Ons lees in 1 Kor 6:19-20  Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?  (20)  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

Is jy wedergebore? Verbeel jouself vir ‘n oomblik dat jy binne jouself; na jou innerlike mens kan kyk. Daar sal jy sien dat dit die woonplek van Jesus Christus en van die Heilige Gees is. Dit is ‘n plek wat rein en heilig behoort te wees. Net soos by enige ander woning of tempel, is daar egter ingange en uitgange. Dit is dieselfde met ons. Ons liggame het verskeie poorte of ‘hekke’ wat toegang verleen tot hierdie tempel. Daar is ook poorte waardeur dinge na buite kan gaan en die mense of omgewing rondom ons kan beïnvloed. As kinders van God het ons ‘n verantwoordelikheid om hierdie poorte te bewaak en versigtig te wees oor wat ons daardeur moet toelaat.

John Bunyan, een van die bekendste Christelike skrywers van die geskiedenis, het die verhaal geskryf van ‘n vurige stryd om die heerskappy oor ‘n stad van sy regmatige heerser te ontneem. Die naam van die verhaal is The Holy War. In die verhaal is sy uitbeelding van die menslike siel ‘n stad, Mansoul, met vyf hekke: die Gehoorpoort, Oogpoort, Neuspoort, Voelpoort en Mondpoort. Die vyand wat die stad wil oorneem is Sonde, wat daagliks een of meer van sy vyf hekke aanval. Sonde spreek tot die Gehoorpoort; hy bied aanskoulike tonele aan die Oogpoort; en val die ander poorte verwoed aan.

Die interessante ding oor hierdie stryd is dat Mansoul nooit deur enige aanvalle van buite verslaan kon word nie, en Sonde kon nooit in sy aanvalle teen die vyf hekke wen nie. . . behalwe op een manier: iemand aan die binnekant moes een van die hekke oopmaak en Sonde inlaat! In werklikheid is hierdie vyf poorte nie Bunyan se skeppings nie – hulle bestaan werklik. Bunyan het begryp wat Paulus en Petrus verstaan ​​het: dat die siel van die mens van binne af vernietig word, nie van buite nie. Hy skrywe dat die Gehoorpoort en die Oogpoort die twee hoofpoorte is wat verdedig moet word omdat die meeste aanvalle daarop gekonsentreer word.

Die Gehoorpoort

Die Gehoorpoort is ‘n eenrigtingpoort wat inligting inlaat na die brein. Dit is ‘n baie belangrike poort. Sewe keer in die boek Openbaring het die Here gesê: Hy wat ‘n oor het om te hoor, laat hom hoor wat die Gees aan die kerk sê. Dit vertel ons dat sommige ore het, maar hulle hoor nie. Dit beteken dat hulle Gehoorpoorte deur die vyand van hul siel gesluit is. Jou Gehoorpoort is baie belangrik, want volgens Romeine 10: 17 kom geloof deur gehoor en gehoor deur die woord van God. Dit is jou deur tot genesing, bevryding en voorspoed. Sonder twyfel is een van Satan se grootste taktieke om mense deur die musiekbedryf te beïnvloed. Baie van vandag se liedjies is vol seksuele ondertone en selfs eksplisitiete taal. Sommige van dit is in wese audio pornografie – bedoel om selfs die kinders van God in seksuele vestings in te lei. Ongelukkig val baie Christene die prooi vir hierdie taktiek van die duiwel. Hulle luister gereeld na musiek met lirieke wat duidelik nie onskuldig is nie; en dan wonder hoekom hulle nie hul luste kan beheer nie en nie die Bybel wil lees nie.

Die Oogpoort

Die Oogpoort is ‘n gedeeltelike tweerigting poort. Hoewel daar hoofsaaklik verkeer inkom na die brein en dit daarvandaan versprei word na die innerlike mens, kan dit ook inligting uitgee; soos ‘n kwaai kyk, ‘n liefdevolle kyk, ogies maak ens. Job het begryp hoe belangrik die Oogpoort is. Hy sê in

Job 31:1  Ek het ‘n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ‘n jonkvrou?

Dit beteken nie net letterlik dat jy rondloer na ander vrouens nie. In hierdie moderne eeu is fotos en films van ander vrouens meer as volop. Die meeste van vandag se flieks bevat tonele van owerspel of egbreuk. Volgens statistieke is meer as negentig persent van alle seksuele inhoud in so ‘n film tussen ongetroude mense of is een van die deelnemers iemand wat met iemand anders getroud is. Selfs in ons daaglikse wandel word ons met tonele met seksuele ondertone gebombardeer. Mans en vrouens klee op ‘n wyse wat hulle ‘sexy’ noem, maar daardie kleredrag maak onwillekeurig gedagtes wakker in die koppe van die mense wat dit sien. Selfs die winkelpoppe is deesdae so lewensgetrou dat dit kommerwekkend is. Fyn uitgewerkte tonele van diefstal, rooftogte en ander misdade word ook dikwels in detail vertoon. Dit is ‘n direkte aanval op die Oogpoort. Dan is daar ook nog die memes en ander prent en videogrepe wat daagliks deur die sosiale media op ons selfone, tablette en rekenaars beland. Die probleem is, as jy eers iets verkeerd gesien het; dan kan jy dit nie sommer net ‘ontsien’ nie.

Hoe herken mens ‘n aanval op die Oogpoort? Jy sit byvoorbeeld heel onskuldig en werk wanneer jou selfoon biep en daar ‘n promiskue foto verskyn met ‘n komiese onderskrif. Jy lag lekker daaroor maar jou brein neem nie werklik die grappie in nie. Dit neem die beeld in. Kort daarna begin jy promiskue gedagtes dink. Subliminaal is jy aangeval deur die Oogpoort.

Die Neuspoort en Voelpoort

Hierdie twee poorte is eenrigting poorte. Aanvalle op hierdie poorte is soms eksplisiet, maar gewoonlik meer subliminaal.  Deur ‘n aanval op die Neuspoort kan mense byvoorbeeld met heerlike aromas verlei word om hulle te ooreet; of met welriekende parfuums, tot seksuele immoraliteit. Beide mans en vrouens sal kan identifiseer hoedat die reuk van sekere parfuums of naskeermiddel dadelik sekere gedagtes by mens opbring.

Die Gevoelspoort dui op ‘n sensoriese eerder as emosionele ervaring. ‘n Subtiele drukkie of aanraking op die regte tyd oor jou rug, nek of arm kan jou binne ‘n oogwink willoos laat oorgee aan dinge waaroor jy later baie spyt kan wees. Veral mense wie se primêre liefdestaal ‘Aanraking’ is, moet versigtig wees vir aanvalle deur hierdie poort. ‘n Klassieke aanval is om die slagoffer eers  uit te laat honger vir aanraking; voordat die aanvaller toetree.

Die Mondpoort

Die Mondpoort is ‘n tweerigting hek. Dinge kan daardeur ons liggaam binnekom en dit kan ook ons liggame verlaat. Ons het verlede week gesien watter vernietigende invloed woordvloeke op mense se lewens kan hê. Ons monde is ‘n poort waardeur ons, ons gedagtes kan uitdruk aan die wêreld rondom ons. Ons kan slegte en onheilige dinge daarmee sê; en ons kan goeie en opbouende dinge daarmee sê.

Jesus leer in Luk 6:45  Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.

Let op die laaste gedeelte van die vers, dat ons ‘uit die oorvloed van die hart spreek’. Dus, wanneer ons sê dat ons nie met ons mond moet sondig nie, besef dat daar nog tye gaan wees wanneer ons in ‘n onbewaakte oomblik iets gaan sê wat ons nie moet sê nie. Omdat ons nog vleeslike natuur het, gaan dit gebeur. Die sleutel hierin om nie met ons mond te sondig nie, is in wat ons die meeste sê. Wat kom konsekwent uit ons mond? As dit nie in lyn met God se Woord is nie, spreek ons nie in geloof nie.

Dit is die dinge wat ons konsekwent sê wat ‘n langtermyn-effek op ons lewe sal hê. Iemand wat in ‘n oomblik van pyn of woede iets sê wat hulle nie moet sê nie, gaan nie nou sommer die koers van sy lewe verander om in daardie rigting te gaan nie. Ons moet ons vlees nooit gebruik om verskonings te maak vir gebiede in ons lewe wat ons nie gedoen het om dit onder beheer te bring nie. As ons ‘n oomblik in die vlees optree, moet ons net berou daaroor hê en weer op die regte pad kom.

Dinge wat in ons mond inkom, kan ook ‘n invloed op ons lewe hê. Ons moet daarom ook daarteen waaksaam wees. Voorbeelde is dwelmmisbruik, rook, drank, verslawings en slegte eetgewoontes.

Slot

Ek het onlangs gelees van ‘n gesin waar die ouers hulle kinders van jongs af geleer het om hulle poorte te bewaak. Hulle kodewoord was ‘guard your gates!’. Telkens wanneer daar iets ongewens op televisie verskyn het of as iemand vuil taal gebruik het, het iemand gesê, ‘guard your gates!’ en dan het die kindes hulle oë toegeknyp en hulle ore toegedruk totdat die aanval verby was.

Ons poorte is egter nie net daar om dinge uit te hou nie. Dit is ook daar om ons harte te vul met goeie dinge, sodat dat daar uit die skat van ons harte, goeie dinge sal kom wat ‘n seën vir die mense om ons sal wees. Daarom het Paulus in sy brief aan die gemeente in Fillipi, geskrywe:

Fil 4:8  Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Advertisements

2 thoughts on “Vyf poorte wat jy moet bewaak

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.