Die Hertog van Wellington en Napoleon Bonaparte is albei in dieselfde jaar gebore, in 1769. Elk is op ‘n eiland gebore, elkeen het as jong seuns vaderloos grootgeword, elkeen het vier broers en drie susters gehad. Elkeen het die militêre skool in Frankryk op dieselfde tyd bygewoon. Albei het luitenant-kolonels geword binne ‘n dag van mekaar, elkeen het uitgeblink met Wiskunde, beide was groot soldate, en elkeen het groot leërs aangevoer. Albei word ook onthou vir wat gebeur het by die Slag van Waterloo, toe Napoleon Bonaparte se leër op 18 Junie 1815 verslaan is deur ’n koalisie van leërs wat gelei was deur die Hertog van Wellington.

Dit is lekker om na verhale van oorlog en glorie soos hierbo, te luister, maar dit is nie waaroor ek vandag wil praat nie. Ek wil vandag praat oor die ander kant van soldaat wees. Oud-soldate vertel met deernis aan hulle kinders en gesinne van ‘bootse boun’ (stewels blink maak), beddens stryk en ‘square’ totdat hulle so vierkantig soos ’n vuurhoutjieboks was en die korporaals se pittige sêgoed. Ons breins is ongelukkig geneig om die goeie te onthou en om slegte te vergeet.

Diegene wat gedien het in enige uniform mag, sal miskien vandag die verveling onthou wat met soldaatwees gepaardgaan. Om soldaat te wees, moes jy soms nie net vir ure nie, maar vir dae, weke, ja selfs maande op een plek bly en wag. Die verveling van die gewag het naderhand vir almal gevang. In die begin was die seksieleiers nog paraat en almal moes elke dag inspeksie staan en dril, maar hoe meer tyd daar verloop het, hoe meer laks (ons het gesê ‘NAFI’ in army taal) het hulle en die manskappe geword. Roetine take moes daagliks tot vervelens toe uitgevoer word. Almal het gesoek na iets anders om te doen as net die ou gewone. Dit was in hierdie tyd, wanneer daar vir lang tydperke niks gebeur het nie, dat die goeie seksieleiers hulle troepe paraat bly hou het. Drils is oor en oor ingeoefen totdat jy dit letterlik in jou slaap kon uitvoer. Wanneer die tyd vir oorlog dan gekom het, het diegene wat slap gelê het in die goeie tye, nie goed gevaar nie, maar diegene wat paraat gebly het, het goed bly funksioneer onder druk.

Ons Christelike lewe het, net soos wat daar baie ooreenkomste was tussen die Hertog van Wellington en Napoleon Bonaparte, ook baie ooreenkomste met die lewe van ’n soldaat. Daar is nie elke dag die opwinding van ’n wonderwerk of bonatuurlike genesing nie. Die grootste deel van die kind van God se lewe bestaan ook daaruit om daaglikse roetine take uit te voer. Ons kan, net soos soldate, kies om daardie take halfhartig uit te voer of om dit met uitnemendheid te bly doen.

Ons teksvers vir vandag is uit

Gal 6:9-10  En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.  (10)  Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.

Die ergste vyand van entoesiasme is tyd. Die mens het ‘n merkwaardige kapasiteit om gou moeg te word vir wonderlike dinge. Byna elke een van ons kan dink aan iets waaroor jy onlangs entoesiasties was, maar nou het die vreugde vervaag: Op die eerste dag van jou vakansie by die see was die sonsondergang asemrowend en het dit jou so gelukkig gemaak dat jy kon sing. Teen die einde van jou verblyf het jy dit egter skaars meer opgemerk. Vakansiegangers raak moeg vir sonsondergange, miljoenêrs raak moeg vir geld, kinders raak moeg vir speelgoed, en Christene raak moeg om goed te doen. Aan die begin het jy maklik die Bybel gelees en gebid en jy het dit geniet om te help by die kerk. Nou het die vreugde egter vervaag en dit het ’n sleurwerk geword.

Ek deel graag vandag ’n paar gedagtes hieroor:

Ons roeping

Ek het grootgeword met die gedagte dat sommige beroepe nie sommer net ’n werk is nie. Die grootmense het gesê ‘dit is ’n roeping’. ’n Meneer of Juffrou was so. En ’n Doeminie. Oupa het gesê dit is omdat die Here hulle spesiaal geroep het om daardie werk te doen. Soos met Samuel en Eli, jy weet. Daardie gedagte het in my kop vasgesteek en ek het dit onthou. Hier in vers 9 van ons teks vir vandag roep Paulus ons: “laat ons nie moeg word om goed te doen nie… “. Paulus praat met ons oor ons Christelike roeping. As Christene, wat is ons roeping? Waarvoor het die Here ons spesiaal geroep? Dit is “om goed te doen”. Elkeen van ons word geroep om goed te doen. Dit is waar die Christelike lewe alles oor gaan. Ons as Christene is nie net gelowiges nie; ons is ook doeners. Jakobus sê dit mooi in

Jak 1:22  En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.

Ons is nie net geroep tot geloof nie maar ons is ook geroep om die werke van God te doen.

Dit is duidelik uit die Bybel dat God van al sy mense verwag om goed te doen. Moenie vergeet nie, in ons teks is Paulus skryf aan die al die verskillende kerke in streek van Galásië. Dit beteken dat hy skryf aan mans en vroue, soldate en private persone, jong werkendes en kinders, leiers en volgelinge, onderwysers en studente. Aan al hierdie gemeentelede sê hy, “laat ons nie moeg word om goed te doen nie … ” Van elke kerklid word verwag om goed te doen.

Dade van Liefdadigheid

Die eerste dade van ‘goed doen’, is dade van welsyn. Jakobus leer vir ons in

Jak 2:15-18  As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het,  (16)  en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit?  (17)  Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.  (18)  Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.

Toe Moses die Wet geleer het aan die Israeliete, het hy oor die saak van welsyn vir hulle geleer:

Deu 15:7-8  As daar by jou ‘n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou land wat die HERE jou God jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie.  (8)  Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.

En dan in vers 10:

Deu 15:10  Jy moet aan hom gewillig gee, en jou hart moet nie bedroef wees as jy aan hom gee nie; want ter wille hiervan sal die HERE jou God jou seën in al jou werk en in alles waar jy jou hand aan slaan.

Om goed te doen aan andere, is om die visie van Christus uit te leef. Hy het oral waar Hy gegaan het, goedgedoen aan andere.

Laat die Koninkryk kom

Goed doen, is egter nie net beperk tot dade van liefdadigheid nie. Jesus het vir ons in die “Onse Vader” geleer om te bid, “Laat U Koninkryk kom”. Later sê Hy weer, in

Mat 6:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Ons het gekondisioneer geraak dat, om goed te doen – ons iemand met fisiese hulp moet help. Tog sê die Bybel nie dat Jesus geloop en geld uitdeel het sovêr as wat Hy gegaan het nie. Hy het die koninkryk van God op ’n ander manier laat kom. Wat was daardie manier? Ek glo dat Jesus die gawes en talente wat God aan Hom gegee het, gebruik het om andere se lewens radikaal te beïnvloed. En ek kan nie help om te onthou dat Jesus gesê het,

Joh 14:12  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.

Wat is dan die goed wat Jesus gedoen het? Ons lees daarvan in

Hand 10:38  Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.

Het jy geweet dat God ook vir jou gawes gegee het waarmee jy goed kan doen? Sommiges het administratiewe gawes gekry en andere weer, gawes van wysheid of behendigheid met hulle hande. Andere kan mense bemoedig wat deur swaar tye gaan en andere weer kan vir mense bid wat siek is, sodat hulle genees. Die goeie nuus is dat elkeen van ons sulke gawes ontvang het wat hulle kan gebruik om goed te doen. Die geheim is dat jy dit moet uitvind en dan jy dit daarna moet ontwikkel. Hoe meer jy dit gebruik, hoe sterker word dit in jou lewe. Wanneer jy sterk begin word in die gawes wat God aan jou gegee het, dan sal jy vind dat dit vir jou maklik en lekker is om die Koninkryk van God vir andere te laat kom.

Laat ons nie moeg word nie

Paulus begin sy teks met ’n waarskuwing: Laat ons nie moeg word nie. Wie van julle het al ’n fisiese sport soos atletiek of rugby of boks beoefen? Weet jy dat fiksheid van primêre belang is as jy wil goed vaar in sport? Fiksheid beteken gewoon om jou liggaam te ontwikkel totdat hy die uithouvermoë het om te bly presteer vir solank as wat dit nodig is. Boksers sal jou ook kan vertel dat jy nogal gou moeg kan raak om die heeltyd te slaan en te slaan. Jou arms word lam en jou hou verloor krag en fokus. Jy moet jouself leer totdat jy kan aanhou en aanhou, soos ’n masjien – totdat jy oorwin het.

Ons teksvers lees En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Daar is ’n regte tyd wanneer jy die soet smaak van oorwinning kan proe. In ’n boksgeveg is dit wanneer jy jou opponent uitklop of wanneer die laaste rondte se klok lui en jy met punte wen. In atletiek is dit wanneer jy oor die wenstreep gaan. In rugby of sokker is dit wanneer die eindfluitjie geblaas is. Paulus waarsku en bemoedig ons vandag: Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai. Dit is sport taal daardie. Dit is ’n atleet wat so praat.

‘Never give up’

Ek sluit af met ’n staaltjie oor Sir Winston Churchill. In Junie 1955 was hy (toe al naby die einde van sy lewe), gevra om die openingstoespraak te gee by ‘n Britse Universiteit. Op hierdie tydstip was hy fisiek al onvas; hy moes gehelp word tot by die podium. Daar het hy toe lank by die podium gestaan vir wat soos ’n ewigheid gevoel het. Toe het die stem wat jare gelede vir Brittanje terug geroep van die rand van vernietiging oplaas vir die laaste keer in die geskiedenis geklink: “Never give up. Never give up. Never give up.” Daarmee het Churchill omgedraai en teruggegaan na sy sitplek.

Daar was eers ’n stilte en toe, soos een man, het die hele gehoor opgestaan en aan hom applous gegee. Hulle het opgestaan om hom te eer, want hier was ‘n man wie se lewe en woorde een was. Gedurende die donkerste dae van die tweede Wêreldoorlog toe die land byna oorgeneem was deur die Nazi’s, toe Duitse vliegtuie die Engelse stede in hope rommel verander het en selfs die gehardste siele hoop opgegee het, het Churchill nooit hoop verloor en nooit moed opgegee nie . Ook later, in sy politieke loopbaan, het Churchill terugslae geken. Drie keer was hy gestuur na die vergetelheid, en drie keer het hy teruggekom om sy land te lei. Hier was ‘n man wat nooit moed opgegee het nie.

“Never give up. Never give up. Never give up!”

Dit is uitstekende raad vir politici en soldate, vir studente met eksamens en vraestelle, vir atlete in kompetisie, vir ouers wat wanhoop oor hul kinders, vir getroude paartjies wat wonder of hulle moet skei, vir diegene wat hoop verloor het met die dood van ‘n geliefde. Aan al hierdie mense wil ek sê, “Never give up. Never give up. Never give up!”

Dit is veral ook uitstekende raad vir ons wat die Here dien. In die diens van die Here, is dit altyd te gou om op te hou. In die Here se diens, dit is nooit tyd om ons pogings te verflou nie. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie: nie net met fisiese ondersteuning nie, maar ook met ons gawes. “Never give up. Never give up. Never give up!”

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.