Vandag is Palm Sondag, die dag waarop ons Jesus se triomfantelike intog in Jerusalem vier. Ons lees daarvan in Johannes 12:12-13

DIE volgende dag het ‘n groot menigte feesgangers, toe hulle hoor dat Jesus na Jerusalem kom,  palmtakke geneem en uitgegaan Hom tegemoet en geroep: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel.

Ons lees dat die mense palmtakke voor Jesus neergegooi het. Hoekom juis palmtakke? Die palmboom word histories die simboliese boom van Palestina genoem. Esegiël beskryf in ‘n visie wat hy gehad het oor die hemelse tempel, hoedat palmbome in die mure gegraveer is:

Eségiël 41:18-20

En aangebring is gérubs en palmbome, en daar was ‘n palmboom tussen gérub en gérub; en elke gérub het twee aangesigte gehad:  die aangesig van ‘n mens na die palmboom toe aan die een, en die aangesig van ‘n jong leeu na die palmboom toe aan die ander kant; in die hele huis al rondom is dit aangebring;  van die grond af tot bokant die deur is die gérubs en die palmbome aangebring, en wel aan die muur van die hoofvertrek.

Dit het deur die jare bekend geword ​​as ‘n simbool van die land van ons Here. In die Middeleeue het groot groepe pelgrimstogte na die Heilige Land gemaak. Die naam Palmer is aan hierdie pelgrims gegee. Wanneer ‘n beskrywing van die seëvierende kinders van God deur Johannes in Openbaring 7:9 gegee word, sê hy onder meer dat hulle “geklee is met wit klere en palmtakke in hulle hande”

Ons teks vir vandag is Psalms 92:13-15

Die regverdige sal groei soos ‘n palmboom; hy sal opgroei soos ‘n seder op die Líbanon.   Geplant in die huis van die Here , sal hulle groei in die voorhowe van onse God.  In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees…

Die palmboom het verskeie eienskappe wat die lewe van die Christen uitbeeld en profeties het die gooi van die Palmtakke voor Jesus neer voete, ook vir ons iets van Jesus geleer. Maar hoekom word die regverdige met ‘n palmboom vergelyk in ons teks?

Die Palmboom Breek Bindinge

Ander bome breek nie bande wat om hulle gesit is nie. Soos die boom groei, grawe die bande in die stam in. Baie van ons het bv. al wasgoeddraad diep in die stam van ‘n boom gesien. Die palm is egter anders. Die palm breek die bande soos dit groei, in plaas daarvan om toe te laat dat dit hom bind en wurg.

Die kind van God kan aanspraak maak op die oorwinning deur Christus. Ons hoef nie in sonde te bly lewe  nie: I Kor. 15:57: “Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.” Rom 8:37: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.”

’n Palmboom Sal Buig Maar  Nie Breek Nie

Die sterk winde van storms ontwortel en breek gewone bome. Onlangs het Orkaan Idai verwoesting in Mosambiek en Zimbabwe veroorsaak, waardeur duisende bome ontwortel en verwoes is. Net so veroorsaak die storms van die lewe  baie rampe vir die mensdom. Palmbome buig saam met die wind inplaas daarvan om weerstand te gee totdat dit breek of ontwortel. Wanneer die storm oor is, staan die palm weer regop. Die kinders van die Here is soos die palmboom: dit sal buig in die storm, maar dit sal nie sommer breek nie.

‘n Groep Palmbome Vorm ‘n Oase

Een palm wat alleen staan, sal nie veel skaduwee in die brandende son gee nie. ‘n Groep palmbome daarenteen, vorm ’n veilige hawe – ‘n oase.  Ons, as kinders van die Here, moet bymekaar en saam staan ​​as Christene. Eers dan word ons soos ’n oase. Die oase bied skaduwee vir die vermoeide reisiger. Dikwels in die woestyn vind jy ander bome onder die skaduwee van die palms wat saam groei. Wanneer ons as die Liggaam van Christus saam groepeer, bied ons skaduwee en lafenis aan diegene wat swakker is as onsself. Daarom is Hebreërs 10:25 so belangrik vir ons. “laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie…”

Die Palmboom Kan Mishandeling Weerstaan

Die hart van ’n gewone boom is ‘dood’. Die kwesbare deel van ‘n gewone boom is sy buitekant, meestal net onder die bas. Die hart van die palmboom daarenteen, is lewendig. Die lewe van die palmboom is aan die binnekant. Mishandeling beïnvloed daarom nie die lewe of kwaliteit van die palmboom nie. Die lewe van die kind van God is binne. 2 Kor. 4:16 sê: “DAAROM gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.”

Hoe Ouer Die Palm Boom Hoe Soeter Die Vrugte

(Ps 92:14). Soos ‘n palmboom groei en ouer word, word sy vrugte soeter.  Die wat weet, sê ouer bome dra die beste vrugte. Soos Christene ouer en geestelik meer volwasse word, word hulle vrugte ook soeter. Hulle sê die ouer bome palmbome met littekens op hulle stamme, produseer die lekkerste vrugte. Die littekens van die lewe produseer die vrug van heiligheid in die kind van God.

Palmbome Se Hout Is Weerstandig Teen Vuur

Ek ken nie palmboom hout nie, maar mense gebruik glo nie die palmboom vir brandhout nie, want dit weier om soos gewone hout te brand. Dit herinner ons daaraan dat die kind van God sal nooit, selfs nie vir ‘n oomblik, in die vure van die hel ly nie. Hy sal nooit brand nie; hy is soos  ‘n palmboom.

Die Palmboom Is Immergroen

Die immergroen boom is ‘n simbool van onsterflikheid. Palmbome is immergroen. Dit herinner ons dat die kind van God nooit in die ewige verderf sal ingaan nie; want hy het die ewige lewe (Johannes 3:16, 18, 36).

Slot

Die volgelinge van Jesus wou graag ‘n groeiende verhouding met Hom hê en ek glo dat dit deels is wat die Palmtakke gesimboliseer het. Hulle wou nie net die uiterlike heiligheid hê nie. Hulle het geweet dat jy heilig aan die buitekant kan lyk en tog binne-in verrot kan wees. Palm Sondag is daarom n goeie dag om te onthou watter eienskappe die palmboom het, en om in die komende jaar te streef om soos ’n palmboom te lewe.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.