Gedurende die Spaanse oorlog was President Rooseveldt, toe ‘n kolonel, in bevel van ‘n regiment soldate in Kuba. Hy het vir sy manskappe omgegee en was baie bekommerd toe ‘n aantal van hulle siek geword het. Toe hy gehoor het dat ’n sekere verpleegster ’n aantal medikasie ontvang het vir die gestremdes onder haar sorg, het hy haar versoek om ‘n gedeelte daarvan aan hom te verkoop vir die siek manne van sy regiment. Sy versoek was egter geweier. Die kolonel was baie ontsteld; hy het vir sy manskappe omgegee en was gewillig om uit sy eie sak te betaal vir die voorrade. “Hoe kan ek hierdie voorraad verkry?” het hy gevra. “Ek moet behoorlike medikasie vir my siek manskappe bekom.” “Vra net vir dit, kolonel.” het sy geantwoord. “O!” het Rooseveldt geantwoord en sy gesig het in ‘n glimlag uitgebreek. “Is dit hoe dit gedoen word? Dan vra ek vir dit.” En hy het alles op een slag gekry.
Hoe dikwels is ons nie geneig om die kolonel se fout te herhaal in verband met ons geloof nie. Ons is geneig om iets te verwag om dit te ontvang in ruil vir iets wat ons kan bied. Een bring in ‘n alle erns gebed; ‘n tweede bring ‘n belofte om ’n nuwe bladsy om te slaan; ‘n derde bring ‘n innerlike voorneme om ‘n beter en reiner lewe te leef; en ‘n vierde verbeel hom dat hy God se gawes deur godsdienstige rites kan verkry. Die waarheid is dat God se gawes aan die mens nie verdien kan word nie. Ons bekyk vandag van nader die Skrifgedeelte in

Jak 1:17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.

Geskenke en Gawes

Geskenke

‘n Geskenk is iets wat die gedagtes van die gewer en sy liefde uitdruk terwyl dit terselfdertyd vreugde bring aan die ontvanger daarvan. Wat is dan “‘n goeie gif of geskenk”? Dit is iets wat vir die gewer aan hierdie twee voorwaardes voldoen. Wat is “‘n perfekte gawe”? Dit is iets wat vir die gewer sowel as die ontvanger voldoen aan die twee voorwaardes. Alles wat ons het in die wêreld — van die kleinste grashalm of sonstraal —van die gedagtes wat ons dink tot natuurlike talente— alles wat ons raak, of voel, of sien, of hoor, alles is ‘n geskenk. Ons het dit nie gemaak nie; ons het dit nie gekoop nie en ons het dit nie verdien nie. Dit is God wat dit gegee het. Hy gee dit liefdevol uit sy eie vrye wil en Hy gee dit met die bedoeling om vreugde aan ons te bring.

Byna elkeen van ons het ‘n leemte in ons binneste wat uitroep om gevul te word – gevul met opregte, onvoorwaardelike, goddelike liefde. Dit is nie die dinge wat na jou toe kom vanuit die wêreld wat die leemte binne jou sal vul nie, maar die dinge wat na jou toe kom uit die hemel. Mens kan nie maklik enige geskenk wat na jou kom van ander mense “’n goeie geskenk” noem nie, want dit is vermeng met die boosheid in hierdie wêreld. Die meeste mense gee geskenke met wat ek noem ‘ ‘n haak’ – Die haak is dat jy gee met die verwagting om iets terug te ontvang. Die onvolmaaktheid van wêreldse geskenke bederf, soos die wurm in die appel, die skoonheid en die soetheid van dit. Dit is oor die dinge wat van die wêreld kom dat mense altyd baklei; oor hulle grond of rykdom of huise of besittings. Sulke sogenaamde geskenke is dikwels die oorsake van die afguns en gierigheid wat die lewe so ongelukkig maak. Ek dink byvoorbeeld aan iemand wat aan sy vriend of geliefde ’n duur geskenk soos ’n motor of ring gee, maar dit dan wil terughê wanneer die verhouding versuur of hulle nie kry wat hulle verwag het nie.
Die geskenke wat van Bo kom daarenteen, versoet en veredel die lewe, dit versoen en verenig mense met mekaar en dit maak ons een familie.

Gawes

Gawes word met dieselfde oogmerk as geskenke gegee. Ek glo nietemin dat waar gifte of geskenke meer aards of fisies van aard blyk te wees, dat gawes meer geestelik van aard blyk te wees. Die gawes van die Vader, wat soms die motiverende gawes genoem word, is gelys in Rom 12. Dit is profesie, diensbaarheid, onderrig, vermaning, gewers, leierskap, en barmhartigheid.

Rom 12:6-8 En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: (7) is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; (8) of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie ‘’n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.

Hierdie geskenke is ingeweef in elke mens alreeds in die baarmoeder as deel van sy/haar menswees. Elke persoon het een of meer van hierdie gawes as ‘n fundamentele deel van sy/haar motivering ontvang.

Die Vader van Ligte

God het ’n besondere titel waarna na Hom verwys word in ons teksvers. Dit is ‘die Vader van Ligte’. Sommie Joodse uitlegte beskou “ligte ” ook as geeste, soos engele. In hierdie konteks kan God se ‘Ruach’ of asem ook gesien word as “wind ” of “vlamme wat ronddans” soos met die Pinkster:

Hand 2:2-3 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. (3) Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.

In hierdie konteks is God dan die “Vader van Ligte” – die Skepper of Oorsprong van alles wat sienlik sowel as onsienlik is.

Lig is nie net lig soos wat ons dit met ons oë waarneem nie. Sigbare lig vorm deel van die Elektromagnetiese Spektrum. Die EM spektrum is tipies verdeel in sewe areas: radiogolwe, mikrogolwe, infrarooi lig (IR), sigbare lig, ultraviolet (UV), X-strale en gamma-strale. Sigbare lig val tussen infrarooi (IR) en ultraviolet (UV). Buiten vir sigbare lig, is daar nog ses ander realms van lig rondom ons waarbinne totaal ander wêrelde waargeneem kan word. Sommige diere kan infrarooi lig goed waarneem maar net die ‘onderste gedeelte’ van sigbare lig, terwyl ander weer die ‘boonste deel’ van sigbare lig maar ultraviolet lig beter kan waarneem. Die lig wat die meeste mense met hulle blote oog kan waarneem, vorm slegs maar ’n klein gedeelte van die Elektromagnetiese Spektrum. God is dus nie net die Vader of Skepper van lig – sigbare lig nie, maar Hy is die ‘Vader van Ligte’ – die Oorsprong en Skepper van die totale Elektromagnetiese Spektrum. Dawid was dus heeltemal korrek toe hy in die Psalms geskrywe het

Ps 139:11-12 En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, (12) dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.

Nie net het hy die hemelse ligte geskep nie, maar Hy is die Here van fisiese lig sowel as van intellektuele lig en morele lig.

God is onveranderlik

Heb 13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Daar is baie Christene wat dink soos jong matrose dat die kus en die land beweeg, wanneer dit eintlik net die skip en hulle self is wat beweeg. Net so dink hulle dat God beweeg en verander, omdat hulle eie siele onderhewig aan verandering. God kan nie verander nie, omdat slegs standvastigheid, veranderlikes kan skep. Omdat God nie verander nie, is daar ook geen skaduwee wat saam met Hom beweeg nie. Hy is nie soos die son, die maan of die sterre wat soms verskyn en skyn, maar op ander tye bedek is met duisternis nie. Daar is nie ’n eerste kwartier of laaste kwartier van lig by God nie, ook nie iets soos ’n donkermaan nie. Hy is nie nou goed, en môre ‘grumpy’ nie, want Hy is altyd Lig, en by Hom is geen duisternis nie.
Daar is twee feite vir ons om hier na op te let; die eerste feit is dat hierdie wêreld en alles wat daarin is, verander. Die tweede is dat die God wat ons gemaak het, en van wie elke goeie gawe kom, onveranderlik is. Die aarde en die geskiedenis van sy mense sal altyd verander. Het jy al ooit teruggekeer na ’n plek na ‘n afwesigheid van baie jare? Almal en alles het verander. Die plek, eens so bekend, lyk nou vreemd en anders. Ja, die boom lewe nog, maar die hand wat dit geplant het, is lankal weg. Een groot rede waarom ons lewens is so vol van verandering is, is dat ons kan leer dat hierdie lewe op aarde nie ons rus is nie. Die gawe van geloof, die gawe van hoop, en van die ewige lewe — hierdie dinge verander nie; maar die gawes van die wêreld, die grootheid van die wêreld, sal verbygaan.

Samuel Hebich en die Britse Offisier

Ek sluit graag af met hierdie ware verhaal oor die sendeling Samuel Hebich, wie se arbeid grootliks geseën was in Indië. Sy sendingveld was die “wit heidene”, soos hy die Britse soldate genoem het. Hy het baie tyd spandeer by die garrisoene en baie Britse offisiere en soldate is na die Here gelei deur sy bediening. Die verhaal word vertel van die bekering van ‘n offisier in Madras. Na ‘n paar buitengewoon warm dae in Madras, het daar eendag ‘n offisier tydens die warmste ure in sy kamer gelê en ‘n sigaret gerook toe hy voetstappe op die veranda gehoor het. Dit was Samuel Hebich.
Die offisier het skaam gevoel maar Samuel Hebich het hom gerusgestel en hulle het gaan sit. Na ‘n kort stilte het hy gesê, “kry die Boek. ‘ Hy het dadelik geweet watter boek bedoel was en die Bybel geneem wat hy homself nooit gelees het nie, alhoewel hy ‘n kopie besit het. ‘Open de fierst shapter van Shenesis en read’, sê Hebich. Die offisier het gehoorsaam en gelees: ‘…In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was sonder vorm en leeg; en duisternis was op die aangesig van die dieptes.’ “Dit sal doen! Maak toe die Boek. Laat ons bid!” het Hebich met sy swaar aksent gesê. Hulle het toe gekniel en Hebich gebid. Daarna het die vreemde besoeker gebuig en gegroet voor hy die vertrek verlaat het.
Die volgende dag het die offisier in sy groot leunstoel gerus soos op die vorige dag, maar met ‘n onrus binne hom. Weereens was daar die geluid van voetspore en Hebich het verskyn. Weereens — ‘Kry die boek’; en weer ‘open de fierst shapter de boek van Shenesis en read.’ Weer het die offisier gelees, ‘en die Gees van God het op die aangesig van die waters geswewe’. “Dat vill do”, het Hebich gesê. “Laat ons bid.” Hierdie keer het die offisier na die gebed geluister — so ‘n gebed soos hy nog nooit tevore gehoor het nie. Hebich het gepraat soos met ‘n intieme vriend, vir God vertel van die jong offisier, en gepleit om aan hom te openbaar sy behoefte aan redding sodat hy kan vlug na die oop arms van die Verlosser. Weereens het hy hom verlaat soos op die vorige dag.
Die volgende dag op dieselfde uur het hy weer die voetspore gehoor. Sy Bybel het hierdie keer voor hom oopgelê. Hy het opgestaan om Hebich te ontmoet en het sy hand geskud. “O, Mnr. Hebich,” het hy gesê, ‘dit is alles nou vir my duidelik. Wat moet ek doen?’
Met ’n kyk van goddelike liefde, het Hebich die volgende vers opgesê: “en God het gesê, laat daar lig wees, en daar was lig. Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word.” Hulle het saam gekniel, die lig het geskyn in die offisier se hart, en hy het gebid uit sy hart, sonder ‘n boek, vir die eerste keer in sy lewe.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.