Vandag is ‘n besonderse dag. Dit is vandag dat ons as kinders van die Here, die eindbestemming van ons voorbereiding vir die vieringe van Goeie Vrydag, kan raaksien. Verlede week, die derde Sondag van ons voorbereiding vir Goeie Vrydag, was Goeie Vrydag nog anderkant die horison, maar hierdie week het dit geskuif tot aan hierdie kant van hierdie horison. Nog net twee Sondae bly oor. Daarom is die stemming vandag nie een van somberheid nie, maar van vreugde: die viering van die dag toe dit vir die heidennasies ook moontlik geword het om God te ken en te aanbid, is naby. Ons staan vanoggend stil by Jes 66:10-12  “Wees bly saam met Jerusalem en juig saam met haar, almal wat haar liefhet. Wees vrolik saam met haar, almal wat oor haar getreur het.  (11)  Julle sal aan haar drink totdat julle genoeg het, totdat julle veilig voel; julle sal drink van die oorvloed wat sy het, en dit geniet.  (12)  So sê die Here: Ek laat vrede na haar toe aankom soos ‘n rivier, Ek laat die rykdom van die nasies na haar toe stroom. Julle sal aan haar drink, aan haar bors gedra word en op haar skoot getroetel word.

Jesaja was ‘n Hebreeuse profeet wat omtrent 700 jaar voor die geboorte van Jesus geleef het. Hy is veral bekend vir sy profesieë oor die koms van die Messias. Wat is dan die rede hoekom hy gesê het dat ons moet bly wees saam met Jerusalem?

Die historiese konteks

Die eerste vlak is die historiese konteks van die teks. In ongeveer 1000 v.C. het koning Dawid Jerusalem verower en dit die hoofstad van die Israeliese koninkryk gemaak. Sy seun, Salomo, het ongeveer 40 jaar later sy beroemde tempel vir God gebou. Van daar af Jerusalem saam met die Israeliete, ongelukkig in ’n afwaartse spiraal van afgodediens en losbandigheid betrokke geraak.

Na vele waarskuwings van God dat die Jode hulle moet bekeer – ongelukkig sonder die gewenste uitwerking – het die Babiloniërs Jerusalem ongeveer 150 jaar later, in 586 B.C., beset, die Tempel vernietig en die Jode in ballingskap gestuur. Dit was ‘n tyd van verlange en hartseer na hulle tuisland en hoofstad. Dit was 50 jaar daarna toe die Persiese koning Cyrus, die Jode weer toegelaat het om na Jerusalem terug te keer en die Tempel te herbou. Die Israeliete se vreugde was egter van korte duur, want Alexander die Grote het kort daarna, in 332 B.C., beheer oor Jerusalem geneem. Die Romeine het daarna toe weer beheer van Jerusalem oorgeneem. Midde-in die hartseer en verlange na die ou Jerusalem – midde-in hierdie moedeloosheid en verlange om weer vry te ees – met die eerste huil van ‘n baba, was Jesaja se profesie die eerste keer vervul. Oor die volgende 2000 jaar het die nasies van die wêreld geleer om bly te wees oor Jerusalem. Sommige van die Jode wat oor haar getreur het, het die vreugdesboodskap verstaan en saam met haar vrolik geword: Die Verlosser van die wêreld, die Messias wat sou kom – was gebore. Ongeveer 33 jaar later was Hy – die Onskuldige Lam, God wat tussen die mense kom woon het – aan ‘n kruishout vasgespyker en het dit, deur Hom, vir elkeen wat die Naam van die Here aanroep – moontlik geword om gered te word. Jesus se bekende woorde in Joh 7:38-39 laat mens dink aan Jesaja se profesie: “Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”  (39)  Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.” Dit is die eerste rede hoekom vandag ‘n dag is om saam met Jerusalem bly te wees en oor haar te juig.

Die hedendaagse konteks

Die tweede rede hoekom ons saam met Jerusalem moet bly wees en oor haar moet juig, is oor die progressiewe vervulling van Jesaja se profesie. In vers 11 profeteer hy, “Julle sal aan haar drink totdat julle genoeg het, totdat julle veilig voel; julle sal drink van die oorvloed wat sy het, en dit geniet.” Jerusalem is vandag die brandpunt van ‘n bitter geskil tussen die Moslems en die Jode. Selfs die konings van die wêreld is besig om te draai teen Jerusalem. Hoe word Jesaja se profesie dan vervul in ons hedendaagse konteks?

Dit word vervul omdat die Jode van Jerusalem ‘n buitengewone tendens het om dinge uit te vind en te ontwikkel waarvan almal in die wêreld deel wil wees, al sal hulle dit nie erken nie. Hier is maar net ‘n paar dinge waar die wêreld kom drink het van die oorvloed wat Jerusalem het:

  • Die Laser

Dit was die Joodse Amerikaanse fisikus Theodore Maiman wat op 16 Mei 1960 ‘n laser afgevuur het; Sy werk was weer gebaseer op die teorieë van  Albert Einstein, wat ook Joods was. Die tradisie van Joodse mense met innoverende laser tegnologie gaan vandag nog voort. Die Joodse wetenskaplike Zhores Alferov het in die jaar 2000 die Nobelprys in fisika gewen vir sy werk op die heterotransistor, ‘n laser wat baie hoë frekwensies kan hanteer. Sy werk op laser tegnologie het ‘n groot impak op ons wêreld gehad. Toe hy die Nobelprys gewen het, het Hermann Grimmeiss van die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskappe gesê dat “sonder Alferov dit nie moontlik sou wees om al die inligting van satelliete na die aarde oor te dra of soveel telefoonlyne tussen stede te hê nie.”

  • Pasaangeërs en Defibrillators

Hierdie uitvindings is redelik letterlik lewensredders en ‘n groot prestasie in die wêreld van wetenskap en gesondheid. ‘n Pasaangeër reguleer die hartklop met elektriese impulse. ‘n Defibrillator kan die hart laat begin klop in die geval van bv. ‘n hartstilsand. Vir almal wat aan ‘n harttoestand ly, is hierdie uitvindings ‘n mediese wonderwerk wat so dringend nodig was. Dit was die Joods-Amerikaanse kardioloog Paul Zoll wat baanbrekers op hierdie gebiede gehelp doen het.

  • Vlekvrye Staal

In teenstelling met gewone staal is vlekvrye staal sterk genoeg om korrosie, roes en vlek te bestry. In 1893 het die Duitse Jood Hans Goldschmidt die proses van koolstofvrye chroom uitgevind en die reaksie gepatenteer in 1895. As gevolg van Goldschmidt se ontdekking, het wetenskaplikes in die vroeë 1900’s begin om vlekvrye staal te skep.

  • Cholera, buboniese plaag en Polio Inentings

Cholera en die buboniese plaag is albei eeue verantwoordelik vir massiewe uitbrake en sterftes regoor die wêreld. Ook bekend as die swart dood, is die buboniese plaag verantwoordelik vir die dodelikste siekte-uitbraak in die geskiedenis, aangesien dit Europa in die Middeleeue verwoes het. Die Joodse bakterioloog Waldemar Haffkine het entstowwe vir albei siektes geskep. Polio is ’n dodelike siekte wat ook verlamming in kinders kan veroorsaak. In die vroeë 20ste eeu was dit die mees gevreesde kindersiekte op aarde. Die Joodse bioloog Karl Landsteiner het begin werk met die identifisering van die patogeen wat polio veroorsaak en in 1908 geslaag. In die 1940’s en 1950’s het Jas Salk, ‘n Joodse mediese navorser, oor ’n tydperk van sewe jaar lank die entstof vir polio ontwikkel.

  • Google en Intel

Toe Google vir die eerste keer in 1998 gestig is, kon niemand die impak wat die soekenjinmaatskappy op die internet en die wêreld sou hê, begryp ​​nie. Gestig deur Joodse sakemanne Larry Page en Sergey Brin, is die leuse van die maatskappy “don’t be evil“. Intel het die landskap van die rekenaarwêreld vir altyd verander met die 8088 verwerker (die “brein” van die eerste rekenaar), MMX en daarna Centrino se mobiele tegnologie.

Die jongste uitvindsels

Daar is baie opwindende uitvindsels wat alreeds hierdie jaar deur Jerusalem aan die wêreld bekend gestel is. Die een waarmee ek die meeste beïndruk is, is Like-A-Fish tegnologie, wat lug onttrek uit water, sodat skuba duikers, duikbote en onderwater wonings, nie meer lugtenks nodig het nie.

Wanneer ons na hierdie dinge luister, kan ons in die moderne konteks verstaan wat Jesaja bedoel het toe hy gesê het, “julle sal drink van die oorvloed wat sy het, en dit geniet.”

Die apokaliptiese konteks

Die derde en laaste vlak waarom ons moet bly wees saam met Jerusalem, is die apokaliptiese of eindtye konteks. Die profeet Sagaria het gesê dat al die nasies op die aarde gaan saamstaan teen Jerusalem. In die Engels lees dit (Sag 12:3) “in that day will I make Jerusalem a burdensome stone for all people.” Enigeen wat net iets van die wêreldgeskiedenis weet, sal jou kan vertel dat dit vir baie lankal so is. Jerusalem is ‘n steen des aanstoots vir baie nasies. Dink maar net aan die weerstand wat gebied is teen pres. Trump toe hy Jerusalem erken het as die hoofstad van Israel. Daar is gelukkig ’n tydsbeperking  geplaas op hierdie vertrapping van Jerusalem. Jesus het gesê in Luk. 21:24,  “Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is.”  Paulus het dit bevestig in sy brief aan die Romeine in Rom 11:25  “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het”. Die Woord is dus duidelik dat daar ‘n einde aan die vertrapping van Jerusalem en die verdrukking van die Jode sal kom. Dit sal gebeur wanneer die einde van die tye naby is. Dit sal ook in hierdie tyd wees dat daar ’n nuwe Jerusalem deur God opgerig sal word.

Paulus bevestig ook die nuwe Jerusalem toe hy in sy brief aan die Galasiërs verduidelik in Gal 4:24-26:  “Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar—dit is Hagar;  (25)  want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny.  (26)  Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.

Hoewel daar bladsye vol oor hierdie nuwe Jerusalem geskrywe kan word, fokus ons nou net kortliks op die apokaliptiese of toekomstige redes hoekom ons saam met Jerusalem bly moet wees:

Jes 65:18  Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees. 19  En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie.

Sag 12:10  Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind.

Sag 14:11-15  En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en Jerusalem sal in veiligheid woon.  (12)  En dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond.  (13)  En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die HERE onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander.  (14)  En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van al die nasies rondom sal ingesamel word: goud en silwer en klere—’n groot hoeveelheid.  (15)  En soos hierdie plaag is, sal die plaag wees van die perde, die muile, die kamele en die esels en van al die diere wat in daardie laers is.

Openb 21:1-5  En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.  (2)  En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.  (3)  En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.  (4)  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.  (5)  En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.

Slot

Ons studie oor teksvers uit Jes 66:10-12  “Wees bly saam met Jerusalem en juig saam met haar” toon vir ons drie verskillende kontekste waarom ons, as kinders van God, moet juig oor Jerusalem. Die geboorte van Jesus Christus en Sy kruisiging, wat ons binnekort oor die Paastyd vier, is die hooffokus van ons blydskap; want dit het die die tyd van die heidene ingelei en dit vir ons, wat vêr van God af was, moontlik gemaak om ook gered te word. Daaroor is ons bly en daaroor vier ons vandag met ‘n gejubel.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.