Ons teksvers is uit Heb 9:15  Daarom is Hy [Christus] ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.

Wanneer mens hierdie vers lees, dan val dit die leser op dat die fokus van van die vers is dat Jesus Christus die Middelaar of Verteenwoordiger van ‘n “nuwe verbond” is. Israel was ‘n volk wat geleef het uit hul verbond met God. Die karakters wat lewe in die verhale van die Bybel, het in die atmosfeer van verbonde gelewe soos die lug waaruit hulle asemgehaal het. Al hulle verhoudings was gebaseer op verbonde – of dit nou was tussen individue, of tussen families of as ’n nasie. Die mense wat in die Bybelse tyd geleef het, sou daarom die taal van Hebreërs duidelik begryp het.

Wat ’n verbond is

Maar wat is ’n verbond en hoe werk dit? Die Hebreeuse woord is “berith”, wat letterlik beteken “om aan mekaar vas te bind soos met toue; ‘n bindende verpligting.” In die Bybel is ’n verbond die hoogste uitdrukking van liefde en vertroue en is dit gewoonlik gemaak om ‘n verhouding te definieer en formeel te bevestig. ‘n Verbond kan beskryf word as ‘n bindende, onbreekbare ooreenkoms tussen twee partye, verseël deur bloed en ’n heilige eed, wat ‘n verhouding skep waarin elke party gebind is tot spesifieke ondernemings teenoor mekaar. Die partye by so ’n verbond plaas hulself onder die straf van goddelike vergelding indien hulle sou probeer om hulle verpligtinge teenoor mekaar te vermy. ‘n Verbond is ‘n verhouding wat slegs deur die dood gebreek kan word. In die Bybel sien ons verbonde wat meestal ongelyke verbonde is. Dit is, hulle word eensydig aangegaan deur ‘n persoon of groep wat sterk in mag en gesag is, en betoon genade teenoor ‘n persoon of groep van minder krag en/of hulpbronne.

Die Bybel bestaan uit twee afdelings wat bekend is as die Ou Testament en die Nuwe Testament. Die woord “testament” is egter nie heeltemal korrek om te beskryf wat hierdie twee afdelings is nie. Adam Clarke sê in sy kommentaar oor die Heb. 9:15 dat die woord ‘verbond’ eerder as ‘testament’ die meer korrekte vertaling sou wees. Die meer korrekte benaming van hierdie twee afdelings van die Bybel is daarom eerder die “Ou Verbond” en die “Nuwe Verbond”.

Die “Ou Verbond” is die verbond wat deur Moses, Israel se verteenwoordiger, met God op die berg Sinai gemaak is. Dit was die verbond van die wet van die Tien Gebooie en die offer van lammers, bulle en bokke om die sondes van die volk te bedek. Die merk of seël van deelname aan hierdie verbond was die besnydenis van die mans.

Die “Nuwe Verbond” word nuut genoem omdat dit alles wat voorheen gedoen was, oud gemaak het en nie meer as ‘n middel tot redding gebruik kan word nie. Dit was nie ‘n verbond wat op die vorige een verbeter het nie, soos wat vanjaar se motormodel ‘n verbetering is teenoor verlede jaar se model nie. Die woord “nuwe” beteken ‘nuut in natuur’ – iets wat nog nooit bedink was nie. Waar Moses die verteenwoordiger of middelaar van die ‘Ou Verbond’ was, was hierdie verbond bemiddel deur die Here Jesus Christus en bevestig met Sy bloed. In plaas van die besnydenis van die mans as teken van lidmaatskap, word lidmaatskap van die “Nuwe Verbond” deur die Gees van God verseël.

Voorbeeld van hoe ’n verbond werk

’n Mooi voorbeeld oor die krag van ’n verbond, word gevind in Josua 9. Na die vernietiging van Jerigo en Ai het die mense van Gibeon ambassadeurs gestuur om Josua en die Israeliete te mislei om ‘n verbond met hulle te sluit. Volgens die Bybel was die Israeliete beveel om alle inwoners van Kanaän te vernietig. Die Gibeoniete het hulself as ambassadeurs uit ‘n verre land voorgestel. Sonder om God te raadpleeg het Israel met die Gibeoniete ‘n verbond aangegaan. Die Israeliete het gou agtergekom dat die Gibeoniete eintlik hulle bure was en Josua het toe besef dat hy mislei was. Hy het egter sy verbond met die Gibeoniete gehou en hulle laat leef, ondanks groot ongelukkigheid onder die volk. Hoewel die Israeliete graag aan God gehoorsaam wou wees en die Gibeoniete wou uitwis, kon hulle nie weens die verbond wat tussen hulle bestaan het.

Kort daarna was die Gibeoniete beleër deur vyf weermagte. Hulle het toe boodskappers na die Israeliete gestuur en vir hulp gevra. Toe Josua die boodskap ontvang, het hy geweet dat hy verplig was om hulle te gaan help weens die verbond tussen hulle. Hy het oor die saak gebid en toe sy manskappe gestuur, wat onder wonderbaarlike omstandighede soos ‘n groot haelstorm en die son wat gaan stilstaan het, die vyand verslaan het.

Jare later, na koning Dawid se seun Absalom se dood, was daar ’n driejarige droogte in Israel. Ons lees daarvan in 2 Sam 21:1-7  “En toe daar in die dae van Dawid ‘n hongersnood was, drie jaar lank, jaar ná jaar, het Dawid die aangesig van die HERE gesoek; en die HERE het gesê: Vanweë Saul en vanweë sy huis waarop bloedskuld rus, omdat hy die Gibeoniete omgebring het.  (2)  Toe roep die koning die Gibeoniete en sê vir hulle—die Gibeoniete het naamlik nie behoort tot die kinders van Israel nie, maar by ‘n oorblyfsel van die Amoriete; en hoewel die kinders van Israel vir hulle gesweer het, het Saul probeer om hulle om te bring in sy ywer vir die kinders van Israel en Juda—  (3)  Dawid dan het aan die Gibeoniete gesê: Wat moet ek vir julle doen, en waarmee moet ek versoening doen, dat julle die erfdeel van die HERE kan seën?  (4)  Daarop sê die Gibeoniete vir hom: Dit is ons teenoor Saul en sy huis nie te doen om silwer en goud nie, en dit gaan vir ons nie daarom om iemand in Israel dood te maak nie. En hy vra: Wat dink julle dan moet ek vir julle doen?  (5)  En hulle sê vir die koning: Die man wat ons vernietig het en planne teen ons beraam het om ons te verdelg sonder dat ons in enige grondgebied van Israel kan voortbestaan—  (6)  laat sewe manne van sy seuns aan ons gegee word, dat ons hulle voor die HERE kan ophang in Gíbea van Saul, die uitverkorene van die HERE! En die koning het gesê: Ek sal hulle gee.  (7)  Maar die koning het Mefibóset, die seun van Jónatan, die seun van Saul, verskoon vanweë die eed [verbond] by die HERE wat tussen hulle was, tussen Dawid en Jónatan, die seun van Saul.

Hier sien ons hoedat die verbreking van ‘n verbond, dodelike nagevolge vir so ’n persoon se nageslag kan hê. Ons sien ook hoedat Mefiboset, Jonatan se seun, verskoon was weens die verbond wat daar weer tuseen hom en Dawid was.

Die verbond tussen God en die mens

Ons het gesien dat ‘n verbond in Bybeltye ‘n kwessie van lewe en dood was. Dit is onderstreep in die ritueel deur die dood van die verbondsdier, die eed wat deur die twee partye geneem is en die vergieting van hul eie bloed wat teen hul arms af gevloei het terwyl hulle gesweer het om die verbond te hou selfs teen die vergieting van hul eie bloed. Vir God om die nuwe verbond te maak, moes die verteenwoordiger – die God-mens, Jesus – sy bloed in die dood vergiet en uit die dood opstaan. In die gesag van sy gestorte bloed bring dit die seëninge van die nuwe verbond na die mens.

Heb 13:20  God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.

Maar wat is hierdie klaarblyklike obsessie met die dood wat die vergieting van bloed moet behels? Waarom die dood van miljoene diere deur die vergieting van hul bloed? En waarom het die liefde van God uiteindelik gefokus op die vergieting van die bloed van Jesus Christus? Ons lees in Lev 17:11  Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel. Die lewe is in die bloed en in hierdie geval is die bloed wat vergiet was die fisiese bloed van God wat deur die are van die God-mens Jesus Christus gevloei het. Dit was beide die bloedvergieting van sy menslikheid, die bloed van ons ras, en ook die bloed van God toe Hy by Homself gesweer het om die verbond te hou wat Hy met Abraham gemaak het. Van die begin tot die einde van die Bybel het ons die vergieting van bloed. In die Ou Testament vloei ‘n rivier van bloed uit die diere wat daagliks as slagoffers in die tabernakel en die tempel gedood is. In die Nuwe Testament is die sentrale viering rondom die Bloed van Jesus, wat al die Ou Testamentiese offers vervul het:

Openb 5:9  Toe sing hulle ‘n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.

Jesus het self na die nuwe verbond verwys met die instelling van die nagmaal: Mat 26:28  want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.

Toe Hy uit die dood opgestaan ​​het, het Jesus verklaar dat die sonde wat Hom na die dood gedra het, vir ewig hanteer is. Die dood wat deur die sonde gebring was, was ingesluk. Die feit dat die ewige bloed van Jesus Christus in die hemel besprinkel is, is die gesag wat ons van sonde bevry en ons toegang gee tot die seëninge van die nuwe verbond. Elke verbond word deur bloed verseël en bekragtig; en die nuwe verbond wat met die bloed van die Here Jesus verseël was, is geen uitsondering nie.

Wat beteken die nuwe verbond vir my as gelowige?

Ons kry ‘n mooi verduideliking oor die  krag van die nuwe verbond in Heb 6:16-18  Mense lê ‘n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van ‘n saak, en dit sluit alle teëspraak uit.  (17)  En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ‘n eed gewaarborg.  (18)  Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is.

God se verbondsbeloftes, gebind tot vervulling deur die eed wat God geneem het, dek elke kreet van die harte van mense wat opreg na God soek. Hulle waarborg dat God sal:

  • hulle skuld en skaamte verwyder en hulle bevry van die sonde en die dood.
  • hulle die begeerte en vermoë gee om in liefde vir God en hul naaste te leef.
  • sorg dat hulle wat aan Hom behoort, in die verbondsgesin van God gebring word.
  • hulle bevry van slawerny aan Satan en al die krag van die duisternis.
  • Aan hulle die sekere oortuiging gee dat Hy by hulle is en hulle seën in alles wat hulle doen.
  • Sy Gees in hulle plaas.

Die Getrouheid van God

Ek sluit af met ’n woord wat oral in die Bybel voorkom, waar God met mense werk. Daardie woord is ‘getrouheid’ (faithfulness in Engels). God se getrouheid is die gevolg van Sy verbondseed. Hy het nie nodig gehad om, soos mense doen nie, ‘n eed te sweer om Homself te verbind om die verbond te hou nie. Die verbond maak Hom nie wat Hy andersins nie sou wees nie, maar aan ons is dit ’n middel om te openbaar wie Hy is.

Die wortel van die Hebreeuse woord vir “getrouheid” is aman wat beteken “om seker te wees, uit te hou, te vertrou en te glo.” Uit hierdie wortel het ons drie woorde. Die eerste woord is amen, wat ons vertaal as “amen” of “laat dit so wees.” Die tweede woord is emet, wat vertaal word as “waarheid”. Die derde woord is emunah, wat eenvoudig beteken “getrouheid.” Sit al hierdie dinge bymekaar en dit beskryf ‘n God wat oneindig betroubaar is, wat konstant en onveranderlik is en waarop daar te alle tye gereken kan word. Dit is daardie versekering wat ons kry in 2 Tim 2:13  as ons ontrou is—Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie.

Slot

Wanneer ons in moeilike of onmoontlike situasies beland dan roep ons harte uit om hulp na God en dit is goed so, want Hy sê in die Psalms dat ons moet aanroep in die dag van ons benoudheid en Hy sal uithelp en ons moet eer. Dit is in hierdie situasies dat sommige van ons die woorde gebruik ‘ek pleit die bloed van Jesus’ en al wat dit eintik beteken, is ‘Here, in my nood beroep ek my op die nuwe verbond – die bloedverbond wat God deur Jesus Christus met die mens gemaak het. Onthou die verbond wat U met my het en help my asseblief!’

‘n Verbond, bo alles, beteken ’n eenwording, die samevoeging van twee partye om ‘n funksionele een te maak. By die maak van die menslike verbonde het die partye mekaar se name gebruik om aan te dui dat hulle verenig het as een – net soos met wanneer ons trou. In die nuwe verbond neem ons nie net sy Naam nie, maar Sy Gees vervul ons en so word ons werklik een gemaak.  Dit is die krag van die verbond wat ons deur Jesus Christus met God het; en dit is die krag wat ons laat staande bly deur die sorge van die lewe.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.