David Brainard was ‘n sendeling na die Delaware Indiane. Hy het eenkeer deur ‘n tolk, wat so dronk was dat hy skaars kon staan, gepreek. Nogtans is baie mense deur sy prediking bekeer. Brainard se geheim was sy ingesteldheid op die Heilige Gees. Ons gaan voort met die tweede aflewering oor die krag van die Heilige Gees.

Die krag van die Heilige Gees oor die innerlike mens

Die Heilige Gees het mag en krag oor die innerlike persoon van mense. Hoekom is dit belangrik om te weet? Sy krag is veral nodig – nee, eerder noodsaaklik, in sekere areas van ons innerlike mens – areas wat nie sommer net maklik deur ‘n gewone persoon oorwin kan word nie.

Die hart van die mens

Ons lees in Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Die KJV druk dit vir my soveel sterker uit: The heart is deceitful above all things, and desperately wicked: who can know it? ‘n Bietjie geld kan ‘n mens se hart wen. ‘n Mooi man of vrou kan ‘n mens se hart wen. Roem, rykdom en mag kan ‘n mens se hart wen. Iemand het gesê dat ‘n mens deur twee dinge gemotiveer word: die eerste is deur die vraag, ‘wat kan ek daardeur win?’ en die tweede is die vraag, ‘wat kan ek daardeur verloor?’ Die bekende Engelse prediker Charles Spurgeon het gesê, ”there is not a minister breathing that can win man’s heart himself. He can win his ears and make them listen; he can win his eyes, and fix those eyes upon him; he can win the attention, but the heart is very slippery.” Die Heilige Gees kan dit wel vermag. Dit word vertel dat, in die middel van die 1800’s in die stad Kells in Noord-Ierland; het vier mans elke Saterdagaand vir intense gebed bymekaargekom. Die hele nag was gewy aan gebed. Kort daarna het daar ‘n kragtige herlewing in die stad uitgebreek. Die howe moes verdaag weens ‘n gebrek aan sake. Die gevangenis het gesluit weens ‘n gebrek aan misdadigers en die Polisiemanne het in die kerke gesing omdat hulle niks gehad het om te doen nie. So iets is nie moontlik deur die werk van mensehande nie.

Die wil van die mens

As daar egter een ding is wat hardkoppiger as die hart is, is dit die mens se wil. Die wil, veral by sommige mense, is ‘n baie halstarrige ding. Soms, as die wil eers weerstandig geword het teen iets, is daar niks wat jy met sulke mense kan doen nie. Daar is ‘n ou sêwoord wat lui, ‘een man kan ‘n perd tot by die water bring, maar ‘n honderd man kan hom nie maak drink nie.’ Dit is veral waar oor die kerk en die goeie nuus van die evangelie. Paulus skrywe nie verniet in sy brief aan die Romeine nie, (Rom 7:18-19) “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.” Ons kan hierdie kerk vanoggend vol pak met mense en ‘n honderd predikante kry om vir hulle te preek; maar niks sal hulle oortuig om te verander nie behalwe deur die krag van die Heilige Gees. Die verhaal word vertel van Duncan Campbell, wat in die Hebrides herlewing gepreek het. Hy was blykbaar op ‘n konferensie in ‘n ander stad toe hy ‘n sterk gevoel in sy innerlike mens ervaar het om na die Hebrides te gaan. Toe hy daar aankom, het hy by die kerk daar ingegaan waar hy die skoonmaker gekry het, besig om skoon te maak. “Wat gebeur hier?” het hy gevra. “Ons het vanaand ‘n belangrike spreker.” het die skoonmaker gesê. “Wat is sy naam?” wou hy weet. “Duncan Campbell”, het die skoonmaker geantwoord. “Maar ek is Duncan Campbell! Hoe het julle geweet ek kom? Ek het dan vir niemand

gesê nie?” Die skoonmaker het het hom toe uitgeklop met hierdie vraag : “As ons jou nie genooi het nie, hoe het jy geweet om te kom?” Dit was alles deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

Die gedagtes van die mens

As daar egter een ding is wat hardkoppiger as die wil is…. ….. ….. is dit die mens se gedagtes, en in die besonder jou verbeelding. Selfs diegene met net ‘n bietjie verbeelding sal jou kan sê hoe moeilik dit is om te beheer. Mense wat in die okkult of New Age betrokke is, sê dat die maklikste manier om iemand daarin gefassineerd te kry, is deur sy of haar verbeelding. Paulus skrywe in 2 Kor 10:4-5 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, (5) terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus…

Die woorde ‘terwyl ons planne verbreek’ by vers 5 word vir my so mooi in die Engels vertaal as ‘casting down imaginations’ – verbeeldingsvlugte. Die Griekse woord logismos’ beteken egter nie net verbeeldingsvlugte nie, maar ook onbeheersde gedagtes en logiese argumente – veral teen God en die dinge van God. Hierdie logismos in ons koppe ondersteun geesdriftig die wil en die hart van die mens om weerstandig te word teen die Here. Veral die ouer en meer volwasse Christene sal kan getuig hoedat hulle gedagtes al vanaf die heiligste en verhewe hoogtes getuimel het tot na die mees banale en vieslike gedagtes, soos riole wat vloei direk uit die hel self. Een prediker sê tereg dat dit vir hom voel of, wanneer sy fokus die meeste op God is, die plaag van verkeerde gedagtes die ergste is. Dit is net die krag van die Heilige Gees wat ‘n mens daaruit kan red.

Voorbeelde van die werk van die Heilige Gees

Hier is ‘n paar voorbeele van die werk van die Heilige Gees in mense se lewens:

– ‘n Jong vrou loop langs die strand. Niemand anders kan vir myle ver gesien word nie. Dis net sy en die Here. Sy voel tevrede en so gelukkig. Sy begin sing – nie woorde nie, maar klanke, pragtige klanke wat ‘n mooi melodie vorm.

– ‘n Jongman sit en luister na ‘n preek. Die preek tref sy hart soveel so dat hy homself nie kan keer nie. Hy spring op en skreeu “Kom aan!”

– ‘n Man lê met sy kop in sy hande op die vloer en huil. Met die eerste oogopslag kan iemand dalk dink dat iets verkeerd is – dat hy dalk gebed nodig het; maar hy geniet net die teenwoordigheid van God.

– ‘n Meisie sit en lees. Almal om haar staan en sing die lirieke op die liedjiebord, maar sy bly in haar stoel – met haar Bybel oop op haar skoot. Sy mag dalk later opstaan en ‘n spesifieke vers met die gemeente deel wat sy voel dat God op haar hart vir die kerk gelê het, of sy mag net stilbly en die woorde van die vers laat insink.

– Die jong seun sien dat sy suster siek voel. Hy lê vir haar hande op en bid: “Ek dank U dat sy deur Jesus se wonde genees is.”

– ‘n Vrou staan in die supermark en voel dat die Heilige Gees ‘n woord van bemoediging aan haar gee vir iemand in die ry voor haar. Sy loop na hierdie persoon en sê: “Ek voel dat God wil hê jy moet weet dat jy nie vergeet is nie. Om te onthou dat hy selfs die hare op jou kop getel het. ”

Slot

Dr. F.E. Marsh het gesê dat ‘n dooie voorwerp of ‘n lewende liggaam so gelaai en verander kan word met ‘n ander krag wat van buite homself is, dat wanneer ons dit aanraak, ons net die vreemde krag sal voel wat dit vul. Elektrifiseer bv. ‘n emmer water en druk jou hand daarin. Jy raak aan die water, maar jy voel nie regtig die water self nie – net die elektrisiteit wat dit deurdring het. Of neem ‘n ysterstaaf en sit dit in die vuur. Dit kan maar ‘n geroeste stuk ou yster wees, een vol tekortkominge wat net goed is vir die ashoop. Binnekort neem die hitte van die vuur besit van elke atoom waarvan daardie stuk yster saamgestel is. As jy aan dit raak terwyl dit nog rooiwarm is, sal jy die yster met al sy tekorte en roes skaars voel, maar jy sal beslis die vuur voel. So is dit met ‘n man wanneer hy met God vervul is. Kom nader na hom en raak aan hom, en soos jy die man raak, voel jy nie die man met al sy tekortkominge nie, maar eerder vir God wat besit van hom geneem het.

Dit is die krag van die Heilige Gees. Vertrou op die Here; en op die krag van sy sterkte, want Hy is magtig om die goeie werk wat Hy in jou begin het, te voltooi. Amen.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.