestelike ontwikkeling en is ’n goeie ding.

Daardie wete dring ons soms om vreemde besluite te neem en daardie eerste besluit neem ons gewoonlik op ’n reis. Ons Skriflesing vir vandag handel oor iemand wat toe op so ’n reis gegaan het:

Luk 15:11-24  ‘n Man het twee seuns gehad.  (12)  En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel.  (13)  En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ‘n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe.  (14)  En toe hy alles deurgebring het, kom daar ‘n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly.  (15)  Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas.  (16)  En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie.  (17)  Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger!  (18)  Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u,  (19)  en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.  (20)  En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.  (21)  En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.  (22)  Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ‘n ring vir sy hand en skoene vir sy voete.  (23)  En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees.  (24)  Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind.

’n Soortgelyke iets, iets wat my gedring het om ook op ’n reis te gaan het my gebeur, jare gelede. Ons het in Kroonstad gebly en was in ‘n vervullende bediening by ‘n gemeente daar betrokke. Iemand het toe vir my die boek ‘Wild at heart’ van John Eldredge gegee om te lees. Daardie boek het met iets binne in my gepraat. Ek het die boek neergesit nadat ek dit klaar gelees het en gedink, ‘Daar moet iets meer wees in die lewe as die lewe wat ek ken.’ Hierdie gedagte het gegroei in my binneste totdat ek op die punt gekom het dat ek iets daaraan wou doen. Ek het dit toe nie geweet nie, maar ek was aan die begin van ‘n fase van geestelike bewuswording – my gees het verlang na iets waarmee my siel en vlees nie kon identifiseer nie.

Verlange en Spyt

Dit wat my siel ervaar het terwyl ek ‘Wild at heart’ gelees het, was ‘n bewuswording van verlange en is die eerste fase van geestelike bewuswording vir die kind van God. Die Verlore Seun het dit heel waarskynlik ook ervaar en dit is daarom dat hy op reis wou gaan. Dit is daardie gevoel dat daar meer in die lewe moet wees – ’n tipe void of ’n leemte in jou siel wat jy wil vul. Ons voel almal die verlange na liefde, sin en betekenis en dit is die soeke om hierdie basiese verlange te bevredig wat ons op ‘n reis stuur. Voordat ons God geken het, sou ons aanvanklik nie verstaan het dat God hierdie verlange aan ons gegee het nie, daarom probeer ons die verlange bevredig deur eerder van God af weg te hardloop as na Hom toe.

Ons is geneig om ons geestelike verlange na God na te streef – selfs lank voordat ons die Here geken het. Dit is hoekom so baie mense vasgevang raak in bewegings soos die New Age. As ons dit doen, vind ons onsself meer dikwels as nie – alleen, rigtingloos en verward. Na ’n paar jaar kyk jy met spyt terug oor wat jy gedoen het en wens dat jy weer kon begin. Dit is die tweede fase van geestelike bewuswording. Baie mense val vas en herhaal hierdie eerste twee bewuswordinge oor en oor: Jy besef dat daar meer in die lewe moet wees, gaan op ’n reis (sommige noem dit ‘jy herontdek jouself’), jy mis dit en is spyt oor jou besluit. In vers 14 – 17 lees ons hoedat die Verlore Seun ook spyt gekry het oor die besluit wat hy geneem het.

Anders as die Verlore Seun, val sommige van ons ongelukkig vas in ’n siklus van herhaling. Die herhaling van die eerste twee stappe word die spyt-siklus’ genoem – om te probeer om daardie leemte in jou siel buite ‘n verhouding met God, wat weer lei tot besluite en optrede wat net nog meer berou veroorsaak. Baie mense sit vir jare vasgekeer in die ‘spyt-siklus’ en ander ontsnap nooit daaraan nie. My vrou sal kan getuig hoevele kere ek al spyt gehad het oor my besluit om op sulke reise te gaan. Ek was vir baie jare vasgevang in die ‘spyt-siklus’ en dit het my verhoed om vorentoe te beweeg: my fokus was op my tekortkominge en behoeftes eerder as op my Vader wat in al my behoeftes voorsien.

Hulp

Nadat ons die ‘spyt-siklus’ herhaal het om hierdie verlange sonder God te probeer vervul, en telkens weer spyt is, besef en erken ons uiteindelik dat iets moet verander.  Ons kom aan die einde van onsself en sê: ‘Ek kan dit nie alleen doen nie.’ Ons kom tot ons sinne. Ons besef dat ons hulp nodig het en betree die derde fase van geestelike bewuswording. In verse 18-19 raak die Verlore Seun bewus van sy behoefte tot hulp.

Liefde en Lewe

In hierdie stadium kom ons tot die besef dat Jesus die Een is wat ons teruglei na God. Dit is die vierde fase in ons reis tot geestelike bewuswording. As ons na God terugkeer, word ons deur genade oorskadu. Ons ontdek ‘God is uiteindelik toe tog baie lief vir my!’ Daar is ongelukkig dikwels ‘n skaduwee van skaamte en skuldgevoelens wat ons volg sodat ons sukkel om te glo dat ons geliefd en aanvaar word net soos ons is. Jesus beskrywe hierdie fase pragtig in sy verhaal (verse 20 – 24).

Tydens die vyfde en finale fase ontdek ons dat ons deur die navolging van Jesus ‘lewe in oorvloed’ het. Die Nuwe Testament gebruik twee woorde vir lewe: bios en zoè. Bios verwys na chronologiese lewe: dae, maande en jare. Maar zoè het ‘n dieper betekenis. Dit verwys na die lewe soos dit waarlik bedoel was om geleef te word. Zoè is die ewige lewe. As Jesus sê dat Hy gekom het sodat ons “lewe en oorvloed kan hê”, gebruik hy die woord zoè. Terwyl ons hierdie laaste Bewuswording ervaar, besef ons: “Nou leef ons eers regtig!”

Engele rondom ons

Moontlik het jy jouself herken in die fases van geestelike bewuswording. Indien jy ook vasgevang is, net soos ek was, in die siklus van spyt; dan kan jy nou daaruit beweeg na die volgende fase. Geestelike bewuswording berei ons eers voor en lei ons dan in ’n nuwe wêreld in – ’n wêreld waar die bonatuurlike alledaags is. Wanneer ons geestelik bewus raak, is ons deurentyd bewus van ’n onsigbare wêreld wat terselfdertyd so werklik is as die fisiese wêreld rondom ons. Dit is die geestelike realm waar engele en God in beweeg en woon. Wanneer ons geestelik ingesteld is, sal ons maklik ervaar wanneer ons eie gees met ons praat of wanneer die Heilige Gees deur ons gees met ons praat. Ons sal deurentyd bewus daarvan dat ons nie alleen is nie, maar omring is deur ’n ‘wolk van getuies’ (Heb 12:1). Daardie bewussyn sal ons vanself daartoe beweeg om ons geestelike sintuie te begin gebruik en daardeur sal ons vir Jesus, die Heilige Gees en God makliker kan hoor en gehoorsaam.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.