Wag is deel van ons lewens, maar ons is nie gemaklik om te wag nie. Die meeste van ons wil ‘n ding al gister gehad het ons het dit nodig het. Dit voel soms dat dit sinneloos is om te wag of dat ons belangrike geleenthede mag misloop terwyl ons wag. Wag is ook deel van ons voortgesette lewenswandel met Jesus. Dit is egter wanneer ons op die Here wag, dat God ons laat groei na dit wat Hy vir ons begeer. God gebruik daardie tyd om ons te leer om Hom te vertrou. Die storie van Bethany Hamilton illustreer dit vir my so mooi. Op dertienjarige ouderdom het Bethany by die eiland Hawaii branderplank gery toe sy deur ‘n tierhaai aangeval is. Die aanval het haar sonder haar linkerarm gelaat. Verwoes deur die tragedie, het Bethany gewonder of sy ooit weer sal kan branderplank ry. Sy het egter deurgedruk en uitgepluis oor wat om met haar lewe te doen terwyl sy op God wag. Sowat ‘n jaar ná haar ongeluk het Bethany by World Vision aangesluit en kort voor lank was sy op ’n vliegtuig na die tsunami-geteisterde Thailand, waar sy vir ’n week lank die mense van Thailand op verskillende maniere bedien het. Haar mees onvergeetlike oomblik was toe sy meer as vyftig kinders uit ’n klein dorpie gehelp het om hul vrees vir die see te oorkom deur hulle te leer branderplank ry. In 2011 het TriStar Pictures ‘n film vervaardig wat haar storie vertel. In die volgende toneel uit die film bedien Bethany in Thailand wanneer sy die kans kry om hoop vir ‘n klein seuntjie te herstel. Daardeur het sy op verskillende manier genesing vir haarself gevind:

Ons praat oor hoe om op die Here te wag, maar wat beteken dit om op die Here te wag? In die Skrif beteken die Hebreeus vir die woord ‘wag’, wanneer dit in die konteks gebruik word om die Here te wag –

  • Om gretig uit te kyk
  • Om te wag soos in ’n hinderlaag
  • om te verwag en te vertrou en…. hier volg die deel wat my geseën het:
  • om saam te bind – a.w. om jou verwagtinge saam te bind aan God se antwoord!

Om te hoop en te vertrou in die Here vereis egter geloof, geduld, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid en volharding tot die einde toe.

Dit is moeilik om te wag vir die Here om verligting te bring. Rus. Vrede. Vreugde. Almal van ons het iets wat ons op die Here voor wag om te doen. Sommige wag vir ’n lewensmaat. Andere wag weer om swanger te word, of om ‘n dwalende kind te red, of om ‘n eens pragtige, maar nou verbrokkelde verhouding te herstel. Ons weet dat God getrou is. Ons weet ook dat Hy goed is en lief is vir ons. Tog vind ons dit is so uiters moeilik om te wag vir die Here om op te tree. Gelukkig is die Skrif self ‘n verhaal van wag. Abraham het gewag vir ‘n seun, Josef het gewag vir verlossing. Dawid het gewag om koning te word, Israel het gewag vir ‘n Messias, en ons wag almal op die terugkeer van die Leeu van Juda. God se Woord het baie te sê oor hoe ons moet wag. ‘n Bybelse wag is nie passief nie, soos wanneer mens wag vir ‘n trein om te kom nie. Dit is ‘n aktiewe, aggressiewe soort wag. So, hoe wag ons vir die Here op ‘n manier wat Hom vereer, maar ons met hoop vul en ons krag gee om voort te gaan selfs wanneer ons voel dat ons in die donker is? Hier is vier maniere:

Ons wag in geloof

Daar is twee soorte wag. Die eerste tipe is ’n onseker, vreesvervulde wag. Ons is nie seker of God gaan deurkom nie, so asof Hy ‘n soort onbetroubare ouer is wat vergeet om sy kinders by die middagstudie op te tel.Ons hoop dat God ons sal red …… maar wat as Hy dit nie doen nie? Hierdie soort wag is onbevredigend en ’n oneer tot God.

Die tweede tipe wag is om te wag in sterk geloof. Ons het al die somme gedoen, die kanse bereken en ons kan net nie sien hoe God vir ons deur gaan kom nie. Nietemin vertrou ons Hom omdat ons Sy karakter ken. Ons weet dat Hy oneindig goed en liefdevol is, en dat Hy ons sal red, al is daardie verlossing nie die soort wat ons verwag het nie. Spreuke 3: 5-6 spreek dit duidelik uit:Vertrou op die Here met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Erken hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak. Wanneer ons lewens deurmekaar is, is een van ons grootste versoekings om op ons eie insig te steun. Om alles uit te probeer. Om elke scenario in ons koppe uit te speel en te bepaal watter een die mees waarskynlike is. Ons word amper soos geestelike weermanne, en probeer om te voorspel hoe God gaan help.

Ons menslike begrip is buitengewoon beperk, maar wanneer ons gelowig op die Here wag, wend ons ​​’n bewuste poging aan om ons eie verstand te verwerp. John Piper het gesê dat jy moontlik bewus mag wees van drie dinge wat God op die oomblik besig is om in jou lewe te doen, terwyl God in werklikheid met 10 000 dinge besig is.

Ons wag geduldig

Om op die Here te wag, vereis twee sleutelelemente: ‘n volle afhanklikheid van God en ‘n bereidwilligheid om Hom toe te laat om die terme te bepaal, insluitende die tydsberekening van Sy plan. Om God te vertrou met die tydsberekening van gebeure is sekerlik een van die moeilikste dinge om te doen. Die gebed van die ou wat bid, “Here, ek het geduld nodig, en ek het dit NOU nodig” is nie ver verwyder van hoe ons dikwels ons geestelike groei en die Here se wil benader nie. Om op die Here te wag, bou karakter in die lewe van die Christen deurdat dit geduld behels. Wag behels die verloop van tyd, wat self ook ‘n gawe van God is.

Jy het ‘n keuse. Jy kan met groot angs, vrees en frustrasie wag. Of jy kan geduldig wag. Ons almal het al in ’n dokter of tandarts se wagkamer gesit en wag waar daar ook jong kinders was. Daar is twee soorte ‘wagters’ in daardie wagkamer: die kinders wat skreeu en huil en die speelgoed rondgooi; en dan is daar is die kinders wat naby hul ma’s sit of stil wag. Albei soorte kinders moet wag. Die kind wat die vloermoer gooi, sien nie gouer die dokter as die een wat stil wag nie. Maar glo my, die kind wat heeltyd raas en vra wanneer dit hulle beurt is, se wagtyd voel oneindig langer as die van die kind wat stil wag. Dit is dieselfde vir hulle ouers ook. Jy hoef nie gelukkig te wees oor die wag nie, maar jy kan kies om geduldig te wag.

Ons wag nie passief nie

Dit beteken nie dat ons ledig moet rondsit terwyl ons wag dat die Here namens ons op tree nie. Ons moet in ons wagtyd die werk doen wat Hy ons gegee het om te doen. Psalm 123: 2 sê: “Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres—so is ons oë op die HERE onse God, totdat Hy ons genadig is “. Dit beteken dat ons na God moet kyk met dieselfde voortdurende afwagting en bereidwilligheid om te dien as wat ‘n dienskneg het wat sy meester dien. Die idee om op die Here te wag, is nie soos om vir die dokter of tandarts in die wagkamer te wag nie (dankie tog!). Inteendeel, wag op die Here is meer soos wat ‘n kelner in ‘n restaurant doen. Ons houding en optrede moet wees soos dié van die kelner wat aan-aan die versoeke van klant voldoen terwyl hy wag. Om te wag op die Here beteken nie om te wag totdat ons uiteindelik die diens kry waarop ons wag het nie. Nee, ons vul ons tyd met diens aan die Meester, altyd op ons voete, altyd gereed om te bedien. Die opdrag om op die Here te wag beteken dat ons naby Hom moet wees en aandag moet gee sodat ons die geringste daad wat Hy van ons wil hê, kan doen. Ons natuurlike self is selfversorgend. Ons soek hulp hier en daar en verwag hulp van ons eie vermoë, van vriende of van omstandighede. Maar in die geestelike lewe word ons geleer om te vertrou en afhanklik te wees van die krag van die Heilige Gees.

Ons wag in die Woord vir die Woord

Ons lees in Joh 1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God”. Een van Jesus se name is ‘die Woord’. Net deur daarop te let, is daar alreeds ’n groot waarheid om te leer: terwyl ons wag vir die Woord, moet ons ons lewens vul met die Woord. Dit impliseer dat ons tyd moet deurbring in die geskrewe Woord van God deur Bybelstudie, sowel as tyd om te bid tot die Woord. Ek kan nie eens tel hoeveel kere die Here my al vinnig gehelp met antwoorde op vrae of rigting gegee het wanneer ek verward was, wanneer ek my met die Woord begin afsonder het nie.

Klaagl. 3:25-26 herinner ons, “Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.  Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.” Om op die Here te wag, impliseer om na die Here te soek. Soek is nie ’n daad van passiwiteit nie. Jesus het geleer dat die wat soek, sal vind. Wag op die Here beteken altyd dat jy die Here soek. Dit beteken:

  • Tyd om die Woord te bestudeer, antwoorde te soek en aanspraak te maak op God se beloftes;
  • Tyd in gebed om oor jou versoeke bid en te bid vir wysheid en onderskeiding;
  • Tyd om te mediteer op wie God is, wat Hy in ons en deur ons wil doen, en oor wat Hy verwag wat ons moet doen. Ingesluit hierby is om ons motiewe en houding, ons waardes en prioriteite, en ons doelwitte in die lewe te ondersoek en te evalueer.
  • Tyd om jou gebedsjoernaal te gebruik en neer te skrywe oor wat jy ervaar wat die Woord vir jou sê.

Soos ’n Pa vir Sy kinders

Ek weet nie waardeur jy op die oomblik gaan nie, maar wat dit ookal is – die uitdaging van die Skrif is om op die Here te wag omdat die soewereine Here van die heelal vir ons lief is. Hy het ons lief met ‘n vaste liefde en gee persoonlik vir ons om soos ‘n pa vir sy kinders. So het Dawid in Psalm 103: 13-19 geskryf:

Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.  (14)  Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.  (15)  Die mens—soos die gras is sy dae; soos ‘n blom van die veld, so bloei hy.  (16)  As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.  (17)  Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders,  (18)  vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.  (19)  Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.

Ek sluit af met hierdie bemoedigende woorde in Ps 27:14:

Wag op die Here!

Wees sterk en laat jou hart sterk wees!

Ja, wag op die HERE!

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.