Ons word gemaak of gebreek deur die dinge wat in ons harte is. ‘n Eensame seun het in ‘n hout hut snags by die lig van die vuur gelê en lees aan boeke wat hy geleen het. Die dinge waarvan hy gelees het, het in sy hart in gekruip en die gang van sy hele lewe beinvloed. Hy het visioene van groot dinge en baie mense begin sien. Daardie man het voortgegaan om die president van die grootste land in die wêreld te word, maar hy was gemaak deur die dinge wat in sy hart was. Hy was bekend as ‘Honest Abe’ – president Abraham Lincoln. ‘n Nederige motorwerktuigkundige het ‘n droom in sy hart gehad om ‘n motor te bou wat selfs die armste mense sou kon bekostig. Daardie man se drome het waar geword en Henry Ford het een van die wêreld se grootste industrialiste geword.

Ons word almal gemaak deur die dinge wat in ons harte is. Die kunstenaar word gemaak deur die dinge wat in sy hart is, en die musikant skrywe die liedjies wat sy hart sing. Die verkeerde dinge in ‘n man se hart mag van hom ‘n groot dief maak, of die regte dinge kan van hom ‘n groot prediker, onderwyser of staatsman maak. Ons teksvers vandag is Spr 23:7  Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…

Hier is drie dinge wat ek glo, wat in elke kind van God se hart behoort te wees:

Daar behoort ‘n lied in jou hart te wees

Ons elkeen behoort eerstens ‘n lied in ons harte te hê. Dardie lied of liedere sal ook geneig wees om die toestand van jou hart te weerspieël. Jesus leer vir ons uit die gelykenis van die saaier, dat die sorge van die lewe; die drome of saad in ‘n mens se hart kan verstrik en doodwurg. Wanneer ons nie meer ‘n lied in ons harte het nie, dan het ons lewens vaal en sonder betekenis begin word. Die liedere in ons kunstenaars se harte, word daagliks oor die radio en televisie uitgebasuin. Sommige sing oor verlore liefde, andere se liedere is kenmerkend hartseer of depressief; terwyl ander weer meestal oor die liefde singe. Sommige fokus op teleurstelling, andere haak vas by die verlede en nog ander sing van hoop. Iemand het eendag gesê dat die lewe uit twee vlakke bestaan – ‘n hoë vlak en ‘n lae vlak. David het gesê dat die Here hom uit die lae vlak – die modder – gelig het en sy voete op ‘n rots geplaas het. Dit is die lied wat ons behoort te hê. Ons voete moet nie langer op die lae vlak loop nie, maar dit moet soek na die hoë vlak.

Vandag se samelewing is onstabiel. Nasies val en oorloë en swaarkry neem oral toe. Sommige jong mense is bang om kinders te kry omdat dit nie meer lyk of daar hoop op ‘n toekoms vir hulle is nie. Wat kan ons doen? Daar is maar een ding wat ons kan doen – dit is om ons geloof in God te plaas. Hy sal ons nooit alleen los of versaak nie. Twee jong kinders – ‘n broer en suster – het jare gelede op ‘n treinspoor langs gestap deur ‘n uitsnyding in ‘n rotskoppie. Skielik het hulle die trein hoor aankom. Daar was nie tyd om uit te vlug nie en al wat hulle kon doen was om die rotse op te klouter en aan die rotswande vas te hou. Terwyl die trein onder hulle verbygery het, het die suster kort-kort haar jonger broer bemoedig: “Hou vas aan die rots, boetie! Hou vas aan die rots!” Dit is wat ons nou moet doen. Terwyl die wêreld soos ‘n weghol trein voortrammel, moet ons aan die Rots vashou. Hy sal ons lei van heerlikheid tot heerlikheid volgens die belofte in Sy Woord.

Ek wil jou bemoedig: gaan word stil en luister na die lied in jou hart. Is dit ‘n lied vol hartseer, of heimwee oor die dinge wat was? Of is dit ‘n lied vol hoop, geloof en afwagting? Vra die Here om jou te help om jou hart se toestand te verander, sodat jou lied ook verander.

Daar behoort ‘n droom in jou hart te wees

Tweedens behoort ‘n droom in elke kind van God se hart te wees. ‘n Mens kan nie ‘n wêreld bou sonder om te droom nie. Die Van Stadensbrug is ‘n manjifieke meesterstuk, maar dit was nie altyd ‘n brug nie. Dit was op ‘n stadium ‘n droom in iemand se hart. Net so was al die wolkekrabbers, die Mona Lisa’s en al die universiteite met al hulle geleerdheid nie altyd daar nie. Dit was eens ‘n droom in die harte van hulle wat geglo het in wat hulle droom. Dit neem dromers om ons ou wêreld te bou.

Die droom waarvan ek egter praat, is die ideale in jou hart. Miskien het jy al baie daaroor gedroom en portret daarvan, alreeds oor en oor in jou hart geskilder. Wanneer jy van vandag af oor jou lewe kyk, hou daardie droom altyd voor jou. Dit word vertel dat ‘n bekende skilder altyd ‘n diamand aan die kant van sy esel gehou het. Elke nou en dan het hy opgehou werk en dan na die diamand teen die lig gekyk om sy persepsie van kleure weer op te helder. Een van die wyshede wat Abraham Lincoln kwytgeraak het, was, ‘I will prepare myself and some day my chance will come.’  ‘n Mediese snydokter mag dalk ‘n baie delikate operasie uitvoer wat die verskil tussen lewe en dood vir daardie pasiënt mag beteken. Hy was egter nie toegelaat om sommer die eerste dag toe hy begin het met sy opleiding, sommer net te opereer nie. Daar was baie jare van intense studie, oefening en voorbereiding wat gevolg het voordat hy ‘n suksesvolle snydokter kon word. Net so neem dit jare se intense toewyding en studie om ‘n suksesvolle Christen te word. Toe die Here iemand gesoek het om die Israeliete uit Egipteland te lei, het Hy vir Moses gekies – die bes opgeleide Israeliet wat daar was. En toe Hy iemand gesoek het om driekwart van die die Nuwe Testament te skrywe, het Hy vir Paulus gekies – iemand wat aan die voete van Gamaliël gestudeer het en wat die beste opgelei was vir die taak. Mens kan wel ‘n boom afkap met ‘n stomp byl, maar jy kap dit soveel beter met ‘n skerp byl. God kan enige lewe gebruik wat oorgegee is aan Hom, maar Hy kon soveel meer doen met ‘n lewe wat daarby voorberei is om Hom te dien.

Daar behoort ‘n naam in jou hart te wees

Derdens behoort daar ‘n naam in jou hart te wees. Daar word vertel van ‘n Franse soldaat onder Napoleon, toe hy gewond was en hulle na die koeël uit sy bors gegrawe het, dat hy gesê het, ‘sny ‘n bietjie dieper en julle sal Napoleon in my hart kry.’ Browning het gesê, ‘sny my hart oop en julle sal, ingegegraveer daarop, die woord Italië kry.’ Die Naam wat elke kind van God in sy of haar hart moet hê, is die Naam bo elke ander Naam. Dit is die soetste Naam bo elke ander naam, die Naam waaronder elke knie moet buig en elke tong moet bely dat Christus die Here is. Dit is die Naam van Jesus. As daardie Naam in jou hart ingegraveer is, sal al die liedere in jou hart soeter en al die drome in jou hart mooier was as ooit:

  • Neem daardie Naam as ‘n buffer teen versoeking. Daar gaan dae kom dat jy versoek word sodat dit wat in jou hart is, ontbloot kan word. Jesus self was eens ‘n jong man en selfs Hy was versoek sodat dit wat in Sy hart was, ontbloot kon word. Hy het elke versoeking oorkom en Hy het aan ons die krag gegee sodat ons ook kan oorkom.
  • Neem daardie Naam as ‘n gids op die pad van die lewe. Daar word die verhaal vertel van ‘n miljoenêr wat selfmoord gepleeg het. Langs hom was sy selfmoordnota gevind. Daarop was geskrywe, ‘Died at the old age of twenty-one’. Daardie man het waarskynlik nie die Naam van Jesus in sy hart gehad nie. Sy lewenspad was kleurloos en sonder betekenis omdat die Meester nie saam met Hom gewandel het nie.
  • Neem daardie Naam as ‘n toevlug teen die lewe se storms. Miskien is dinge nou rustig vir jou, maar daar gaan dae kom dat die storms om jou gaan woed op die pad van die lewe. In elke lewe is daar dae van sonskyn, maar ook donker dae van storms, reën en wind. In jou uur van benoudheid sal Hy daar wees om jou help, beloof Hy in Ps. 50:15. Hy ken storms, en Hy weet hoe om dit te oorleef en stil te maak.

Slot

Rudyard Kipling was ‘n baie beroemde en bekende Engelse digter. Daar word gesê dat hierdie Skrifgedeelte uit Joh 9:4 in ‘n skildery in sy sitkamer gehang het: ‘The night cometh when no man can work.’  Daardie Skrifgedeelte het hom herinner daaraan dat ons elke dag besig moet wees om te werk aan die droom in ons hart. Die lewe hou mens vinnig besig en as jy weer sien, is daar baie dae verby sonder dat jy werklik gelewe het. Kom ons lewe met ‘n lied, ‘n droom en ‘n Naam in ons hart.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.