Ek wil vandag graag gesels oor Getsemane. Het jy dalk al gewonder wat die woord ‘Getsemane’ beteken? Die tuin van Getsemane is nie regtig ‘n tuin nie, maar ‘n boord. Dit was omring deur ’n muur sodat dit amper soos ’n park was en geleë op die Olyfberg. Die Kidron spruit het saggies daar verby gekabbel. Olyfbome groei steeds daar vandag. Gedurende Jesus se tyd was dit ook ‘n plek van besigheid, ‘n Olyfpers daar het die plaaslike gebiede van olyfolie voorsien. Dit is dan ook waar die woord ‘Getsemane’ vandaan kom. ‘n ‘Geth’ in Hebreeus is ‘n pers – ’n groot 1,5m hoë vierkantige klip pilaar, en ‘shemen’, is olie – Get-semane is dus ‘n ‘drukpers vir olie’. Op die aand voor Sy kruisiging het Jesus saam met Petrus, Jakobus, en Johannes, na die Boord van die Olyfpers gegaan om te bid.
As jy in die eerste eeu geleef en gewerk het by so ‘n getsemane sou jou dag bestee word daaraan om olywe in ‘n geweefde net (amper soos ’n visnet) op die blad van ‘n groot klip tafel te plaas. Die spesiaal ontwerpte tafel was rond en het gekurf na ‘n trog waar ‘n pot was wat die olie opgevang het. Die swaar vierkantige klippilaar is bo-op die sak met olywe laat sak en vir ‘n paar uur was sy geweldige gewig daar gelaat om die vloeistof uit die olywe te druk.
Dit was nie toeval dat Jesus Sy laaste aand spandeer het in die tuin van Getsemane nie. Van daar sou Hy geneem word om gekruisig te word en sodoende die gewig van die wêreld te dra. Dit was Sy getsemane van ons sondes, Sy bloed wat soos olie uit Sy gekneusde liggaam afgeloop het na die wêreld daaronder. Lukas beskryf die druk waaronder Jesus daardie aand was dat “sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val .”
Getsemane het sedertdien die simbool van lyding geword. Die wêreld het oorvol geword met getsemanes. Selfs hier in ons eie land is daar byna onuitspreekbare wreedhede wat byna daagliks plaasvind. Die wêreld is vol getsemanes – tye wanneer en waar hele dorpe of stede en die onskuldiges gely het.
In die aangesig van soveel lyding vra ons onwillekeurig vrae en ons draai ons gesigte na die Boord van die Olyfpers en die nabye Golgota. Ek deel graag die volgende gedagtes hieroor:

Getsemane bring fokus

Soms voel mens alleen in jou swaarkry. Jy wens iemand wil net ’n entjie in jou skoene stap sodat hulle ’n idee kan kry waardeur jy moet gaan. Swaarkry en lyding is egter deel van hierdie wêreld. Oswald Chambers het gesê dat Lyding die erfdeel is van die slegte, die berouvolle, en selfs van die Seun van God. Elkeen van hulle eindig op die kruis. Die slegte dief is gekruisig, die berouvolle dief is gekruisig, en die Seun van God is gekruisig. Deur hierdie tekens leer ons dat lyding van ons almal deel is. Nou is jou eerste vraag, ‘hoekom?’. Die doel van vandag se woord is nie om die sondeval te bespreek, waardeur sonde en lyding in die wêreld ingekom het nie. Helen Keller het gesê, “Although the world is full of suffering, it is also full of the overcoming of it.” Nou is die vraag weer, ‘hoekom?’. Ek glo dat ons ’n deel van daardie antwoord kan vind in
2 Pet 1:6 en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug

Die Griekse woord vir lydsaamheid wat Petrus hier gebruik, is ‘hupomonè’, wat vertaal kan word as ‘geduldige lyding met ’n hoopvolle verwagting’. Petrus sluit daarby aan deur te sê dat hierdie lydsaamheid, hierdie ‘geduldige lyding met ’n hoopvolle verwagting’ lei tot die godsvrug. Om dit beter te verstaan, is dit ook nodig om te kyk na die betekenis van die woord ‘godsvrug’ – wat vertaal kan word as ‘vroomheid, goddelikheid en heiligheid’. Petrus leer hier vir ons dat ‘geduldige lyding met ’n hoopvolle verwagting, lei tot goddelikheid en heiligheid. Uit Petrus se vermaning kry ons dus ’n belangrike leidraad oor lydsaamheid en swaarkry: dit help ons om elke las af te lê en ook die sonde wat ons so maklik omring, sodat ons met volharding die wedloop kan loop wat voor ons lê (Heb. 12:1) – m.a.w. lyding bring fokus. Somerset Maugham, die Engelse skrywer, het eenkeer ‘n storie geskryf oor ‘n opsigter by die St. Peter katedraal in Londen. Eendag het ‘n jong priester daar ontdek dat die opsigter ongeletterd was en hom afgedank. Werkloos en sonder die vooruitsig van ’n ander werk, het die man sy laaste bietjie spaargeld belê in ‘n klein tabak winkel. Hy was voorspoedig en kort voor lank kon hy ‘n ander koop. So kon hy uitbrei totdat hy geëindig het met ‘n ketting van tabak winkels wat verskeie honderd duisende pond werd was. Een dag het die man se bankier gesê, “Jy het goed gedoen vir ‘n ongeletterde, maar dink net waar sou jy gewees het as jy kon lees en skryf? “. “Wel,” het die man geantwoord, “ek sou die opsigter gewees het van die St. Peter katedraal in London.” Daardie opsigter se lyding en oënskynlike hopelose situasie, het hom laat fokus sodat hy die beste kon bereik het wat hy kon wees.

Die meeste van die Psalms is in tye van lyding geskrywe. Die meeste van die sendbriewe in die Nuwe Testament is uit gevangenisse geskryf. Die meeste van die grootste gedagtes van die grootste denkers van alle tye het in die Olyfpers van lyding begin. Bunyan het ‘The Piglrim’s Progess’ in ’n tronk geskryf. Florence Nagingale, te siek om te beweeg uit haar bed, het die hospitale van Engeland herorganiseer. Half verlam en onder die konstante bedreiging van bloeding op die brein, was Pasteur onvermoeid in sy aanval op kieme en bakterieë. Soms lyk dit dat wanneer God iemand voortreflik wil gebruik, dan sit Hy hom deur die Olyfpers.
In Getsemane het Jesus gefokus om die beste te word wat Hy kon wees. God wou Hom voortreflik gebruik; en Hy moes deur die Olyfpers gaan sodat die wêreld daarbuite gered kon word.

Getsemane leer ons bid

Toe Jesus na die tuin van Getsemane gegaan het, het hy vir een rede gegaan – om te bid. “Wat slaap julle?” het Jesus sy dissipels gevra. “Staan op en bid!” (Luk. 22:46) Gebed berei die siel voor vir lyding. Jesus het verstaan wat voorlê en Hy het geweet dat gebed die enigste manier was om Hom en Sy dissipels voor te berei.
Gebed doen twee dinge vir ons. Dit help ons eerstens om swaarkry te hanteer. Daar is die verhaal oor ‘n sendeling familie in Pakistan wat hul 6-maande-oue baba verloor het. Hulle was byna ontroosbaar in hulle hartseer en smart. ‘n Wyse man in die omgewing het gehoor van hul hartseer en gekom om hulle te bemoedig. Hy het gesê, “‘n Tragedie soos hierdie is soos om in kookwater gedompel te word. As jy ‘n eier is, sal jou ellende maak dat jy hard gekook word en sal jy ook so reageer. As jy egter ‘n aartappel is, sal jy uit die water kom sag en soepel, veerkragtig en aanpasbaar.

Gebed help ons om swaarkry te hanteer maar hier is die tweede ding: Dit lei ons weg van versoeking. Let daarop dat Jesus Sy dissipels in Getsemane beveel het: “Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie”. Dit is vreemd. Mens sou verwag dat Jesus sou sê, ‘Bid dat jy in staat is om die swaarkry wat kom, te verduur’. Swaarkry bring egter versoeking: versoeking om ons beginsels te kompromiteer, versoeking om gemak bo teenspoed te stel, versoeking om ons geloof in God te verloën. Petrus, Jakobus en Johannes het hierdie les vinnig geleer toe hulle ontken het dat hulle Jesus geken het. Hulle het daarna die toneel van hulle verraad vinnig verlaat, bang vir hul eie lewens. Hulle het nie verstaan wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat hulle moet bid sodat hulle nie in die versoeking moet kom nie. Gebed help ons om die lewe se swaarkry te hanteer en dit hou ons weg van versoeking. Dit bring ons ook nader aan God.

Toe Jesus in Sy Getsemane was, het Hy gegaan om te bid, sodat Hy staande kon bly en nie in die versoeking kom nie. Wanneer ons deur swaarkry, lyding of tragedie oorval, dan is ons eie tuin van Getsemane die plek om na God vir krag te draai, sodat ons kan bly staan en nie in die versoeking kom nie.

Lyding is gewoonlik gemeenskaplik

Iemand het gesê dat die kerk nie bedoel is om ‘n ‘Vereniging van Lone Rangers’ te wees nie. Paulus het hierdie tipe denke gekonfronteer toe hy geskrywe het, “dra mekaar se laste, en vervul so die Wet van Christus” (Gal 6:2). Die kerk is veronderstel om ‘n toevlug vir lydendes te wees. Wanneer ‘n lid seer het, gee die kerk die verbande; wanneer ‘n lid af voel, bemoedig die kerk; wanneer ‘n lid in nood is, kom die kerk saam om te help. Wie is die kerk? Dit is ek en jy.
Ons lees in 1 Kor 12:26 “…as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”
Die hand en die voet staan natuurlik in hulle afhanklikheid van mekaar; maar dieselfde interafhanklikheid dui ook op die meer swakker en nederiger dele van ons liggaam. Inderdaad, wil-wil voorkom asof ons meer oorvloedige eer skenk aan ons minder goeie dele deur hulle te bedek met klere of ornamente – dink maar aan oorbelle, neusringe, die selluliet op jou bobene of daai boep op jou magie. Op hierdie manier word die minder belangrike dele van liggame gelykgestel aan ons mooier dele. Paulus se doel met hierdie gedeelte is om op die interafhanklikheid van gelowiges te fokus. Een gee aan ’n ander waar hulle ‘n tekort het, en so hy help elkeen die ander op sy beurt.

Wat moet ons doen?

Op 15 Februarie 1947 het Glenn Chambers op ’n vliegtuig geklim na Quito in Ecuador as ‘n sendeling. Hy het egter nooit sy betemming bereik nie – die vliegtuig het op ’n bergpiek neergestort. Later het dit aan die lig gekom dat hy, voor sy vertrek van die Miami lughawe, ’n dringende gevoel gehad het om vir sy ma ‘n brief te skrywe. Al wat hy kon vind om op te skrywe was ‘n advertensie bladsy waarop die woord “WHY? ” in groot letters verskyn het. Rondom daardie woord het hy sy finale woorde aan haar haastig geskrywe en dit gepos. Kort nadat Chambers se moeder gehoor het van haar seun se dood, het sy brief aangekom. Toe sy die koevert oopgemaak het en die brief oopgevou het, was sy eerste ding wat sy gesien het, die woord “WHY?” Rondom daardie woord, was sy laaste woorde van liefde aan haar. Ons het hierdie boodskap begin met die woord hoekom of why; en ek glo dat ons dit moet eindig met dieselfde woorde van liefde as wat Chambers gebruik het teenoor sy moeder, wanneer ons gekonfronteer word met die woord “WHY?”

Ons kan so vasgevang word in ons eie lyding, dat ons begin om die lyding van die mense rondom ons, te vergeet. Getsemane het vir Jesus nie net oor Homself gegaan nie, maar ook oor diegene wat God aan Hom toevertrou het. In ons eie tuin van Getsemane moet ons ook onthou dat dit net oor ons gaan nie, maar ook ons mede broeders en susters in die verdrukking. Bid vir die families van almal wat onder die hande van terroriste en moordenaars die afgelope paar jaar gely het. Onthou die verskriklike plaasmoorde. Onthou die lyding van die Christene in Noord-Korea en China. Onthou die verskriklike angs en vrees van die Christene in ISIS beheerde gebiede. Onthou die angs van die jong skoolmeisies wat deur Boko Haram ontvoer is. Terrorisme gaan voort om ons wêreld te verskeur. Ek sal graag wil sien dat die kerk in elke land opstaan en ‘n leërmag van ‘prayer warriors’ begin om te bid vir die nederlaag van die heersers van die duisternis van hierdie eeu. Ook in jou eie tuin van Getsemane.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.